Good Hope. South Africa and the Netherlands from 1600: ’n resensie

  • 0

Good Hope. South Africa and the Netherlands from 1600
Martine Gosselink, Maria Holtrop en Robert Ross (redakteurs)
Uitgewer: Rijksmuseum & Uitgeverij Vantilt
ISBN: 9789460043130

Op Sondag 4 Maart 1707 het die weerbarstige 16-jarige Hendrik Biebouw volgens ooggetuies die volgende woorde uitgespreek: “Ik wil niet loopen, ‘k ben een Africaander al slat de landrost mijn dood, of al setten hy mij in den tronk. Ik sal, nog wil niet swijgen!” (De Villiers 2012:46). Die landdros na wie Hendrik Biebouw verwys, is ene Johannes Starrenburg wat die vrede moes bewaar tydens die stuiptrekkings van Willem Adriaan van der Stel se bewind aan die Kaap de Goede Hoop.

Waarom is hierdie woorde van belang?

Hoeveel wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners beskou hulself nog as Afrikaners? Die woord Afrikaner is in postapartheid Suid-Afrika ’n gelade woord waarvoor talle Afrikaners self sku is. Afrikaners word almal oor dieselfde kam geskeer en met apartheid, nasionalisme, oranje blanje blou en bewegings soos die Boeremag en die AWB geassosieer. Hierdie veralgemening het veral jong Afrikaners met ’n identiteitskrisis gelaat. Die aantal wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners wat nog openlik en sonder skroom hul Afrikanerskap in die openbaar wil erken, is daagliks aan die afneem.

Die vraag wat ek myself gereeld afvra, is: Moet Afrikaners skaam wees oor hul Afrikanerskap? Wil hulle eerder Afrikane of Suid-Afrikaners wees? Of dalk albei? Dit moet elke wit Afrikaanssprekende individu eerder self besluit. Maar Hendrik Biebouw se woorde het ’n uitwerking op die geskiedenis van hierdie land gehad wat nie ontken kan word nie.

Waarom vra ek as resensent bostaande vrae? Onlangs het ek DJ Opperman se versdrama Vergelegen (1956) met ’n tweedejaarsklas behandel. (Sommige sal dié teks as “koloniaal” beskou, maar ek hou van klassieke letterkundige tekste en steur my so min as moontlik aan bewegings wie se name met hutsmerke begin.) Tydens lesings is interessante gesprekspunte aangeknoop en belangrike vrae gevra rondom die geskiedenis en meer spesifiek die uitwerking van Nederlandse kolonialisme op Suid-Afrika. Temas soos korrupsie het telkens opgeduik. Vir sommige studente was dit verrassend, aangesien korrupsie met ons huidige politieke bestel geassosieer word, maar soos in Opperman se Vergelegen is dit duidelik geen nuwe verskynsel in Suid-Afrika nie – Willem Adriaan van der Stel het homself aan korrupsie skuldig gemaak. Dit is vanuit hierdie oogpunt dat die teks Good Hope. South Africa and the Netherlands from 1600 ter sprake kom.

Suid-Afrika en Nederland het ’n komplekse geskiedenis. Die teks is as boek/katalogus gepubliseer as deel van die Rijksmuseum se Goeie Hoop-tentoonstelling oor die verhouding tussen Nederland en Suid-Afrika vanaf 1600. Die tentoonstelling het vanaf 17 Februarie tot 21 Mei 2017 plaasgevind. Die lywige teks, wat deur Nederlandse sowel as Suid-Afrikaanse skrywers geskryf is, kan ook as ’n oorsig van die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelees word. Die teks is besonder gedetailleerd en vertel die geskiedenis vanuit verskillende oogpunte. Dit is op sigself ’n positiewe benadering om soveel moontlik perspektiewe op die land se geskiedenis te verkry aangesien geskiedskrywing in die algemeen ’n delikate proses is en moet die skrywer te alle tye daarna streef om ’n gebalanseerde, objektiewe weergawe aan lesers voor te lê.

