Gesprek sonder einde deur Chris van der Merwe: ’n resensie

  • 0

Gesprek sonder einde
Chris van der Merwe
Lux Verbi
ISBN: 9780796319784

Waar pas ek in by God se verhaal?

Hierdie keurig-versorgde boek (Lux Verbi, 2016) deur die bekende letterkundige Chris van der Merwe volg kort op die hakke van Die wonder van die Goddelike liefde. Sinvolle waardes vir die lewe (Lux Verbi, 2014). Die feit dat laasgenoemde boek tans internasionaal in ‘n netjiese Engelse vertaling deur Wipf & Stock (een van die groot name in die internasionale teologiese boekebedryf) uitgegee word, spreek boekdele. Dit beteken onder meer dat die outeur die vereiste interdissiplinêre aanslag en die diskoers tussen letterkunde en teologie sodanig bemeester dat vakteoloë en letterkundiges sy boeke met ewe veel belangstelling opneem. Van der Merwe put inderdaad uit sy jarelange omgaan met tekste, wat godsdienstige en wetenskaplike tekste insluit, om interdissiplinêr mee te praat in die teologie en die etiek. Wat die titels (en die subtitels) van bogenoemde twee boeke betref, kan die welwillende leser tereg beaam dat teologie primêr handel oor ‘n verstaan van “God se verhaal” en dat etiek “sinvolle waardes vir die lewe” identifiseer, interpreteer en toepas.

Binne die reeds interessante gesprek tussen die teoloog en die letterkundige in hom betrek Van der Merwe die huidige aktuele “gesprek tussen geloof en wetenskap” ook op ‘n besonder deurdagte en stimulerende wyse in die ontwikkeling van sy gedagtes oor die meer omvattende en allesbepalende gesprek tussen God, mens en wêreld. Hierdie belangrikste van alle gesprekke is vir hom “die gesprek sonder einde”. Die denkende leser sal beslis hoop dat hy hierdie prikkelende pogings – oor die enger vakgrense heen – sal opvolg, en dat sy genuanseerde verstaan van die tekste van die Joods-Christelike tradisie in ‘n wye leeskring aanklank sal vind en lesersreaksie sal ontlok. Sy oorwoë aanpak help om nuwe horisonne vir eerlike Christelike, intergeloof- en sekulêre diskoerse oor die dieper dinge van ons menslike bestaan te skep.

‘n Mens kan nie anders as om by die lees, en herlees, van Gesprek sonder einde herinner te word aan die titel van Dirkie Smit se bundel van ‘n keur uit sy opstelle in die Saterdag-Burger nie: Dieper as wat mens dink. Van der Merwe se “vertelsel” oor geloof as ‘n voortgaande gesprek met God rus op dieper wysgerige veronderstellinge oor die aard van die werklikheid as sodanig: ons gesprek met God is tegelyk ‘n gesprek met die naaste en met die volle werklikheid van ons lewe. Soos Smit self in die flapteks van Van der Merwe se boek skryf: “Die boek word hartlik aanbeveel – vir deurlees in een sitting, of vir stadig lees, stukkie vir stukkie, soos daaglikse brood. En vir herkou en bedink, en dalk vir verdere oorvertel.”

Chris van der Merwe se meer onlangse skryfproses, uit die tyd rondom en ná sy aftrede as ‘n senior akademikus, beklemtoon veral die krag en werking van die bekende ou narratiewe van ons normatiewe tradisies. So word die waarde van narratiewe terapie vir traumasituasies ontgin in sy werk saam met die bekende sielkundige Pumla Godobo-Madikizela: Narrating our healing – Perspectives on working through trauma (Cambridge Scholars Publishing, 2007), asook die omvattende werk, saam met Hans Ester en Etty Mulder: Woordeloos tot verhaal. Trauma en narratief in Nederlands en Afrikaans (Sun Press, 2012). ‘n Werk wat doelbewus ook oor ánder grense, die grense van godsdiens, heen beweeg, is sy boek oor die aartsvaderverhale in Genesis, Ancient tales for modern times. Reflections on Abraham and his children (Lux Verbi, 2008). Hierdie 40 narratiewe bevat ‘n slotgedeelte met eerlike, waarderende reaksies van kenners van die ander Abrahamitiese gelowe. Die Joodse rabbi professor Azila Reisenberger en die Muslim-teoloog Imam Rashied Omar vind duidelik aanklank by die skrywer se inklusiewe verstaan van God se omgang met “Abraham se kinders”.

