Is Guptastan nou amptelik?

  • 5

Die afgelope week was soos iets uit een van Shakespeare se dramas.

Eers word Pravin Gordhan en Mcebisi Jonas terug ontbied van ’n oorsese toer wat veronderstel was om die ekonomie te red. Die rand het in reaksie dadelik geval.

Toe sterf Ahmed Kathrada, een van die ANC se gerespekteerde veterane. Zuma word vir alle praktiese doeleindes die begrafnis verbied en Gordhan kry ’n helde-ontvangs. Voormalige president Kgalema Motlanthe het beslis vir die toespraak van die week gesorg toe hy groot dele van Kathrada se brief waarin hy Zuma versoek om te bedank, aangehaal het.

Intussen nader die EFF die konstitusionele hof vir ’n bevel om die parlement te dwing om prosedure te begin om Zuma as president te onthef.

Net na middernag gisteraand, op die vooraand van die afsluiting van die parlement tot 28 April, het Zuma aangekondig dat hy 20 kabinetportefeuljes skommel, “for efficiency and effectiveness”.

Niemand is regtig verbaas dat Pravin Gordhan en sy regterhand, Mcebisi Jonas, van die eerste slagoffers was nie. Ek sou selfs aan die hand doen dat die ander 18 skuiwe net ’n dekmantel is om van hulle twee ontslae te raak.

Sedertdien word die woorde “licence to loot” in elke radio- en televisie-onderhoud genoem.

Dis belangrik om ook te kyk na wat in die agtergrond aan die gang is.

Die Guptas is hierdie week in die hof in ’n poging om hul geldsake uit te sorteer. Die hof het Dinsdag beveel dat Gordhan ex officio optree in hierdie hofsaak en dat hy nie nodig het om instruksies aan die staatsadvokaat te bewys nie.

Die Guptas moet teen 31 Maart afteken op die Denel Asië-ooreenkoms, en Gordhan het dit teengestaan. Gordhan is nou nie meer minister van finansies nie, en sy plaasvervanger, Malusi Gigaba, is ’n bekende Gupta-aanhanger. Enige teenstand is dus effektief beëindig.

Die afgelope paar weke is daar by regters se huise en by die hoofregter se kantoor ingebreek. Inligting eerder as aardse besittings is gesteel – nie die werk van jou tipiese dief nie. Daar is dus duidelike pogings om die regstelsel deur intimidasie te beïnvloed.

Die skommeling is net die laaste in ’n reeks skaakskuiwe om Zuma se posisie te versterk.

Maar was die skuiwe regtig in die belang van effektiwiteit?

Bathabile Dlamini, wat lek aan haar wonde na die SASSA-hofsaak, staan nog sterk. Sy moet juis teen vandag redes aan die konstitusionele hof gee hoekom sy nie persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir regskostes nie. Ek sou gedink het dat sy die eerste slagoffer sou wees indien daar groter effektiwiteit gebring moet word.

Faith Muthambi, wat deur die parlement oor die vingers getik is vir haar inmenging in die SAUK, is in ’n belangriker portefeulje aangestel.

Van Zuma se mees ervare kabinetslede, soos Gordhan, Jonas en Derek Hanekom, is uitgeskop om plek te maak vir persone van twyfelagtige morele karakter, en selfs meer twyfelagtige werksetiek.

Die lys gaan aan.

Zuma-lojaliste is beloon en in belangrike poste aangestel. Zuma se teëstanders word verder verswak. Die Jeugliga en die Vroueliga is stilgemaak deurdat hy jonger mense en vroue aangestel het in sy kabinet. Lojale jonger lede en vroue.

Die skommeling het ’n drieledige doel: raak ontslae van teëstanders wat hom van die vleispotte weghou, kry lojaliste wat enigiets vir Zuma sal doen in posisie, en stuur ’n waarskuwing aan ander lede van die kabinet dat hulle vervangbaar is.

Daar was hierdie week sprake daarvan dat meer kabinetslede in protes sou bedank indien Zuma Gordhan afdank. Dis natuurlik moontlik dat die meeste van hulle in elk geval in die middernagtelike skommeling vervang is. Meerdere kabinetslede wat bedank, sal vir die meeste mense dui op ’n grondwetlike krisis. Vir Zuma sal dit die gulde geleentheid wees om sy posisie verder te konsolideer en meer lojaliste aan te stel.

