Gespierde Afrikaans

  • 58

Konklusie of gevolgtrekking? Kontradiksie of teenstrydigheid?

LitNet Akademies wil navorsers graag help om meer gespierde Afrikaans te skryf.

Links is woorde wat dikwels in voorleggings voorkom. Regs is ander voorstelle.

Help ons om hierdie lys uit te brei deur voorstelle te e-pos aan akademies@litnet.co.za. Ons sal sinvolle voorstelle plaas.

LitNet onderskryf nie noodwendig alle Gespierde Afrikaans-voorstelle wat van ons lesers ontvang word nie, maar moedig samewerking aan sodat daar versigtiger nagedink kan word oor taalgebruik in veral geakkrediteerde akademiese navorsing in Afrikaans. Stuur gerus jou voorstelle!

Alfabetiese lys van voorstelle

ABCDEFGHIJKL
MNOPQRSTUVWYZ 

A

aan dit

daaraan

Wessel Pienaar

 

aanlyn uitsendings

kamerakerk

Dawie Ludick

 

aanspreek

die hoof bied, hanteer

Lariza Hoffman

 

addisioneel

bykomend, toegevoeg, aanvullend

Helena Liebenberg

 

adekwaat

toereikend, genoegsaam

 

 

admireer

bewonder

Helena Liebenberg

 

agenda

sakelys

Helena Liebenberg

 

agter dit

daaragter

Henk Boshoff

 

akkommodasie

verblyf

Jo-Ansie van Wyk

 

akkommodeer

insluit, aanpas

Jo-Ansie van Wyk

 

akkoord (gaan), akkordeer

saamstem, ooreenkom

Jo-Ansie van Wyk

 

aksie

optrede, gedrag

Jo-Ansie van Wyk

 

aktiveer

ontketen, veroorsaak, sit aan die gang, gee aanleiding tot

Henk Boshoff

 

aktiwiteite

werksaamhede

Frederik R van Dyk

 

allokasie

toewysing, toedeling

 

 

analiseer

ontleed

 

 

analiseer, analise

ontleed, ontleding

 

 

applikasie

toepassing

Chimoné Bodenstein

 

area

gebied, oppervlakte (in tegniese verband)

Pieter GR de Villiers, Stephan Oberholzer

 

argument/ argumenteer

redenasie/ redeneer

Wessel Pienaar

 

arrestasie

inhegtenisname

Wessel Pienaar

 

arriveer

aankom, aanland, opdaag

Henk Boshoff

 

artifisieel

kunsmatig

Jo-Ansie van Wyk

 

artifisiële intelligensie

kunsmatige intelligensie

Jo-Ansie van Wyk

 

assosiasie

verwantskap, verband; vereniging

Jo-Ansie van Wyk

 

assosieer

vereenselwig

Alene Holder

 

assumpsie

aanname

 

 

astronomies

omvangryk, oortreffend

Jo-Ansie van Wyk

 

attent maak op

aandag vestig op

Henk Boshoff

 

 

 

B

behalwe dit

daarbenewens

Wessel Pienaar

 

bepunt

beoordeel

Wessel Pienaar

 

braaf

dapper

Wessel Pienaar

 

by dit

daarby

Wessel Pienaar

 

bylaag

bylae (meervoud: bylaes)

Wessel Pienaar

 

 

 

C

 

 

 

 

 

 

D

definisie

omskrywing

Frederik R van Dyk

 

destruktief

vernietigend

Pieter GR de Villiers

 

detail

besonderhede

Helena Liebenberg

 

determinasie

vasbeslotenheid

 

 

deur dit

daardeur

Henk Boshoff

 

devalueer

geringskat, in waarde verminder/verlaag

Lariza Hoffman

 

difterie

witseerkeel

Helena Liebenberg

 

diftong

tweeklank

Helena Liebenberg

 

disfunksioneel

wanfunksioneel

Wessel Pienaar

 

diskussie

gesprek(voering)

 

 

diskussie

bespreking, gedagtewisseling

Helena Liebenberg

 

distansieer

afsonder, onttrek, afstand doen

Jo-Ansie van Wyk

 

distribusie

verspreiding

Helena Liebenberg

 

dispuut

geskil

Naas Steenkamp

 

distansie

afstand

Wessel Pienaar

 

diverse

uiteenlopende

 

 

domineer, dominasie

oorheers, oorheersing

 

 

 

 

E

effek

uitwerking

Jan Snÿman

 

ekonomiese indikator(e)

ekonomiese aanwyser(s)

Wessel Pienaar

 

eksisteer, eksistensie

bestaan

 

 

eksistensieel

bestaans=

Jo-Ansie van Wyk

 

eksploreer

verken

 

 

ekstraordinêr

buitengewoon

Helena Liebenberg

 

ekwator

ewenaar

Helena Liebenberg

 

eleksie

verkiesing

Christo Viljoen

 

elemente

onderdele

Frederik R van Dyk

 

elimineer

uitskakel

Alene Holder

 

eventueel

uiteindelik, eindelik, oplaas

Jan Snÿman

 

 

 

F

fenomeen

verskynsel

 

 

finansiële

geldelike

Frederik R van Dyk

 

fokus

klem, aandag

Jo-Ansie van Wyk

 

fondasie/basis

grondslag

Frederik R van Dyk

 

formulering

begripsopstelling

Frederik R van Dyk

 

forseer

dwing

Pieter GR de Villiers

 

fragiel

breekbaar (voorwerp)/ broos, tingerig (kindjie)

Wessel Pienaar

 

 

 

G

geassosieer met

verwant aan

Pieter GR de Villiers

 

gedetermineerd

vasberade, vasbeslote

Wessel Pienaar

 

gefragmenteer

stuksgewys

Frederik R van Dyk

 

[monoloog] geëindig

afgesluit

Suzette Kotzé-Myburgh

 

gekompliseerd

ingewikkeld

 

 

[die dak] geskaal

na die dak opgeklim

Suzette Kotzé-Myburgh

 

gholfprospekte

gholfvooruitsigte

Suzette Kotzé-Myburgh

 

globaal

wêreldwyd

Christo Viljoen

 

globale verwarming

aardverwarming

Wessel Pienaar

 

 

 

H

herbivoor

grasvreter/graseter

Helena Liebenberg

 

histories, historikus

geskiedkundig, geskiedkundige

 

 

hofrekord

strafregister

Wessel Pienaar

 

huidiglik

tans

Jan Snÿman

 

 

 

