Grondonteiening: ’n ander perspektief

  • 19

Diefstal, so leer die Suid-Afrikaanse strafreg ons, is ’n deurlopende misdaad.

Dit beteken dat nie net is die oorspronklike dief skuldig aan die misdryf nie, maar so ook elke persoon na hom of haar wat voordeel uit die diefstal trek.

’n Praktiese voorbeeld is die volgende: Pietie is die eienaar van ’n kar. Terwyl Pietie eendag in die mall is, kom Jannie en steel Pietie se kar. Jannie gaan verkoop die kar aan Karel. Karel is die trotse eienaar van ’n garage; hy kry papiere vir die kar en stal dit in sy garage uit. Nou kom Kosie garage toe, en hy koop die kar, salig onbewus dat dit ’n gesteelde kar is. Kosie is ’n hardwerkende, wetsgehoorsame burger. Hy’t jare gespaar om ’n kar te bekom. Kosie versorg sy kar, hy sit nuwe bande op, hy vervang die gekraakte windskerm, hy laat maak die olielek reg, neem die kar paneelklopper toe en laat die duike uitslaan en die verfwerk mooi opknap.

Een dag ry Kosie, innocently minding his own business, en hy word by ’n padblokkade gestop. Daar word ontdek dat die kar wat hy ry, as gesteel aangemeld is. Kan Kosie nou sê dis sy kar, want hy’t betaal vir die kar en hy’t verbeteringe aangebring? Natuurlik nie. Dit was nog die heeltyd Pietie se kar. Jannie was nooit die eienaar nie, dus was hy nie by magte om die kar aan Karel te verkoop nie. Karel het nooit die eienaar geword nie, dus kon hy nie die kar regmatiglik aan Kosie verkoop nie. Kosie moet die kar afgee. Hy kan sê dat hy nooit bedoel het om die kar te steel nie, dat hy nie geweet het dis ’n gesteelde kar nie, en dit sal hom vrywaar van kriminele vervolging vir diefstal of besit van vermoedelik gesteelde goed. Dit sal hom egter nie eienaarskap van die kar gee nie. Dis Pietie se kar, en Pietie kan sy kar terugneem.

Is dit regverdig teenoor Kosie, wat nou al daai geld uitgegee het om die kar mooi te maak? Natuurlik nie, maar dis nie Pietie se skuld dat Kosie nou ’n verlies ly nie. Daar is geen rede hoekom Pietie nie herstel moet word in sy eiendomsreg net omdat Kosie geld uitgegee het op die eiendom nie.

Natuurlik, wanneer dit gaan oor grond, so wil mense graag aanvoer, is dit baie meer kompleks. Dis ’n emosiebelaaide aangeleentheid, so word geargumenteer. Maar is dit? Die basiese beginsels is tog dieselfde. As iemand ontneem is van hul eiendom, dan behoort hulle vergoed te word daarvoor. As hulle hul eiendom wil terughê, of toegang verlang tot ’n soortgelyke stuk eiendom, behoort hulle dit te kan doen.

Dit bring my by ’n paar punte wat ek wil uitlig.

1. Grondonteiening is nie nuut of vreemd in die Suid-Afrikaanse reg nie.

Die Grondwet maak voorsiening daarvoor dat die regering grond kan onteien sonder om die persoon in besit van die grond daarvoor te vergoed.

Dis ook nie asof daar nog nooit grond onteien was sonder vergoeding in die geskiedenis van hierdie land nie. Almal ken die verhaal van Distrik Ses en Sophiatown. Wat mense gerieflikheidshalwe vergeet, is dat dieselfde tragedie van gedwonge verskuiwings en onteiening van grond in elke dorpie in Suid-Afrika plaasgevind het. Dis glad nie so lank terug nie. Mense wat nou nog lewe, onthou hoe hulle verskuif was.

Die dorpie waar ek grootgeword het, Grabouw, is dieselfde.

