Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0

Groen soos die hemel daarbo
Eben Venter
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082613

Luhlaza okwesibhakabhaka b.nw. blou; (lett.) groen soos die hemel daarbo.

“Dis iets wat tussen twee liggame gebeur, uit en uit fisiek. Dis hoe ek dit sien, dr Spiteri. Dis intens en dit duur net ’n kort rukkie – daar lê die krag. En as jy alles saamvat, die intensiteit en die tyd en dan die krag – daar lê die permanensie. (210)

 

1. Inleidend

Onlangs het ’n joernalis-resensent in ’n onderhoud met ’n boekeredakteur die volgende opmerking gemaak: “Wat ’n veel groter sonde is, is die vaal akademiese resensie: So-en-so skrywer debuteer ens, ens …” (Prins 2017:10). Aangesien hierdie ’n akademiese resensie-essay is, sal ek my verstout om wel die joernalis-resensent se “sonde” te pleeg – dit verskaf immers belangrike agtergrondinligting aan lesers wat nie Perspektief en profiel langs die swembad lees nie. Dit plaas die skrywer se teks(te) binne ’n gegewe tydvak waarin sosiohistoriese gebeure heel moontlik ’n invloed op die teks gehad het en sodoende as belangrike verwysingsraamwerk dien. Verder bied dit ’n oorsig van die skrywer, digter of dramaturg se oeuvre.

Venter se oeuvre gaan so ver terug as 1986 met die publikasie van sy kortverhaalbundel Witblitz. In 1993 verras Venter die Afrikaanse leserspubliek met sy roman Foxtrot van die vleiseters, waarvoor hy in 1994 die WA-Hofmeyr-prys ontvang. Die roman word opgevolg met Ek stamel en sterwe (1996) en Venter ontvang nogmaals die WA-Hofmeyr-prys vir hierdie insiggewende, roerende roman wat die tema van MIV/Vigs op sensitiewe wyse aansny. Ander romans uit Venter se vernuftige pen sluit in My simpatie, Cerise (1999), Begeerte (2003), Horrelpoot (2006), Santa Gamka (2009) en Wolf, Wolf in 2013. Venter publiseer ook ander tekste, soos die kortverhaalbundel Twaalf (2000) en Brouhaha: verstommings, naakstudies en wenresepte (2010). Wat veral opvallend is omtrent Venter se oeuvre tot op hede, is die verskeidenheid temas wat in sy tekste, maar veral in sy romans, aan bod kom. Alhoewel daar sekere deurlopende motiewe aanwesig is, soos seksualiteit, Afrikanerskap en die diaspora, skroom Venter nie om onderwerpe aan te raak wat die voormalige sensuurraad se nekhare sou laat rys het nie.

Venter se nuutste roman, Groen soos die hemel daarbo, is oudergewoonte ’n aangename verrassing verpak in tien hoofstukke, met elke hoofstuk wat ’n aanhangsel bevat. Die titel van ’n teks, hetsy roman, gedig of dramateks, is altyd ter sake. ’n Belangrike komponent van ’n teks lê in die titel opgesluit. Venter het op ’n titel besluit wat afgelei is van ’n Xhosafrase vir die kleur blou, naamlik luhlaza okwesibhakabhaka. Letterlik vertaal beteken dié woord “groen soos die hemel daarbo”.

“Soos die? Luhlaza okwesibhakabhaka.”
“Wat beteken dit?”
“Ons sê: groen soos die hemel daarbo.”
“Wat bedoel jy? Is dit die woord vir blou?”
“Ja, dit is ons woord vir blou.”
[…] Xhosa het nie ’n woord vir blou. (208)