I

identifiseer

uitwys

Pieter GR de Villiers

 

implementeer

toepas, in werking stel, uitvoer, ten uitvoer bring

Christo Viljoen

 

implikasies

gevolge, nagevolge

Frederik R van Dyk

 

indikasie

aanduiding

Helena Liebenberg

 

in dit

daarin

Wessel Pienaar

 

industrie

nywerheid, bedryf

Helena Liebeneberg

 

informeer, misinformeer

inlig, waninlig

 

 

informasie

inligting

Helena Liebenberg

 

inisiatief

leiding, eerste stap, ondernemingsgees

Jo-Ansie van Wyk

 

inkwisitoriale

ondersoekende

Frederik R van Dyk

 

inkubasie

uitbroeiing, ontwikkeling, ontkieming

Jo-Ansie van Wyk

 

in lyn met

in ooreenstemming met

Annemarie van Zyl

 

innoveer, innovasie, innoverend

vernuwe, vernuwing, vernuwend

 

 

insemineer

bevrug

Jo-Ansie van Wyk

 

insentief

aansporing

Frederik R van Dyk

 

insidensie

voorkoms

Wessel Pienaar

 

institusie

instelling

 

 

integriteit (van ’n proses, nie die menslike eienskap nie)

geheelbehoud

Frederik R van Dyk

 

intensie

bedoeling

Jo-Ansie van Wyk

 

interaksie/ interaktief

wisselwerking / wisselwerkend

Wessel Pienaar

 

interpreteer

vertolk

 

 

interpretivistiese

uitlegmatige

Frederik R van Dyk

 

intervensie

ingreep, ingryping

 

 

intrinsiek

innerlik, wesenlik

Frederik R van Dyk

 

invensie, inventief

uitvinding/vonds, vindingryk/vernuftig

 

 

isolasie

afsondering

Pieter GR de Villiers

 

isolasie-eenheid/ -hospitaal

afsonderingseenheid/ -hospitaal

Wessel Pienaar

 

isoleer (jouself)

afsonder

Wessel Pienaar

 

 

 

J

 

 

 

 

 

 

K

kapasiteit

vermoë

Wessel Pienaar

 

karakteristieke

eienskappe, kenmerke

Wessel Pienaar

 

karnivoor

vleisvreter/vleiseter

Helena Liebenberg

 

kategorie

soort, groep

Pieter GR de Villiers

 

kattebak (van ’n kar)

kis (van ’n kar)

Wessel Pienaar

 

klandestien

ondergronds, ongesiens

Philip Calitz

 

klarifikasie

verheldering, verduideliking

Jo-Ansie van Wyk

 

kombinasie

samevoeging

Frederik R van Dyk

 

kompakteer

saampers

verdig

Henk Boshoff

Wessel Pienaar

 

komparatief

vergelykend

Jo-Ansie van Wyk

 

kompeteer, kompeterend

meeding, mededingend

 

 

kompetensie

vermoë

Pieter GR de Villiers

 

kondisie

toestand

Wessel Pienaar

 

konfidensieel

vertroulik

Sarita Friguglietti-de Vaal

 

konflikterend

strydig

Jo-Ansie van Wyk

 

konklusie

gevolgtrekking

Jo-Ansie van Wyk

 

konsiderasie

oorweging

Jo-Ansie van Wyk

 

konspirerend

sameswerend

Suzette Kotzé-Myburgh

 

konstruktief

opbouend

 

 

konsulteer

raadpleeg

Christo Viljoen

 

konsultasie

raadpleging, beraadslaging

 

 

konsumpsie

verbruik

Christo Viljoen

 

konstateer

stel

Pieter GR de Villiers

 

konstitusie

grondwet

Helena Liebenberg

 

kontemporêr

eietyds

 

 

kontinent

vasteland

Helena Liebenberg

 

kontradiksie

weerspreking, teenstrydigheid

Jo-Ansie van Wyk

 

kontribusie

bydrae

Jo-Ansie van Wyk

 

kontrole

beheer

Wessel Pienaar

 

kontroleer

nagaan

Wessel Pienaar

 

kontroversie, kontroversieel

twispunt/geskil, aanvegbaar/omstrede

 

 

kousaal

oorsaaklik

Wessel Pienaar

 

kousaliteit

oorsaaklikheid

Jo-Ansie van Wyk

 

kreatief

skeppend

Jo-Ansie van Wyk

 

krimineel (persoon)

misdadiger

Wessel Pienaar

 

kriminele hof/ reg/ saak

strafhof/ -reg/ -saak

Wessel Pienaar

 

kriterium

maatstaf

 

 

kwaliteit

gehalte

Helena Liebenberg

 

kwantifiseer

hoeveelheid bepaal/ omvang bepaal

Wessel Pienaar

 

kwantiteit

getal/ hoeveelheid

Wessel Pienaar

 

kwarantyn

afsondering

Jo-Ansie van Wyk

 

 

 

L

landelik

plattelands

Jo-Ansie van Wyk

 

landelike gebied

platteland

Jo-Ansie van Wyk

 

langs dit

daarlangs

Henk Boshoff

 

lateraal

dwars

Wessel Pienaar

 

LED (Light Emitting Diode)

GD of glimdiode

Stephan Oberholzer

 

legende

sleutel (op landkaart)/ verklaring (van simbole)

Wessel Pienaar

 

legitiem

regmatig, wettig

Wessel Pienaar

 

lewendig (live)

regstreeks (uitsaai) of regstreekse uitsending

Jeanetta Clifford

 

lokaal

plaaslik

Helena Liebenberg

 

lompsom

enkelbedrag

Naas Steenkamp

 

 

 

M

magistraat

landdros

Wessel Pienaar

 

maksimaliseer, maksimiseer

maksimeer

Wessel Pienaar

 

malkoeisiekte

dolbeessiekte, malbeessiekte

Wessel Pienaar

 

manier

wyse

Frederik R van Dyk

 

mediasie

bemiddeling

Jo-Ansie van Wyk

 

meerkeusige vraag

meerkeusevraag

Wessel Pienaar

 

meriete

verdienste

Wessel Pienaar

 

met dit

daarmee

Henk Boshoff

 

metodologie

werkswyse

Jo-Ansie van Wyk

 

minimaliseer, minimiseer

minimeer

Wessel Pienaar

 

multipolêr

veelpolig

Jo-Ansie van Wyk

 

 

 

N

naby dit

daarnaby

Wessel Pienaar

 

narratief (adj.)

verhalend

Alene Holder

 

node

nodus (meervoud: nodusse)