Hierdie pragboek bestaande uit 21 hoofstukke met 34 intermezzo’s bevat interessante feite oor die wisselwerking tussen Nederlanders en Suid-Afrikaners sedert 1600. Die teks lees maklik en bevat nie die gewone voetnotas wat gereeld in geskiedenisboeke voorkom nie. Die geskiedenis word chronologies uiteengesit en die teks is ryklik geïllustreer met kaarte, foto’s en dokumente wat die leser se verbeelding aangryp. Die onderskeie skrywers het geen doekies omgedraai met hul persoonlike ervarings nie. Enkele voorbeelde sluit in Eusebius McKaiser se “Contemporary South Africa: The reach of apartheid history” en Mamokgethi Setati Phakeng se “Reflections on the past; thoughts on the future. Die literator Ena Jansen bied ’n interessante perspektief oor die geskiedenis van Afrikaans.

Soos met enige teks van hierdie aard sal daar dele wees waarmee sommige lesers nie noodwendig sal saamstem nie. Die Nederlanders is bekend vir die feit dat hulle nie doekies omdraai nie en hul menings graag met ander deel. Die skrywer Adriaan van Dis het talle bydraes tot die teks gelewer. Van Dis was nog altyd uitgesproke teenoor apartheid en Afrikaners – gaan lees gerus sy reisboek Het beloofde land: een reis door de Karoo (1990), waarin hy besonder neerhalend oor Afrikaners skryf. Die feit bly staan dat Afrikaners deur die oorgrote meerderheid Nederlanders as verfoeilik beskou was, veral tydens die sewentiger- en tagtigerjare. Die kultuurverbod het veral Afrikaanse akademici moedeloos gelaat en talle Afrikaners het verraai gevoel deur die land en mense wat hulle as hul verlangse “familie” beskou het. Daardie bande is in die vroeë negentigerjare herstel, maar of die meerderheid Afrikaners steeds ’n verbintenis met hul Nederlandse broers en susters voel, bly ’n ope vraag.

’n Paar foute het ook tydens die redigeringsproses deurgeglip. Op bl 341 skryf Ena Jansen: “Dutch was not formally dropped as an official language of South Africa until 1984.” Vier bladsye later skryf Daniel Horst: “Eventually, in 1983, Dutch was scrapped altogether as an official language in South Africa.” Roeland Muskens verwys op bl 301 na “President Verwoerd” (Verwoerd was eerste minister, nooit president nie). Dit is slordige foute wat nie in ’n geskiedkundige publikasie geduld mag word nie.

Dit is danksy Protea Boekhuis dat 500 eksemplare van die boek ingevoer en aan Suid-Afrikaanse lesers beskikbaar gestel is. Ek sou graag die oorspronklike Nederlandse teks wou lees, maar dit is goed dat die boek in Engels vertaal is om dit vir meer lesers toeganklik te maak. Ek hoop van harte dat die boek ook in Afrikaans vertaal sal word.

Good Hope. South Africa and the Netherlands from 1600 bevat fassinerende leesstof en hoort op elke boekliefhebber se boekrak. Hopelik sal die boek heling teweegbring tussen veral Nederlanders en Afrikaners, maar ook onder ander Suid-Afrikaners wat onder die juk van Nederlandse kolonialisme gely het. Die Nederlanders verdien ’n pluimpie vir hierdie teks asook die uitstalling waarin hul hul onregte van die verlede erken.   

Bibliografie

De Villiers, J. 2012. Die Nederlandse era aan die Kaap, 1652–1806. In Pretorius, F. (red), Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.

Lees ook:

Goede Hoop. Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600, ’n bespreking 

Annemarié van Niekerk 
NeerlandiNet 

“Die boek Goede Hoop is, soos die tentoonstelling, ambisieus. In 21 hoofstukke met 34 intermezzo’s vertel 27 verskillende skrywers uit albei lande, onder leiding van Martine Gosselink, hoof van Geskiedenis van die Rijksmuseum, die gedeelde geskiedenis van Suid-Afrika en Nederland, vandat die Verenigde Oost-Indische Compagnie in die 17de eeu sy Kaapse verversingspos gestig het, tot vandag.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top