Gifkaroo – voorteks maak vuis

  • 0
 

 

Gifkaroo
Etienne van Heerden

Slegs 100 kopieë van Gifkaroo is gedruk. Dit is nie te koop nie. Lees die Engelse weergawe – Poison Karoo – hier.

Gifkaroo is ’n vuishou op die krop van jou maag. Dit laat jou rou.

Dít is die eerste gewaarwordinge ná die lees van Gifkaroo, Etienne van Heerden se voorteks vir sy roman, Klimtol, wat in September 2013 by Tafelberg Uitgewers verskyn.

Die beperkte oplaag van 100, genommer en geteken en onpretensieus gebind in bruin karton, is ’n protesteks teen die voorgenome breking in die Karoo wat aan gesaghebbende persone en partye gestuur is. Dit is letterlik die vinger wat teen die muur skryf, wat die waarheid en die leuen uitwys. Die Engelse vertaling in dieselfde band is gedoen deur Isobel Dixon, bekroonde Engelse digter wie se gedigte oor die Karoo ingesluit is in haar bundels The Tempest Prognosticator (2011), A Fold in the Map (2007) en Weather Eye (2001) waarvoor sy die Olive Schreiner-prys ontvang het. Die uitgawe word aangevul met ’n foto deur Obie Oberholzer, bekend vir fotografie wat vir jare reeds die Karoo en sy mense vaslê.  

Gifkaroo volg dieselfde werkwyse as ’n vroeëre kortverhaal, Die gas in Rondawel Wilhelmina (1995), wat jare gelede as voorteks vir die roman Kikoejoe (1996) gedien het.

Gifkaroo en Klimtol sluit aan by ’n lang lys tekste in Van Heerden se oeuvre waarin die Karoolandskap ontgin word, byvoorbeeld die onlangse Haai Karoo (2012), 30 Nagte in Amsterdam (2008), Asbesmiddag (2007), In stede van die liefde (2005), Die stilte na die boek (2004), Die swye van Mario Salviati (2000), Kikoejoe (1996), Die gas in Rondawel Wilhelmina (1995), Die stoetmeester (1993), Casspirs en campari’s (19991), Liegfabriek (1988), My kubaan (1983), Toorberg (1986) en Matoli (1979).

In Gifkaroo maak die leser kennis met die ou man Ludo Loeloeraai, op sy dag klimtolkampioen van die Groot Karoo, op ‘n bedevaartsreis na die Karoo-fonteinplaas met die soet water uit sy kindertyd, die plek wat hy ken soos die palm van sy hand. Sy reis na die fonteinplaas word ook ’n reis na die verlede, na sy kindertyd saam met sy pa, die waterfiskaal, die tyd van sy vernuf en handvaardigheid met die klimtol toe hy die rooibaadjieman was wat “speel” verhoog toe gebring het – maar ook ’n reis na homself as kartonman en die verlies van liefde. In die beperkte ruimte van enkele bladsye slaag Van Heerden daarin om die ou man “met oë wat al blouer raak”, sy verlange na sy verlore liefde, sy hunkering na die Karoo en die “onderaarde” (9) – die “ingedagte, private plek, daardie plek van water” (7) – en sy konfrontasie met homself voor die leser se oë lewend te maak. 

In die mond van die meesterverteller Van Heerden word die Karoo ’n lewende wese; in die tradisie van die ekokritiek ’n objek wat tot subjek gemaak word – ’n karakter in die teks. Die Karoo “kug”, “suig”, “snak […] na asem”, is “ingedagte”, kan sy “asem intrek”, selfs “verdriet” toon (6) – menslike eienskappe wat aan die niemenslike landskap toegedig word. Die tradisionele grense tussen menslik en niemenslik word opgehef en die landskap vertoon dinamiese eienskappe wat die antroposentriese mens-in-die-middel–beskouing omverwerp. So is dit met Van Heerden se Karoo-as-karakter, ’n aspek wat reeds in talle vroeëre romans geaktiveer is.  

Water, die onbewuste van die Karoo, staan sentraal in die verhaal. Volgens Ludo se pa “kan [dit] nie anders dat water hierdie wêreld se groot metafoor is nie”. Water is simbolies van die plek van Ludo se herkoms – van sy pa wat, as die waterfiskaal van ’n boerderygemeenskap, “’n soort priester en magistraat” in beheer van die water is, maar ook van sy eie onderbewussyn: “die plek wat hy binnegaan wanneer hy op volspoed triek en hy speel met ’n suiwerheid en ’n oortuiging van is” (7). Dit is sy wese en sy bestaan, die draer van “elke menslike gevoelte waaraan jy maar kan dink” (7). 