Wessel Pienaar

 

nosie

motief, begrip

Pieter GR de Villiers

 

 

 

O

objek

voorwerp

Jo-Ansie van Wyk

 

obstrukteer

belemmer, dwarsboom

Frederik R van Dyk

 

offisieel

amptelik

Suzette Kotzé-Myburgh

 

omnivoor

allesvreter/alleseter

Helena Liebenberg

 

onder dit

daaronder

Henk Boshoff

 

ondermyn

ondergraaf, ondergrawe

Wessel Pienaar

 

ongereserveerd

sonder voorbehoud

 

 

onstabiel

onbestendig, wisselvallig

Wessel Pienaar

 

oor dit

daaroor

Henk Boshoff

 

op dit

daarop

Wessel Pienaar

 

opinie

mening

 

 

optimaliseer, optimiseer

optimeer

Wessel Pienaar

 

oraal

mondelik(s), mondeling(s)

Jo-Ansie van Wyk

 

outeur

skrywer

 

 

 

 

P

performatiwiteit

opvoerigheid

Frederik R van Dyk

 

periferie

rand

 

 

perpetueer

herhaal, voortduur

Jo-Ansie van Wyk

 

perspektief

oogpunt

Frederik R van Dyk

 

populasie

bevolking

Jo-Ansie van Wyk

 

posisie

ligging (geografies)/ plek (in span)

Wessel Pienaar

 

posisioneer

plaas, plasing, vestig

Jo-Ansie van Wyk

 

predator

roofdier

Helena Liebenberg

 

premis

uitgangspunt, veronderstelling, aanname

Frederik R van Dyk

 

prioritiseer

prioriseer

Wessel Pienaar

 

prolifereer

vermenigvuldig, vermeerder

Henk Boshoff

 

publiseer (staatskoerant)

afkondig

Frederik R van Dyk

 

 

 

Q

 

 

 

 

 

 

R

realiteit

werklikheid

 

 

reduseer

verminder, verlaag, verklein

Jo-Ansie van Wyk

 

reflekteer

i) besin, nadink, oordink, dink
 ii) weerkaats, weerspieël

 

 

reformasie

hervorming

Helena Liebenberg

 

regionalisties

van die omgewing, plaaslik, streeksverband, streeksgebonde

Philip Calitz, Jo-Ansie van Wyk

 

regressie

agteruitgang

 

 

rekommendasie

aanbeveling

Jo-Ansie van Wyk

 

rekonsiliasie

versoening

Jo-Ansie van Wyk

 

rekonsilieer

versoen

Jo-Ansie van Wyk

 

rekord/hofrekord

oorkonde, strafregister

Frederik R van Dyk

 

relasie

verband, verhouding

Jo-Ansie van Wyk

 

relatief

betreklik

Naas Steenkamp

 

relevant, relevansie

ter sake, tersaaklikheid, toepaslik(heid)

 

 

resente

onlangse

 

 

respekteer

eerbiedig

Pieter GR de Villiers

 

retroaktief

terugwerkend

Frederik R van Dyk

 

retrospektief

terugskouend

 

 

rondom dit

daar rondom

Wessel Pienaar

 

 

 

S

saniteer

ontsmet

Wessel Pienaar

 

seleksie

keur, keuse

Wessel Pienaar

 

selekteer, selektering

kies, keuring

Wessel Pienaar

 

sensitief

gevoelig

Pieter GR de Villiers

 

sentralisering (van ’n kwessie)

verhoofsaakliking

Frederik R van Wyk

 

sisteem, sistematies

stelsel, stelselmatig

 

 

siteer, sitering

aanhaal, aanhaling

 

 

situasie

geval, omstandigheid

Wessel Pienaar

 

situeer

plaas

 

 

sonder dit

daarsonder

Wessel Pienaar

 

sosiale distansiëring

fisieke afstandhouding

Wessel Pienaar

 

sosiale probleme

maatskaplike uitdagings

Frederik R van Dyk

 

spandeer

bestee (geld); deurbring (tyd)

Barend Vos

 

spasie

ruimte

Willem Botha
 

stabiel

bestendig

Wessel Pienaar

 

stamper

buffer

Christo Viljoen

 

standaard

maatstaf, norm

Frederik R van Dyk

 

stimuleer

aanwakker

Frederik R van Dyk

 

subjek

onderwerp

Jo-Ansie van Wyk

 

suggestie

voorstel

Helena Liebenberg

 

suspisie

vermoede

Christo Viljoen

 

 

 

T

tegnikaliteit

tegniese punt

Suzette Kotzé-Myburgh

 

templaat

sjabloon

Alta Snyman

 

tendensie

geneigdheid

Suzette Kotzé-Myburgh

 

tensie

spanning

Suzette Kotzé-Myburgh

 

terme en kondisies

bepalings en voorwaardes

Wessel Pienaar

 

tipeer

beskryf

Pieter GR de Villiers

 

tipies

kenmerkend

Pieter GR de Villiers

 

tipping point

draaipunt, keerpunt

Jo-Ansie van Wyk

 

tjip

skyfie (soos in mikroskyfie)

Christo Viljoen

 

tot dit

daartoe

Wessel Pienaar

 

transformeer

herskep, verander, omskep

Lariza Hoffman

 

trip

rit

Wessel Pienaar

 

 

 

U

uitdruk

druk (met ’n rekenaar se drukker)

Wessel Pienaar

 

uitgooi (regskonteks)

afkeur, verwerp

Frederik R van Dyk

 

uitlaat

weglaat (van lys)

Wessel Pienaar

 

uniek

buitengewoon

Jo-Ansie van Wyk

 

unilateraal

eensydig

Jo-Ansie van Wyk

 

universeel

omvattend

Jo-Ansie van Wyk

 

 

 

V

vaksien/vaksine

entstof

Wessel Pienaar

 

vaksineer

inent

Wessel Pienaar

 

van dit

daarvan

Henk Boshoff

 

van wat

waarvan

Wessel Pienaar

 

verbaal

mondeling

Stephan Oberholzer

 

verbaliseer

verwoord

Pieter GR de Villiers

 

vir dit

daarvoor

Henk Boshoff

 

vir wat

hoekom, waarvoor

Wessel Pienaar

 

voor dit

daarvoor

Henk Boshoff

 

 

 

W

wen-wen-situasie

wedersyds voordelige uitkoms (geval)

Wessel Pienaar

 

[in die] wild

in die natuur

Suzette Kotzé-Myburgh

 

 

 

X

 

 

 

 

 

 

Y

 

 

 

 

 

 

Z

 

 

 

  • 58

Kommentaar

  • Helena Liebenberg

    Ek het met die grootste vreugde hierdie lys oopgemaak en gelees – net om te
    dink dat so 'n lys bestaan, is 'n riem onder my taalhart.

