Goue bergbeloftes

  • 10

Goue bergbeloftes

klippe fluister woordsag
waar varings soos rietfluite
teen die hange rinkink;
ek het jou goue berge beloof
vóór die kansel soos roustof
sal ek jou nuwe bouplek wees
met jou gewortel in my gees
hier én daar, toe én nou
breek brose beloftes
wat ek eintlik
teenoor jou moes hou

die grou van gekneusde lig
in oomblikke tussen luister
deur beter en slegter
kaats genadeholtes versoening
opreg nes newellae goudstof
in vryheid waar eenvoud glans

as ek in peinsing versink
kom my wrang toesegging
en plunder jou hart
wat ek in ’n mankolieke vers
én berou – met lanfer –
wil verbind

  • 10

Kommentaar

  • Linda Roothman

    Metafore in pas met die geologiese wending in letterkunde. Tipies van die mens wat deesdae as grootste geologiese krag of globale agent gereken word, word die landskap van die hart nie ontsien nie en word die "goue bergbeloftes" verbreek ... en nóg 'n mensehart gebreek. Die nuutskepping "genadeholtes" roep 'n knus en veilige hawe vir mens en dier soos bv haas voor die gees. Soos dit spyt se gewoonte is, kom dit altoos té laat en verg dit bykans patetiese pleidooie in die gedaante van 'n "mankolieke vers" om versoening af te smeek. Uitstekende verstegniese tegnieke in die vorm van allitersie beklemtoon die broosheid van die mensehart. 'n Magistrale vers! Welgedaan.

  • Quintin du Plooy

    Uitstekend! Die metrum wat in dié vers ingebou is, dwing die leser om die volgende snede vinnig te wil soek, wat voortdurend 'n verrassende kinkel inhou. Die personifikasie in snedes soos, " ... waar varings ... teen die hange rinkink" en " ... die grou van gekneusde lig ..." is nuutjonk en boei met die beloftes wat dit inhou. Die sagste emosie van liefdesbeloftes word teen die agtergrond van klipharde produk-uit-die aarde teengestel, wat dit besonder uitlig en die klatergoud van verbreekte beloftes kan duidelik ingelees word. Dié tendens, die sagte teen die harde, ongenaakbare, is uiters treffend en anker die gedig in lewenswaarheid ("... klippe fluister woordsag ...). Vir my is dit die soort gedig wat herhaaldelik gelees kan word en altyd nuwe insigte bring.

  • Anze Bezuidenhout

    Baie dankie Quintin du Plooy vir jou dieper lees van my werk, ek waarder dit uit my hart uit.

  • Francois Meyer

    Hierdie gedig is ryk aan die mooiste beeldspraak wat net vloei saam met treffende woordkeuses! Die taalversorging is iets besonders. Die lewensles van ‘n gebroke belofte, berou en herstel skyn rotsvas deur die gedig en skep beelde in die leser se gedagtes. Die antitese(s) en dubbelsinnigheid is ook puik aangewend. Keurige halfrym sorg vir goeie ritme. Die eenvoud hier en daar gee ook diepte aan die gedig in geheel. Ek het die gedig baie geniet!

    • Anze Bezuidenhout

      Baie dankie vir jou saamlees en goue voetstappe by my woorde Francois, ek waardeer dit uit my hart

  • Anze, dankie hiervoor. Dis hartswoorde wat baie diep sny ,vandag veral. Mag jou woorde nooit opraak nie en mag niemand jou ooit verhinder om gevoelens so weer te gee nie. God seën jou, meisiekind.

    • Anze Bezuidenhout

      Baie dankie dierbare Henna vir jou goue voetspore hier, ek waardeer dit opreg. Ek is bly as my woorde tot jou kon spreek.

  • Pragtig Anze, jou woorde beeld die natuur so sag. So asof hy die mens se seer fyn kan aanvoel,"die grou van gekneusde lug" diep! Uitstekende gedig!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top