In my standerd 1-jaar, deesdae se graad 3, het ek drie verskillende laerskole bygewoon. Dit het nie gebeur omdat my ouers rondgetrek het nie; ons het dwarsdeur dit als in dieselfde huis gebly. Die skool waar ek sub A en B (graad 1 en 2) gedoen het, was ’n ruim ou skool. Die stoep was breed, en daar was groot ou akkerbome waar ons pouses kon speel. Daar was houtvloere in die klaskamers, en ou banke met die name van vorige generasies kinders daarop uitgekrap. Die klasse was hanteerbaar klein.

Ons skool het lekker groot grasperke gehad. Die grond was swart van vrugbaarheid. Oorkant die pad was daar ’n vrou wat pouses lukwarte aan ons verkoop het. Sy het my altyd uitgevra oor my pa en my oupa en ouma. By haar het ek uitgevind dat hulle net om die draai van die skool af gebly het en goeie bure was. Al die huise in die omgewing het groot erwe en welige tuine gehad. Daar was hoenders, vrugtebome, groentetuine en blomtuintjies in elke erf.

Toe skielik, in my standerd 1-jaar, word die skool toegemaak. Geen redes is vir ons kinders gegee nie, maar ek onthou die onderwysers het met strak gesigte gesit. Ons ouers was ewe ongelukkig, maar daar was niks wat hulle daaraan kon doen nie. Ons moes trek.

Die nuwe skool het niks van die karakter van ons ou skool gehad nie. Die stoepe was smal, die klaskamers was klein, met klein venstertjies. Niks het daar gegroei nie, want daar was net vaal, amper wit sand. Die huisies rondom die skool het nie tuine gehad nie. Nie eens onkruid kon in daai grond groei nie. Boonop was die klasse oorvol, want daar was nie voorsiening gemaak vir die getal kinders wat nou daar moes skoolgaan nie.

Die situasie kon nie aangaan nie.

In die middel van die jaar was almal in my standerd een oggend geroep na die area waar ons byeenkoms gehou het. Daar was nie ’n skoolsaal nie. Om die waarheid te sê, daai skool het in 2017 vir die eerste keer ’n skoolsaal gekry. Ons is alfabeties ingedeel. Verskillende groepe, onder andere dié wie se vanne met W begin, my groep dus, is aangesê om ons goed bymekaar te maak. Ons is onseremonieel daai selfde dag nog oorgeplaas na ’n ander skool toe. Natuurlik het dit druk op hierdie skool geplaas, want hulle was ook nou al in ’n ritme in hulle skooljaar.

Ons lotjie het uitgestaan in ons uniforms van die “ou” skool. Natuurlik was daar nie in die middel van die jaar skooluniforms vir ons nie. Ek kan nie onthou hoe lank ons een skool bygewoon het in die uniform van ’n ander skool nie, maar dit het ons nog meer ontheemd laat voel.

Ek sou eers heelwat later uitwerk dat ons ons eerste skool moes verlaat omdat die skool in ’n gebied was wat wit verklaar is. Ons skool is toe omskep in behuising vir wit mense.

Vir dieselfde rede moes my oupa en ouma hulle groot, ruim huis met hul ruim tuin en hoenders verlaat. Oornag het hulle van huiseienaars gegaan na huurders van munisipale grond, met ’n huisie wat te klein was vir al hul kinders. Hulle het nie ’n sent gekry vir hul huise nie, en as hulle nie vinnig genoeg self getrek het nie, het die polisie hulle goed hardhandig uitgegooi (en vermoedelik moedswillig gebreek). Oornag was hulle ontwortel van ’n gemeenskap waar bure mekaar geken het en goed oor die weg gekom het. Hulle kon nie kies waar hulle wil bly in die nuwe area nie. Die goewerment het gesê waar jy bly, take it or leave it. Die gesin het uitmekaar gespat, want daar was nou nie meer plek vir almal om saam te bly nie. Dié wat oud genoeg was, moes maar hulle eie potjie loop krap

My oupa het nooit herstel daarvan nie. Hy is dood as ’n gebroke man. Die res van die familie doen groot moeite om nooit verby die huis waar hulle grootgeword het, te ry nie. Daar word nie daaroor gepraat nie. Dis nie die tipe seerkry en vernedering wat net vlak sit en vergeet kan word nie. ’n Huis, ’n tuiste se verlies is nie dieselfde soos wanneer jou kar of jou televisie afgevat word nie.

