Gewone lesers aan die Kaap, c. 1680 tot 1850

  • 0

Gewone lesers aan die Kaap, c. 1680 tot 1850

Archie L. Dick, Departement van Inligtingkunde, Universiteit van Pretoria

LitNet Akademies Jaargang 9 (2)
ISSN 1995-5928

Opsomming

Hierdie artikel ondersoek die leeskulture van vroeë Kaapse gewone lesers (slawe, vryswartes, en arbeiders ná vrystelling in 1838) met die oog daarop om aan te toon hoe hulle geletterdheidspraktyke gebruik het om hulself en hulle wêreldbeskouings voor te stel. Dit is ’n nog onontwikkelde terrein en die artikel open ’n veld van ondersoek wat meer volledig nagevors kan word. Michel de Certeau (1984) se idees omtrent strategieë en taktiek verskaf ’n gerieflike teoretiese raamwerk om magsverhoudings in leeskulture te ondersoek. Sy idees suggereer egter ’n sterker kontras tussen strategieë en taktiek as wat in die praktyk bevestig word. Die getuienis in hierdie artikel dien as toets vir sy teoretiese raamwerk. Primêre en sekondêre bronne soos inventarisse, veilingslyste, sensusse, amptelike rekords, ’n slaaf se aantekeningboek, en gedokumenteerde studies wat met die onderwerp van die artikel verband hou, word benut. Data uit hierdie bronne word ontleed, geïnterpreteer en in tabelle aangebied om die doelwitte van die artikel te ondersteun. Ons het tot nou nie ten volle begryp hoe gewone lesers geleer lees het, wat hulle gelees het, waarom hulle gelees het, hoe hulle gelees het, waar hulle gelees het en die tale waarin hulle gelees het nie. Hulle leeskulture was verskuil agter hulle status en die skoolopleiding in die vroeë koloniale Kaapstad, die onderdrukking van die uitruil van idees deur elites van die VOC en die Britte, en hulle voortgaande ekonomiese uitbuiting. Ten spyte van sulke strategieë het gewone lesers verskillende taktieke gebruik om alternatiewe wêreldbeskouings te skep. De Certeau se leesstrategieë en -taktieke tree in wisselwerking met mekaar om verskillende leeskulture te kweek wat deur tyd en plek gevorm is.

Trefwoorde: gewone leser; leeskultuur; vryswartes; Khoisan; werkersklasse

Abstract

Common readers at the Cape, c. 1650 to 1850

This article examines the reading cultures of Cape Town’s slaves, free blacks, and labourers (after emancipation in 1838) as common readers. It covers the period from about 1650 to 1850 and reveals how these common readers used literacy practices to represent themselves and their world views. The history of reading is still undeveloped terrain in South African scholarship, and the article aims to introduce common readers and their reading cultures as areas of inquiry that should be investigated further.

Michel de Certeau’s (1984) ideas about strategies and tactics provide a useful theoretical framework to examine power relations in the reading cultures of common readers. Examples of literacy strategies and their relations with literacy and reading tactics are identified and discussed. Evidence from the period under study suggests that De Certeau’s contrast between strategies and tactics are perhaps too stark and that, in fact, they tend to act upon each other more strongly in practice. The article therefore also raises questions about this aspect of his theoretical framework.

Primary and secondary sources draw on inventories, auction lists, censuses, official records, a slave’s notebook, and documented studies relating to the topic. Data from these sources are analysed, interpreted and presented in tables to support the aims of the article. A special methodological feature is the use of records of organisations and institutions that provide evidence of reading. The Dutch East India Company (DEIC or VOC), a Slave Lodge school, Muslim religious schools, missionary societies, and book and tract societies proved fruitful for finding this evidence.

The notebook of a slave teacher, Johannes Smiesing, sheds light on the kind of literacy and numeracy instruction taught in the Slave Lodge school. The notebook contains sections on personal and family information, writing and reading, examples of arithmetic, a morning hymn, and medical remedies in Tamil. The focus for the purposes of this article is, however, the reading and writing uses of the notebook, and the way in which the VOC combined religious and secular elements in its education policy for the slave lodge children.

We have not fully understood how common readers learned to read, what they read, why they read, how they read, where they read, and the languages in which they read. The evidence gathered for this article begins to explain some of these literacy practices, as well as how common readers responded to attempts to guide and control their intellectual development. Religious competition contributed to a general improvement of basic literacy skills among Cape Town’s common people. They developed their own reading cultures and shaped alternative world views, which helped them to claim their own identities in Cape society.

Their reading cultures were hidden behind their status and schooling in early colonial Cape Town, the suppression by VOC and British elites of the circulation of ideas, and their economic exploitation. Despite the literacy and reading strategies of these powerful elites, common readers used tactics to represent themselves and create their own accounts of their histories. The elites could not control all the communications and circulation of ideas. On the other hand, their world views helped to shape the alternative world views of common readers. This shows how De Certeau’s reading strategies and tactics act upon each other to nurture distinctive reading cultures shaped by time and place.

Keywords:common reader; reading culture; free blacks; Khoisan; working classes

 

1. Inleiding1

In 1680 het Louis van Bengale in ’n Kaapse hof verduidelik dat hy hout in ’n ongemagtigde gebied gekap het omdat hy “onnoosel te weesen vermits niet leesen kan” – hy was oningelig omdat hy nie die plakkaat kon lees wat hierdie verbod bevat het nie (Hattingh 1981:22). Die hof het nie sy verontskuldiging aanvaar nie, omdat slawe en vryswartes (vrygestelde slawe) dikwels hulle leesvermoëns onderbeklemtoon het met die hoop dat hulle ’n ligter straf sou ontvang. Louis het goeie rede gehad om sy leesvermoë weg te steek, want ’n erkenning van skuld sou ’n boete meebring, en die winsgedrewe Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie (VOC) kon uit sulke strawwe geld maak. ’n Plakkaat wat in 1709 uitgevaardig is, het inderdaad die vernietiging of verwydering van plakkate in die plattelandse distrikte verbied (Jeffreys en Naudé 1948:13; Statute Law 1862:xxiii). Die VOC het plakkate en ander amptelike kennisgewings in gewilde omgewings laat aanbring sodat almal die plakkate en ander skriftelike mededelings kon sien en sodat niemand onkunde omtrent regulasies as verskoning kon voorhou nie.

Die leeskulture aan die Kaap die Goeie Hoop wat teen 1700 die verbeelding van sommige slawe aangegryp het, het die lees van boeke ingesluit. In ’n weddenskap en uiteindelik ’n argument tussen Dawid van die Coromandelkus en Klaas van Malabar het Dawid beweer dat hy die boeke kon lees wat hulle op die boekrak van die vryburger Pieter Jansz van Marsseveen gevind het (Biewenga 1996:115–9).

Geen studies van die leeskulture van gewone lesers soos dié wat al in ander lande uitgevoer is (Altick 1957; Lyons en Taksa 1992; Rose 2001; Zboray en Saracino Zboray 2006), is nog plaaslik onderneem nie. Die betekenis van die begrip die gewone leser word gewoonlik gekoppel aan die idee van nuutgeletterde lesers uit die werkersklasse. ’n Onlangse versameling ondersoeke verbreed die omvang van die begrip deur verskillende soorte gewone lesers “across class and social barriers” (Palmer en Buckland 2011:3) in te sluit. Hierdie nuwe benadering sluit egter nie die idee uit van die mag van gewone lesers om, onder moeilike omstandighede, betekenis en identiteit aan hulle eie lewens te gee nie. In ’n essay oor die gewone leser in die 19de-eeuse Suid-Afrika spekuleer Varley (1952:110) dat materiële omstandighede en swak onderwys die redes mag wees waarom slegs enkele “Coloured, African or Indian inhabitants of South Africa were able to benefit to any appreciable extent from the book and library resources of the country”. Die onderhawige artikel toon aan dat gewone lesers ten spyte van sulke ontbering altyd deel was van die Kaap se leespubliek. Dit werp lig op die leeskultuur van die slawe, vryswartes en Khoisan-werkers van 1680 tot 1850, toe die geletterdheid van die Kaapse werkersklasse vir die eerste keer opgeteken is.2

Slawe het feitlik uit die staanspoor van die VOC-nedersetting deel van die werkers gevorm, en tot 1808 is ongeveer 63 000 as goedkoop arbeiders ingevoer, wat van die Kaap die Goeie Hoop ’n slawekolonie gemaak het. Die slawe het die hoofbestanddeel van die werksmag aan die Kaap uitgemaak. Hulle was huisbediendes en tuinwerkers, en het in die algemeen die vuilste en swaarste werk in die nedersetting verrig (Ross 1980). Sommige slawe was van die suidwestelike Indiese Oseaan afkomstig – hoofsaaklik Madagaskar en Mosambiek – en hulle is binne die netwerk van slawehandel wat die Indiese Oseaan met die Rooisee verbind het, verhandel. Ander was afkomstig van Indië en Ceylon (die huidige Sri Lanka) en is óf direk oor die Indiese Oseaan daarvandaan vervoer óf is van hulle tuislande per skip na Batavia in Java geneem en toe terug oor die Indiese Oseaan na die Kaap vervoer. Dié van Oos-Indië het vanaf die menigte eilandstate wat oor die argipel versprei is, gekom, en ’n klein getal van die Maleisiese Skiereiland (Ward 2012).

Slawe het bediendes geword, en so ook die meerderheid van die werkende armes ná hulle vrystelling in 1838. Slawe aan die Kaap was die privaat besit van Kompanjie-amptenare, vryburgers en vryswartes. Die VOC se slawe is in die slawelosie gehuisves. Vryswartes was meestal vrygestelde slawe en bannelinge wat deur die VOC na die Kaap gestuur is as straf vir misdade wat in Batavia gepleeg is. Baie van hulle het ná die vrystelling opwaarts deur die sosiale en ekonomiese range beweeg, en sommiges het self welgestelde eienaars van slawe asook van ander eiendom en goedere, wat boeke ingesluit het, geword. Die meerderheid het egter nie dié opgang gesmaak nie en het baie soorte diskriminasie en ’n ambivalente regstatus beleef (Böeseken 1977; Stempowski 2006). Die vryswartgemeenskap was kompleks en het verskillende veranderinge ondergaan in die periode onder bespreking. ’n Aantal wette in die tweede helfte van die 18de eeu was byvoorbeeld diskriminerend teen vryswartes, maar daar is ietwat van ’n debat oor of die diskriminasie meer op grond van status as op grond van ras was (Baartman 2012:74-6; Elphick en Shell 1990).

Die leeskulture van die slawe, vryswartes en arbeiders in die vroeë Kaap vertel ons nie net waarvan hierdie mense gehou het nie, maar ook wie hulle was en hoe hulle die wêreld verstaan het. Geletterde slawe het teen die middel van die 19de eeu skrywer-sekretarisse vir ongeletterde medeslawe geword, asook deelnemers aan internasionale briefnetwerke, onderwysers in die VOC se slawelosie, lede van leesverenigings, en lesers van koerante asook van Charles Dickens en ander skrywers. Maar waar het hierdie tradisie van lees en skryf vandaan gekom, en waar en hoe het hulle die grondslae van lees en skryf geleer? En hoe moet ons hulle leeskulture verstaan en verklaar?