    Elke gespierde Afrikaanse woord daarin opgeneem, is ongetwyfeld kragtiger as
    die Romaanse 'sinoniem' – vir my (oor) altans. Daar is nog talle voorbeelde wat
    bygevoeg kan word sodat ons taal weer op die Germaanse spoor teruggeplaas kan
    word, soos dit was en behoort te wees.

    Jare gelede het ek al die besluit geneem om 'eenvoudige' en verstaanbare
    Afrikaans te gebruik en dit kenmerk my skrywes. Die dele waaruit die eie woorde
    bestaan, is verstaanbaar, terwyl dit nie die geval is met vreemdwoorde nie (bv.
    klink+er en mede+[klink+er] teenoor vokaal en konsonant
    wat as geheel 'geleer' moet word, want die spreker verstaan nie die
    onderdele se betekenis nie).

     Waar die aankleef van vreemdwoorde veral in akademiese taalgebruik hoogmode is,
    is dit nodig dat die gebruikers en hoorders weer aan die taaleie gewoond gemaak
    moet word. Ongelukkig het daar oor die jare talle taalvreemde woorde hulle met
    betekenis en al, wel in Afriaans tuisgemaak en dan is dit moeilik om sodanige
    woord(e) bloot met 'n taaleie een te vervang.

    Sekere vakgebiede leen hulle meer na die gebruik van gespierde Afrikaanse
    woorde, maar in ander vakgebiede is die gebruik van 'internasionalismes' al so
    ingeburger dat dit moeilik vervang sal kan word, in elk geval nie sonder slag
    of stoot nie.

    Dit is 'n fyn spel van die woord, wat met omsigtigheid en weldeurdagtheid
    gevoer moet word.

    Vriendelike groete
    Helena Liebenberg

    http://www.taaloord.co.za

  • Behalwe dat woorde uit Germaanse oorsprong dalk beter op die ore mag val wanneer dit met ander Germaanse woorde omring word (en dit is 'n swepende veralgemening), is daar enige ander positiewe stelling wat gemaak kan word wat hierdie anti-Romeinse kruisvaart regverdig?

    • Vir my ‘n goeie rede is dat 1) ek hou nie van Engels nie en 2) ek hou nie daarvan dat dit Afrikaans oorvat soos ‘n kanker.

  • Neels Swanepoel

    Baie geluk hiermee. Ek gaan beslis voortaan bedag wees op woordgebruik in Afrikaans met moontlike alternatiewe wat ek vir julle kan aanstuur. Regsgeleerdes veral, en in navolging van veral die ou regsengels en regshollands, het nou maar eenmaal die geneigtheid om te wil "slim" en "belangrik" klink wanneer daar formeel geskryf en gepraat word! Dit terwyl die "gewone engels" veldtog wêreldwye sterk steun geniet. Vir my lê die waarde van hierdie poging van julle daarin dat ons Afrikaans verder ontwikkel deur die gebruikmaking van die ruimte wat Afrikaans self, en ook ons Suid-Afrikaanse omgewing  daarvoor bied. 'n Onnodige "lenery" van woorde uit ander tale dui soms vir my op of luiheid of onnodige windmakerigheid! Nie dat sodanige lenery en uiteindelike deelwording van Arikaans van woorde en uitdrukkings van ander inheemse Afrika tale nie soms interessante moontlikede sal kan bied nie! Ek hoor baie hoe my Sotho-studente Afrikaanse woorde in hulle gebruikstaal vermeng en dit laat 'n warm gevoel by my opkom. Mits nie geforseerd nie, het ek geen beswaar as Afrikaans self eendag in sodanige rigting beweeg nie! Ons wil mos "inklusief" (!)  wees! Of dalk," re akaretse".

  • In die natuurwetenskappe is die saak anders. Ons woorde kom uit die brontale van die oorspronklike skrywers ('algebra' en  'syfer'  uit Arabies, 'elektron' en 'omega' uit Grieks, 'kontinu' en 'diskreet' uit Latyn, en talle meer). 'n Wiskunde-artikel is in die meeste gevalle leesbaar selfs in Russies (as 'n mens natuurlik eers jou weg deur hulle alfabet gestoei het). Dis mos 'n goeie ding.

    Hoe meer woorde 'n mens tot jou beskikking het, hoe meer genuanseerd kan jou taalgebruik wees. Bv. die woord "oppervlakte" het twee betekenisse wat albei van kardinale belang in die wetenskap is, en ek kry nie 'n warm gevoel van Germaanse genoegdheid as ek besluit om een van die twee net "oppervlak" te maak nie. Dan sê ek liewer "area" vir die een — kort, kragtig en ondubbelsinnig.

    Verder kan ek nie sien wat gespierd daaraan is om omslagtige omskrywings soos "differensiaal- en integraalrekene" (met twee klassieke woorde daarin) eerder as "kalkulus" te gebruik nie. Al het "wiskunde" die stryd teen "matesis" gewen, doen "skeikunde" en "natuurkunde" vir my smaak argaïes aan.

    Ek kan met baie van die woorde op die lys saamstem, maar die beginsel "Germaans Goed, Klassiek K..." is wat my betref te simplisties. (Oorvereenvoudigend, as jy dan ses lettergrepe bo drie verkies.)

    Wat taal betref, kan 'n mens nie op die lang termyn die volksmond oopsper en dogmadruppels in die keelgat af forseer nie.

    • Anna Weideman

      Wat daardie laaste sin betref - daai's nou spiere: "Wat taal betref, kan 'n mens nie op die lang termyn die volksmond oopsper en dogmadruppels in die keelgat af forseer nie." Ek hou daarvan! Terloops, Engels is ook 'n Germaanse taal, al dink mense anders.

  • Gert van der Westhuizen

    Mooi om hierdie lys uit te bou - gespierde mense gebruik gespierde tale. 

     
    Afrikaans se spiere is ook inheems, outentiek plaaslik, AFRIKAans -  in woorde en in dade.
     
  • Liesel Eiselen

    Ek verstaan nie mooi die opgewondenheid oor die "Gespierde Afrikaans"-lys nie.  Daar is geen nuutskeppings in die lys nie - almal doodgewone Afrikaanse woorde wat 'n mens in enige woordeboek kry. Of is die aanname dat sprekers, wat al so gewoond is aan die anglisistiese woorde, nie woordeboekgebruikers nie?