Ware geregtigheid sou die verliese wat reeds gely is, in ag neem en dit probeer regstel. Is dit regverdig teenoor die huidige bewoners indien die huise teruggegee word? Nee, maar dit is geregtig ten opsigte van die oorspronklike eienaars.

Natuurlik beteken dit nie elke oorspronklike eienaar wil hul eiendom terughê nie. Soveel pyn soos wat my eie familie deurgemaak het as gevolg van onteiening, is daar nie een enkele persoon van hulle wat dieselfde pyn op iemand anders afwens nie.

2. Ons hoor nooit die suksesverhale waar grond oorgedra was nie.

Wanneer daar oor grondonteiening gepraat word, deesdae, is die dominante narratief een van “hulle” wat “ons” suksesvolle kommersiële plase gevat het en dit in bestaansboerderye laat verval het. Daar is altyd foto's van masjinerie wat staan en verroes omdat “hulle” nie weet hoe om dit te gebruik nie, van geboue wat verwaarloos word omdat “hulle” nie goed in stand kan hou nie.

Daar is nie een enkele verhaal van hoedat “hulle” ’n suksesvolle boerdery geneem en daarop verbeter het nie. Natuurlik nie. Dit pas nie die narratief van die hardwerkende boer wat voorsien in ons voedselbehoeftes wat ontneem is van hul besigheid sodat die dom en lui swart mense als in die grond kan ry nie.

Dit pas nie die narratief van onredelike, onbedagte en onbeplande grondonteiening deur ’n swart regering wat regtig eintlik maar net besig is om hulle swart haat en wraak op onskuldige, eerbare, hardwerkende wit mense uit te haal nie.

Is ons verbaas dat hierdie narratief in die media uitspeel? Natuurlik nie. Bell Pottinger en ander firmas soos hulle het nie in ’n vakuum ontstaan nie. Regse invloede het nie met die einde van formele apartheid geëindig nie. Lank voordat “white monopoly capital” uitgedink was, het iemand vorendag gekom met “Swart Gevaar” wat verskillende groepe met vrees uitmekaar gehou het.

Ek wil twee voorbeelde voorhou van suksesverhale in ’n poging om hierdie narratief te onderbreek. Soos in die vorige geval, speel hierdie verhale in Grabouw af.

In die 1990’s was daar ’n groep plase wat onder die naam Whitehall bedryf was. Die eienaar van die groep was ’n Engelsman genaamd Henry Hall. Whitehall was ’n gevestigde kommersiële boerdery en waarskynlik een van die mees suksesvolle in die gebied.

Hall wou sy plaaswerkers bemagtig, en hy het dus vrywillig een derde van sy boerdery aan hulle afgestaan. ’n Trust, die Whitehall Farmworkers Trust, is in 1995 gestig en geregistreer. Plaaswerkers het die keuse gehad om deel te word van die trust, of om eerder nie betrokke te raak nie. Almal het deel geword van die trust. Hall het vir die trust ’n lening beding en die een-derde-aandeel is vir R10 miljoen verkoop. Hierdie geld is verkry deur ’n lening by die Ontwikkelingsbank, Standard Bank en die Onafhanklike Ontwikkelingstrust. Die plaaswerkers se bydrae was om vir ’n tydperk van ongeveer vier jaar van hul Kersfees-bonus afstand te doen, as betaling vir hulle aandeel. Die res van die betaling het gekom uit hulle aandeel in die wins wat die plaas maak.

