Halfgesond

  • 0

Die afgelope weke was ons familie geraak deur ’n oom se skielike gesondheidsinploffing; “geraak” is  moontlik nie die korrekte beskrywing vir die wyse waarop elkeen dit ervaar, bedink of daarmee empatiseer nie. “Geskokte skrik”, is eerder die bes moontlike emosionele beskrywing vir die uwe se gedagtes hieroor.

Ek wil nie altyd of alte graag die geestelike of die Boek van die Lewe by alles betrek nie, al is dit soms tog onafwendbaar, amper soos vandag met die broeiende worsteling wat tussen die sin vir werklikheid en hoop uit verwagting, hier vlak in my gemoed, aan die ontwikkel is.   

Die jong vrou met lang swart hare en haar vars bruidegom verwelkom ons by die voordeur en mens kan die trots op hul gesigte sien, terwyl sy die uitgebreide nuuskierige geselskap met haar nuwe woning beïndruk.

Die kamers is helder en die nuwe linne, banke, stoele en tafel vertel die slotsom van ’n huwelik wat onlangs voltrek is en die voor-God-verklaarde man en vrou wat die res van hul lewens saam begin het.

Soms moet ek myself knyp om te onthou dat die geleerde mooi vrou nie meer my klein niggietjie is, wat nog tot onlangs toe te skaam was om in alle geselskappe te praat nie en selfs nie te lank voor dit nie, op haar moeder se heup by my troue ’n traan vir ’n ander rede laat val het nie.

Dit laat my met die besef dat gister skielik verder terug is as wat dit vir my gemaklik is en vandag, ewe skrikwekkend te vinnig opgedaag het …

Ons gesels oor haar en hul werke, die tuin en bome en beddings en die mooigeit van dit en dat aan die woning wat hulle in ’n tuiste verander. Soos dit gebruiklik is, moet daar dan en wan oor die familie se dinge en late ook gesels word; die pyn waardeur ons oom gaan. Ons groepie daar tesame het iets probeer verstaan van die pyn waardeur hy gaan ... die roerende rede waarom hy amper elke aand huil.

Drie weke gelede het my oom die harteenheid van ’n netjiese hospitaal aan die buitewyke van Kaapstad kom besoek. Die ambulansdiens moes hom van sy hospitaalbed in Mosselbaai na die waakeenheid van die groot stad bring. Die dokters en spesialiste moes hom hier bekyk en bevoel, sodat hulle sy are kon vind, kon lap en soos die uiteinde sou bewys, ’n stel vars are teen sy bene af inlê sodat die suurstofryke bloed weer sy pad na die mees suidelike deel van sy liggaam kon vind; sodat nuwe aartjies gevorm kan word om sy swartwordende voete en tone van reddende bloed en lewe te voorsien.

Te midde van die beloftes van mediese wonderkure en ander se gebede vir wonderwerke (wat ek soms nie die verskil van verstaan nie), was sy gemoed kwesbaar laag en die pyn in sy voete uitputtend hoog.

Die operasie was volgens die manne met die wit jasse suksesvol; hy sal moontlik net ’n toon of twee op ’n latere geleentheid moet prysgee!

Hy mag maar opstaan en loop, ongeag daarvan of hy kan … of dalk wil.

Terwyl ons aan die voorkos peusel, ’n keurige kaas- en beskuitjiebord, is daar ’n trek van opregte kommer op die donkerkop nig se gesig, ’n kommer wat die aksent van haar bleek vel teen die swart hare sag maak en tot oorgawe dwing wanneer sy sê-vra: “Kon hy nie maar vroeër ophou rook het nie?”

In my astrante wysheid het ek die voorbeeld van die mens en sy motor aangehaal; gaan koop vir jou ’n nuwe tweedeur sonder ’n diensplan. Ry daai einste sportmotortjie elke dag vir tien jaar sonder om vir haar om te gee, sonder om haar enjin te laat diens, die remvloeistof na te gaan, of  selfs die waterkannetjie vol te maak en dan kom wys haar weer vir my ná daai tien jaar. Ek is nie ’n dobbelmens nie, maar ek sal ’n brood se geld verwed dat die motor met moeite sal ry, indien wel.

Almal, veral die nie-rokers en diegene wat nog nooit hul lippe aan die tabak-insek laat proe het nie, is dit eens dat die vyftig plus jare wat hy gerook het, die oorsaak van sy hartaanval en sy swak bloedsomloop is; almal is dit eens dat die skade wat die rokery deur al die jare veroorsaak het, nou onomkeerbaar is … skade wat sy geliefdes nou hartsellende gee, maar ook skade wat al die gebede en goeie wense en omgee inderdaad nie ongedaan kan maak nie.

Of kan hier dalk wel ’n wonderwerk gebeur?

Gesondheid is nie bloot die afwesigheid van siekte nie. Ware gesondheid is die wil om elke vorm van teëspoed te oorkom en selfs die ergste omstandighede te gebruik as ’n geleentheid vir nuwe groei en ontwikkeling. Groei wanneer lewensmaats mekaar te midde van die erge vrees begin koester en ontwikkeling, wanneer familiebande juis te midde van die vrees vir verlies ontgin word.

Sommige slim mense in meer as wit jasse vertel glo dat ons mensdom as slegs “halfgesond” beskryf kan word, wat beteken dat ons almal met 'n soort siekte geteister word en dat ons fisiese gesondheid sal daal namate ons ouer word, wat uiteraard nie nuuswaardig is nie, behalwe, dat daar tog aanvaarding en troos is en siekte nie noodwendig die oorsaak van groot ongelukkigheid hoef te wees nie…   

Ek is gebore om oud te word hier

en daar is geen ontsnapping nie, geen manier.

Ek is gebore om swak gesondheid te hê

en ook daar is geen ontsnapping nie, tot hulle my liggaam neerlê.

Ek is gebore om te sterf

en selfs daar is geen ontsnapping nie, net ’n lewe om te erf.

 Ek is gebore om lief te kan hê, liefde ook vir my,

gelukkig is daar geen ontsnapping nie, niks sal ons liefde kan skei.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top