 

2. Leeskulture, strategieë en taktiek

Leeskulture gaan oor meer as bloot die plekke en ruimtes waar lees plaasvind. Leeskulture is kulturele stelsels wat verskeie elemente omvat, soos hoe om tekste te dekodeer, waar lees plaasvind, om te kies om hardop te lees, uitsoek wat gelees behoort te word al dan nie, wanneer lees gebeur, wie die lede van die leesgemeenskappe is, en watter motiewe lees aandryf. Met ander woorde, leeskulture bevat sosiale en kulturele dimensies en elemente (Johnson 2003; 2010). Verskeie van hierdie elemente kan in die leeskulture van die gewone mense van die vroeë Kaap gevind word. Lees- en skryfkulture behoort ideaal gesproke saam bestudeer te word (Delmas 2011; Lyons 2010:8–9). Hierdie artikel sluit voorbeelde van skryfpraktyke in, maar konsentreer meer spesifiek op lees.

Nuwe benaderings tot geletterdheidstudies en nuwe maniere om getuienis van lees en skryf te vind maak dit moontlik om die verborge stories van gewone lesers op te diep en te vertel (Colclough 2007:1–28; Darnton 2009:149–73; Prinsloo 2008). Ek vind Michel de Certeau (1984) se onderskeid tussen “strategieë” en “taktiek” nuttig om sommige van die magsverhoudings in leespraktyke te verklaar. Volgens De Certeau is “strategieë” instellings en magstrukture, soos ’n besigheid, ’n leër, ’n stad, en ’n wetenskaplike instelling wat verhoudings met kliënte, vyande, die platteland, en objekte van navorsing uit hierdie terreine of “plekke” bestuur. Een so ’n “strategiese plek” aan die vroeë Kaap was die VOC se slawelosie-skool, wat as gevolg van sy mag spesifieke soorte kennis as neutraal, onafhanklik of onbetrokke voorstel.

Teenoor “strategieë” staan “taktiek”, wat die ruimtes is wat mense vir hulleself in die strategiese plekke skep. ’n Taktiek is die kuns van die swakke om die ruimte van die magtige op vindingryke en vernuftige maniere te gebruik. De Certeau (1984) gebruik die voorbeeld van iemand wat in ’n stad stap waarvan die planne en straatkaarte die gevolg van die strategiese maneuvrering van regerings, korporasies en ander institusionele liggame is. Die stapper neem “taktiese” kortpaaie, óf wandel doelloos rond ten spyte van die gevestigde uitleg van die strate. Soos stap, oortree lees in die alledaagse lewe op die gebied van andere. Lees is met ander woorde soos stropery, en deur die gebruik van taktiek dink die leser van tekste iets anders uit as wat die skrywer bedoel het. Die leser kombineer fragmente in die teks om iets “onbekends” in die skrywer se ruimte te skep wat ’n “indefinite plurality of meanings” toelaat (De Certeau 1984:169). Die Kaap se gewone lesers het hierdie taktiek gebruik om alternatiewe identiteite, lewenstyle en wêreldbeskouings te skep.

 

3. 18de-eeuse letterkundige praktyke

Dit is moeilik om getuienis van die vermoë van slawe en vryswartes om te lees en skryf te vind, maar nie onmoontlik nie. Hulle handtekeninge in Romeinse en Arabiese letters asook as Chinese karakters op amptelike dokumente was nie ongewoon nie, maar geensins algemeen nie, veral nie in die 17de en 18de eeue nie (Armstrong 2012:126; Cornell en Malan 2005:44; Harris 1977:170–1; Worden 2004:74). En hoewel baie Moslems hulle testamente met kruisies onderteken het, was daar ’n paar wat in Arabies kon lees en skryf, want die lees van die Koran in Arabies was vir hulle belangrik (Dangor 1994; Haron 2006; Ward 2012:85-90). Ook vir die periode voor die 19de eeu is daar getuienis van briewe en notas wat deur slawe en vryswartes geskryf is.

In 1719 het Jonas ’n nota aan sy eienares geskryf en haar versoek om hom ’n amptelike vryheidsbrief te vergun. Toe sy weier, het Jonas geantwoord: “Dan sal ek nie langer goed doen nie.” Kort daarna het Jonas probeer om haar te vermoor en is hy gearresteer en tot ’n wreedaardige dood gevonnis (Worden en Groenewald 2005:78-83). ’n Groep slawe het in 1786 beplan om so ver as “die land van die Xhosa” te kom, waarvoor hulle die vryswarte Valentyn van Dapoer gebruik het om ’n pasbrief te vervals.3 Dit het gedurende die oorsteek van ’n rivier verlore geraak en die groep het teruggekeer en ’n skoolkind oorreed om in plaas daarvan twee briewe te kopieer wat deur een van die ontsnappende slawe gedikteer is (Worden en Groenewald 2005:547-8).

Ontsnappendes het ook geestelike geskrifte vir God se beskerming geskryf. In 1717 het ’n Christelike slaaf, wat herarresteer is en uiteindelik doodgeslaan is, ’n psalmboek by hom gehad – waarskynlik ’n gesangeboek (Biewenga 1999:171). Weggeloopte Moslem-slawe, daarenteen, het gelukbringertjies as talismans vir Allah se beskerming teen gevangeneming gedra en ook om enige wonde te heel wat hulle mag opdoen. Hierdie gelukbringertjies, of azeemats,is gedra of êrens op iemand se persoon weggesteek in stede daarvan om gelees te word. Ontsnapte slawe se briewe aan ander slawe is ook weggesteek, maar is soms deur die VOC-owerheid ontdek.4 In 1705 het slawe wat van skepe wat op pad na Europa was, ontsnap het, aan hulle vriende in die slawelosie geskryf omtrent “die groot verskil tussen vryheid en slawerny”.5

’n Meer onskuldige brief wat deur ’n siek slaaf, Upas, in die Boeginese taal geskryf is en hulp van September van Boegies versoek het, het egter tragiese gevolge gehad. Die brief is in September, wat ’n plaaslike reputasie as dokter gehad het, se houtkis ontdek. Die owerhede was nie so danig besorg oor die inhoud van die brief nie as oor die vrees dat sameswerings sou volg uit die lees en stuur van briewe tussen slawe, veral in tale wat die owerhede nie verstaan nie (Koolhof en Ross 2005:305).

Briewe het dikwels etniese en taalkundige identiteite behou. Die slawe Leander de Saram en Louis Perera het in Maart 1709 verskeie briewe in Singalees aan mense in Colombo en Punto Gale geskryf. Dit is deur die Swellendamse distrikslanddros onderskep en toe per skip na Ceylon gestuur (Liebenberg 2009). Die verbanne vryswarte Nicolas Ondaatje, wat in 1727 in die Kaap aangekom het, was voorheen ’n skrywer, boekhouer en tolk vir ’n prediker in Colombo in Ceylon. Hy was goed opgevoed en kon vlot Tamil, Singalees en Nederlands praat en skryf. Aan die Kaap het Nicolas die kinders van De Jager-, Malherbe- en Haarhof-vryburgerfamilies onderrig (Cornell en Liebenberg 2008). In ’n gedenkboek het hy meer as vyftig briewe van familie en vriende, wat in die 1720’s en 1730’s in Tamil geskryf is, nagelaat. In die bokantste linkerhoek van elke brief het hy die naam en plek van verblyf van elke sender geskryf, byvoorbeeld: “van my moeder Joliana Ondaatie Colombo”. Meer onlangs het Susan Newton King (2012) die netwerk van korrespondensie van 1728 tot 1733 tussen Arnoldus Koevoet, Anna Rebecca van Bengale en sewe korrespondente in Amsterdam, Colombo en Batavia ontdek.

Twee boeke onder Ondaatje se besittings is ná sy dood in November 1737 opgeveil. Verskeie vryswartes soos Ondaatje het boeke besit wat hulle op veilings gekoop het en wat simboliese bewyse van hulle sosiale identiteit en status was (sien Tabel 1).

Tabel 1. Monster van vryswarte-boek-eienaarskap in die 18de eeu

Datum Naam Boeke Bron
Julie 1720 Ansla van Bengale Twee boeke Inventaris MOOCB/4.156
Mei 1733 Claas Jonasz Pakkie boeke Veilingslys MOOC10/4.113
November 1734 Jan Smiesing Boeke en drie Bybels Inventaris MOOC 8/5.69
Januarie 1736 Arnoldus Koevoet Drie boeke Veilingslys MOOC10/4.143
November 1737 Nicolas Ondaatje Twee boeke Veilingslys MOOC10/4.155
Oktober 1741 Robbert Schot Bybel en pakkie boeke Veilingslys MOOC 10/5.60
September 1745 Onjako Elf boeke Veilingslys MOOC10/5.57½
Januarie 1763 Christian Africanus Twee en veertig boeke Inventaris MOOC8/10.43
April 1769 Aurora van Terra de Natal Doos met “ou boeke” Inventaris MOOC8/13.7

Bruikbare insigte omtrent die onderrig van lees en skryf aan die Kaap kan verkry word uit die aktiwiteite van die VOC se slaweskool.

 

4. Strategieë en taktiek in die slawelosie-skool

Die slawelosie het van 1679 tot 1795 die VOC-slawe gehuisves en was die enkele grootste slawekwartier gedurende die Kompanjie-era. Volgens Robert Shell was daar gemiddeld 480 losieslawe en hulle was meer as die slawe in privaatbesit in die kolonie tot 1695 en meer as alle slawe in privaatbesit in Kaapstad tot 1767 (Shell en Dick 2012:135). Peter Kolb se diagram van die slawelosie dui skoolruimte vir seuns en dogters aan (Shell en Dick 2012:135). Dit is moontlik om die aantal skoolkinders in die losiesensusse van 1693, 1714 en 1727 na te spoor (Shell en Dick 2012:136).

’n Interessante vermenging van godsdienstige, wins- en administratiewe motiewe het die VOC se geletterdheidstrategie vir sy slawelosie-skool gekenmerk. Die VOC was meer ontsteld oor die dood van ’n geletterde slaaf wat lewend verbrand is as oor die verlies van sy gebou toe die eerste slawelosie in 1679 afgebrand het, waarskynlik as gevolg van die ekonomiese waarde van daardie slaaf se letterkundige vaardighede vir die Kompanjie (Geyser 1958:7–8). Aan die ander kant was die skoolregulasies vir die nuwe slawelosie-skool, wat in 1685 deur Kommissaris-generaal H.A. van Reede uitgevaardig is, gemik op die opbou van ’n geassimileerde klas van geletterde Christelike slawe wat vir inspirasie na Nederland en die hemel opgesien het. Van Rheede se doelwit was om ’n beter generasie slawe, wat nie ongeletterd was nie, te skep. (Dictionary of South African biography 1968: 834). VOC-amptenare het ook geweet dat geletterde en syfervaardige slawe deur hulle onbetaalde arbeid as kopieerders en goedkoop gebruik as onderwysers nuttig vir die VOC sal wees (Shell en Dick 2012:137–8).

As gevolg van opgevoede vrygestelde slawe se kennis van die gereformeerde geloof en die Nederlandse taal was hierdie ekonomiese voordele voldoende vergoeding vir die Kompanjie se koste in verband met die grootmaak en onderrig van slawe wat later hulle vryheid sou koop. Geletterdheid het gevolglik gesinspeel op ’n identiteit van vryheid, indien nie gelykheid nie, maar teen ’n prys. Die geletterdheid van die oorgrote meerderheid slawe het ook die administrasie van die slawelosie vergemaklik. In 1716 is ’n lys van regulasies vir losieslawe aan beide die buite- en binnekant van die losie se voordeur aangebring (Jeffreys en Naudé 1948:65). Aan die ander kant het slawe takties op die VOC se geletterdheidstrategie gereageer. Die aantekeningboek van die slawelosie se onderwyser, Johannes (Jan) Smiesing, illustreer sommige elemente van hierdie dinamiek.