    Wat ek baie graag sal wil sien, is 'n lys met rekenaar/internetterme in "Gespierde Afrikaans"!
     
  • Tale wat met mekaar in aanraking kom, enersyds as gevolg van die feit dat verskillende tale sy aan sy in een gemeenskap gebruik word, en andersyds omdat sprekers van verskillende tale kennis opdoen van mekaar se tale, oefen op verskillende vlakke van taalbeskrywing (bv uitspraak, woordeskat, grammatika, betekenis) invloed op mekaar uit. Dit is ’n universele feit, wat met talle voorbeelde toegelig kan word. Wanneer twee tale om een of ander rede in wedywering met mekaar verkeer, soos in die geval van Engels en Afrikaans, as gevolg van politieke of ander faktore, is daar ’n verhoogde sensitiwiteit oor die mate van invloed wat (veral) van die sosio-ekonomies sterker taal uitgaan. Dit lei dikwels daartoe dat ooreenkomste wat duidelik sigbaar is, met agterdog bejeën word en in die geval van Afrikaans sonder meer as anglisismes gebrandmerk word.

    Die vlakke van taalbeskrywing wat die duidelikste sigbaar is, is natuurlik die woordeskat en uitspraak, en daarom is ’n mens geneig om individuele woorde in die twee tale met mekaar te vergelyk en gevolglik as anglisismes te etiketteer, terwyl daar ’n veel groter invloed vanuit Engels op Afrikaans uitgaan op die (minder opsigtelike) vlakke van grammatika en uitspraak.

    Engels en Afrikaans is beide Germaanse tale, en hulle kernwoordeskat stem dus in ’n groot mate ooreen (vgl die bekende voorbeeld “My pen is in my hand”), maar die klassieke tale Latyn (en dié se dogtertaal Frans) en Grieks het ’n sterk invloed op beide uitgeoefen, sodat Afrikaans en Engels dikwels ook woorde van klassieke herkoms deel. (’n Paar voorbeelde uit die teks van hierdie antwoord is “anglisistiese”, “feit”, “grammatika”, “universele”, “sensitiwiteit”, “sosio-ekonomies”, “individuele”, “klassieke”.) Wat algemene woordeskat betref, is Engels sekerlik in ’n veel groter mate deur die klassieke tale en (oa) Frans beïnvloed as ander Germaanse tale, soos Afrikaans en Nederlands. Maar klassieke leenwoorde wat in Afrikaans naas die Germaanse woorde gebruik word, verhoog dikwels (hoewel nie altyd nie) die beskrywingsvermoë van Afrikaans en onderskei betekenisse wat byvoorbeeld nie in Engels deur verskillende woorde uitgedruk word nie (vgl Afr “direksie”, “dirigeer”, teenoor Engels “direction” en “direct”). ’n Mens vind ook dat die styl (formeel/informeel) en register (tegnies/algemeen) ’n keuse tussen twee alternatiewe bepaal. In die vertaling van die Bybel laat ons ons dikwels ook deur hierdie riglyn lei. In die geval van Griekse, Latynse en Hebreeuse leenwoorde in die teks (“indringerwoorde” soos byvoorbeeld “tetrarg”, “denarius”, ea) word die betekenis wat uitsluitlik aan daardie woorde gekoppel kan word, en nie presies deur ’n moderne Afrikaanse woorde uitgedruk kan word nie, die maatstaf vir die insluiting van sulke woorde.

    Laastens is dit miskien ook nodig om daarop te wys dat die herkoms van sommige vermeende anglisismes eerder aan die invloed van die klassieke tale en Frans op ouer vorme van Nederlands toegeskryf kan word as aan Engels. Neem maar net as voorbeeld die woord “sober”: In Middelnederlands kom die uitdrukking “Sijt sober ende waect” (“Wees matig en bly wakker”) reeds in 1348 voor, waar “sober” ontleen is aan die Frans “sobre”, uit ongeveer 1180, wat “matig’ en “deugsaam” beteken, en weer ’n ontlening is aan die Latyn “sobrius”: “nie dronk nie, matig, verstandig”. Die eerste optekening in Afrikaans hiervan kom voor in die Patriotwoordeboek van 1902, met die betekenis “matig”, “karig” en ook “nugter”. (Engels het hierdie woord in 1387 uit Frans oorgeneem, met slegs die betekenis “nugter”.) In die dagboek van Jan van Riebeeck is daar ’n groot getal sulke woorde wat hedendaags nie algemeen in Afrikaans gebruik word nie. 

    Uiteraard is daar talle woorde in Afrikaans wat nie so ’n gemeenskaplike herkoms met Engels uit die klassieke tale deel nie, en eenvoudig blatante anglisismes is wat geen bykomende betekenis- of styl/register-onderskeid tot ’n bestaande Afrikaanse woord kan voeg nie, soos “ejeksie”, “persuasie”, “impudensie” ea, en moet dus vermy word. Ons moet ons dan ook deur die register van die Bybelteks laat lei by die keuse tussen alternatiewe wat wél moontlik is. Dit is nie altyd ’n maklike taak nie, en daarom verg dit ook noukeurige beoordeling van sulke alternatiewe.

    Met vriendelike groete
    Ernst Kotzé

  • In die 21ste eeu weet almal wat sagteware is. Min weet wat programmatuur is. Almal weet wat die aansitter van 'n motor is, maar wie weet dat dit 'n knormoer is? 'n Vis en tjips winkel is eintlik 'n visenaartappelskyfierestourant.

  • Henri Craemer

    Ek stel belang in hierdie probleem vanuit 'n psigolinguistiese perspektief. As sulks is my idees nie noodwendig taalkundig korrek nie.

    Nie so lank gelede het George Carlin gekom met die konsep van "soft language". Ek vertaal dit as "dwaaltaal" - my term. Dit kan gedefinieer word as taal wat die impak van die oorsponklike term of verswak, of mens laat afdwaal van die oorspronklike betekenis van die konsep.

    Die voorstelle lyk na 'n interessante manier om hierdie probleem aan te spreek.

    Die beste voorbeeld is:
    Jy stel 'n feit. OF Jy konstateer 'n feit. Lg stelling is tipiese dwaaltaal.