Die mees onlangse werk, die een wat hier bespreek word, is beslis Van der Merwe se mees teologiese boek tot dusver, soos ook beklemtoon word in Jaap Durand (let wel: nie Durandt nie!) se kort maar kragtige flapteks-aanbeveling. Hierdie boek van 239 bladsye bied inderdaad aan die leser ‘n rykgeskakeerde, omvattende teologiese interpretasie van “God se verhaal”. Dit gaan uit van die veronderstelling dat ons God, asook ons hele bestaan, slegs as “een groot vertelsel” kan benader.

In ‘n uitgebreide eerste hoofstuk, getiteld “Een groot vertelsel”, verskaf die skrywer ‘n narratiewe hermeneutiek vir wat hy in die volgende vyf hoofstukke uitwerk en op ‘n aantal eietydse vraagstukke toepas. Ons konsentreer hier veral op die hermeneutiek en laat die plesier grotendeels aan die leser om na te gaan hoe dit in die verdere hoofstukke toegepas word.

Die argument ontwikkel soos volg: Ons eie verhale, ja, elkeen se lewensverhaal, is opgeneem in ‘n groter verhaal, God se verhaal. Ons taak is as’t ware om uit te pluis waar ons eie verhaal binne die groter verhaal inpas. Om God en onsself te verstaan, moet die letterkundige in ons wakker word, om naamlik God se narratief te volg en te verstaan, en dan ook gepas daarop te reageer. Binne hierdie voortgaande gesprek of dialoog vind ons sin en identiteit.

Vir hierdie ingrypende verstaansinsig sluit Van der Merwe aan by filosowe en sosiale wetenskaplikes soos Manuel Castells (bl 123), Paul Ricoeur (136), Victor Frankl (157–9), CG Jung (181), godsdiensleiers soos die Oosters-Ortodokse Maximus en Bartholomeus I (38), Mahatma Ghandi (56), Augustinus (68), asook teoloë soos Dietrich Bonhoeffer (113), Alisdair MacIntyre (136), Marcus Borg en NT Wright (102 en 221), John de Gruchy (149), Julian of Norwich (150), Mary Oduyoye (177) en, deurgaans, CS Lewis. Kernfrases wat telkens pragtig ingeweef word in sy betoog kom egter veral uit bekende tekste uit die Afrikaanse, Nederlandse en Engelse letterkunde. Op verskillende plekke in sy “verhaal” (bv ble 11, 22, 33, 48, 64, en 75) verwys hy na die treffende reëls van NP Van Wyk Louw in die bundel Nuwe verse:

        Omdat die aarde en elke aardgebeurtenis
         en die son self, en tot die verste ster,
         tesame net een groot vertelsel is
         oor Hom en ons, en deur Homself vertel –
         vol beeld, prefigurasie, voorbereiding
         op een voleindigende slot.                  

Van Wyk Louw se idee dat elke gebeurtenis en elke verskynsel verstaan kan word as beeld, prefigurasie, van die eintlike, uiteindelike werklikheid waarop die verhaal van die groot Verteller uitloop (sien ook aanhalings uit Tristia, bv ble 180, 190), word aangevul met ‘n soortgelyke insig ontleen aan die Vlaamse digter Guido Gezelle se pragtige vers “Als de ziele luistert” (21, 38, 81 en 84):

         Als de ziele luistert
         Spreekt het al een taal dat leeft [...]
         Wind en wee en wolken,
         Wegelen van Gods heiligen voet,
         talen en vertolken   
         ‘t diep gedoken Woord zo zoet -   
         als de ziele luistert!