4.1 ’n Onderwyser in die slawelosie7

Jan Smiesing is in 1697 gebore en op 10 Maart van daardie jaar in die losie gedoop. Jan het feitlik sy hele lewe in die losie deurgebring, waar hy skoolgegaan het, sy vrou Anna van Dapoer ontmoet het, sommige van sy kinders verwek het, en as onderwyser gewerk het. Hy is in 1734 as ’n 37-jarige vryswarte dood. Sy besittings, wat in ’n inventaris gelys is, het ’n skryftafel, ’n boekstaander met boeke, en drie Bybels ingesluit (sien Tabel 1). Sy aantekeningboek wat ek getranskribeer het, mag dalk die enigste oorblywende stuk skryfwerk van die losie wees (Schoeman 2005:659). Dit is nou moontlik om hierdie fassinerende aantekeningboek, wat in die losie se skool gebruik is, te bespreek. Alhoewel die losie ’n korporatiewe instelling was, het die Amsterdamse Classis, waaronder die Gereformeerde kerke in die VOC-ryk geressorteer het, vereis dat slawe wat aan die VOC behoort het, gedoop en in die Gereformeerde kategismus geskool word.

Jan het die losie se skool bygewoon en self ’n skoolmeester geword toe hy net ’n sewentienjarige slaaf was (Shell 2004). Sy beskrywing van homself as die “skryf- en leesmeester in diens van die Edele Oos-Indiese Kompanjie” op een van die bladsye in sy aantekeningboek was ’n kragtige uitdrukking van eiewaarde vir ’n jong slaaf. Anders as wat ’n mens sou verwag het, het VOC-opvoeding nie ’n suiwer godsdienstige wêreldbeskouing voorgestaan nie. ’n Vroeë lys van skoolvoorrade meld vier eksemplare van die boek The Christian navigator deur Adam Westerman (Leibbrandt 1902:276; Westerman 1692). Dit was ’n aggressief patriotiese, selfs nasionalistiese, boek wat uit die Nederlandse onafhanklikheidsoorloë met Spanje voortgevloei het (Shell en Dick 2012:130-1). Die leeskultuur van die slawelosie-skool het dus ’n verrassend sekulêre dimensie gehad, soos blyk uit Smiesing se aantekeningboek.

4.1.1 Smiesing se aantekeningboek

Jan se notaboek is in werklikheid ’n doodgewone soort boek. Dit is tussen helderrooi omslae gebind wat twee leerbandjies het om hulle bymekaar te hou. Reg onder sy naam en van op die omslag is die datum 1717, gevolg deur die skaars sigbare nommer 32 om aan te dui dat dit die jare 1717 tot 1732 dek. Verskeie bladsye is netjies uit die boek gesny. Sommige geskrewe gedeeltes eindig stomp en dit lyk asof dele ontbreek. Hierdie eienskappe laat interessante vrae ontstaan omtrent hoe idees en boeke indertyd die ronde gedoen het toe daar geen boekdrukkultuur aan die Kaap was nie. Die eerste drukpers het eers in 1784 aangekom, maar daar was ’n energieke kultuur om boeke met die hand te kopieer en dit vir private gebruik te sirkuleer (Immelman 1971).

 

Figuur 1. Aantekeningboek van Johannes (Jan) Smiesing

Bron: Wes-Kaapse Provinsiale Argief- en Rekorddiens, Kaapstad. Met vergunning van Robert Shell.

 

Die boek bevat afdelings oor persoonlike en familie-inligting; skryf en lees; voorbeelde van rekenkunde; ’n oggendgesang; en mediese geneesmiddels in Tamil. In net meer as vier bladsye lys Smiesing die geboortes, doop, dood en begrafnisse van sy kinders en ander familielede. Hy teken ook die aankoms, inwyding, dood en begrafnis aan van Pieter Gysbert Noodt, wat van 1727 tot 1729 goewerneur van die Kaap was. Dit wil uit die onderskeie inskrywings voorkom dat Smiesing homself binne sy familienetwerk geposisioneer het, en op ’n baie selfbewuste manier oor sy eie identiteit nagedink het.

’n Vergelyking met ander voorbeelde van skryfwerk uit daardie tydperk is nodig om sy skryfstyl te verstaan en om dit taalkundig in ’n behoorlike historiese konteks te plaas.

4.1.1.1 Lees en skryf

Kommissaris-generaal Van Reede het gedurende sy besoek aan die losie in 1685 opgemerk dat van die slawekinders uit eie beweging ander geleer het om te skryf (Du Toit 1937:46) Ouderwetse slawe soos Jan het eenvoudige metodes gebruik, soos om in die sand te skryf, om ander slawe te leer. Dié praktyk was algemeen onder die kinders van Ceylon in 1672 en Van Reede het dit oorgeneem in sy Malabar- (Tamil-) taalseminaar by Naloer in die Jaffanapatnam-koninkryk van Ceylon in 1690 (De Bruyn 1884:510, 539). Hierdie ou gebruik in die VOC se kolonies het tot in die vroeë 18de eeu, voortgegaan toe borde of tafels met fyn sand gebruik is (Kularatne 1995:66). Afgesien van hierdie eenvoudige metodes het die slawelosie-kinders hulle skryf- en leesvaardighede beoefen deur ABC-borde en ABC-boeke te gebruik. Die VOC het dit aan sy koloniale skole verskaf en die Kaapse besending in 1676 het godsdienstige, sekulêre en taalboeke, rieme en kaste papier, asook 34 ABC-boeke, 13 ABC-borde, 124 bondels veerpenne en ’n verdere vaatjie met dieselfde inhoud bevat (Leibbrandt 1902:276).

Die ABC-bord (ABC bordje), wat vir beginlesers bedoel was, was soortgelyk aan die horingboek. Die horingboek het gewoonlik bestaan uit perkament of papier wat aan ’n klein roeispaanvormige houtbord geheg was. Dit het die letters van die alfabet bevat (hoof- en kleinletters, en kursief), en is deur ’n vel deurskynende horing beskerm. Die alfabet is gewoonlik deur die Onse Vader gevolg. Dit is algemeen in die 17de en 18de eeue in Nederland gebruik en is beskou as ’n goeie metode om beginners in ’n baie kort tydjie te leer lees (Tuer 1968:143). Vir meer gevorderde lesers was daar die Nederlandse ABC-boek of Abecedarium, wat tipies die alfabet (in Romeinse en kursiewe letters) en die “groot begin van alle wetenskap” ingesluit het (Du Toit 1937:4). Dit is gevolg deur die Tien Gebooie, die Paternoster en Ave Maria, die kategismus, oggend- en aandgebede, en Christelike spreekwoorde wat begin het met die letters van die alfabet. Vroeë 18de-eeuse ABC-boeke het agt of meer bladsye beslaan.

Teen 1737 is hierdie ABC-boek alreeds in die binnelandse distrikte van die Kaap aangetref. Die Morawiese sendeling Georg Schmidt het gerapporteer dat hy ’n aantal ABC-boeke wat hy van Kaapstad af vir vier stuiwers elk bestel het om die “Hottentotte” by Riviersonderend te onderrig, ontvang het (Bredekamp en Hattingh 1981: 55). ABC-boeke het in die 19de eeu die meer bekende Trap der Jeugd-boekegewordwat in Kaapse skole en huise gebruik is (Van der Westhuizen 1953:126). Die ABC-borde en ABC-boeke was dus een van die vroegste bronne van geletterdheid en lees vir die Kaapse slawelosie-kinders. Die letters van die alfabet in hoof- en kleinletters in Jan se notaboek mag heel moontlik uit die ABC-boek gekopieer gewees het en mag selfs gebruik gewees het om addisionele ABC-borde vir die losie se skool te maak.

 

Figuur 2. Letters van die alfabet en oggendgesang in Smiesing se aantekeningboek

Bron: Wes-Kaapse Provinsiale Argief en Rekorddiens, Kaapstad. Met vergunning van Robert Shell.

 

4.1.1.2 Oggendgesang

Die psalms van Dawid is vir godsdienstige doeleindes en vir taalleer gesing. Hierdie psalms is berym deur Petrus Dathenus (c. 1531–1588) en is gesing op Franse wysies uit die Geneefse psalmboek van 1562 (Cillié 1982:34; Du Toit 1971:27–8). Dit is van Nederduitse Gereformeerde skoolmeesters aan die Kaap verwag om kinders te leer om hierdie psalms te sing (Du Toit 1937:47; De Bruyn 1884:481; Moorrees 1937:49). Daar was egter ’n beweging in die Gereformeerde kerke in die vroeë 17de eeu om meer lofsange in stede van berymde psalms te sing. Die oggendgesang in Jan se aantekeningboek was nie ’n psalm nie en mag ’n aanduiding van ’n alternatiewe Christelike uitkyk onder die slawe wees.

Ek het die oggendgesang in Jan se aantekeningboek opgespoor in ’n gesangeboek wat in 1648 in Amsterdam gepubliseer is (Pers 1648:214).8 Dit mag wel van sy straatkontakte gekom het, of hy kon dit in die kerk gehoor het. Dit is een van verskeie gesange wat op die wysie van die Duitse Lutherse gesang “Auss meines Hertzen Grunde”gesing is. Die musiek is ’n fuguette gekomponeer deur Johann Christoph Bach (1642–1703), wat ’n kleinneef van Johann Sebastian Bach (1685–1750) was. Die wysie kan op YouTube gehoor word en dit is nou vir die eerste keer moontlik om te hoor hoe hierdie oggendgesang in die slawelosie-skool in die vroeë 18de eeu geklink het. Die eerste en tweede frases word in die derde en vierde frases herhaal, en hulle keer in die sewende en agtste frases terug. Hierdie struktuur was tipies van vroeë postreformatoriese gesange wat melodieë eenvoudig gehou het ten einde gemeentelike sang aan te moedig deur die aanleer en memorisering te vergemaklik. 

Die wysie was gewild aan die Kaap, omdat dit elke oggend deur VOC-trompetspelers op inkomende skepe gespeel is (Jooste 2006:143–62). Sommige van die slawe in die slawelosie was selfs musici wat in ensembles in die Kasteel en by ander geleenthede gespeel het (Boshoff 1987).9 Die derde vers van die gesang is onvolledig in Jan se notaboek. Dit eindig stomp met die eerste vier reëls van daardie vers aan die onderkant van die bladsy. Dit mag dalk voortgegaan het op die volgende bladsy, wat moontlik uitgeskeur is, en daar mag meer verse, of die hele gesang, gewees het. Dit kon selfs deur ’n aandgesang gevolg gewees het. Die ontbrekende reëls en bladsye is bewys van die Kaap se destydse kopieer- en sirkuleringskultuur. Hierdie soort Christelike opvoeding by die slawelosie-skool het voortgegaan deur middel van slawe-onderwysers soos Jan Smiesing en andere wat na hom gekom het.

