Haikoes

  • 0

Haai,

’n Haikoe-kompetisie  staan bekend as ’n kukai.  

trek jou skoene uit
want die grond waarop jy staan
is heilige grond

Ek wil nie vandag aan julle kukai deelneem nie, maar net iets deel. 

Die mooiste Afrikaanse haikoes vir my is baie ouer as Afrikaans en, vreemd genoeg, as die haikoe-digvorm.  Hieronder  volg ’n klompie.  Daar is nog baie.

Groete

Wilhelm

Jy moet, staan geskryf,
die Here jou God aanbid
en Hom alleen dien.

Kom hier!  Kom met My
saam en Ek maak van julle
vissers van mense.

As jy die water drink
wat Ek jou gee sal jy nooit
nooit weer dors word nie.

Voorwaar jou geloof
het jou gered. Staan op, neem
jou bed op en loop.

Jy kan nie van brood
alleen lewe nie,  maar van
elke woord van God.

Laat die kindertjies
na My toe kom.  Moet hulle
nie verhinder nie.

Gee dan aan Caesar
wat Caesar toekom en aan
God wat God toekom.

Haal eers die balk uit
jou eie oog en dan die
klits uit jou broer s'n.

Gaan deur die nou poort.
Die poort na verderf is wyd
en die pad is breed.

Waak dan, want julle
ken nie die uur waarop die
bruidegom kom nie.

Moenie oordeel nie
en oor julle sal ook nie
geoordeel word nie.

Lei ons nie in die
versoeking nie, maar verlos
ons van die bose.

Want aan U behoort
die koninkryk en die krag
en die heerlikheid.

Met die maat waarmee
julle meet sal ook vir
julle gemeet word.

Bring julle sorge
almal wat moeg en belas is;
Ek gee julle rus.

Jy moet God liefhê
en jou naaste soos jouself.
Dis die hele wet.

Maak stil u mense.
As die mense stilbly sal
die klippe uitroep.

Die brood – my liggaam,
die wyn – my bloed. Neem, eet, drink
dink daaroor en glo.

Vader, vergewe
hulle want hulle weet nie
wat hulle doen nie.

Julle moet werklik
soos sout wees en in vrede
met mekaar lewe.

So is dit volbring
en in u hande, Vader,
gee Ek my gees oor.

Die klip wat verwerp
is deur die bouers het toe
die hoeksteen geword.

Gaan dan heen en gaan
dra die blye boodskap oor
aan alle nasies.

Doop hulle in die
naam van die Vader, die Seun
en Heilige Gees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top