As die “siel”, die mens, maar reg luister, luisterend en ontvanklik ingestel is op die verhaal, die kommunikasie, van die totale werklikheid rondom hom, spreek alles om ons ‘n taal wat lééf en wat weë word vir God se heilige gang, en tolke word van die helende (“soete”) geïnkarneerde Woord van God.

Dit word gou duidelik dat Van der Merwe (soos Desmond Tutu) geloof teologies verstaan as ‘n heel bepaalde soort “kyk” na die ganse werklikheid, ‘n kyk wat in alle dinge ‘n beeld, ‘n prefigurasie, ‘n voorbereiding sien van wat elke ding of wese bedoel is om te wees en wat eers in ‘n “voleindigende slot” duidelik en voltooi sal wees. In die eerste hoofstuk word hierdie hermeneutiek van wording, van duiding, van antisipering van die finale “voleindiging”, uiteengesit. Ons lewe is ‘n vertelsel, ‘n gesprek waarin ons ons identiteit vind via die reaksie, die respons, die antwoord, wat ons dag vir dag, oomblik vir oomblik, op “elke aardgebeurtenis” gee. Saam met die son, en die verste ster, is alles tesame “een groot vertelsel”.

Afhangende van ons reaksie en duiding, is hierdie storie egter op pad na vervulling of verwording, op pad na “Jerusalem” of “Babilon”. Dit gaan in die vertelsel van God, oor Hom en ons, en deur Homself vertel, nie oor “hemel” of “hel” as sodanig nie, ook nie oor individuele “sieleheil” nie, maar oor ‘n keuse vir die teenwoordigheid van die ewigheid in die tyd: “Dit is die keuse tussen die vrede en harmonie waar God se wil ‘n werklikheid word, en die haat en bitterheid waar selfsug die botoon voer” (11). “God roep ons tot ‘n ewige lewe, gekenmerk deur ‘n liefdevolle bewussyn van Hom en die naaste. God wil dat ons sy ewige, goddelike liefde in die tydelike, aardse lewe uitleef” (35).

Die skrywer is deeglik bewus van die feit dat ons as moderne, rasionele mense allengs sterk bedenkinge ontwikkel het teen hierdie soort “God-praatjies”. In die verre verlede, toe ons nog “primitief” was, toe “wonderwerke” nog algemeen was, toe godsdiens nog ons ervaring van die numineuse kon vertolk, kon ‘n grootse Godsverhaal, ‘n “grand narrative”, moontlik nog sin maak. Ons besef egter toenemend via ons redelike insigte en nugtere nadenke dat godsdiens dikwels botsings, oorloë, verwoesting en haat veroorsaak het, en steeds veroorsaak. Is God-taal, teologie, dan eintlik nog moontlik? Is dit nie moontlik slegs in ‘n dampkring waar die wonder steeds die werklikheid kan troef nie?

Dit is duidelik dat Chris van der Merwe geen naïewe Christelike verhaaltjie wil navertel nie. Ons geloof kan nie ons rede uitsluit of negeer nie; ons self-wees as unieke individue kan nie ontken word nie; ons materiële nood en behoeftes kan nie geestelik vergoelik word nie. Dit beteken egter allermins dat ons die komplekse geestelike dimensies van ons wonderlike menslike bestaan in eensydige definisies van “rede”, of “individu”, of “materie” moet laat opgaan. Ja, seker, die kompleksiteit van die lewe moet noodwendig beaam word; die teenstrydighede, en selfs die paradokse, van ons lewe moet eerlik erken word. Nogtans is dit moontlik om met ‘n veel meer dinamiese verstaan van “werklikheid” te werk as wat moontlik is binne geslote sisteme soos die individualisme, of rasionalisme, of materialisme. Die metafisiese aspekte van ons bestaan hoef nie idealisties aan ‘n ewige “siel” gekoppel te word nie, maar “hemel” en “hel” kan konkreet beleef word as dimensies van hierdie aardse lewe. Die “ander” hoef nie as vreemde vyand, selfs as “hel” (Sartre), ervaar te word nie, maar juis as “God se oor” (AE Loen) waarin ons antwoord op die vrae, die dialoog, van elke dag se lewe gehoor word – deur ons medemens, maar ook deur God.