Die titel is besonder gepas indien die leser in ag neem dat die roman in Bulungula in die voormalige Transkei eindig wanneer Simon saam met ’n vriend aan ’n afgeleë kusoord besoek aflê. Selfs die kleur van die lug in die Transkei fassineer Simon: “Die hemel vlerk nou oranje en blou, groots ver oor die groen land” (202). Die titel van die roman se doel is om ’n konsep vas te vat wat ’n mens nie heeltemal kan verwoord nie – en hierin lê die kern van hierdie roman, naamlik Simon Avend se stryd om sy “manlikheid te bemeester [en] om uiteindelik ’n morele mens te word” (Botha 2017:12). Hierdie stryd word verwoord in sy talle seksuele ervarings regoor die wêreld – soortgelyk aan ’n persoon wat op reis gaan om hom- of haarself te ‘vind’. Elizabeth Gilbert dien met haar memoir Eat, pray, love: One woman’s search for everything across Italy, India and Indonesia (2006) as voorbeeld van ’n individu wat so ’n reis onderneem met die hoofdoel om sin te maak van die lewe en die gevoelens wat ons as mense nie altyd kan beskryf of begryp nie – net soos daar nie slegs ’n enkele woord is om die kleur blou in Xhosa te beskryf nie.

 

2. Simon Avend as reisiger

In Travel writing – The self and the world (2002:i-xi) noem Casey Blanton dat reisliteratuur as een van die oudste vorme van literatuur beskou kan word. Die Griekse historikus en reisiger Herodotus het reeds in 460 vC na die Mediterreense gebied gereis en sy reisaantekeninge in Histories gepubliseer (Blanton 2002:i). Talle Afrikaanse skrywers en digters het al reisliteratuur gepubliseer of oor die reiservaring gedig. Enkele voorbeelde sluit in Ernst van Heerden se Etikette op my koffer (1961), Elsa Joubert se Gordel van smarag: ’n Reis met Leipoldt (1997), André P Brink se Potpourri (1962), Olé (1965), Midi (1969) en Fado (1970). (Sien Koen 2011:1-7). In die Afrikaanse digkuns skryf onder andere Petra Müller, Johann Johl, Chris Lombard en Lina Spies oor hul reise na spesifieke stede en of lande regoor die wêreld. Joan Hambidge is veral bekend as “reisende digter” en reeds skryf sedert die tagtigerjare reisgedigte tydens haar talle besoeke aan lande regoor die wêreld.

Venter se protagonis, Simon Avend, reis na verskillende wêrelddele. Hy lê besoek af aan Bali in Indonesië, Wassenaar naby Den Haag in Nederland, Istanbul in Turkye, Melbourne en Queensland in Australië (waar Venter ook woonagtig is), Kaapstad, Jeffreysbaai en Bulungula in Suid-Afrika, asook Tokio in Japan. Reis is dus ’n belangrike motief in die roman.

In ’n onderhoud wat JP Smuts in 1971 met Hennie Aucamp gevoer het oor die verhouding tussen reis en skryf, reageer Aucamp soos volg:

Wanneer jy gaan reis, veral in lande waarvan jy die taal nie ken nie, lê jy jou ’n soort ballingskap op. Om dié ballingskap te oorleef, raak jy waaksaam; registreer jy skerper as gewoonlik, word jy een en al sintuig, wat ’n groot hulp is by waarneming. En as verdediging teen jou eensaamheid begin jy jouself afluister, luister jy na dinge wat jy vroeër nooit durf dink het nie. Jy raak in die volste sin van die woord blootgestel aan jouself. En soms kom jy, vir ’n oomblik maar, tot selfkennis. Dis dan dat jy paniekerig begin skryf in ’n poging om jou “ervaring” te red en te besweer. (Aucamp 2010:19)

Simon se reise word gekoppel aan sy seksuele ervarings. Soos Aucamp tereg noem, word Simon ook “blootgestel aan [hom]self” om sodoende deur middel van die verskeie seksuele ervarings in verskillende ruimtes sy “manlikheid te bemeester om uiteindelik ’n morele mens te word” (Botha 2017:12).

