Glinster

  • 5

Die Saterdag is soos al die ander wat hierdie somer al verbygegaan het. Dis warm en bedompig. Heelwat mense is besig met take buite hulle huise. Sommige was hul motors in hul opritte, ander is in hul tuine bedrywig. Die buurman oorkant die straat het vroeg vanoggend begin om sy grasperk se rande te sny. Hy is besig om die randsnyer se koord op te rol toe Barry sy grassnyer ook by sy eie motorhuis uitstoot. Die buurman waai en glimlag vir Barry. Barry waai terug. Die buurman het rede om te glimlag. Sy taak is voltooi en nou gaan hy sekerlik voor die televisiestel sit met sy voete op die koffietafel. Wat ’n heerlike vooruitsig. Barry sien daarna uit om langs sy vrou op die rusbank te vertoef en ’n glasie wyn saam met haar te geniet. Hy sal moet begin werk as hy wil klaarkry voor Belinda van die winkels af terugkeer.

Barry stoot die grassnyer oor die motorhuis se oprit. Die masjien se plastiekwiele dreun oor die plaveiselstene tot dit die sagte oppervlak van die grasperk bereik. Barry verstel die vergasser by die hefboompie en buk af om die kragtige Rolux Magnum se koord by te kom. Hy pluk die koord drie keer voor die enjin begin dreun. Hy verstel die vergasser weer en begin om die grassnyer te stoot. Die skerp grassnyerlem vreet die grasperk voor hom op asof dit niks is nie. Die masjien se krag laat die stootstang behoorlik vibreer. Barry voel soms geïntimideer deur die groot, oranje grassnyer wat alles in sy pad met gemak opsny. Daar is niks wat hierdie grassnyer se lem nie in stukke kan kap nie. Selfs ’n klip sal verkrummel of spat wanneer die staal dit tref.

Ongelukkig kan ’n mens nie oor klippe sny nie – dit beskadig lemme op die lange duur. Belinda sal dit ook nie snaaks vind as een van die huis se ruite stukkend is as gevolg van die klipskerwe nie. Die Rolux kan ’n klip ver laat trek, en daar is nou juis ’n halwe baksteen op die grasperk.

Barry stoot die grassnyer tot voor die baksteen en loop om die groot masjien om dit te verwyder. Hy buk af om die baksteen op te tel, dan stop hy vir ’n oomblik. Hy kyk na die baksteen en na die grassnyer. Dit voel kompleet vir hom of die grassnyer vir hom wag om sy hand op die baksteen te plaas. Barry weet nie of hy net simpel is nie, maar hy voel aan dat iets hom dophou. Hy staan en evalueer homself. Is sy intuïsie geoorloof of is hy dalk heeltemal gek? Op die oomblik verbruik die grassnyer brandstof sonder dienslewering. Barry kan nie net hier staan nie, hy sal ’n besluit moet neem.

Hy kan die steen uit die pad skop. Hy kan die grassnyer in ’n ander rigting draai en die steen verwyder. Hy sal egter bly wonder waar hierdie sterk gevoel vandaan gekom het. Hy wil aan homself bewys dat dit sommer net sy verbeelding is. Barry kyk rond. Niemand is in die onmiddellike omtrek nie. Hy probeer moed bymekaarskraap en vind dit in die feit dat die son warm op sy kop skyn. Dis ’n Saterdagoggend. Daar is niks om voor bang te wees nie. Dis nie asof die grassnyer sy pols helder oordag gaan afkap nie. Die masjien is mensgedrewe; dit kan nie vanself beweeg nie. Barry lag vir ’n oomblik en buk weer af. Sy vingers raak aan die steen. Die grassnyer se voorwiele lig op en dit skiet blitsig vorentoe.

Barry se adrenalienklier is al rede hoekom hy nog ’n hand het. Hy ruk sy lyf so vinnig orent dat hy duiselig word. Die Rolux val met sy lem oor die baksteen, soos ’n krokodil se bek wat toeklap. Die steen word verpletter in ’n rooi stofwolk wat oral om die grassnyer hang. Stukkies steen spat teen Barry se maermerries vas. Dit laat hom rondspring en swets. Hy kan nie glo hoe hard daardie stukkies hom getref het nie. Die grassnyer se enjin loop ook nou harder. Die vergasser is oopgestel.