Intussen is daar op die plaas ’n bestuurskomitee gestig. Op hierdie komitee het Hall, sy plaasbestuurders en lede van die trust gesit en gesamentlik besluite oor die boerdery geneem. Wat hierdie reëling uniek gemaak het, was dat die plaaswerkers nie net hulpelose bystanders was wat op die komitee was om legitimiteit te verleen terwyl Hall steeds kitaar slaan nie. Die plaaswerkers se aanbevelings is aanvaar. Intussen was hulle opleiding gee in hoe om ’n besigheid te bestuur. Hulle is ook voortdurend opleiding gegee in die nuutste boerderytegnieke.

Hall is oorlede, maar hy het in sy leeftyd gesien hoedat sy voormalige plaaswerkers die plaas geneem en suksesvol uitgebrei het. Die trust het hul naam verander na Vuki Plase en hulle het intussen beheer oorgeneem oor die plaas. Vandag is Vuki een van die grootste vrugte-uitvoerders in die Wes-Kaap. Hulle het ook uitgebrei na die toerismebedryf, en het tans ’n ooreenkoms met die Daddy Longlegs-groep in terme waarvan die groep land huur en die Old Macdaddy Airstream-karavane vanaf Vuki se grond bedryf.

Die tweede voorbeeld is nie ver van Whitehall/Vuki nie.

In 1996, waarskynlik geïnspireer deur die sukses van die Whitehall-skema, het Paul Cluver ’n soortgelyke projek met sy werkers begin. Grond was gedeeltelik van sy plaas De Rust, en gedeeltelik van die Departement Bosbou verkry. In hierdie geval is die Lebanon Farmworkers Trust gestig en op dieselfde beginsels as die Whitehall Trust bestuur.

Anders as Whitehall, waar die plaaswerkers voortgegaan het met die bestaande boerdery, het die Lebanon Trust besluit om te skuif na wynmakery in stede van die bestaande vrugteboerdery, wat uit appels en pere bestaan het. Cluver self het ook begin wyn maak, en het sy kennis met hulle gedeel.

Ook hierdie trust het na ’n aantal jare hulle naam verander, na die Thandi Trust. Thandi wen gereeld elke jaar pryse vir die gehalte van hulle wyn.

Thandi het ook uitgebrei na die restaurantbedryf. Aanvanklik het die plaaswerkers self die restaurant bedryf, maar mettertyd het hulle besluit om hierdie funksie te laat oorneem deur ’n ervare restaurateur. Die Hickory Shack is besig om bekendheid te verwerf vir hul Texas Smokehouse-vleise. Die restaurant word tans besit en bedryf deur iemand van buite, op grond wat aan die trust behoort.

In beide hierdie gevalle het die plaaswerkers nie net die boerdery in stand gehou nie, hulle het selfs daarop verbeter. In beide gevalle was daar samewerking tussen die boer en die plaaswerkers. In beide gevalle is die plaaswerkers voorsien van die besigheidsopleiding en boerderyopleiding om hulle in staat te stel om die boerdery oor te neem. Hulle is nie net aan hul eie genade oorgelaat nie. In beide gevalle was die stuk grond ook nie opgebreek in individuele stukkies vir elkeen om ’n bestaansboerdery te voer nie. Dit is in een stuk gehou, met gesamentlike besluitneming deur die groep, en gesamentlike verdeling van die winste. In beide gevalle is daar nou, 20 jaar later, tasbare bewyse van sukses. Nie net is die boerderye suksesvol nie, die voormalige plaaswerkers se lewens is verander. Hulle kinders het universiteitsopleiding en is entrepreneurs of professionele mense. Die algemene welvaartsvlakke op beide plase het aansienlik gestyg. Plus, hulle dra by tot die ekonomie van die land.