 

5. Christelike geletterdhede in die vroeë 19de eeu

Voor die eerste Britse besetting in 1795 was daar in die Kaap ’n Latynse skool, twee skole wat as hoërskole beskou kon word, ’n hele aantal laerskole, asook kerkskole. Slawekinders het onderwys ontvang in die gewone laerskole en in die slawelosie-skool (Du Toit 1937:309). Die slawelosie-skool het voortbestaan tot 1828 (Geyser 1958). Die getal Christelike skole vir die werkersklasse het toegeneem, veral ná die tweede Britse besetting in 1806. Goewerneur Caledon het in 1808 twee openbare slaweskole by die Nederduitse Gereformeerde en Lutherse kerke begin. ’n Derde skool, wat in 1812 by die Anglikaanse kerk opgerig is, het Engels as onderrigmedium gebruik, maar het nie lank bestaan nie, omdat die meeste slawe Kaaps-Nederlands gepraat het (Van der Westhuizen 1953:90–2). Beheer van wat gelees is, het egter hand aan hand met letterkundige lesse gegaan.

Christelike skole wou die verspreiding van Islam beperk, maar Moslem- en Christelike sendelinge het veral tussen 1792 en 1838 met mekaar meegeding in hulle da’wah (propagering) en proselitisering onderskeidelik en sodoende geletterdheidsvlakke verhoog vanaf die Bo-Kaap tot die Strand-gebied (Rhoda 2007:45–56). Slawe is geleer om te lees ten einde onderdanig te word en hulle onderhorige plek in die gemeenskap te aanvaar. Goewerneur John Cradock, Caledon se opvolger, het werkersklas-opvoeding ’n hupstoot gegee toe hy in 1813 openbare (vry) skole ingestel het. Hierdie skole vir die armes, ongeag kleur, is deur die destydse godsdienstig-filantropiese gees in Engeland gerig. Hulle het Nederlandse en Engelse afdelings gehad en het die monitoriale stelsels van onderrig gevolg (Van der Westhuizen 1953:32–40). ’n Bybel- en Skoolkommissie het ’n spesiale fonds geadministreer om opvoeding te verbreed en Bybels aan armes en aan hierdie skole uit te deel.

In 1823 het lord Charles Somerset die verspreiding van die Islam verder beperk, omdat hy die slawe wou voorberei om ná vrystelling ’n vry werkersklas te word. Hy het slawe-eienaars verplig om hulle slawekinders tussen drie en tien jaar oud vir minstens drie dae per week na die naaste openbare skool te stuur. Gevolglik het 1 551 slawekinders teen 1825 in Kaapstad ’n Christelike opvoeding ontvang. Baie meer slawe het die Nederlandstalige afdelings as die Engelstalige afdelings van hierdie skole bygewoon (Van der Westhuizen 1953:179–81). Opvoedkundige fasiliteite vir kinders van slawe en werkersklasmense in Kaapstad het tussen die jare 1814 en 1825 uitgebrei toe die South African Missionary Society (SAMS) en die Wesleyan-Methodist Missionary Society ook kerkskole begin het (Van der Westhuizen 1953:181–3).

In die plattelandse distrikte van die Kaapkolonie was daar ook Christelike slaweskole. Een is in 1801 in Stellenbosch begin en het teen 1810 38 leerders gehad. Onder die Bybel- en Skoolkommissie het hierdie skool geletterdheidsklasse vir volwassenes in die aande begin en teen 1827 was daar 124 leerders (Giliomee 2007:28–35). ’n Lys van boeke wat vir die Stellenbosse slaweskool aangevra is, toon dat opvoeding daarop gemik was om goeie Christene te produseer eerder as om geletterdheid onder die werkersklasse te bevorder (Janse van Rensburg 1935:36). Nietemin het die plattelandse sendingskole van die Rhynse, Morawiese, Londense, Glasgowse en Suid-Afrikaanse sendinggenootskappe sowel die Christendom as basiese geletterdheidsvaardighede na die slawe versprei, asook na die Khoisan en Xhosasprekers (Van der Westhuizen 1953:184–91). Ten spyte van ongereelde skoolbywoning en negatiewe houdings van boere en slawe-eienaars was meer gewone mense op die platteland teen die middel van die 19de eeu besig om lesers te word.

Kaapstad se regerende elite wou hê dat opvoeding van die werkersklasse Christelik moes wees en verkieslik Engels in plaas van Nederlands, veral na die aanstelling van Somerset as goewerneur in 1814 (Scholtz 1964:8). Maar die gebruik van Engels was grootliks onsuksesvol, aangesien Kaaps-Nederlands so gewild was, en die kompromis was om albei tale te onderrig. Die Cape of Good Hope Philanthropic Society wat in 1828 gestig is, het die vryheid van 127 vroulike slawekinders gekoop en hulle tot die ouderdom van 18 as vakleerlinge ingeskryf by ’n eienaar wat ’n onderneming moes onderteken om hulle Engels of Nederlands te laat leer (Westra 1984:61). Kinders en volwasse slawe is by die Wesleyan-Methodist Missionary Society se Sondagskole, dagskole, aandskole en die SAMS se kleuterskole geleer om in albei tale te lees. Die SAMS-kleuterskole het in 1830 ’n aanvang geneem en het arm kinders en slawekinders tussen die ouderdomme van 18 maande en ses jaar opgevoed. Hierdie kinders het met ’n opvallende voorsprong teenoor dié sonder hierdie agtergrond na ander Christelike skole aanbeweeg. Baie van hulle kon geskikte boeke vir hul ouderdom gemaklik en vlot lees en is met boekpryse beloon (South African Infant Schools 1835:12).

Soos die geval met Engels was, was die sukses met Christelikheid by skole ook oneweredig. In 1824 het Eerwaarde W. Elliot van die SAMS probeer om die Kaapse Moslems te oorreed om ’n skool te begin waarin lees en skryf in Nederlands, Engels en Arabies onderrig sou word. Die geskiedenis van die skepping, die sondvloed, Dawid en Salomo en ander Bybelverhale sou ook geleer word. Hierdie projek was ’n volskaalse mislukking, en Imam Achman, wat gewerf is om kinders in sy huis te onderrig, het in werklikheid die doelwitte van die SAMS ondermyn (Van der Westhuizen 1953:183). Christelike sendingywer het, ironies genoeg, ’n meer vasberade Islamitiese da’wah in Kaapstad, die Strand-gebied en ander distrikte aangemoedig.

 

6. Moslem-geletterdhede

’n Groot aantal slawe en vryswartes was Moslems wat gewelddadig uit die Islamitiese streke van Suidoos-Asië weggeneem is. Hierdie streke het hulle eie geletterdheidstradisies en kulture gehad wat voor-Islamitiese elemente van soefi-mistisisme bevat het (Cummings 2002:4–6). Dit verklaar die opstandigheid van sommige Kaapse Moslem-slawe en hulle vermoë om met mekaar te kommunikeer. Die VOC het probeer om die groei van ’n sterk Oosterse kultuur aan die Kaap te verhoed deur slawe uit dieselfde gebied te verdeel, maar daar was al in 1667 soefi- (mistiese) praktyke onder geheimhoudende Moslem-gemeenskappe toe die VOC Indonesiese sjeiks in die area van Constantia ge?soleer het (Mason 2003:186; Da Costa 1994:129–35).

Teen die einde van die 17de eeu het sjeik Yusuf van Macassar ongeoorloofde dienste met slawe en vryswartes gehou en dreunsang onderrig – as ’n prototipe van lees (Dangor 1994). Sjeik Yusuf is in 1694 na die Kaap verban. Hy en vier van sy kamerade het die Islam aan voortvlugtige slawe geleer in vergaderings wat in private huise gehou is (Ajam 1986:1990). Afgesien van sjeik Yusuf was daar tussen 1652 en 1795 ongeveer 200 politieke bannelinge aan die Kaap. Onder hulle het vrygestelde imams (Moslem-gebedsleiers) klein groepies ontmoet om die Islam te propageer (Shell 2000:328). Die eerste godsdienstige Moslemskool (Madrasah) het in 1793 geopen en ’n “alternatiewe opvoeding” voorgestaan (Davids 1994:47–56). Imam Tuan Guru het die lees van die Koran in Arabies aan sowel slaweseuns en -meisies as wit Islam-bekeerlinge onderrig. Hierdie openheid vir alle lede (ummat – broederskap van Islam) ongeag kleur of klas, het gehelp om die Islam te versprei. Leerders het onderrig in Engels en Nederlands ontvang en is geleer lees en skryf (Davids 2011; Mayson 1963:23).

Hulle het lesse óf van ’n swartbord af óf van diktering deur ’n onderwyser getranskribeer in ’n boek wat ’n koplesboek (leerder-notaboek) genoem is. Die student sou die les tuis memoriseer en dit by die skool aan die onderwyser voordra (in die hafez-tradisie), en ’n nuwe les is gegee wanneer die eerste suksesvol gememoriseer was (Davids 1994:50). Die aantal Moslem-skole het gedurende die 19de eeu vinnig toegeneem. Gevolglik was daar twaalf Madaris teen 1832 en in 1840 was daar 2 451 leerders onder tien imams ingeskryf (Shell 2006:103). Teen 1854 was Islamitiese onderwys aan die Kaap onder ’n Imam Moota, of superintendent-generaal, georganiseer (Davids 1990:2). Moslem-slawe en vryswartes het wêrelde van hul eie geskep wat idees van teenstand, gebaseer op hulle godsdienstige uitkyk, ingesluit het (Davids 1990:15–6). Dit was nie openlike politieke protes nie, maar ’n soort van ondermyning ingebed in die “godsdienstige en seremoniële praktyke van Islam” en wat ’n alternatief vir die VOC se Christelike geloof uitgedruk het (Ward 2009:233–4).

 

Figuur 3. Moslem-skool: seuns wat leer om die Koran te lees

Bron: George F. Angas, The Kafirs Illustrated in a Series of Drawings Taken among the Amazulu, Amaponda, and Amakosa Tribes 1822-1886 (Londen: J. Hogarth, 1849). Met vergunning van Kimberley African Library, Kimberley.

 

Talle van die behoue manuskriptekste toon hierdie alternatiewe “ideologiese oriëntering” van vroeë Moslem-leeswerk aan die Kaap (Dangor 2008:131). Die Engelse vertaling van byvoorbeeld Tuan Guru se werk bevestig ’n subtiele maar ondubbelsinnige ondertoon van ondermyning. Die teologiese tekste “anchored the Muslim community in an independent, self-contained worldview” wat ’n alternatiewe wêreldbeskouing voorsien het wat parallel met die koloniale een bestaan het (Rafudeen 2006:95). Hierdie tekste het idees bevat soos die vryheid van die siel en gees van slawe ten spyte daarvan dat hulle liggame in gevangeskap gehou is. Die tekste wat hierdie “ondermynende” wêreldbeskouing bevat het, is vir die koloniale owerhede weggesteek deur die gebruik van die Maleise, Arabies-Afrikaanse en Kaaps-Nederlandse tale en skrifte (Rafudeen 2005:33).