Wat hierdie kabinetskommeling anders maak, is die duidelike verdeeldheid in die ANC se top 6. Gwede Mantashe het alreeds in onderhoude aangedui dat die ander vyf van die top 6 nie geraadpleeg was oor die kabinetskommeling nie – hulle is meegedeel dis wat gaan gebeur. Zuma het nou gewys dat die partypolitieke strukture, en die befaamde dissipline waaraan kamerade hulle moet onderwerp, nie meer op hom van toepassing is nie. Hy het nou groter geword as die party.

Dit sal interessant wees om te sien hoedat die party reageer. In die verlede was dit al duidelik dat hulle skuimrubbertande het en dat hulle onwillig of nie in staat is om beheer oor Zuma uit te oefen nie. Sou hulle besluit om Zuma te herroep, is daar geen waarborg dat hy hom daaraan sal steur en hom aan partydissipline sal onderwerp nie. Die ANC het skynbaar ook nie meer die veglus om hom regtig die stryd aan te sê en kaalvuis te baklei nie. Te veel ANC-lede is gekompromitteer daarvoor.

Wat is die onmiddellike effek van die skommeling? Die rand sal verder val. Rommelstatus knip weer ogie vir ons. Ons voedselpryse is al klaar duurder weens die droogte. Nou, met ’n swakker rand, sal ons selfs meer moet betaal vir kos. Die armstes van die armes gaan die swaarste ly onder duurder voedselpryse.

Daar word alreeds stakings en optogte beplan om protes aan te teken teen die skommeling. Sommige ANC-vennote is besig om hul posisie te heroorweeg.

Dan is daar die mosie van wantroue wat die opposisie wil instel in die parlement. Vir enige mosie om te slaag, moet minstens 50 ANC-lede dit ondersteun. In die verlede, ten spyte van onderlangse gemor, het die party nog nooit so ’n mosie ondersteun nie. Of hulle nou gaan optree, is ’n ope vraag. Ek hou egter nie my asem op nie.

Niemand glo dat Zuma in belang van die land opgetree het nie. Dis selfs te betwyfel of hy in belang van die ANC opgetree het. Die skeuring binne die party gaan in die volgende paar weke selfs duideliker sigbaar wees.

Vir die Guptas is vandag ’n sjampanje-en-kaviaar-dag. Die Republiek van Guptastan is amptelik gevestig.

Vir die res; nou ja, wie gee om vir die res? Nie Zuma nie, dis vir seker.

  • 5

Kommentaar

  • Bostaande artikel is 'n pragtige opsomming van my eie gevoel rondom hierdie saak. Net die tyd sal leer wat Zuma se uiteindelike doel hieragter was.

  • Die ANC sit mi met 'n groot kopseer. Raak hul van Zuma ontslae vervreem hul dalk 'n groot deel van die Zoeloenasie se ondersteuning wat die party ernstig kan knou in verkiesings.
    Omring deur Ja-broers wonder 'n mens of daar genoeg ANC-lede is wat 'n mosie van wantroue in die President sal ondersteun. Die huidige kabinetskommelinge vergelyk met President Mugabe se optrede wat ook ondanks hewige opposisiebesware alle teenstand uit die pad gevee het.

  • Die gevolge van hierdie skommeling gaan beslis nie positief wees nie. 'n Mens kan in hierdie stadium maar net wonder hoe die ANC gaan reageer op Zuma se outokratiese gedrag. Ek glo hy het ook sy minderwaardigheidskompleks vertoon met hierdie skommeling. Met jong mans en vroue in sy kraal, kan hy mos nou weer voel soos Koning Dingaan. Ek word náár wanneer ek sy doen en late bedink.

  • En so word die 'stout' seuns van die ANC wat gewaag het om hul monde in die openbaar uit te spoel berispe en al protesterend teruggesleep in die ANC-kraal. Jy sien hul optrede is uit pas met die Afrika-tradisie,waarin daar verwag word dat elke burger die regerende party geesdriftig sal ondersteun om sy doelwitte te bereik.

    Enige teenspraak word as onpatrioties beskou en word jy outomaties gebrandmerk a la Mugabe as 'n vyand van die staat.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top