Barry staar in ongeloof na die grasmasjien. Rooi baksteenpoeier omkring die masjien in ’n netjiese sirkel op die grasperk. Barry kan nie begryp wat met hom gebeur het nie. Hy kyk rond om te sien of daar ’n getuie in die omtrek is. Niemand is naby genoeg om iets te sien nie.

Barry se oë dwaal steeds rond met die hoop om iemand te sien verbyloop. Hy kyk weer na die grassnyer, en dan beleef hy nog ’n skok. Die Rolux het homself suutjies in Barry se rigting gedraai. Barry swaai om en begin hardloop.

Die mens se hardloopaksie is nie voldoende om vir blitsige masjiene te vlug nie. Een voet gaan vorentoe, terwyl die ander stilstaande agterbly. Die voorste voet moet eers grond raak voor die agterste voet kan beweeg. Die Rolux skiet vorentoe met sy voorwiele in die lug. Die lem tref die sool van Barry se seilskoen en slinger die stuk rubber hoog in die lug in. Barry se agterste voet beweeg net betyds uit die pad, maar sonder sy skoen se sool. Barry se voet het die lem nouliks vrygespring, maar sy ander voet is vir ’n breukdeel van ’n sekonde in gevaar. Die voet wat nou agter is, word verwoed aangeval. Barry kan voel hoe die grassnyer teen sy kuit probeer opklim. Die grassnyer is blitsig. Barry weet nie of hy vir die monster sal kan weghardloop nie. Sy volgende aksie sal slim moet wees, so nie gaan die lem sy hakskeen afkap soos ’n kapmes. Barry se voorste voet tref die grond en hy bring sy agterste voet vorentoe, maar dié keer swenk hy na regs. Die grassnyer mis hom letterlik met ’n millimeter. Dis soos ’n motoris wat hom probeer raakry: die Rolux mis, stop en draai weer in Barry se rigting. Barry is nou op die plaveisel. Hy het ’n voorsprong bo die grassnyer, maar die gebreekte seilskoen affekteer sy hardloopvermoë. Barry swik byna sy enkel. Hy struikel en kom weer orent. Die grassnyer is kort agter hom, met sy voorwiele in die lug soos iets wat hom met ’n oop bek jaag. Die enjin beweeg teen sy hoogste spoed. Die lem skiet sandkorrels en klein klippies in Barry se rigting. Barry hardloop by die motorhuis in en die grassnyer sit hom agterna.

In die motorhuis klink die enjin byna vier keer harder as daar buite. Die masjien pyl woedend op Barry af soos ’n haai wat iets wil byt. Barry bereik die deur wat die motorhuis met die res van die huis verbind. Hy gryp die deur se handvatsel, ruk die deur oop en gaan by die huis in. Hy swaai die deur voor die grassnyer toe en spring op die eetkamertafel. Op hierdie stadium is hy nie seker of ’n moordende grassnyer deure kan oopmaak nie.

Vir tien minute sit Barry op die tafel en luister hoe die grassnyer hom soek, soos ’n hond wat rondom ’n haas se wegkruipplek snuffel. Die masjien se enjin loop stadiger. Dit beweeg vanself om die huis en dan wag dit weer in die motorhuis voor die deur waarby Barry ingekom het. Uiteindelik skakel die enjin vanself af. Barry se oë rek in ongeloof. Hy kan nie glo hoe verlig hy voel oor die stilte nie. Wat hy nie sien nie, is die pers glinstering wat van die Rolux afkom en in die motorhuis se sementvloer insak.