Hierdie jong opvoedkundige en godsdienstige Moslem-gemeenskap was pragmaties, verdraagsaam, buigsaam, en gretig om te lees en skryf. Imams het lesse gegee in Kaaps-Nederlands (later Afrikaans), wat die oorheersende taal was onder Moslem-kinders wat sowel regerings- as sendingskole bygewoon het. Imam Carel Pilgrim het selfs die Bybel gekoop en by sy Madrasahgelees en daarin onderrig gegee (Mayson 1963:33). So vroeg as 1778 is Ou en Nuwe Testamente in Arabiese skrif van Nederland na die Kaap gestuur vir versending na die Ooste (Rochlin 1993:50). Teen die 1850’s het elke lid van ’n moskee ’n klein boekie gehad wat in Maleis en Arabies geskryf was, wat gebede en transkripsies uit die wet bevat het (Mayson 1963:22). Kaapse Moslems sou later hulle eie boeke druk. Daar was dus geen tekort aan instellings vir lees en skryf in Arabiese skrif nie.10

Deur middel van hulle leeswerk het Kaapse Moslems ’n onafhanklike wêreldbeskouing as alternatief tot die oorheersende Christelike en Nederlandse een van die VOC geskep. Deur hulle storievertellings het hulle die folklore-wêrelde van die Ooste en Afrika herroep en herskep en hulle versmelt met die folklore-wêrelde van hul Europese meesters en die Kaap se inheemse mense (Bleek en Lloyd 1968; Theal 1882). Die folklore van die slawe- en vryswart-gemeenskappe het ’n hibriede karakter gehad en is sedert die 18de eeu mondeling oorgedra as liedere, volksvertellings, rympies en raaisels.

Sommige slawepiekniek- of straatliedjies (ghoemaliedjies) gaan so ver terug as voor 1750, toe grootouers en ouers liedere mondeling aan hulle kinders oorgedra het (Du Plessis 1935:37). Hulle het ’n soortgelyke struktuur as die Indonesiese pantun. Dit is ’n literêre vorm van vier reëls waarvan die eerste twee skynbaar geen verband hou met die ander twee nie, maar waar van die leser verwag word om die ironiese verband raak te sien. Die ghoemaliedjies het die pantun omstreeks 1700 vervang toe die slawe, wat sulke uiteenlopende oorspronge gehad het en geen gedeelde taal nie, nie in staat was om ’n slawekultuur gebaseer op die tradisies van hul vorige lewens te behou nie (Winberg 1992:80). Hulle het die pantun en die Nederlandse taal aangepas en het van Nederlandse volksliedjies en tydgenootlike verwysings gebruik gemaak om in hulle ghoemaliedjiessatiries op die lewe aan die Kaap kommentaar te lewer. Hierdie liedere is ’n “werkersklas-weergawe van Suid-Afrikaanse geskiedenis” en verskaf ’n “alternatiewe weergawe van historiese gebeure” (Winberg 1992:81). Baie ghoemaliedjieshet vir meer as 300 jaar oorleef en word nog steeds jaarliks by die Kaapse Klopse se feesvierings in Kaapstad gesing.

Net soos hulle liedjies is die volksverhale ’n mengsel van oos en wes, noord en suid, en sommige daarvan is van ongeletterde Maleis-Afrikaanssprekendes (Du Plessis 1972:48–9). Die stories bevat baie verwysings na die Maleise wêreld van sultans, wazirs (hoë amptenare) en puteris (prinsesse), maar sommige van die temas sluit aan by “Aspoestertjie” en by Hans Christiaan Andersen se volksverhale. Verwysings na temas in die Suidwes-Indiese Oseaan se eiland-volksverhale toon verbintenisse met Afrika-volksverhale wat met gedwonge en ongedwonge migrasies van die kontinent af verband hou. Die verwysings na ’n djin (’n bose gees of mensvreter) in die folklore-verhale van die slawe kom ook in Madagaskar se volksverhale voor (Du Plessis 1939a en Du Plessis 1939b11; Haring 2007:7412). Die motief van die Arabiese djin,of jinn, wat ook aangetref word in stories uit die Arabiese Nagte, is verwant aan die tokoloshe in Xhosa-volksverhale (Scholtz 2004).

Selfs in hulle raaisels het slawe en vryswartes Nederlandse voorbeelde aangepas en oorspronklike voorbeelde geskep. Die raaisels weerspieël skerp waarnemingsvermoë, gevatte sêgoed, humor en visuele beeldspraak (Du Plessis 1939c:31). Sommige van die raaisels is as ontugtig, selfs pornografies, beskou, en is in die apartheid-tydperk verban uit versamelings van Afrikaanse raaisels as gevolg van hulle suggestiewe en dubbelsinnige betekenisse (Du Plessis 1939:33; Van Rooyen en Pellissier 1954:iv). Die seksuele sinspeling in hierdie raaisels het waarskynlik die werklikheid van seksuele verhoudings in baie Kaapse slawebesitter-huishoudings weerspieël (Shell 1992:1–33). Alhoewel daar bepaalde vakkundige twyfel hieroor bestaan, verwys Gray (1978:14–5; 1990:75) daarna dat ’n toneelstuk genaamd Galiema, wat handel oor ’n slawevrou wat teenstand teen haar eienaar se eise bied, teen 1740 snags in die slawelosie opgevoer is.13

 

7. Gewone leeskulture

In die leeskulture van die vroeë 19de-eeuse werkersklasse in die Kaapkolonie het sommige leesverenigings in die oop veld en in klaskamers bymekaargekom, was sommige lede ongeletterde luisteraars, was daar aantekenaars teenwoordig, het gemeenskapsverteenwoordigers van klein dorpies gehoor hoe koerante hardop gelees en teruggegee word om die nuus te sirkuleer, en is die koste van die koerante deur almal gedeel.14 Daar is getuienis dat sulke gemeenskapsleesverenigings in eenvoudige verblyfplekke in Philippolis, die Katriviernedersetting en Uitenhage gefunksioneer het (Van der Merwe 1983).

 

Figuur 4. Lees in die veld

Met vergunning van die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika, Kaapstad.

 

Soortgelyke eienskappe het leeskulture in beide plattelandse en stedelike gebiede gekenmerk. Leesverenigings het ingeteken op Engelse en Nederlandse koerante en tydskrifte, wat die “biblioteke” vir gewone lesers was. Joseph de Lima se De Verzamelaar (1826–1848) was die eerste Nederlandse koerant in Suid-Afrika. Afgesien van internasionale nuus en algemene-kennis-items het dit fabels, legendes en liedere ingesluit om lees en skryf onder gewone lesers te bevorder.15 Hy het in sy koerant die Foreign Book and Stationary Warehouse, genoem die South African Bazaar, geadverteer, waarvandaan hy Arabiese en Maleise boeke verkoop het.16 Min gewone lesers het egter hulle eie eksemplare van boeke en koerante gekoop, aangesien werkersklas-leeswerk in Kaapstad in die vroeë 19de eeu “a strongly communal character” gehad het (McKenzie 1993:24).

Die “cheap” titels was gewoonlik Britse algemene-kennis-tydskrifte soos die Mirror en die Penny Magazine. Tydskrifte in nabootsing hiervan, soos De Lima se Cape of Good Hope Penny Magazine,het items van plaaslike belang bevat, soos Arabiese spreekwoorde, verhale van Britse reddings van slawe van slaweskepe af en ’n kode met ’n lys van “Cape Colonial Signals” wat verbygaande skepe gebruik het om met die seinstasie op Leeukop te kommunikeer, wat dan na die hawekantoor herlei is (Cape of Good Hope Penny Magazine 1843:13). Die Britse tydskrifte is in koerante geadverteer vir “less than half the usual price” (Cheap reading 1843). Christelike leesinisiatiewe het “knowledge with godliness” bevorder, wat veral daarop gemik was om die invloed van Islam te verminder (Introduction 1835). In die 1830’s was daar byvoorbeeld leesklasse vir bediendes, vergesel deur Bybelklasse en bidure; en sogenaamde “library distribution” het eintlik beteken die sirkulering van Christelike traktate uit ’n stoorkamer in Kaapstad (Schoeman 1987:58).

Die South African Tract and Book Society (SATBS) het meer as 750 000 traktate en klein boeke tussen 1831 en 1857 in Nederlands en Engels gepubliseer. Dié vereniging is bygestaan deur die werk en fondse van die Religious Tract Society, the American Tract Society, die Society for the Propagation of the Gospel in Foreign Parts en filantropiese en sendinggenootskappe. Die traktate het probeer om ingeboekte slawe wat hulle vrystelling genader het, van die “superiority of the Christian Religion to that of Mahomet [sic]” te oortuig (Seventh Annual Report 1838:7). Die SATBS het lesers afgeraai van “impious and profane literature”, of “worse than useless books” in sirkulasie, wat gewoonlik “Fairy tales” en “Love adventures” was. In stede daarvan het dit “suitable publications” geproduseer vir ’n klas mense wat dit beskryf het as die “Coloured population” wat maar pas “uit ’n staat van slawerny na vore gekom het”. Onder hierdie publikasies was gesangeboeke as belonings vir kinders wat geleer lees het, besonder gewild. Ook in die Katriviernedersetting, wat ’n tuiste vir Khoikhoi was, het die sendeling James Read duisende Nederlandse gesangeboeke en “cottage hymns” aangevra wat hy en Robert Moffat op groot skaal verkoop het (Forty seventh Annual Report of the Religious Tract Society 1846).

Die taktiek van nuwe geletterdes het hulle egter daartoe gelei om op interessante en ongewone maniere te lees en skryf. Sommige slawe het ná die afskaffing van slawerny in 1834 bediendes geword en het vir mekaar en vir hulle voormalige meesters gelees, én hulle het ook vir selfontwikkeling gelees. ’n Voorbeeld hiervan is die wasvrou wat in die geheim na die Ladies Benevolent Society se lees- en skryfskool in plaas van die naaldwerkskool gegaan het, ten spyte van straf deur haar eienaar daarvoor. Sy het godsdienstige traktate aan ’n ander slawe-vakleerling voorgelees toe sy na een van die wasplekke beweeg het (Seventh Annual Report 1838:5). Die keuse van ’n Bybelteks van ’n ander bediende wat aan haar vriendin voorgelees het, was “Come unto me all ye that labour and are heavily laden, and I will give you rest.” Die rus waarna albei gesoek het, was waarskynlik in hierdie wêreld en nie die hiernamaals nie (Mason 2003:197–8).

Gemotiveer deur uitbuiting, het Rosina op elke herdenking van die vryheid van die slawe die statuut van emansipasie “in ’n luide stem” gelees buite die venster van haar verleë voormalige eienaar, wat haar en die twee kinders wat sy by hom gehad het, in die steek gelaat het (Letters from the Cape 1927:112). Gewone lesers het hierdie waardevolle dokumente in veilige plekke gehou sodat hulle dit, wanneer nodig, kon gebruik. Dit was nie ongewoon om eksemplare van Ordinansie Nr. 50 “carefully treasured up” tussen die blaaie van die Bybels van Khoisan te vind nie (Kirk 1973:424). Gewone lesers het die Bybel in die konteks van hulle materiële omstandighede herinterpreteer. Sommige Khoisan-bekeerdes en predikers het geglo in ’n “Christianity of equality” gebaseer op ’n alternatiewe interpretasie van die Bybel. Hulle het ’n “settler model of the racial exclusivity of Christianity” bevraagteken en geredeneer dat genade in plaas van velkleur toegang tot “the moral community” gee (Elbourne 2002:190).

Omdat hulle geweet het dat sommige slawe kon lees en skryf, het koloniste op die vooraand van die afskaffing in 1834 aan koerantredakteurs geskryf om die slawe te vra “to accept their freedom in a calm and responsible way” (Westra 1984:48). Slawe wat toe vakleerlinge17 was, het op hulle beurt in verskeie briewe aan die South African Commercial Advertiser hul dankbaarheid daarvoor uitgespreek dat hulle herstel is “to the possession of our natural rights as men” en hul briewe in een geval as “The Free people of the Cape of Good Hope” onderteken (Emancipation Day 1984:94).

Figuur 5. Skoolonderwyser lees die Zuid-Afrikaan, ’n Nederlandse koerant

Met vergunning van Iziko Museums van Kaapstad, Kaapstad.