Tydens sy reis na Seminyak in Bali ontmoet Simon vir Dewa deur middel van ’n selfoonapp vir mans wat mekaar (hoofsaaklik vir seks) wil ontmoet. Om seks in woorde te omkryf sonder om in pornografie te verval, verg ’n bekwame hand. In hierdie opsig bewys Venter weer eens dat hy ’n gedugte skrywer is. Hy draai nie doekies om met sy seksuele beskrywing nie, maar terselfdertyd word die emosionele aspek verbonde aan hierdie uiters fisieke daad nie vermy nie: “Ek eis hom, ek vat hom vir my, die objek van my besonderlike soort begeerte” (16). Wat egter opvallend is, is Simon se gebrek aan selfvertroue tydens die seksdaad. Hy is wel bedrewe met die fisieke handeling, maar word telkens met selftwyfel oorval. “Trae beginner, en dit het my jare gevat om ook daarmee vrede te maak” (16). Interessant is die amper terloopse verwysing na sekere taalooreenkomste tussen Afrikaans en woorde soos kulkas (koelkas) en rattan (rottang) wat deur die plaaslike inwoners gebruik word. Die invloed van die voormalige Nederlandse koloniseerder is steeds in Indonesië (Batavia) teenwoordig. “Ja. In die sewentiende eeu is baie slawe van Batavia af ingevoer na die Kaap de Goede Hoop, en baie van hulle woorde het versmelt met ons s’n” (15).

Simon se verblyf aan die Nederlandse Instituut vir Gevorderde Studies naby Den Haag lewer nuwe uitdagings op. Vir die eerste keer het hy “soos ’n hond, […] ’n man uitgesnuffel wat [hom] ontsenu” (36). Tydens sy terapiesessie met dr Spiteri word dit duidelik dat Simon emaskulasie ervaar het.

Elke reis wat Simon onderneem, gaan met sekere seksuele ervarings gepaard wat in die daaropvolgende terapiesessie met behulp van dr Spiteri tot op die been ontleed word. Sy komplekse verhouding met sy pa en ma kom ook in die roman aan bod. Venter verken die ma-seun-verhouding op intensiewe wyse. Die braaivleis by sy ma se huis in Jeffreysbaai se aftreeoord is besonder humoristies en realisties verwoord.

 

3. Seksualiteit

Een van die treffendste tonele in die roman is die een waar ’n jong, seksueel onkundige Simon saam met sy pa op hul Oos-Kaapse plaas kyk hoe ’n Bonsmarabul ’n koei dek. “Ek kyk op na my pa. Dis maar dieselfde tussen ’n man en ’n vrou, sê hy weer. […] Dis hoe die mens paar, uit en gedaan” (5). Hierdie herinnering sou Simon vir die res van sy lewe affekteer. “My pa het nie weer oor die ding van paar gepraat nie, niks daarop uitgebrei, nie eens ’n bietjie advise nie. Nooit, ooit weer nie” (7). Simon was dus verplig om sy seksualiteit self te ontdek en sin te probeer maak van wat seksuele intimiteit en identiteit behels:

Jare later, so lank as dit my gevat het om lekker in my vel rond te loop en in te val by ’n kamer vol kaal mans, sê so ’n stuk of tien, en eenhonderd present gemaklik te wees, wel, byna, het ek weer daardie middag saam met my pa op die vasgestampte grondwal onthou. (7)

3.1 Dr Jo Spiteri

Elke hoofstuk word afgewissel met ’n beskrywing van Simon se besoek aan sy ietwat onkonvensionele terapeut. Simon bespreek sy seksuele dade op gedetailleerde wyse met sy terapeut in sy soeke om sy manlikheid te bemeester en sin te probeer maak van elke seksuele daad. Tydens dr Spiteri en Simon se sessies kom talle verwysings na die Franse filosoof Michel Foucault ter sprake. Laasgenoemde verwys hoofsaaklik na Foucault se werk oor seks en seksualiteit soos verwoord in The history of sexuality Volume I: The will of knowledge (1978), The history of sexuality Volume II: The use of pleasure (1984) en The history of sexuality Volume III: The care of the self (1984). Tydens een van hul terapiesessies bespreek dr Spiteri die kwessie rondom begeerte.