Die suksesverhale in Grabouw is nie uniek nie. Die plaaswerkers was nie besonder slim of uitsonderlike besigheidsmense nie. Hulle is eenvoudig voorsien van die vaardighede om ’n besigheid suksesvol te bedryf. Dit kan elders gerepliseer word.

Die plaaseienaars het ook nie antagonisties teenoor hulle werkers gestaan nie. Hulle wou hê hulle werkers moet bemagtig word, hulle het aktief meegedoen om dit te bewerkstellig en daardeur het hulle ’n groter bydrae tot vrede en stabiliteit in ons land gelewer.

3. Ons weet nie hoe die regering beplan om grondregte te herstel nie.

Die onlangse mosie wat in die parlement aanvaar is, het heelparty mense bekommerd en paniekbevange gelaat. Die paniek word verder aangeblaas deur berigte in die media.

Die mosie is egter net politiekery. Daar bestaan alreeds voorsiening in die Grondwet dat grond onteien kan word sonder vergoeding. Daar was nie enige mosie nodig om aan die parlement die mag te gee om grond te onteien nie; hulle het dit alreeds. Daar kan heelwat gelees word in die feit dat die regering tot dusver verkies het om eerder geld te betaal om grond te bekom as om die grond sonder vergoeding te onteien.

Die EFF moes ’n nuwe invalshoek kry om as verkiesingstrategie te loods noudat die “Zuma is sleg”-veldtog geneutraliseer is. Die regerende party moes hierdie nuwe strategie neutraliseer.

Dit beteken egter nie dat die regering wel van plan is om boerderygrond te onteien nie. Daar is aansienlike hoeveelhede grond alreeds in staatsbesit wat oorgedra kan word.

Plaasbesettings soos in Zimbabwe het gedurende die regime van ’n diktator geskied. Ons lewe in ’n demokrasie, en daar bestaan meganismes om seker te maak wanorde breek nie hier los nie.

Die verkiesingspraatjies van een politieke party regverdig nie die vlakke van angsbevange paniek wat ons sien nie – tensy die vrees vir die Swart Gevaar wat apartheid in stand gehou het, dieper gesetel is as wat ons almal dink.

4. Australië is nie die land van melk en heuning nie.

Natuurlik kan mens niemand keer om elders heen te gaan as hulle wil nie, en vroeë beloftes dui daarop dat Australië hulle deur wyd oopgooi vir boere van Suid-Afrika. Die vraag is: Gaan hulle elke boer ’n grondeienaar maak, of gaan die boere maar voormanne op andermans grond wees? As hulle grond gaan gee, waar kom die grond vandaan? Vat hulle die grond af van die aborigines en herhaal die sondes van Suid-Afrika, of hoe gaan dit werk? Hoekom dui statistieke daarop dat die selfmoordsyfer onder Australiese boere aansienlik hoër is as in enige ander beroep? ’n Onlangse studie, wat die regering aanvanklik ontken het maar toe later bevestig het, dui daarop dat daar elke vier dae ’n boer selfmoord pleeg in Australië. Die moontlikheid bestaan natuurlik altyd dat die Australiese regering van voorneme is om die boerderye van boere wat selfmoord gepleeg het, oor te dra aan Suid-Afrikaners.

Daar word wyd paniek gesaai deur verskillende groepe wat hul bestaan, hulle brood en botter verdien deur rassehaat aan te wakker. Hierdie groepe maak staat daarop dat mense emosioneel gaan reageer en nie wag tot hulle al die feite het nie. Dan kan mens seker ook nie die skuldgevoelens van diegene wat voordeel getrek het uit die vorige onteienings en wat glo dat afrekening nou opgedaag het, buite rekening laat nie.

In stede van vrees te saai, probeer eerder op rasionele manier vasstel wat die feite is – nie deur eggokamers op sosiale media en rassistiese verregses internasionaal wat in hul eie lande nie hond haaraf kan maak en nou hier ontwrigting wil veroorsaak nie, maar deur in gesprek te gaan met die mense en die organisasies wat in staat is om te help.