Wanneer Ludo op sy pelgrimsreis na die soetwater gaan om te gaan kyk na die plek waar die gif van die petroleumreus in sy “hartland” gaan opdam, om getuie te wees van die eerste voetspore van die breking, is hy ook besig om die kalm oppervlak van sy eie bestaan te versteur en in sy eie psige in te breek, sy eie lewe “sat van die lewe en self vol opgedamde gif” (8). Hy breek deur na die valsheid van sy verlede, sy selfverlies en selfbedrog, “want hy’t sy triek geword en hy was niks anders as triek nie” (14). Hy word gekonfronteer met die verlede waarin hy sy naam en sy identiteit verloor en die “dun man” van karton geword het. “Speel” en “triek” is egter nie net simbolies van Ludo se vinnige lewe saam met sy “loskopdolla”, geld en aansien nie, maar dui ook op die vernuf en sluheid waarmee die groot magte, soos die petroleumreus, ten koste van die landskap manipulerend optree vir eie gewin.

Plek word in hierdie teks as ’n fisiese, materiële teenwoordigheid uitgedruk en in fyn besonderhede verwoord:

Elke klipbank, elke verlegging van magma waar die aarde eeue gelede gestulp het en elke deining in die landskap. Elke kanteling van lig ken hy, en ook die seisoene wat oor die damme en landerye, die stukke oop veld en die bergkaroo kom. (3)

Die verbondenheid van die hoofkarakter met plek dui op ingeplaastheid, ’n kernmerker van die ekokritiese literatuurbenadering:

[W]ant hy ken die plek soos die palm van sy hand. […] Hy ken dit soos die lewenslyne op sy palm en dit gee hom die bietjie houvas wat hy op die lewe het. […] Hy weet op watter wêreld daardie lyne dui en dit laat hom ingeburger voel en troos hom. (3)

Die verbintenis is sowel fisies as emosioneel, en word simbolies weerspieël in die verrassende en skokkende einde van die teks. Dit sinspeel op die krag van die nielewende, die materiële, wat dinamiese betekenis oordra op die menslike liggame wat daarin voorkom. So word ’n narratief van materie, oftewel ’n verhaalde materie, tot stand gebring.

Plekke is “centers of felt value”, sê Yi-Fu Tuan in Space and Place. The perspective of experience (1977:4) – plekke is buigsame landskappe waarbinne sosiale verhoudings gesitueer is en waarmee mense kan identifiseer. In die bondige Gifkaroo-teks word die rol wat plek as geheue en as geskiedenis van die mense speel, ontgin. Binne die Karoolandskap is daar die kerk en die gemeenskapsaaltjie, wat die verhale van geloof en oorlog en verraad vertel: “[O]p die ou end staan die saaltjie daar as veel meer as net ’n trae ou geboutjie met vloere vol houtboorders en deure aan geroeste skarniere en ’n dak wat lek.” Dit is die geheue van die mense. Dit is die “dinge wat jy nie moet versteur nie, want dis die mites van plek” (10).

Daar is talle tekens wat hierdie leser vooruit laat raai oor die roman Klimtol: die hand as metafoor vir die land (die kaartlyne van die hand/land); die “mites van plek”; en die rol van geheue, en veral die liggaam as geheue. Dit is voorafkrummels wat op ’n rykgeskakeerde en verwikkelde roman dui.

As protesteks staan Gifkaroo vierkantig binne die ekokritiese literatuurbeskouing wat die leser dwing om met nuwe oë na die verhouding tussen die mens en die niemenslike werklikheid te kyk. Dit spreek die ekologiese sensitiwiteit van plek aan en dien as reaksie op die behoeftes, probleme en krisisse wat die mens–natuur-verbintenis in die gesig staar. As ekoteks wys dit op hoe die mens deur plek gedefinieer word en skep ’n sosiale en politieke bewussyn van die uitwerking van sy handelinge op plek en op die natuur. Gifkaroo is ’n polities gelade teks deurdat dit ’n beroep doen op die sosiale gewete van die mens, en veral binne die Suid-Afrikaanse konteks, op die groot rolspelers wat deur breking en die toestemming tot breking meewerk aan die onherroeplike vernietiging van die Karoo.   

Die aanspraak op die leser is een van meelewing, een van sosiale bewusmaking, die bewussyn “dat jy nie als onder jou voete kan besit nie” (9), die waarskuwing dat “niks onaangetas [sal] bly nie” (8), dat elke aksie van die mens ’n invloed het op die plek wat hom omring op ’n skaal wat nouliks begryp kan word.

Of hierdie teks lewens, perspektiewe en beleid sal verander, sal die tyd leer. Of dit die bedoelde lesers sal bereik, is onseker. Wat seker is, is dat Gifkaroo jou nie onaangeraak laat nie. Miskien sal daar later teruggekyk word na hierdie teks as die moment in die Suid-Afrikaanse letterkunde wat bedoel was om uitdagings in die oë te kyk. Waarin ekologiese verantwoordelikheid en betrokkenheid permanent deel van die literêre landskap geword het. Waar die krag van die verbeelding woorde en gedigte en boeke tot stand laat kom wat ’n verandering in gewete en handeling aktiveer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top