Jy weet die klassieke Grieke het dit nie oor seks gehad soos ons dit deesdae doen nie. Hulle het die woord aphrodisiac gebruik en vir hulle het dit drie dinge beteken: die handeling, die genot wat uit die handeling spruit en die krag van begeerte wat op die plesierervaring volg. (25)

Deur middel van Foucault se filosofie rondom seksualiteit lei dr Spiteri vir Simon op ’n pad na selfontdekking in sy soeke na antwoorde op vrae wat hy sedert sy kinderdae koester. “Jy het tog darem jou lewe gekarteer. Jou self ondersoek met die woorde van jou keuse. Die skripsie van jou lewe, die analise van jou bestaan, soos Foucault dit sou stel” (50). Volgens dr Spiteri wil Foucault se “teorieë oor seks en genot [hom] juis aanspoor om te groei, om [hom]self te verander” (53). Simon se onvergenoegdheid teenoor sy vader spruit uit sy vader se siening van seks: “[M]enseseks is maar net soos dié van ’n bul en ’n koei” (24). Sy vader se konsep van seksuele omgang het Simon emosioneel geskaad en hy moes gedurende sy volwasse jare soek na die ware betekenis van seks tussen twee (of meer) persone.

Dr Jo Spiteri se karakter is interessant, dog ietwat omstrede. Simon woon terapiesessies by haar aan huis by. Hy betree sodoende haar persoonlike ruimte. Boonop stel sy geen tydsbeperking aan haar konsultasies nie. Sy dink voortdurend aan Simon en maak selfs die volgende stelling: “Ek dink aan jou, Simon. Ons het immers ’n verhouding aangegaan. Ek dink oor hoe dit kan wees, wat in hierdie verhouding uitgewerk kan word, die moontlikhede” (164). Met die verloop van hul terapiesessies word hul verhouding al hoe meer intiem:

Maar sy begin ook die neiging toon om te na aan hom te kom. Dis onbehoorlik. Sy begin sy reuk herken, dié klas ding. Miskien is dit ook die geval met hom ten opsigte van haar, alhoewel sy geen sekerheid daaroor het nie. Om eerlik te wees, dit mag ’n geval wees van wat sy graag wil glo. (166)

Tydens hul laaste sessie erken dr Spiteri: “Om eerlik te wees, [ek] het lief geword vir Simon” (187). Boonop bied sy hom ’n alkoholiese drankie aan en vra hom om haar ’n drukkie te gee. (Miskien word dinge anders gedoen in Australië, maar in Suid-Afrika sou dié terapeut se onkonvensionele gedrag heel moontlik tot ’n klagte of skorsing gelei het.)

Dr Spiteri se karakter speel ’n prominente rol in die roman. Haar terapiesessies met Simon gee immers gestalte aan die tema van die roman en stel Simon in staat om oor sy diepste gevoelens rondom seks te praat. Haar gedrag as terapeut is egter ongeloofwaardig vanuit ’n etiese en professionele oogpunt en sekere gebeure doen afbreuk aan dié karakter. Met tye het ek haar karakter selfs irriterend gevind – ’n hartseer, onvervulde individu wat aandag by haar pasiënte soek.

3.2 Homoseksualiteit

Alhoewel Groen soos die hemel daarbo nie as ’n gay-roman geklassifiseer kan word nie, kom homoseksualiteit as tema wel sterk na vore. Aan die hand van Foucault vind intense gesprekke tussen Simon en dr Spiteri plaas waarin Simon se seksualiteit ondersoek word.