Barry klim suutjies van die tafel af en sluip na sy foon wat op die kombuiskas lê. Hy tel die toestel op en druk ’n knoppie daarop. ’n Pers lig verskyn op die skerm. Dis helder met ’n hipnotiese eienskap. Die pers lig verdwyn van die skerm af soos vloeistof wat agter die skermpie uitloop en in die laaier se koord af verdwyn. Barry is verstom oor die verskynsel. Hy probeer met sy foon werk, maar die toestel is totaal nutteloos. Hy hoor hoe iets buite die kombuisdeur beweeg. Barry gaan na die deur en loer deur die sleutelgat. Die grassnyer het sowaar tot by die kombuisdeur gesluip. Barry kan die stootstang deur die sleutelgat sien. Sy mond hang oop van verbasing. Hy gaan na die venster en loer daardeur. Die Rolux staan by die deur soos ’n hond wat ’n inbreker in ’n huis vasgekeer het. Die wiele glinster vir ’n oomblik pers, dan is dit asof die glinstering in die grond afsak. Barry probeer weer met sy foon bel, maar die foon is morsdood.

Barry gaan na die stoorvertrek waar hy ongebruikte items berg. Daar is onder andere ’n ou selfoon onder al die wintersklere en ou items wat Belinda nie meer gebruik nie. Die vertrek het geen venster nie, dis donker, dus skakel Barry die lig aan. Die lig brand vir een sekonde soos dit moet, dan word die gloeilamp pers. Dis dieselfde hipnotiese pers wat Barry op sy foon se skerm gesien het. Dis asof die gloeilamp met pers gas gevul word. Barry kyk net betyds weg, toe die gloeilamp ontplof en stukke glas in alle rigtings skiet.

Hy haas na die badkamer. Daar is iets in die huis wat hom probeer doodmaak en dit het met die pers glinstering te doen. Barry staan voor die badkamerkassie se spieël en trek stukkies glas uit sy nek en voorarms. Op hierdie stadium is hy bang en kwaad. Wat het hy ooit aan die pers energie gedoen? Barry voel agter sy kop waar dit nat is van die bloed. Sy vingerpunte vind ’n vet stuk glas wat hy knersend uit sy vel trek. Barry kyk met afsku en verwondering na die bebloede stuk glas. Hy gooi die glasstuk in die wasbak en stap na die slaapkamer. Daar is ’n noodhulpkissie in die kas. Barry haal dit uit en vou ’n rol verbande oop. Hy verbind sy voorarms sodat hy nie bloed op die mat mors nie. Hy speld die verbande vas, dan hoor hy iets in die huis. Hy sit verstar en luister hoe iets in die huis beweeg. Dalk is dit die grassnyer wat hom bekruip. Hy sluk, maar sy keel is droog.

“Hallo, liefie! Waar is jy?”

Dis Belinda. Sy is tuis!

Barry gaan vinnig by die kamer uit. Hy kan Belinda hoor werskaf in die kombuis en hy haas daarheen. Hy kom in die kombuis waar sy vrou hom met ’n warm glimlag begroet.

“Liefie, ek het jou probeer bel. Hoe het jy verby die grassnyer gekom?” begin Barry.

 Belinda sien die verbande om haar man se arms. “Het jy seergekry?”

“Ja, ek het.”

Barry wil verder verduidelik, maar hy merk dat die grassnyer agter hom staan. Belinda het ’n hipnotiese uitdrukking in haar oë. Sy vrou hou ’n groot kombuismes met ’n pers glinsterende lem agter haar rug en sy stap doelgerig nader.  

Die speurders sal later ’n ring vind wat Barry uit die tuin gespit het. ’n Antieke ring met ’n donkerpers steen, die eiendom van ’n Egiptiese farao. Een van die paramedici sal die ring vaslê en vir sy verloofde as geskenk aanbied. Net soos Barry gedoen het, een week voor sy gewelddadige dood.

  • 5

Kommentaar

  • Susan Grobler

    Uitstekend! ‘n Belowende jong skrywer het op die horison van Afrikaanse fiksie verskyn. Wel gedaan, Kobus.

  • Willie van Aswegen

    Uiters spannend en uitstekend geboei in 'n goeie verhaal. Puik werk , Kobus hou so aan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top