Van der Merwe implementeer ‘n dinamiese werklikheidsduiding (wat herinner aan CA van Peursen se “deiktiese ontologie”) wat van Gesprek sonder einde ‘n opwindende teologiese gesprek maak. Ons as mense leef eksistensieel-fenomenologies met die taak dat ons voortdurend die werklikheid moet “dui”, deur sin te “neem” van, en sin te “gee” aan, die werklikheid! In die omvattende eerste hoofstuk word die basis van so ‘n narratiewe, “duidende” teologie uitgewerk, wat dit vir die skrywer moontlik maak om in die daaropvolgende hoofstukke in gesprek te tree met kernkwessies binne die huidige debatte rondom geloof en rede. In hoofstuk twee spreek hy die samehang tussen godsdienstige en daaglikse rituele aan; in hoofstuk drie die rol van die kerk as draer van die “heil” in die wêreld (wat niks minder is nie as die ware terrein van God se “koninkryk”); in hoofstuk vier die mitiese (“onsienlike”) kant van die lewe wat nie minder werklik is as dit wat empiries gepeil kan word nie; in hoofstuk vyf die raaisel en pyn van menslike trauma en lyding; en in hoofstuk ses die onopgeloste paradokse van ons bestaan.

Dit behoort duidelik te word dat die skrywer geen fundamentalistiese of piëtistiese kortpaaie aanbied nie. Inteendeel, hierdie boek is voltooi in die tyd toe sy eie geliefde suster wreed in haar eie huis vermoor is – uiters traumaties en onverstaanbaar, soos Jesus se dood vir sy verslae volgelinge moes gewees het!

Soos Dirkie Smit tereg rondom hierdie boek aanbeveel, moet elke leser op sy of haar eie tyd en ritme die hoofstukke deurwerk en deurdink. Op elke bladsy is daar oorgenoeg stof tot nadenke. Van der Merwe gebruik heelwat pittige verwysings na bekende literêre bronne, en hier en daar ook na filosowe en teoloë, maar dit gebeur op gepaste en subtiele wyse, sonder ‘n sweem van pedantiese pretensie. Hier volg slegs ‘n paar voorbeelde van sulke verwysings wat min of meer lukraak gekies word, maar wat hopelik ook die skrywer se gemaklike skryfstyl en duidelike diskoers illustreer.

Rondom die tema van wetenskap en geloof verwys hy byvoorbeeld na uitsprake van moderne kosmoloë en kwantumfisici soos Marcus Chown en JSB Haldane. Hy toon aan hoe hulle bevestig wat ‘n skrywer soos die bekende CS Lewis reeds lankal beklemtoon het: dat die “misterieuse energieë” van die wetenskap (soos gravitasie!) baie naby aan “wonderwerke” kom, en dat ‘n dinamiese siening van die werklikheid nodig is vir beide wetenskap en geloof. Newton se “vaste” wette van beweging en gravitasie moes noodwendig plek inruim vir die aanvullende en veel meer onvoorspelbare realiteite van die atoom: “Contrast this (Newton se “wette”) with an atom flying through space. Nothing is knowable with certainty” (Chown, soos aangehaal op bl 14). Hy haal ook vir Haldene aan om die dinamiese en “oop” werklikheid van die wetenskap van die toekoms aan te toon: “I have no doubt that in reality the future will be vastly more surprising than anything I can imagine. Now my suspicion is that the Universe is not only queerer than we suppose, but queerer than we can suppose” (15).