Bowenal, as burgers is ons almal geregtig op antwoorde van die regering. Gebruik die korrekte kanale.

Maar heel, heel eerste, kalmeer. Kalmeer.

  • 19

Kommentaar

  • Met volle erkenning oor die pyn van die verlede. Moet ons nou uit die verlede neem wat SLEG is en daarop die toekoms bou?

  • Dit is mi effe skynheilig om terug te gaan in die geskiedenis totdat die gebeure van die tyd jou pas. Die feit is dat net so min as wat die grond in Suid-Afrika aan witmense behoort het net so min het dit aan swart mense behoort.
    Die feit is dat die oorspronklike inwoners verdryf en uitgemoor is deur beide swart en wit mense waarvan die een uit midde-Afrika suid getrek het en die ander uit Europa hierheen verhuis het.
    As daar oor regstellende aksie gepraat word sover dit grondsake aanbetref begin dan by die begin en nie 'n begin wat jou pas nie. Nou help dit nie om enkele voorbeelde van sukses voor te hou nie as daar beraam word dat 90% van alle grondhervormingsprojekte misluk. As net 10 % slaag is dit nie 'n sukses nie.
    Nou weet ek dat in dieselfde trant ,sommige matriekvakke jy net 30% nodig het om te slaag en dat die verhoogde matriekslaagsyfer elke jaar triomfantlik voorgehou word as vordering in die voorheen onderdrukte onderwys.
    Maar 'n mens kan ook anders daarna kyk. As die weerman sê het verwag 'n 30% kans op reën sê hy eintlik dat daar 'n 70% kans is dat dit nie gaan reën en dat die kans dat jy jou sambreel en reënjas gaan nodig kry maar skaal is.
    Wanneer ons dan vir 'n kind sê ,moenie worry nie, 30 % is goed genoeg, dan raak dit mi gevaarlik want eintlik sê ek vir hom/haar dat hy/sy van 70% van die betrokke vak niks hoef te weet nie. Nou wonder ek is dit nie dalk 'n rede vir ons groot werkloosheid en trae ekonomie nie?

  • Roelof Pelser

    Dis 'n lang stuk om te lees, en ek moet erken dat my hart regtig seer was toe ek lees van die sondes van die verlede. Ek kan verstaan as 'n regering groepe wil skuif vir welke rede, maar dan moet hulle eerder voordeel daaruit trek. As dit berekenbaar was sou ek ook nie beswaar hê as sulke dinge vandag reg gestel word nie. Soos ons weet is die laaste paar jaar se grondhervorming nie baie suksesvol nie, en baie verkies in elk geval die geld. Miskien moet die regering minder besorg wees oor persentasies en eerder werk aan 'n ekonomie wat werk het vir almal (ek is ook werkloos). As almal werk het hoef hulle ook nie huise uit te deel nie, want mense kan hulle eie lewe bou, en trots wees daarop, eerder as om te kla oor 'n ekonomiese afskeephuis.
    As ons so besorg is oor persentasies ... moet ons seker sê dat daar te veel Portugese is met groentewinkels. Dus - laat die "boere" op die plase, want boerdery is in hulle bloed, en laat asb die Portugese in hul groentewinkels. Dan sal ons kos hê.

    • Dis vir my goed om in goeie Afrikaans sonder spelfout en opruiende spraak inligting te kry van dinge waarvan ek nie bewus was nie. Baie dankie.

