Groot Romanwedstryd 2018: Debbie Loots

  • 0

Debbie Loots (foto: Ruvan Boshoff)

Debbie Loots het pas die derde prys in die Groot Romanwedstryd 2018 ontvang. Sy gesels met Naomi Meyer oor haar wenverhaal.

Debbie, baie geluk met die groot toekenning! Vertel my asseblief van hierdie gelukkige einde. En ook van die werkstitel (“Die boek van gelukkige eindes”), die karakters en elkeen se einde?

Baie dankie, Naomi! Omdat daar meer as een hoofkarakter is, is daar meer as een einde, maar hoe gelukkig of ongelukkig hierdie eindes gaan wees, is ek nog nie oor seker nie. Die tweede weergawe van die boek, waaraan ek nou werk, is besig om heel anders uit te werk as die eerste weergawe. Daarom is dit moeilik om die tweede deel van jou vraag te beantwoord, want ek weet self nog nie wat “die fokus op die eindes” gaan wees nie, of hoe elkeen se lewe gaan verloop nie.

Die keurders verwys na 'n “introspektiewe sielkundige” as verteller in jou boek. Wil jy iets vertel van hoe die wêreld vanuit sy posisie lyk, jou karakter s'n, as jy vanuit sy perspektief na haar kliënte en na sy eie lewe kyk?

Die sielkundige bekyk die wêreld maar uit ’n baie siniese oogpunt. Hy het self nog ’n aantal persoonlike kwessies om op te los en eksistensiële vrae om te probeer beantwoord, en sy vriende en verskillende pasiënte se probleme help nie veel nie. Ek dink in die storie, soos in die lewe, help mense mekaar, en leer hulle belangrike lesse op 'n onderbewustelike vlak.

Hoe beïnvloed jou grafiese kuns, en jou visuele oog, jou skryfwerk? Of andersom?

Ek werk voltyds as tydskrifredakteur, wat tyd aan my boekskryf min en kosbaar maak, om nie van kunsmaak te praat nie. Maar tog is dit amper natuurlik om my skryfwerk uit ’n visuele oogpunt te benader, nie net as gevolg van my kunsagtergrond nie, maar ook uit die aard van my werk.

https://www.litnet.co.za/nb-uitgewers-se-groot-afrikaanse-romanwedstryd-2018-wenners-aangekondig/

https://www.litnet.co.za/groot-romanwedstryd-2018-ingrid-winterbach/

https://www.litnet.co.za/groot-romanwedstryd-2018-jaco-fouche/

https://www.litnet.co.za/groot-romanwedstryd-2018-gerhard-greyvensteyn/

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top