Engelse en Nederlandse koerante en tydskrifte was soos “biblioteke” vir gewone lesers18 Koerantredakteurs in Kaapstad het gretig op nuwe aflewerings van Charles Dickens se Pickwick papers gewag en hulle as vervolgverhale in hul koerante gebruik, waarskynlik sonder toestemming. Die Commercial Advertiser het The chimes na bewering “without prejudice […] to the copyright, but rather as a kind of advertisement” gepubliseer (Hattersley 1973:140). Gevolglik het Dickens se karakters “a common factor of interest and conversation between readers of different classes and walks of life” geword (Varley 1958:21). Dit was gesinsvermaak en kinderonderwerpe. Sersant Buzfuz en Augustus Snodgrass van Pickwick papers het in 1841 deur die bladsye van die Cape Town Mail and Mirror of Court and Council bekend geword en die African Journal het David Copperfield in 1849 aan lesers voorgestel. Dickens se gewildheid aan die Kaap het sterker geword toe sy boeke in Nederlands vertaal is, en hulle is in 1851 by openbare leessessies voorgedra (Rochlin 1957:90). Toe Dickens uiteindelik in 1842 by Kaapstad se Suid-Afrikaanse Biblioteek gevoeg is, mag die bibliotekaris se opgewondenheid of ontsteltenis tot die katalogus-inskrywing The Picnic Papers gelei het (Varley 1958:23)!

Daar was ook ’n toenemende plattelandse leesbevolking wie se leessmaak meer sekulêr geword het. Die Religious Tract Society het in die middel van die 19de eeu ’n program van populêre wetenskap bygevoeg en hulle boeke is op die platteland deur die SATBS versprei. Onder die titels het getel: Electricity: Its uses and varied applications deur John Munro; Ponds and rock pools deur Henry Scherren; Popular handbook to the microscope deur Lewis Wright;en George Henslow se How to study wild flowers (Fyfe 2004:5; Green 1899:120–2). Daar was ook die Penny Biographical-reeks en Tales for the people. Vanaf omtrent 1835 tot 1850 het sirkulerende of rondreisende biblioteke Griekwastad, Grahamstad en Hermanus aangedoen en familie-sendingbiblioteke kon in Chumie en ander plekke aangetref word.19 Afgesien van die leesvereniging by die Katriviernedersetting was daar skoolbiblioteke, ’n drukpers, ’n rondreisende biblioteek en ’n wye verskeidenheid koerante (Read 1852:123).

Nóg merkwaardiger was die biblioteek wat in 1823 by Genadendal se Morawiese sendingstasie gestig is. Die Cape of Good Hope Literary Gazette het in 1852 berig dat dit “the best country library” in die Kolonie was. Dit het afdelings vir Duitse, Engelse en Nederlandse boeke gehad en daar was ook ’n leeskamer. Belangrik is die feit dat dit ’n uitleenbiblioteek was; in 1838 het ’n sendingverslag genoem dat dit “in brisk circulation” was en dat daar “not one volume” beskikbaar was nie, “for as soon as one is brought in, it is immediately issued to fresh applicants”.20

Hierdie biblioteek en die lus om te leer het ’n politieke bewustheid onder die Genadendal-inwoners aangewakker. In Augustus 1850 het Titus Vergele geskryf dat hy ’n bietjie navorsing in die biblioteek in Kaapstad gedoen het en uitgevind het dat “Genadendal is founded on the name of the Hottentots” (Balie 1988:81). Hy het sy vriend Johannes Jass versoek om ander inwoners bymekaar te kry sodat hulle vir hulle regte kon opstaan. Gevolglik het ’n afvaardiging van Genadendal ’n memorandum aan die Departement van Binnelandse Sake in Kaapstad oorhandig waarin hulle gekla het dat naburige boere op hulle eiendom beslag wou lê. ’n Kommissie van ondersoek (in 1851 ontplooi) het uiteindelik op 15 Februarie 1858 die sendingstasie in trust aan die superintendent van die Morawiese kerk vir die inwoners gegee (Balie 1988:82).

Voorbeelde van sulke geletterdheidsvaardighede en leeservarings was nie buitengewoon by plattelandse Kaapse sendingstasies nie, want die getalle van gewone lesers het indrukwekkend toegeneem ná die vrystelling van die slawe in 1838. Geletterdheid onder die werkersklas is vir die eerste keer in 1849 in ’n sensus deur plaaslike resident-magistrate in opdrag van die koloniale regering gemeet (Master and Servant Addenda 1849). Die motief vir die sensus was om ’n volhoubare werksmag ná die beëindiging van slawerny te bepaal en te verseker. Daar was druk op die regering van boere en voormalige slawebesitters, wat slawe nie langer kon beveel om te werk nie. Baie voormalige slawe het na sendingstasies verhuis en die mans het verkies om as dag- of los arbeiders op plase te werk. Op hierdie wyse het hulle hul vrouens en kinders teen harde werk beskerm en hulle dogters by die sendingstasies gehou waar hulle nie so kwesbaar vir seksuele uitbuiting was nie en opgevoed kon word. Die doel van die sensus was om sendingstasie-inwoners in die plaaslike arbeidsmark-ekonomie van ’n streek of magistraatsdistrik in te sluit (Ross en Viljoen 2009:392, 396).

Die vierde van 17 sensusvrae vir ‘n volwasse manlike inwoner was of hy kon lees of skryf. Hierdie vraag is soms gevra as “Can they read or write?” en het in sommige gevalle aan die lig gebring dat ’n vrou kon lees. Die sensusopnemer sou dit vasstel deur persoonlik te kyk of elke ondervraagde ’n paar verse uit ’n Nederlandstalige Bybel kon lees. Sendelinge mag dalk die resultate van hulle geletterdheidswerk in daaropvolgende briewe aan die sensusopnemers oordryf het, maar hulle byvoegings is nie statisties in die oorhoofse prentjie belangrik nie.

Ek het al die getalle vir lees en skryf in die tabelle en sendelingbriewe ingevoeg ten einde totale getalle te bereken (sien Tabel 2). Ten spyte van hulle foute gee die sensus en sendelingbriewe ’n goeie aanduiding van ’n lees- en skryfgemeenskap by die sendingstasies teen die middel van die 19de eeu. Hierdie sensus het onbedoeld die eerste amptelike bron vir werkersklas-geletterdheid in Suid-Afrika geword. Van die 5 457 volwassenes op 31 sendingstasies was 1 124, of 21 persent, geletterd. Die indrukwekkendste resultaat vir volwasse geletterdheid was 52 persent by Bethelsdorp-sendingstasie. Sy kindergeletterdheidsyfer van 20 persent het ook aan daardie stasie die hoogste algehele geletterdheidsyfer van 32 persent besorg. Die Schietfontein–sendingstasie het die hoogste syfer – 40 persent – vir kindergeletterdheid gehad.

Tabel 2: Geletterdheidsyfers op Kaapse sendingstasies, 1849

Sendingstasie

Totale volwassenes

Totaal wat kan lees of skryf

Volwasse-geletterd-heidsyfer

Totale kinders

Totaal wat kan lees of skryf

Kinder-geletterd-heidsyfer

Totale inwoners

Totale geletterd-heidsyfer

Somerset West (We)

111

20

18%

159

270

 

Raithby (We)

24

021

0%

38

62

 

Pniel (SA)

102

5

5%

159

42

26%

261

18%

Hermon (Rh)

11

2

18%

12

422

33%

23

26%

Groenekloof (Mo)

427

31

7%

670

1097

 

Stynthal (Rh)

119

8

7%

156

275

 

Saron (Rh)

235

8

3%

283

518

 

Zuurbraak (LMS)

202

38

19%

346

548

 

Pacaltsdorp (LMS)

213

78

37%

340

70

21%

553

27%

Dyzelskraal (LMS)

43

15

35%

56

99

 

Avontuur (LMS)

98

13

13%

168

266

 

Ebenezer (Rh)

92

8

9%

113

205

 

Schietfontein (Rh)

46

1

2%

77

3123

40%

123

26%

Goedverwacht24 (Mo)

48

2

4%

69

117

 

Zoar ( SA)

390

19

5%

456

2425

5%

846

5%

Genadendal (Mo)

1,091

273

25%

1,338

398

30%

2,429

28%

Elim (Mo)

362

60

17%

549

201

37%

911

29%

Farmerfield (We)

203

3726

18%

273

476

 

Theopolis (LMS)

124

23

19%

161

285

 

Trappesvallei (We)

37

14

38%

52

89

 

Scott’s Bottom

25

3

12%

18

43

 

Hankey (LMS)

276

108

39%

409

685

 

Kruis Fonteyn (LMS)

84

29

35%

103

187

 

Enon (Mo)

191

93

49%

191

382

 

Clarkson (Mo)

132

13

10%

224

356

 

Lovedale ( FC)

48

23

48%

51

99

 

Gwali/Tyumie (FC)

127

48

38%

141

268

 

Shiloh (Mo)

263

31

12%

405

668

 

Haslope Hills (We)

115

17

15%

157

272

 

Bethelsdorp (LMS)

166

8727

52%

274

5428

20%

440

32%

Riet Valley (FC)

52

17

33%

73

1329

18%

125

24%

Totale

5,457

1,124

21%

7,521

 

 

12,978

 


Verklarings
We: Wesleyaans-Methodisties; Mo: Morawies; Rh: Rhynse Sendinggenootskap; LMS: Londense Sendinggenootskap; FC:Vrye Kerk van Skotland; SA: Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap.

 

8. Ten slotte

Gewone mense in die vroeë Kaap het in Arabies, Boeginees, Engels, Kaaps-Nederlands, Maleis, Nederlands, Singalees en Tamil gelees en geskryf ten einde te onderrig, leer, korrespondeer, aanbid, sing, stories te vertel, handel te dryf, sin van hulle wêreld te maak en hulle identiteite te vestig. Die Christelike godsdiens en Islam het vanaf die vroegste tye in hierdie mengsel van mentaliteite, tale, godsdienste en folklore naas mekaar bestaan. Die VOC- en die Britse elites kon nie alle kommunikasie en sirkulering van idees beheer nie. Deur lees, skryf, praat en sang het gewone mense hulself uitgedruk en hulle lewens herskep. En tog het VOC- en Britse elites daartoe bygedra om die alternatiewe wêreld van gewone lesers te vorm. Met ander woorde, wat De Certeau as leesstrategieë en -taktiek sou beskryf het, werk op mekaar in om verskillende leeskulture, wat deur tyd en plek gevorm is, te kweek. Die getuienis van lees, die liefde vir boeke en handskrif in verskillende tale en skrifte toon dat ons tot dusver die intellektuele lewe van gewone mense in die vroeë Kaap onderskat het.

 

Bibliografie

Ajam, M. 1986.The raison d’être of the Muslim Mission primary school in Cape Town and environs from 1860 to 1980 with special reference to the role of Dr A. Abdurahman in the modernization of Islam-oriented schools. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van Kaapstad.

Altick, R.D. 1957. The English common reader: A social history of the mass reading public, 1800–1900. Chicago: University of Chicago Press.

Armstrong, J.C. 2012. The Chinese exiles. In Worden (red.) 2012.

Baartman, T. 2012. Protest and Dutch burgher identity. In Worden (red.) 2012.

Balie, I. 1988. Die geskiedenis van Genadendal, 1738–1988. Kaapstad: Perskor.