    Die probleem is m i baie meer kompleks as die vervanging van taalvreemde terme. Mens kan nie die rol van die neurologiese struktuur van die brein ignoreer nie. Net so ook nie die rol van gewoonte, en die neiging om woorde te begin verkort om hulle makliker as spreektaal te gebruik. Angus se voorbeeld dat "Vis-en-tjips-winkel" 'n baie beter uitdrukking is, as die woord "visenaartappelskyfierestourant" is 'n uistekende voorbeeld.
    Vanuit 'n sosiaal-sielkundige perspektief gaan dit buiten die leksikale of denotatiewe betekenis ook oor die konotatiewe betekenis en emosionele lading wat woorde dra. Hierdie punt is heel moontlik buite die veld van hierdie LitNet-stuk.

  • André Kritzinger

    Ek kon skooltyd (1960s) nooit die bohaai oor Anglisismes kleinkry nie.
    Anglisismes was totaal verboten, maar Fransismes, Duitsismes, Maleisismes, Zuluismes, Tswanaismes, Griekwaismes en vele meer, hulle was almal piekfyn.
    En toe wonder ek altoos hoe dink die klomp anti-Anglisismerers het Afrikaans ontstaan ...
    Kyk gerus ook na bestaande Afrikaanse ondinge:
    Huidiglik (siesa!) - gebruik Tans

  • Koos Holtzhausen

    In die tegnologie (oeps! is daar dalk 'n woord met meer spiere?) is dit myns insiens verkieslik om te hou by meer "internasionale" woorde wat in die vakgebied verstaan word, bv "transformator" ipv "omvormer", "generator" ipv "opwekker", "transistor", "tiristor". "Beeldradio" het ook al geswig voor "televisie". Wat van "video", "cd" ("laserskyf" het dit nie gemaak nie) en "dvd"? Destyds is gepoog ("probeer") om "komper" ipv "rekenaar" (in die geval het Germanië geseëvier!) op ons af te dwing (nie "forseer" nie. Gelukkig het hulle nie "komputer" voorgehou nie, wat net bewys dat taal sy eie loop neem.)
    Oor die algemeen moet gewaak word daarteen om nie te puristies ("behep met suiwerheid"?) te wees nie. Goggas soos "ek doen" (sonder voorwerp), wat taalkundig (in die geval liewers as "grammatikaal") nie sin maak nie.
    'n Woord soos "opinie" (afkomstig uit Latyn) is vir my al net so ingeburger as "mening" en het soms ander betekenisse en nuanses ("skakerings"?)
    Die saak is dus nie so eenvoudig nie. Waar moontlik moet pretensieuse ("vertonerige"?) en wollerige woorde vermy word.

    • Chris Marnewick SC

      'n Amerikaanse professor (Irving Younger) het regslui gewaarsku teen die gebruik van "a polysyllabic slab of jargon" wanneer 'n penny-word voldoende is. My leuse is, kort woorde, kort sinne, kort paragrawe.

  • Chris Marnewick SC

    Verskoon my asseblief as ek maar swaar sluk aan hierdie onderwerp terwyl die volgende net hierbo verskyn:
    outentiek - eg?
    edutainment - opvoedende vermaak? vermakerige opvoeding?
    bucket list - emmerlys is so onoortuigend, is dit nie?
    geakkrediteerde (artikels) - goedgekeurde, aanvaarde, erkende (artikels)?
    kreatief - wat is fout met skeppend(e)?
    fiksie - verbeeldingswerk?
    essay - opstel?

    Sommige woorde of terme het 'n besondere betekenis - kyk maar na bucket list - wat verloor word in die soeke na 'n eg (outentieke?) Afrikaanse woord van Germaanse oorsprong. Verder, alhoewel Afrikaans die draer van ons kultuur is, is ons kultuur self nie suiwer nie. Elemente en invloede van elders is oral te sien.

  • Koos Holtzhausen

    Ek sien Joan Hambidge gebruik vandag "komputer" in 'n resensie (genoeg spiere?) in die Burger.

  • As woorde so naas mekaar bestaan in 'n taal, is daar 'n rede voor, en die rede is dat hulle nie absolute sinonieme is nie.

  • Koos Holtzhausen

    Ja, maar taal laat hom nie in 'n blik druk nie. As 'n term soos "rekenaar" by die sprekers/ gebruikers ingeburger is, dan kan jy nie sommer "blikbrein" of "komputer" op hulle afdwing nie.

    • Chris Marnewick SC

      Ek dink Mark Twain sou 'n woord of twee oor voorjylepelindiedaksteeklys gepreek het. Never use a dollar word when a penny word wil do.

      Wat van terwylonsnogbogrondswakkerwordlys? Ons hou mos van sulke lekker lang Germaanse woorde.

  • Koos Holzhauzen slaan die spyker op die kop! Jy kan 'n taal standaardiseer en bearbei soos jy wil, maar hy gaan sy eie gang. As jy vir Riemvasmaak se mense sê die dispuut oor hulle grondgebied is eintlik 'n geskil, sal hulle wil weet waar die pampoen is.

  • Leenwoorde en -ismes. 'n Aspek wat miskien beklemtoon moet word, is die wesenlike verskil wat bestaan tussen leenwoorde en -ismes in 'n taal. Jare gelede al het iemand beklemtoon dat enige woordvoorraad van 'n taal bestaan uit: erfgoed, leengoed en eie goed. Veral die tegnologie vereis [soms] dat van leengoed - hopelik net tydelik gebruik gemaak sal word. Lui of verloopte taalgebruikers is egter soms geneig om sulke vreemdelinge permanente verblyf in die taalakker te laat kry. Dié optrede strem meestal die vorming van taaljuwele soos 'bromponie' en 'blitsboodskap' [BB ipv SMS] en self iets soos 'koggel-klofie' wat onlangs in die taalnuus was ...
    Daarteenoor is die eintlike taalgoggas die -ismes wat wat as onkruid in die taalakker vestig - en soos onkruid maar maak - die taaleie geleidelik vernietig. Verwysende na die taal waaruit die woorde en veral frases [wat na die vreemde taal gevorm word] word gepraat van bv neerlandismes, germanismes, latinismes, bantoeïsmes en tov Afrikaans veral anglisismes en selfs al amerikanismes. Iets soos 'hy doen' of 'hulle het toe nie opgedraai nie' [suiwer Afrikaanse woorde maar verwurgend verkeerd ingespan] laat enige taalgevoelige gril.