  • Donald Harrison

    Ek hoor waar jy vandaan kom en ja , die vorige regering het baie dinge verkeerd gedoen, maar die probleem is egter nie dat die regering probeer land teruggee aan die oorspronklike eienaars nie... Glad nie. Die meeste mense sou nie so erg gevoel het as dit die geval was nie. ANC is ’n kommunistiese party. Dit was nog altyd. Mnr Malema het reeds gesê dat wat hulle wil doen is al die grond vat en vir regering gee en dan huur almal die grond by regering. Dit my vriend is kommunisties. Wanneer die regering al die grond besit , besit hulle die fabrieke en alles.... so dan word ek en jy net ’n nommer in ’n kommunistiese land sonder enige regte. Dink verder as net vandag en more ... Onthou al die wette wat reeds verander is. Hoekom ? Die plan was en is nog altyd om SA kommunisties te maak. Die plan het nie verander nie ...

  • Ek sukkel bietjie om te verstaan wie is eintlik die voorheen-benadeelde in die inleidende gedeelte, is dit nou arme Pietie of arme Kosie?
    Dit daar gelaat, die huidige diskoers gaan eintlik oor grondhervorming op plase en nie oor gedwonge verskuiwings in dorpe en stede soos in die verlede toegepas nie. Dit behoort eerstens oor voedselsekuriteit te handel en daarna oor emosie.

  • Ek is ’n direkte afstammeling van Krotoa, die tolk in Van Riebeeck se administrasie. Haar oom was ’n Khoi-leier. Haar suster was getroud met ’n Khoi-leier van ’n ander groep meer noordwaarts. Gelukkig vir my, het die VOC baie goed boekgehou en ek kan bewys dat sommige van my voorsate reeds hier was toe van my ander voorsate hier geland het. En as elke ander Afrikaner gaan begin om veral hul matriargale lyne na te vors, gaan daar derduisende wees wat dieselfde kan doen en ons sal trouens presies weet watter stuk grond op watter stadium aan wie behoort het. Sonder om enigsins die hartseer omstandighede van Bettina se oupa se huis te negeer, trouens haar storie is die storie van my dogter se Indiër-oupagrootjie, moet selfs Bettina en ek toegee dat die wêreld nog altyd ’n plek was waar mense migreer het, vir watter rede ook al. En as Bettina nou werklik konsekwent wil wees, gaan sy heel waarskynlik uitvind dat haar oupa se grond heel waarskynlik ook voorheen ’n ander regmatige eienaar gehad het en dat daardie persoon derduisende nasate het wat op daardie stukkie grond aanspraak maak. As ons daardie logika volg gaan die hele wêreld nou misplaas word. Waarby ons nie verby kan kom nie, is dat daar mense is wat in haglike omstandighede leef en hulle verdien beter.

  • Nie alle grond is sonder vergoeding tydens apartheid gevat nie. In die Wes-Transvaal is daar onderhandel en ooreengekom op alternatiewe behuising. Hierdie selfde mense het in die nuwe bedeling behalwe vergoeding, ook hulle huidige behuising wat in ruil destyds aangebied was, behou.
    Dit is baie duidelik dat net sekere gevalle uitgelig word en die res op "die spike" gesit word. Laasgenoemde verdraai en vervals waarlike gebeure wat natuurlik nooit genoem word nie tot die voordeel van die huidige politiek.
    Mense het volop tyd gehad om grondeise in te sit vir stewige vergoeding. Nou gaan dit teen die "wit boer", die grond is 'n bysaak.
    Waarom nie die grondeise heropen en dan kan ons sien waarom dit gaan?

  • Dit klink asof jy jou eie geskiedenis hierby inkleur ter wille van bietjie politieke simpatie, ek respekteer dit. Die punt is dat alle grond wat deur boere en blanke inwoners van hierdie land besit word regmatig bekom en deur onderhandelings verwerf is. Die leuen wat voorgehou word dat blanke grond gesteel is van ander is belaglik. Dat ons wat nie swart is nie nou almal in dieselfde bootjie sit is duidelik en ja, dankie dat jy jou insette hier deel. Die sonde van apartheid het almal met 'n baie beter lewe en etniese groepe met hulle eie grond bevoordeel, gaan kyk maar na die statistieke. Die marxistiese verloorresep wat nou hier toegepas word is demonies in alle fasette daarvan.