Biewenga, A. 1996. Alfabetisering aan die Kaap de Goede Hoop omstreeks 1700. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 3(2):109-21.

—. 1999. De Kaap de Goede Hoop: Een Nederlandse vestigingskolonie, 1680–1730. Amsterdam: Prometheus.

Blakely, A. 1993. Blacks in the Dutch world: The evolution of racial imagery in a modern society. Bloomington: Indiana University Press.

Bleek, W.H.I. en L.C. Lloyd. 1968. Specimens of Bushman folklore. Kaapstad: Struik.

Böeseken, A. J. 1977. Slaves and Free Blacks at the Cape, 1658-1700. Kaapstad: Tafelberg.

Books for the people. Reflections suggested by the late public meeting of the Popular Library. 1835. Cape of Good Hope Literary Gazette, 5(8):115–6.

Boshoff, A. 1987. Slawe-orkeste en musiek-instrumente aan die Kaap. South African Cultural History Museum Bulletin, 8:49–55.

Bredekamp, H.C. en J.L. Hattingh (reds.). 1981. Dagboek en briewe van George Schmidt: Eerste sendeling in Suid-Afrika (1737-1744). Getranskribeer deur B. Krüger en H. Plüddeman; vertaal deur J. du P. Boeke. Bellville: UWC Press.

Cape of Good Hope Penny Magazine. 1843. 13 April.

Cheap reading. 1834. South African Commercial Advertiser, 2 April, ble. 10, 710.

Cillié, G.C. 1982. Waar kom ons Afrikaanse gesange vandaan? Kaapstad: N.G. Uitgewers.

Colclough, S. 2007. Consuming texts: Readers and reading communities, 1695-1870. Basingstoke: Palgrave.

Cornell, C. en A. Malan. 2005. Household inventories at the Cape, a guidebook for beginner researchers. Kaapstad: TEPC Publications.

Cornell, C. en H. Liebenberg. 2008. Two contrasting case studies clues and questions. TEPC Workshop IV: Handout.26/1/2008. TEPC Transcription Project. http://www.capetranscripts.co.za/downloads.htm (10 Maart 2009 geraadpleeg).

Cummings, W. 2002. Making blood white: Historical transformations in early modern Makassar. Hawaii: University of Hawaii Press.

Da Costa, Y. 1989. Islam in greater Cape Town: A study in the geography of religion. Ongepubliseerde DLitt et Phil-tesis, Universiteit van Suid-Afrika.

—. 1994. The influence of Tasawwuf on Islamic practices at the Cape. In Da Costa en Davids (reds.) 1994.

Da Costa, Y. en A. Davids (reds.). 1994. Pages from Cape Muslim history. Pietermaritzburg: Shuter & Shooter.

Dangor, S.E. 1994. Shaykh Yusuf of Macassar. Durban: Iqra.

—. 2008. Arabic-Afrikaans literature at the Cape. Tydskrif vir letterkunde, 45(1):123–32.

Darnton, R. 2009.The case for books: Past, present, and future. New York: Public Affairs.

Davids, A. 1990. Words the Cape slaves made: A socio-historical-linguistic study. South African Journal of Linguistics, 8(1):1–24.

—. 1994. Alternative education: Tuan Guru and the formation of the Cape Muslim community. In Da Costa en Davids (reds.) 1994.

—. 2011. The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915. Onder redakteurskap van H. Willemse en S.E. Dangor. Pretoria: Pretoria Boekhuis.

De Bruyn, C.A. en L. van Troostenburg. 1884. De Hervormde Kerk in Nederlandsch Oost-Indië onder de Oost-Indische Compagnie, 1602-1795. Arnhem: HATjeenk Willink.

De Certeau, M. 1984. The practice of everyday life. Vertaal deur S.F. Rendall. Berkeley: University of California Press.

Delmas, A. 2011. From travelling to history: An outline of the VOC writing system during the 17th century. In Delmas en Penn (reds.) 2011.

Delmas, A. en N. Penn (reds.). 2011. Written culture in a colonial context: Africa and the
Americas 1500-1900. Kaapstad: UCT Press.

Dick, A.L. 2010. The notebook of Johannes Smiesing (1697-1734), writing and reading master in the Cape Slave Lodge. Quarterly Bulletin of the National Library of South Africa, 64(4):159–74.

Dictionary of South African biography. Vol. 1. 1968. Pretoria: Nasionale Boekhandel Bpk.

Du Plessis, I.D. 1935. Die bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse volkslied. Kaapstad: Nasionale Pers.

—. 1939a. Uit die Slamse buurt; Deel 1: Kaapse sprokies, fabels en legendes oorvertel deur I.D. du Plessis. Kaapstad: Nasionale Pers.

—. 1939b. Uit die Slamse Buurt; Deel 11: Kaapse sprokies, fabels en legendes oorvertel deur I.D. du Plessis. Kaapstad: Nasionale Pers.

—. 1939c. Die Maleise samelewing aan die Kaap. Kaapstad: Nasionale Pers.

—. 1972. The Cape Malays: History, religion, traditions, folk tales. Kaapstad: A.A. Balkema.

Du Toit, J.H.H. 1971. Die gesangkwessie: Rondom die bundel “Evangelische Gezangen” met besondere verwysing na Suid-Afrika. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Du Toit, P.S. 1937. Onderwys aan die Kaap onder die Kompanjie, 1652–1795: ’n Kultuur-historiese studie. Kaapstad en Johannesburg: Juta.

Elbourne, E. 2002. Blood ground: Colonialism, missions, and the contest for Christianity in the Cape Colony and Britain, 1799–1853. Montreal en Kingston: McGill-Queen’s University Press.

Elphick, R. en R. Shell. 1990. Onderlinge verhoudings: Khoikhoi, koloniste, slawe en vryswartes, 1652–1795. In Giliomee en Elphick (reds.) 1990.

Emancipation Day and the press, 1834–1984. 1984. Kronos, 9:94.

Forty seventh Annual Report of the Religious Tract Society. 1846. Londen: Religious Tract Society.

Fyfe, A. 2004. Science and salvation: Evangelical popular science publishing in Victorian Britain. Chicago en Londen: University of Chicago Press.

Geyser, O. 1958. Die ou hooggeregshofgebou. Kaapstad: Tafelberg.

Giliomee, H. en R. Elphick (reds.). 1990. 'n Samelewing in wording: Suid-Afrika 1652–1840. 2de uitgawe. Kaapstad: Maskew Miller Longman.

Giliomee, H. 2007. Nog altyd hier gewees: Die storie van ’n Stellenbosse gemeenskap. Kaapstad: Tafelberg.

Gray, S. 1978. Our forgotten drama: Stephen Gray looks at the continuity of South African English drama. Speak: Critical Arts Journal, 1(2):13–6; 46–7.

—. 1990. Women in South African theatre. South African Theatre Journal, 4(1):75–87.

Green, S. 1899. The story of the Religious Tract Society for one hundred years. Londen: Religious Tract Society.

Haring, L. 2007. Stars and keys: Folktales and creolization in the Indian Ocean. Bloomington: Indiana University Press.

Haron, M. 1999. Three centuries of NGK mission amongst Cape Muslims: 1652–1952. Journal of Muslim Minority Affairs, 19:115–23.

—. 2006. The production of the South African “Muslim Book”: A means of empowerment and a source of identity. In Ovens (red.) 2006.

Harris, M.G. 1977. British policy towards the Malays at the Cape of Good Hope, 1795–1850. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Western Washington State College.

Hattersley, A.F. 1973. An illustrated social history of South Africa. Kaapstad: A.A. Balkema.

Hattingh, J.L. 1981. Die eerste vryswartes van Stellenbosch, 1679-1720. Bellville: Die Drukkery, Universiteit van Wes-Kaapland.

Immelman, R.F.M. 1971. Oorgeskrewe boeke as ’n vroeë soort leesstof, 1700–1870. South African Libraries, 38(5):284–305.

Introduction. 1835. The Cape Cyclopaedia. Kaapstad: Bridekirk.

Janse van Rensburg, A. 1935. Die toestand van die slawe aan die Kaap, 1806–1834. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Kaapstad.

Jeffreys, M.K. en S.D. Naudé (samestellers). 1948. Kaapse Plakkaatboek, 1707–1753. Vol. 2. Kaapstad: Cape Times.

Johnson, W.A. 2003. Reading cultures and education. In Patrikis (red.) 2003.

—. 2010. Readers and reading culture in the high Roman empire: A study of elite communities. Oxford: Oxford University Press.

Jooste, F. 2006. Die optrede, leefwyse en lotgevalle van die VOC-trompetters en -tromspelers aan die Kaap van 1652 tot c. 1700. South African Journal of Cultural History, 20:143–62.

Kieser, A. (red.). 1953. Archives Year Book for South African History. Kaapstad: Staatsdrukker.

Kirk, T. 1973. Progress and decline in the Kat River settlement, 1829–1854. Journal of African History, 14:411–28.

Kularatne, T. 1995. Introduction of printing to Sri Lanka (Ceylon): The Dutch press in Ceylon (1736–1796). Libri, 45(2):65–77.

Koolhof, S. en R. Ross. 2005. Upas, September and the Bugis at the Cape of Good Hope: The context of a slave’s letter. Archipel, 70:305.

Le Cordeur, B. en C. Saunders. 1976. The Kitchingman papers: Missionary letters and journals, 1817 to 1848 from the Brenthurst collection, Johannesburg. Johannesburg: Brenthurst Press.

Leibbrandt, H.C.V. 1896. Letters despatched, 1696-1708. Kaapstad: W.A. Richards & Son.

—. 1902. Précis of the archives of the Cape of Good Hope: Journal, part 2: 1671–1674 and 1676. Kaapstad: W.A. Richards & Son.

Letters from the Cape by Lady Duff Gordon. 1927. Geannoteer deur D. Fairbridge, met ’n inleiding deur J. Ross. Oxford: Oxford University Press.

Levistzion, N. en R.L. Pouwels (reds.). 2000. The history of Islam in Africa. Athens: Ohio University Press.

Liebenberg, H. s.j. Transkripsies uit die VOC-verhaleskat. http://hdn.co.za/afr/index.php?option=com_content&task=view&id=252 (25 April 2009 geraadpleeg).

Lyons, M. en L. Taksa. 1992. Australian readers remember: An oral history of reading, 1890–1930. Melbourne: Oxford University Press.

Lyons, M. 2010. A history of reading and writing in the Western World. Londen: Palgrave Macmillan.

Mason, J.E. 2003. Social death and resurrection: Slavery and emancipation in South Africa. Charlottesville: University of Virginia Press.

Master and servant addenda to the documents of the working order in council of the 21st July including memorials, &c., and reports by the resident magistrates on the missionary institutions, with a summary of the whole. Cape of Good Hope Legislative Council. 1849. Kaapstad: Saul Solomon.

Mayson, J.S. 1963. The Malays of Cape Town. Kaapstad: Africana Connoisseurs Press.

McKenzie, K. 1993. The South African Commercial Advertiser and the making of middle class identity in early nineteenth-century Cape Town. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Kaapstad.

Meester van die Weeskamer (MOOC). Kaapstad: Kaapse Argiefbewaarplek,

Moorrees, A. 1937. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, 1652–1873. Kaapstad: SA Bybelvereniging.

Newton-King, S. 2012. Family, friendship and survival among freed slaves. In Worden (red.) 2012.

Ovens, C. (red.). 2006. Bibliophilia Africana 8: From papyrus to print-out; The book in Africa. Kaapstad: National Library of South Africa.