In hoofstuk twee, wat handel oor ons reaksie op God se spreke, God se “roepstem”, verduidelik die skrywer hoe ons daaglikse rituele van gee en omgee vir die medemens geanker kan word in die ritueel van die nagmaal, en dat die kern van die Christelike lewe juis hierdie “vrye sterwe” aan die self is, waarvan Van Wyk Louw praat (75), en wat treffend deur Jesus se lewe en dood geïllustreer is. Dit is ook hierdie selfde geheim van selfprysgawe wat Shakespeare sy beroemde uitspraak in The merchant of Venice laat maak: om genade só aan ander te verleen is “twice blest; it blesseth him that gives and him that takes” (74). Die skrywer stel dit so: “Die heling van die samelewing begin met die heling van indiwidue wat van selfgesentreerdheid bevry is sodat hulle ander kan help” (77). Guido Gezelle se “siel wat luister” sal ontdek wat die aarde én die ander nodig het (84), en sodoende sal ‘n mens se lewe ‘n gebed word van dialoog met elke ander se materiële en geestelike nood, soos saamgevat in die “Onse Vader” (89–91). Die hele lewe word dan een groot ritueel, ‘n voortdurende gebed om God se wil vir die wêreld, dus, ’n gesprek sonder einde: “Gedurigdeur, in elke situasie, praat God met ons en wag Hy op ons reaksie. En wanneer ons positief reageer, in dade en ingesteldheid, reageer God op ons. Op dié manier word ons lewe ‘n gesprek sonder einde met die Almagtige” (91).

In hoofstuk drie, wat handel oor die kerk en die heling van die samelewing, word hierdie empatiese liefde as ‘n opdrag aan die kerk in die wêreld gestel. Dit gaan nie om die kerk as sodanig nie, maar om dit wat die kerk dien en verteenwoordig: God se ryk vir alle mense wat gebaseer is op selflose liefde: “’n Fundamentalistiese Christelike samelewing, waar almal gedwing sou word om die Christelike godsdiens te beoefen, sou vir mense met ‘n ander lewensbeskouing nie ‘n hemel wees nie, maar ‘n hel. En dan sou die Christelike godsdiens ‘n verdelende in plaas van ‘n helende faktor wees” (95). “Die mees fundamentele genesing vir ‘n verdeelde en disharmoniese samelewing lê in die transformasie van egosentriese mense tot mense wat omgee en wat boosheid bestry. Hierdie transformasie begin met individue se positiewe reaksie op God se roepstem.” Die kerk se rol is hierdie heling, wat beteken dat die hele mens versorg word (100). In hierdie verband wys die skrywer op Franciskus se “wonderlike opdrag” aan sy volgelinge: wanneer hulle die wêreld ingaan, moet hulle die hele dag getuig ... en soms mag hulle dit selfs met woorde doen! (99). Die skrywer erken dat die kerk dikwels glad nie opgewasse was en is vir hierdie grootse taak nie, maar dat die soeke na die dóén van God se wil tog hele terreine van die menslike lewe oor tyd heen getransformeer het: slawerny, koloniale onderdrukking, apartheid, menseregte (114–7). Dit is ook in hierdie verband, van gevoeligheid vir die dinge wat heling benodig in die wêreld, dat Van der Merwe die rol van die kunstenaar beklemtoon: hier haal hy Paul Tillich aan wat gesê het kunstenaars is die “voelhorings van die samelewing”, asook Tolkien, wat aanbeveel het dat as jy die nuus wil weet, jy die letterkunde moet lees: daarin is nuus wat nie van verbygaande aard is nie! (109).