Simon poog om antwoorde op sekere vrae rondom sy homoseksualiteit te verkry. In die meerderheid romans waarin homoseksualiteit voorkom, word daar gereeld op stereotiepe karakters gefokus. Die homoseksuele of gay man (asook gay vrou) word gereeld in die media, sowel as die letterkunde, uitgebeeld op grond van sekere veralgemenings. Deur middel van Simon se sessies met dr Spiteri word Foucault se siening van seks en seksualiteit met die leser gedeel. “Moenie die vraag vra: wie is ek? Of: wat is die aard van my begeerte? Vra liewer: Hoe kan ek as homoseksuele man my lewe voer? Wat is die moontlikhede bo en behalwe die konvensionele leefwyses wat ek om myself waarneem?” (112).

Uit die laaste aanhaling blyk dit duidelik dat Venter daadwerklik gepoog het om sy hoofkarakter, Simon, die geleentheid te bied om, soos Botha (2017:12) dit stel, “sy manlikheid te bemeester om uiteindelik ’n morele mens te word”. In hierdie opsig is die roman verhelderend, aangesien dit die leser laat nadink oor talle aspekte rondom menslike seksualiteit, maar veral homoseksualiteit.

 

4. Samevatting

Groen soos die hemel daarbo is ’n komplekse teks met sterk outobiografiese kodes tussen die reëls versteek. Venter se vreeslose verkenning van moderne seksualiteit, intimiteit en identiteit vorm die kern van Simon Avend se karakter. Simon se deurlopende soeke na wat manlikheid vir hom persoonlik behels en beteken word op interessante wyse deur middel van die reismotief verken. Die wisselwerking tussen Simon en sy terapeut, dr Jo Spiteri, verleen aan die leser spreekwoordelike toegang tot Simon se denke in sy poging om sin te maak van sy talle seksuele ervarings.

Venter se fyn waarnemingsvermoë is ’n aanslag op die sintuie. Soos ’n goeie reisskrywer slaag hy daarin om die omgewing waarin die karakter hom bevind, telkens deeglik en op amper poëtiese wyse te beskryf. Geen besonderhede ontbreek nie en die leser voel deurentyd asof hy/sy saam met Simon reis. Venter se onberispelike aandag aan besonderhede verleen aan dié roman ’n amper poëtiese element.

Alhoewel hierdie roman in die geheel geslaagd is, is dit nie Venter se beste roman nie. Dit val in dieselfde kategorie as My simpatie, Cerise (1999). Beide romans vertel ’n interessante storie en is volop aan intriges, maar daardie “Venter magic” is nie vir my hier teenwoordig nie. Vergeleke met vorige romans soos Ek stamel ek sterwe (1996), Horrelpoot (2006), Santa gamka (2009) en Wolf, Wolf (2013) het Groen soos die hemel daarbo nie daarin geslaag om my deurentyd te boei nie. Met tye het ek die gevoel gekry dat daar ’n kliniese afstand tussen die skrywer en die teks bestaan het – hetsy as gevolg van die feit dat die teks uit Engels in Afrikaans vertaal is en of dat die skrywer te hard probeer het om die seksuele aspekte in die roman af te water vir ’n meer konserwatiewe Suid-Afrikaanse leserspubliek. Maar ten spyte van sekere bedenkinge sal Venter-aanhangers Groen soos die hemel daarbo koop én lees.

 

Bibliografie

Aucamp, HCL. 2010. Oor en weer. Pretoria: Protea.

Blanton, C. 2002. Travel writing – The self and the world. New York en Londen: Routledge.

Botha, FJ. 2017. Een groot tree tot in die internasionale arena. Rapport Weekliks, 3 September 2017, ble 12–3.

Koen, D. 2011. ’n Ontleding van die reisgedigte van Joan Hambidge in Visums by verstek. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Port Elizabeth: Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit.

Prins, J. 2017. Resensie is ’n gesprek met leser. Die Burger, 5 September 2013, bl 10.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top