So groei 'n taal

  • 2

Jan skryf: “Beste Angus, jou stelling dat Engels Afrikaans laat groei is so absurd ek weet nie of jy die draak steek en of jy werklik so naïef is om dit te glo nie. Groetnis, Jan Rap”

Nee, Jan, ek is doodernstig: geen taal kan in afsondering noemenswaardige groei toon nie, en Afrikaans is in die gelukkige posisie om te put uit ʼn taal soos Engels. Engels het self maar ook ʼn soortgelyke paadjie geloop om die ryk taal te word wat dit vandag is.

Engels is ʼn Germaanse taal, eintlik Wes-Germaans, die voorouer van Duits, Nederlands, Vlaams, Fries en Engels. Die voorlopers van Engels het die kanaal in die vyfde en sesde eeu oorgesteek en was bekend as die Angele, die Saksers en die Jutlanders. Hulle het ʼn hele klomp Germaanse dialekte gepraat, wat uiteindelik die taal Anglo-Saksies gevorm het. Deesdae verwys linguiste daarna as Old English. Dit was ʼn redelik homogene taal, maar tog gekenmerk deur streekverskille.

Alhoewel Ou Engels ʼn Germaanse taal was, het dit veral in die sewende eeu alreeds ʼn vloed van Latynse woorde bygekry toe die Engelse die Christelike religie begin aanneem het. Dit word aanvaar dat die periode van Ou Engels tot ʼn einde gekom het in 1066 met die Normandiese verowering, maar  eintlik was daar maar ʼn geleidelike oorgang na Middelengels. Hierdie datum is egter belangrik vir die ontwikkeling van Engels, want van toe af het die woordeskat geweldig gegroei met die invoer van nie-Germaanse woorde. Dit het Engels verander van ʼn bekrompe Noordoosterse  Europese dialek na ʼn leksikale tapisserie wat spoedig ʼn wêreldtaal sou word. Met die verowering is die deure oopgemaak vir ’n Latynse, Franse, Portugese, Spaanse, Roemeense woordeskat. Derduisende woorde het ewe skielik die Engelse woordeskat verryk, sodat Engels meer na ʼn Romaanse as ʼn Germaanse taal lyk.

Die volgende leksikale inspuiting het gekom met die Renaissance en die belangstelling in die klassieke. Latyn en ook Grieks het nou bygedra tot die vernuwing in die woordeskat. In die 16de en 17de eeue het Engels honderde woorde uit die tale ontleen. Dink maar aan crisis, poem, maximum, apparatus, area.

Dis veral ook in hierdie tyd dat Engels sy vlerke begin uitsprei het na plekke buite sy grense. Engelse handelskepe het  die wêreld deurkruis en so hulle taal versprei na ver afgeleë kontinente, waar Engels weer verryk is deur eksotiese name en woorde. Italiaans het die Engelse woordeskat verryk met woorde soos madrigal, , umbrella, arcade, escort, frigate, bust. Van Indië is woorde ontleen soos bungalow, cot, juggernaut, pundit, shampoo, chintz, en van Fins, sauna.

Engels is nog besig om te groei, heel waarskynlik nou nog vinniger, alhoewel dit ʼn ou taal is. Daar is bereken dat in die laaste tien jaar daar gemiddeld 800 neologismes per jaar bygekom het. Dis te verstane want Engels put uit beide sy Germaanse en Romaanse agtergrond, en bestaande woordmateriaal word vrylik gebruik in die vorming van nuwe woorde. Daarby moet nog gereken word dat woorde van betekenis verander.

Afrikaans is ook maar ʼn taal net soos enige ander taal; hy vat waar en wat hy nodig het sonder enige vol fiemiesgeit. Engels het ook nie sy neus opgetrek vir vulgêre Latyn, die taal van die “common people” van die Westerse Romeinse Ryk, nie. 

Die sogenaamde “taalkundiges” wat vir Afrikaans wil voorskryf, bewys ons taal geen guns nie. As iemand beweer dat ons maar liewer 'n woord van Germaanse oorsprong moet gebruik ipv een met Romaanse oorsprong, gee dit my die groot griep. 

Angus

 

  • 2

Kommentaar

  • So Angus,
    Jy skryf "Engels het ook nie sy neus opgetrek vir vulgêre Latyn, die taal van die “common people” van die Westerse Romeinse Ryk, nie". Dit lyk my ons vind, soos hulle sê "common ground". Engels het dus ook “kombuis” invloede. Die opneem deur die “elite” van woorde gebesig deur die “commoners” in hul kombuise. En in hul parlement verwys hulle nog altyd na die "commons".
    Lyk my Afrikaans hoef glad nie agteruit te staan wat betref kombuis-invloed nie.

  • Beste Raed-na-Gael,
    Geen taal is in werklikheid verhewe bo 'n ander taal nie. Taal bestaan uit spraakklanke, gemaak en gevorm deur die spraakorgane van die mens.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top