  • Bettina, is jy bereid om vandag te vergoed vir alles wat jou voorouers gedoen of nagelaat het? Is elke Zoeloe wat vandag leef, bereid om te vergoed? Is die kinders van moordenaars bereid om die nageslag van die vermoordes te vergoed? Wie moet vergoed vir al die verowerings wat die Romeine uitgevoer het? Daar is seker min mense in hierdie land wat nie 'n eis sal kan instel as gevolg van die verloop van die geskiedenis nie. En hulle wie se grond nou gegryp gaan word, gaan daar aan hulle ander woonplek gegee word soos wat die vorige bedeling gedoen het? En wie gaan vergoed vir al die diefstal van goedere wat plaasgevind het tydens die afgelope paar weke se grondgryp?

  • Alma Moodley baie insiggewend. Ek ken nie Afrika se geskiedenis nie so ek wonder oor iets. As enige persoon sy vee en besittings gevat het, wit of swart en op 'n stukkie grond gaan huis opslaan het, is dit dan gereken as hul grond? Is dit nie maar hoe grond in besit geneem is nie? Daar was nie iemand by wie dit gekoop of geruil kon word nie. Hoe kan grond wat nooit 'n persoon s'n was nie dan gereken word as 'eiendom'?

  • Dis duidelik iemand wat niks van die reg weet nie, die strafreg bepaal nie eiendomsreg nie. In die verhaaltjie bo sal die regmatige eienaar eienaar bly van wat ook al aan die voertuig aangebring is. Ek het hierdie verwronge verhaaltjie ook gehoor op 702. Ai wanneer mens dinge so op jou kop moet draai, dan verder stem vir onteiening sonder vergoeding, geen wetgewing gaan se slegs op witmense van toepassing nie. Wat wel gaan gebeur, is more gaan die regering besluit om 'n pad deur 'n dorp te maak, dan gaan hulle almal se eiendom onteien sonder vergoeding, wit, swart ens, want daar is 'n wet wat sê hulle kan, dan hoor ek weer van die ja-broers vir onteiening van grond sonder vergoeding. Laastens is dit nie net diegene wat dit goedstaan se onderrok wat uithang nie, maar hulle hele EFF-oorpak. Dit sal nooit gebeur nie, die onteiening sonder vergoeding.

  • Dit gaan nie oor die wet nie, dit gaan oor mense wat dink hulle het nou die reg om te vat wat hulle wil, en huise op te sit op 'n ander se grond.
    Australi– het nooit gesê hulle gaan vir die boere plase gee nie. Hulle wil net die proses makliker maak vir boere om te emigreer, as hulle sou wou!

  • Wat my dronkslaan is: waarom is daar nie grootskaalse, produktiewe plase in die beste reënval en landboustreke van Suid-Afrika wat reeds aan swartmense behoort nie? Is dit nie hoog tyd dat die kommunale grondbesitstelsel beëindig word sodat swart entrepreneurs wat wil boer grondeienaars kan word nie? Plase wat aan witmense behoort kan dan met rus gelaat word.

  • Mense leef sewentig, tagtig jaar. Die grond wat 500 jaar gelede daar was, sal oor 500 jaar steeds daar wees.
    Niemand kan dus grond vir ewig "besit" nie. Die Polinesiërs het 'n gesegde wat dit mooi opsom: Mense behoort aand die grond, nie andersom nie.
    As ons DIT kan verstaan en implementeer, sal dit met ons baie beter gaan ...

  • Hans Richardt

    SA se demokrasie ontaard nou in Oglokrasie, waar kortsigtigheid en selfbelang botoon voer.
    Politieke korrekte media voorsien nie gevolge van oglokrasie se simptome van BBBEE en regstelaksie nie, wat met skades en skande deurspek is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top