  • Ek dag ons was verby die era van anglisismejag. Heelwat van die Romaanse woorde (nie Engels nie) wat in die lys deur Germaanse woord vervang word, is natuurlik verrykend, maar dit hang altyd van die nuanse af. In die natuurwetenskappe kan ons nie sonder Romaanse woorde klaarkom nie.

    Ons kan wel klaarkom sonder die gedrogwoord 'oorsig' wanneer ons 'toesig' bedoel. Die Afrikaanse media behoort hulle in dié verband te skaam.

  • Dit doen my hart goed om hierdie lys te lees. Ek het onlangs Reisiger van Elsa Joubert gelees, en ek wonder waarom hierdie gevierde Afrikaanse skrywer dit nodig gevind het om die volgende woorde te gebruik: bisar, aberrasie, omineuse, kloustrofobies, preker (met ’n kappie op die 2e e), nerveuse, fabuleuse, atrositeite, mirakel, literatore, efemeer, embarrasseer.

  • At (vir Adriaan)

    Ek skryf 'n boek. Ek poog om ontslae te raak van alle woorde van Romaanse (Latyn) oorsprong. Dit is 'n nabootsing van Engels wat internasionaal (we^reld-wyd) geword het. Dit vernietig die beginsel en begrip van Moedertaal dink/+/doen of ook dink☯doen. Hoekom praat mense in ander tale nie van Vadertaal nie. In die ma se baarmoeder hoor die wordende-Baba "fetus" slegs die ma se pratery. Dit vorm die wBaba se toekomstige taal-ordening en taal-gebruik as kind en later groot-mens (volwassene). As sy dikwels woorde van 'n ander taal taal los-weg gebruik, skep dit wan-orde "chaos" wat die ongebore baba se deinkery verwar. Later, reeds as kleuter, begin hy☯sy geweldadig raak. Die letter-teken ☯ word die Sjinese YinYang "simbool" genoem wat reeds meer as 2000 jaar gebruik word. Dit volg uit die wyse Sjinees Confucius (ongeveer 2500 jaar gelede) se mymeringe. (Hy het in dieselfde tydvak as Salomo geleef. Ons eie beskawing verbrokkel omdat ons kinders van vele kleure aan "rewolusies" (herorderinge) bloot gestel word.

  • Chris Marnewick SC

    "Ek poog om ontslae te raak van alle woorde van Romaanse (Latyn) oorsprong."

    Ag nee man! Hierdie houding misken (ontken?) daardie deel van ons herkoms wat Frans is (ongeveer 17% in die Afrikaanssprekende bloed) en is klaarblyklik onbewus van die feit dat ons reg grotendeels op die Romeinsereg gebaseer is. Ek wil nie eers die Christelike geloof noem nie, maar dit het ook uit Rome by ons uitgekom.

    Daar is ongetwyfeld ander invloede wat gehelp het om Afrikaans te vorm. Moet ons dit nou ook ontken? Dit sal dalk help om Christo Van Rensburg sy bydraes oor die herkoms van Afrikaans te raadpleeg.

  • Anna Weideman

    Ek stem 100 persent saam, Chris! Behalwe dat dit onmoontlik is om daardie woorde te elimineer, berus dit op valse aannames oor die herkoms van Afrikaans.

  • At (Adriaan M) de lange

    Chris, my sin "Ek poog om ontslae te raak van alle woorde van Romaanse (Latynse) oorsprong" het weinig met Frans (taal en kultuur) te doen.

    Die Romeine was vir amper 2000 jaar die tweede grootste kolonialiseerders ter wêreld. Die probleem met hierdie "landgrypers" is dat hulle die inwoners se MOEDERtale onderdruk. Daar bestaan nie so ’n ding soos 'vader'-taal nie want enige vader het nie ’n baarmoeder en groot borste met melk in waaraan die baba kan drink nie. Die baba hoor ongeveer +/- 4 maande voor en +/- 4 maande na geboorte net die moeder se taal. Nog meer, dit word versterk deur al haar kliere se afskeidings sodat dit is soos om ’n boom af te kap as die moedertaal deur ’n manlike oorwinnaar se taal afgekap word.

    Moderne tegnologie tot op die vlak van selfone in die hande van kinders sonder sorgsame skoling het die byl geword waarmee die jeug onder die leiding van die revolusieleiers afgekap word van die beskawing wat terugwortel tot 7 duisend jaar gelede in Egipte!

    Ek gaan nie die huidige kolonialiseerders identifiseer nie. ’n Intelligente mens kan dit self doen. Vervang al die Romaanse woorde met moedertaalwoorde en begryp wat ek bedoel.

  • Ronnie Seeber

    Myns insiens kan mens nie blindweg 'n keuse maak ten gunste van die Germaanse vorm teenoor die Romaanse vorm nie. Soos prof. Ernst Kotze hierbo aangedui het, het die Romaanse vorm wat met die eerste oogopslag soos 'n ekwivalent vir die Germaanse vorm lyk, soms 'n ietwat ander betekenis. In daardie opsig brei dit die woordeskat uit.

    Neem maar die voorbeeld van vier konsepte wat in Engels alles met die woord "number" weergegee word. Afrikaans het vier woorde vir die vier konsepte: nommer, syfer, getal en aantal. Dis 'n mengeling van woorde van Romaanse en Germaanse herkoms. "Nommer" dui nooit 'n hoeveelheid aan nie; dis bloot 'n element in 'n reeks -- bv. soos op jou kar se nommerplaat, jou foon of jou huisnommer in 'n straat. Daarteenoor het "syfer" te make met geld of ander groothede, "Getal" het te make met telbare items of mense. "Aantal" is vir dieselfde konsep, maar waar die getal onbepaald is. Die punt is, mens wil tog nie enige van hierdie konsepte by die venster uitgooi ter wille van 'n weersin in òf Romaans òf Germaans nie.