In hoofstuk vier volg die skrywer ‘n interessante roete om oor wetenskap en geloof, rede en spiritualiteit te praat: dit gaan daarom dat die mens ‘n onblusbare drang het “om die onsienlike te sien”! Hier verwys hy na Manuel Castells se empiriese sosiologiese bevestiging dat in die postmoderne Europa spiritualiteit toeneem en sekularisasie, teen alle verwagtinge in, afneem (123). Dan volg daar die “nuus wat nie van verbygaande aard “ is nie, uit Dostojefski se Die broers Karamazov, waar Dmitri met Rakitin, die sekulêre intellektueel, se tese oor God worstel: “What if Rakitin’s right – that God’s an idea made up by men? Then, if He doesn’t exist, man is the king of the earth, of the universe. Magnificent! Only, how is he going to be good without God? That’s the question. I always come back to that. Who is man going to love then? To whom will he be thankful? To whom will he sing the hymn?” (125–6) Hy verwys ook na natuurwetenskaplikes soos Albert Einstein en Paul Dirac wat betower was deur die sinlike ordelikheid, die estetika, van die heelal (127). In aansluiting by filosowe soos Alasdair MacIntyre en Paul Ricoeur (136), wat die identiteitskeppende soeke na sin, na betekenis, na “verhaal”, by die mens beklemtoon, maak Van der Merwe die gevolgtrekking: “Die beste moontlike lewensverhaal word geskep deur ‘n gesprek sonder einde met God, deur sensitief te wees vir die dikwels byna onhoorbare influisteringe van God. So eer God ons, deur ons medeskeppers te maak van ‘n waarlik betekenisvolle lewensverhaal” (137). Bertrand Russell kan kla: “God, you provided us with too little evidence!” (135), maar iemand soos Desmond Tutu redeneer, soos die Amerikaanse ruimtereisiger, dat God orals te sien is deur dié wat met oë van die geloof kyk: dan word die "onsienbare" sigbaar! Daarvoor is egter ‘n goeie dosis nederigheid nodig: “Spirituele ongeërgdheid en apatie, tipies van ons tyd, is die vrugte van hoogmoed” (144). “Nederiges besef hoe min hulle weet, en hoeveel hulle nié weet nie!” (145). Dit is vanweë hierdie aksente in die boek dat Dirkie Smit skryf: “Só word dié gesprek sonder einde ‘n soort apologie, maar dan ‘n apologie vir ‘n bepaalde lewenstyl – een van stilte en luister en nederigheid, van lewe ván genade en mét genade” (flapteks).

In hoofstuk vyf, wat handel oor geloof en trauma, word Julian van Norwich se bekende geloofsuitspraak eerlik aan die orde gestel: “All shall be well, and all shall be well, and all manner of things shall be well” (150). Hierdie positiewe oortuiging word dikwels deur omstandighede (“all manner of things”) aangeveg, soos in die lewe van Job, of die rivierervaring van Jakob, of in die ervaring van gelowiges soos John en Isobel de Gruchy wat hulle briljante jong teoloog-seun tragies in ‘n rivierongeluk verloor het (149–53); of soos in die lewe van CS Lewis wat sy vrou, nadat sy volkome herstel het, tog onverwags aan kanker moes afstaan (153–5), of soos in Viktor Frankl se heroïese soeke na sin in die hopelose toestande in Auschwitz (157–9). In hierdie hoofstuk word ook geen maklike antwoorde aangebied nie, maar word die gelowige teruggewerp, soos Job (“Die dag waarop ek gebore is, moes nooit aangebreek het nie”, 152, 170–1), en Jesus (“My God, my God, waarom het U my verlaat?”), om in die situasie van wanhoop en twyfel die moontlike sin, die potensiële sin, te ontdek vir die voortgaande lewensverhaal. Frankl het dit só verwoord in sy Man’s search for meaning: “A human being is not in pursuit of happiness but rather in search of a reason to become happy ... through actualising the potential meaning inherent and dormant in a given situation” (159). En Nietzsche soos volg: “He who has a why to live for can bear almost any how” (158).