Palmer, B. en A. Buckland (reds.). 2011. A return to the common reader: Print culture and the novel, 1850–1900. Farnham, Surrey: Ashgate.

Patrikis, P.C. (red.). 2003. Reading between the lines: Perspectives on foreign language literacy. New Haven en Londen: Yale University Press.

Prinsloo, M. 2008. Literacy and land at the Bay of Natal: Documents and practices across spaces and social economies. English in Africa, 35(1):97–116.

Penn, N. 1986. Daily life in eighteenth century Cape Town. Cabo, 4:6.

Pers, D.P. 1648. Vernieuwde Urania, of Hemel-Sangh: Zijnde het 11 deel van Bellerophon of Lust tot wysheyt waer in veele historiale en Christelijke gesangen, stichtelicke liedekens. Amsterdam: Nicolaes Van Ravestyn.

Rafudeen, A. 2006. Ritual and political critique: Tuan Guru’s subversive pietism. Journal of Islamic Studies, 26:92–112.

—. 2005. A parallel mode of being: The Sanusiyyah and intellectual subversion in Cape Town, 1800–1840. Deel 2. Journal for the Study of Religion, 18(2):23–38.

Read, J. 1852. The Kat River settlement in 1851: Described in a series of letters published in “The South African Commercial Advertiser”. Kaapstad: Robertson.

Rhoda, E. 2007. The Islamic da’wah from the Auwal Masjid in the Bo-Kaap to Mosterd Bay (Strand), 1792–1838. Quarterly Bulletin of the National Library of South Africa, 61:45–56.

Rochlin, S.A. 1933. Early Arabic printing at the Cape of Good Hope. Bulletin of the School of Oriental Studies, 7(1):49–54.

—. 1957. Charles Dickens and the nineteenth century Cape. Quarterly Bulletin of the South African Library, 11(3):87–96.

Rose, J. 2001. The intellectual life of the British working classes. New Haven: Yale University Press.

Ross, R. en R. Viljoen. 2009. The 1849 Census of Cape Missions. South African Historical Journal, 61:389–406.

Ross, R. 1980. The occupations of slaves in eighteenth century Cape Town. In Saunders en Phillips (reds.) 1980.

Saunders, C. en H. Phillips (reds.). 1980. Studies in the history of Cape Town. Vol. 2. Kaapstad: University of Cape Town, Centre for African Studies.

Schoeman, K. 1987.The recollections of Elizabeth Rolland (1803–1901), with various documents on the Rolland family and the Free State mission of Beersheba. Kaapstad en Pretoria: Human and Rousseau.

—. 2005. Armosyn van die Kaap: Die wêreld van ’n slavin, 1652–1733. Tweede uitgawe. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2007. Early slavery at the Cape of Good Hope, 1652–1717. Pretoria: Protea Boekhuis.

Scholtz, J. Du P. 1964. Die Afrikaner en sy taal, 1806-1875. Kaapstad: Nasou.

Scholtz, P. 2004. Tales of the Tokoloshe. Kaapstad: Struik.

Seventh Annual Report of the South African Tract and Book Society, 1838, with a List of Subscribers. 1838. Kaapstad: Gazette Office.

Shell, R. [C-H]. 1984. Introduction to S.E. Hudson’s Slaves. Kronos, 9:44–70.

—. 1992. Tender ties: Women and the slave household, 1652–1834. The Societies of Southern Africa in the 19th and 20th centuries. Vol. 17. University of London: Institute of Commonwealth Studies.

—. 1994. Children of bondage: A social history of the slave society at the Cape of Good Hope, 1652–1838. Johannesburg: Witwatersrand University Press.

—. 2000. Islam in Southern Africa, 1652–1998. In Levistzion en Pouwels (reds.) 2000.

—. 2004. The 1714 census of the Slave Lodge, 31 August 1714, Cape Archives: C.336 Attestatien, folios 457-474. http://batavia.polresearch.org/slavery/1714_census.htm (19 Januarie 2011 geraadpleeg).

—. 2006. Madrasahs and Moravians: Muslim educational institutions in the Cape Colony, 1792 to 1910. New Contree, 51:101–13.

Shell, R. en A.L. Dick. 2012. Jan Smiesing, slave lodge schoolmaster and healer, 1697-1734. In Worden (red.) 2012.

Statute Law of the Cape of Good Hope, comprising the placaats, proclamations, and ordinances enacted before the establishment of the colonial parliament and still wholly or in part in force. 1862. Kaapstad: Saul Solomon.

Stempowski, P. 2006. Choosing respectability: The social mix of Cape Town between 1795 and 1840. Kleio, 38(1):40–69.

Theal, G.M. 1882. Kaffir folklore; or, A Selection among the people living on the eastern border of the Cape Colony. Londen: W. Swan Sonnenschein.

Tuer, A.W. 1968. History of the horn book. New York en Londen: Benjamin Blom.

Van der Merwe, M.H. 1983. Leeskringe met spesiale verwysing na hulle voorkoms in Wes-Kaapland. Mikrovorm. Universiteit van Suid-Afrika Argief.

Van der Westhuizen, W.S. 1953. Onderwys onder die algemene skoolkommissie: Die periode 1804–39. In Kieser (red.) 1953.

Varley, D. 1952. The 19th century and the common reader. South African Libraries, 19(4):103–10.

—. 1958. South African reading in earlier days. Johannesburg: SABC Publicity Department.

Van Rooyen, G.H. en S.H. Pellissier. 1954. Raai raai riepa of die Afrikaanse raaiselboek met snelsêertjies en boerespelling. Pretoria: Van Schaik.

Von Dessin, J.N. s.j. Catalogus Librorum Bibliothecae Publicae; Capitis Bonae Spei, Octavo first series. Plek en uitgewery onbekend.

Ward, K. 2009. Networks of empire: Forced migration in the Dutch East India Company. Cambridge: Cambridge University Press.

Ward, K. 2012. Southeast Asian migrants. In Worden (red.) 2012.

Westerman, A. 1692. Groote Christelijke zee-vaart, predicatien, in maniere van een zeepostille. Amsterdam: Gysbert de Groot.

Westra, P. 1984. The abolition of slavery at the Cape of Good Hope: Contemporary publications and manuscripts in the S.A. Library. Quarterly Bulletin of the South African Library, 39:58–66.

Winberg, C. 1992. Satire, slavery and the ghoemaliedjies of the Cape Muslims. New Contrast, 76:78–96.

Woolf, V. 1925. The common reader.
http://ebooks.adelaide.edu.au/w/woolf/virginia/w91c/chapter1.html (2 Januarie 2011 geraadpleeg).

Worden, N., E. van Heyningen en V. Bickford-Smith. 2004. Cape Town: The making of a city: An illustrated social history. Kenilworth: David Philip.

Worden, N. en G. Groenewald (reds.). 2005. Trials of slavery: Selected documents concerning slaves from the criminal records of the Council of Justice at the Cape of Good Hope, 1705-1794. Kaapstad: Van Riebeeck-Vereniging.

Worden, N. (red.). 2012. Cape Town between East and West: Social identities in a Dutch colonial town. Johannesburg: Jacana Media.

Zboray, R.J. en M. Saracino Zboray. 2006. Everyday ideas: Socio-literary experience among antebellum New Englanders. Knoxville: University of Tennessee Press.

 

Eindnotas

1Ek bedank die twee anonieme keurders vir hulle opmerkings en voorstelle ter verbetering van die artikel.

2 Die onderklasse van Kaapstad sluit “sailors, soldiers, artisans, convicts, exiles” en selfs “more elite inhabitants such as burghers and Company officials” in (Worden 2012:xi). Hulle word nie in hierdie artikel ingesluit nie.

3 Sy suster, Anna van Dapoer, was ’n onderwyseres in die slawelosie. Ek is dankbaar teenoor een van die keurders wat hierdie inligting aan my verskaf het.

4 Sien Leibbrandt, Letters despatched, 1696-1708 (30 March 1705), bl. 263.

5 Sien Leibbrandt, Letters despatched, 1696-1708 (27 May 1705), bl. 267.

6 Meester van die Weeskamer (MOOC), Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad. Baie van hierdie verwysings kan nagegaan word op die Towards a New Age Partnership (TANAP)-webblad: www.tanap.net. Ek het soektogte onderneem onder die rubrieke “book” en “books”, wat hierdie resultaat vir vryswartes gelewer het, maar daar mag ander wees wat ek gemis het of wat nie ingesluit is in hierdie databasis nie.

7 Hierdie afdeling is gebaseer op Shell en Dick (2012) en Dick (2012).

8 Lied 128.

9 Ek is dankbaar teenoor een van die keurders wat hierdie inligting aan my verskaf het.

10 Sien byvoorbeeld Van Selms, A. 1953. Die oudste boek in Afrikaans: Isjmoeni se “Betroubare Woord”. Herzog-Annale van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, ble. 61–102.

11 Sien volksverhaal nr. 9 in deel 1, en volksverhaal nr. 5 in deel 2.

12 Sien volksverhaal nr. 94.

13 Ek is dankbaar teenoor een van die keurders wat hierdie inligting aan my verskaf het.

14 Sien byvoorbeeld die brief van James Read aan John Philip, 16 November 1835, in Le Cordeur en Saunders (1976:159).

15 Sien De Verzamelaar, 2 Junie 1828. Vir voorbeelde van fabels en legendes, sien De Verzamelaar,4 Februarie 1826; 11 Februarie 1826; 18 Februarie 1826; 29 April 1826; 6 Mei 1826.

16 Sien De Verzamelaar, 20 Augustus 1839.

17 ’n Inboeksisteem vir slawe het bestaan sedert die totstandkoming van vrystelling op 1 Desember 1834 tot 1 Desember 1838. Gedurende hierdie vierjaarperiode is slawe ingeboek by hulle eienaars, wat moes aanpas by ’n loonarbeidsisteem, terwyl die slawe moes leer om meer onafhanklik te word (Worden, Van Heyningen en Bickford-Smith 2004:107).

18 Cape Town Mail and Mirror of Court and Council, 6 Maart 1841, ble. 6–7.

19 Sien die 34ste (1833), 42ste (1841), 43ste (1842) en 50ste (1849) jaaverslae van die Religious Tract Society.

20 Hierdie inligting is verkry tydens ’n besoek aan die Genadendal-museum op 22 Desember 2009. Die Aanwinsregister vir 1823 is in die museum beskikbaar.

21 Een arbeider, Abraham, kon nie lees nie, maar sy vrou kon. Dit is misgekyk (Master and Servant Addenda, 47).

22 Master and Servant Addenda, 169.

23 Master and Servant Addenda, 151.

24 Hierdie klein gemeenskap van werkersklasmense het op eie koste ’n skool gebou (Master and Servant Addenda, 174).

25 Master and Servant Addenda, 187.

26 Hiervan het een derde Engels gelees, een derde Nederlands en een derde Setswana. Sommiges het al drie die tale verstaan, en dié wat Engels gelees of gepraat het, het dit baie goed en met ’n baie goeie Engelse aksent gedoen (Master and Servant Addenda, 33).

27 Daar was veertig vroue wat kon lees en wat uit die opgaaf weggelaat is (Master and Servant Addenda, 239). Daar is ook ’n aanduiding van die getal volwassenes wat kon skryf.

28 Master and Servant Addenda, 237–8. Daar is ook ’n aanduiding van die getal kinders wat kon skryf.

29 Master and Servant Addenda, 241.

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top