Dit is asof die skrywer, ten spyte van die hoopvolle, toekomsgerigte strekking van ‘n verhalende teologie, nie die slothoofstuk (ses) se opskrif kan vermy nie: “Teenstellings en teenstrydighede”. Ten slotte gaan hy dus in op 12 teenstellings en skynbare teenstrydighede binne ‘n Bybelse lewensduiding. Die eerste is die vraag hoe ‘n mens “heilig” kan lewe, volgens Bybelse en geloofsvoorskrifte en tog volledig mens wees. Hier sluit hy treffend aan by Carl Gustaf Jung se uitdaging dat ons ons skadukante volledig op ons moet neem (181), en by die bekende reëls uit Van Wyk Louw se Tristia (180):

         Miskien nog van Gods weë weet:
         – Sy paaie en Sy pyn:
         Maar ingewikkeld alles ken
         En mens wil wees én rein.

Ander dergelike “teenstrydighede” wat behandel word, is onder meer die paradoks dat ons soos ‘n kindjie moet word (183–8); die paradoks dat die mens vele dinge kan ken, maar nooit die geheel nie; dat die mens kan dink (in Van Wyk Louw se woorde, weer eens uit Tristia): “My brein kry die waan, dat ek, omdat ek altyd sirkels sien, die sfeer-self kan verstaan” (188–3); die skynbare botsing tussen “eiebelang” en “self-opoffering” (193–7); die “sentrale Christelike paradoks”: dat ons stérwend léwe (198–202); die skynbare teenstelling tussen vreugde en verdriet (203–6); die uitdaging om die ander (mens, karaktertrek, kultuur, godsdiens, filosofie) te aanvaar en lief te hê, maar dit in waarheid te doen, dus ook met die vermoë om dit objektief te beoordeel (206–11); om die allesversoenende krag van die liefde te erken (die krag wat wyd uiteenlopende menslike deugde sáám kan smee: nederigheid en regverdigheid, geloof en waarheid, geregtigheid en vrede (211–6); om alle verskille en die groot verskeidenheid binne die menslike situasie te aanvaar in nederigheid, dus om eie beperkinge en die beperkinge van ander te aanvaar (216–20); om die krag van mistieke omgang met God (dus, in die woorde van William James: “a firsthand religious experience, rather than a secondhand belief”) te aanvaar as ‘n legitieme aanvulling van redelike oortuiging (220–5); om “God in alle dinge” te aanvaar, dus selfs in Hitler of ‘n kankersel, iets wat slegs binne die vóórtgaande verhaal van God se uiteindelike oorwinning van die kwade deur die goeie moontlik is (226–9); en om ten slotte “God ágter alle dinge” te aanvaar, wat behels dat ons erken dat God ons in alle dinge en omstandighede steeds bly roep tot die nimmereindigende gesprek (230–4).

Hierdie resensie is vanweë omstandighede veels te “laat”, maar hierdie boek bly steeds ‘n waardevolle verjaardaggeskenk of (eersdaags al weer) Kersgeskenk. Sommige mag ook oordeel dat dit “veels te positief” is: dit bied tog sekerlik nie alle antwoorde op die warboel van geloofsvrae en redelike vrae wat deesdae dreig om geloof as iets uit die oude doos agter te laat nie? Die boek het egter nie die pretensie om volledig en omvattend sodanige antwoorde te bied nie. Ek self is die skrywer besonder dankbaar vir die eerlike en nederige wyse waarop hy hierdie taak op hom geneem het: om met die vele tekste wat hy in sy lewe gelees het, denkend om te gaan om sy eie verhaal met intellektuele en morele integriteit binne die “grand narrative”, waarmee vele van ons grootgeword het, te probeer karteer.

So ‘n aanpak maak dit moontlik vir vroom gelowiges om ook denkend met hulle tradisie om te gaan, maar dit nooi hopelik ook twyfelaars, agnostici, wetenskaplikes en ateïste uit om weer met nuwe oë na geloof en die werklikheid te kyk, en met nuwe ore te luister na die taal van die ganse werklikheid, wat ook as die taal van God verstaan kan word, binne ons voortgaande gesprek met die lewe self.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top