    In die tegniese wêreld illustreer die gebruik van beide die Romaanse en Germaanse woordeskat die voordele ook mooi. Koms ons neem 'n paar konsepte rondom beurtkrag: Breedweg word die toestel waarmee krag in 'n kragstasie opgewek word 'n generator genoem. Dieselfde geld vir die eenheid wat jy aanskaf om in tye van beurtkrag vir jou elektrisiteit by jou huis of besigheid te verskaf. Dis ook 'n generator, gewoonlik aangedryf deur 'n petrol- of dieselenjin. "Enjin" is Romaans. Die hele eenheid word 'n generatorstel genoem. Dis 'n mengeling van Romaans en Germaans. "Kragopwekker" -- die Germaanse vorm -- is nie verkeerd nie. Maar die verkorte vorm "opwekker" is vir ingenieurs gewoonlik nie aanvaarbaar nie. Dis omdat in 'n generator in 'n kragstasie -- meer presies 'n alternator genoem (ook Romaans) -- daar 'n toestel is wat 'n opwekker genoem word. Dis Germaans. As jy jou noodkrag van batterye (Romaans) af kry, moet jy dit van gelykstroom omskakel na wisselstroom (220). Daarvoor gebruik jy 'n wisselrigter. Dis die omgekeerde proses van 220 V-krag omsit na gelykstroom om 'n battery te laai. Daarvoor word 'n gelykrigter gebruik. Beide "wisselrigter' en "gelykrigter" is Germaans. Beurtkrag is die resultaat van lasafwerping. Laasgenoemde is die tegniese handeling wat, as dit vir verskillende gebiede om die beurt gedoen word, tot beurkrag lei. (In teorie kan mens lasafwerping sonder beurtkrag hê.) Die terme "lasafwerping" en "beurtkrag" is Germaans.

    Ek hoop bogenoemde is 'n duidelike illustrasie dat mens in Afrikaans nie sonder die een of die ander kan klaarkom nie; jy het beide die Germaanse en Romaanse vorme nodig.

    Myns insiens is die grootste uitdaging by die opname van woorde uit ander tale nie die herkoms nie, maar die spelwyse. Gelukkig weet ons dat mens "generator" in Afrikaans uitspreek en nie as "djenneryter" nie. Maar hoe gemaak met 'n Engelse woord soos "happy"? Myns insiens is daar 'n plek daarvoor in Afrikaans. Spel jy dit dan as "happy", "happie", "hêppie", of "hêppy"? Baie se eerste reaksie sou wees dat mens die oorspronklike Engelse spelling moet behou. Maar met die toenemende opname van Engelse woorde kan dit 'n onhoudbare situasie word. Want dan is jy besig om die betreklik eenvoudige en betreklik logiese spelwyse van Afrikaans te besoedel met 'n veelheid van niestandaard-spelwyses.

  • Ek sien te dikwels die woord "konsep" in die kommentaar. Dit smaak nie vir my na gespierde taal nie. Wat het van "begrip" gework?

  • Ek sien te dikwels die woord "konsep" in die kommentaar. Dit smaak nie vir my na gespierde taal nie. Wat het van "begrip" geword?

  • Ronnie Seeber

    Chris is reg. Ek kon in my tweede paragraaf hier bo net so wel "begrip" in plaas van "konsep" gebruik het.

    Maar nie uit die oog te verloor nie, is dat die woord "begrip" volgens HAT drie moontlike betekenisse het, waarvan net een 'n sinoniem is vir "konsep" -- ironies die woord waarmee HAT hierdie betekenis van "begrip" verduidelik.

    Maar mens moet darem ook nie "konsep" uit die taal probeer weer asof dit anglisisties is nie. Dis 'n Romaanse alternatief in sekere gevalle (soos met "begrip" hier bo), maar in ander gevalle is dit betreklik uniek en onvervangbaar. So is dit in die geval van "die voorlopige formulering van 'n dokument", soos in konsepwet, konsepverslag en konsepkontrak".

    En ook nie buite rekening te laat nie is die afleidings soos "konsepsie", "konseptueel", "konseptualiseer", "konseptualisasie" en "konsepsioneel". Sonder 'n begrip van die woord "konsep" is hierdie woorde nie juis sinvol nie.

    Laastens, die uitspraak is natuurlik van kardinale belang, met die klem op die laaste lettergreep, die "-sep" van "konsep". Met die klem op die eerste lettergreep is dit 'n liederlike anglisisme!

  • Hanlie Schoeman

    Ag dankie tog vir saamdinkers! Skitterend!
    Ek kry ritteltits as mense 'n besigheid 'hardloop' i.p.v. bestuur!

  • Koos Holrtzhausen

    Ek stem met Ronnie Seeber saam. By Eskom het ons dikwels internasionale woorde soos "generator", "transformator", "tiristor", "transistor" gebruik, maar wisselrigter eerder as "inverter". 'n Advertensie op RSG vir sonkrag is tipies deurspek van mengeltaal soos bv."grid" i.p.v. kragnet.

  • Ronnie Seeber

    Hanlie, jy kan natuurlik ook sê jy "bedryf" 'n besigheid. Dan sluit dit al die goed in wat jy doen om die besigheid aan die gang te hou, o.a. die bestuur daarvan.

  • Hanlie, as jy 'n besigheid het, moet jy maar seker maar die ding hardloop. Sakeondernemings word bestuur.

  • Claire Nieuwoudt

    Vanoggend weer 'n woord gesien wat my laat gril het. Solvabiliteit. Ek gryp die woordeboek en hy is daar! Daar moet sekerlik 'n mooier woord wees?

  • Ronnie+Seeber

    Claire, daar's geen nodigheid om te gril nie. "Solvabiliteit" hang af in watter verband jy die woord gebruik. In sekere gevalle is hy die beste woord en in ander gevalle ongewens.

    In ekonomieverband het "solvabiliteit" tog 'n plek. Dis baie naby aan die finansiële woord "solvent" en in sekere gevalle kan dit 'n sinoniem vir "solvent" wees. Dit dui hoofsaaklik op 'n besigheid se vermoë om sy skulde te betaal. Jy mag dalk weet dat 'n firma aan wie jy jou produkte wil verkoop sukkel om sy skuldenaars te betaal. Dan kan jy vir jou gespreksgenoot sê: "Ek het groot bedenkinge oor die firma se solvabiliteit en gaan liefs nie met hom besigheid doen nie. Ek sou nie verbaas wees as hy een van die dae heeltemal bankrot is en as insolvent ('n regsterm) verklaar word nie." Woorde soos "kredietwaardigheid" en "betaalvermoë" kan natuurlik ook gebruik word, maar het miskien nie heeltemal die formele konnotasie wat "solvabiliteit" het nie. Dit dui op swak kredietwaardigheid en betaalvermoë weens die firma se finansiële posisie en nie sommer net weens algemene swak bestuur nie.

    As vertaling vir die Engels "solvability" in die volgende voorbeeldsinne deug "solvabiliteit" oor die algemeen nie en is "oplosbaarheid" die beter woord: (a) Die oplosbaarheid van koeksoda in koue water is maar swak; die water moet ten minste louwarm wees; (b) Die oplosbaarheid van hierdie probleem lê by die gesindheid van die partye teenoor mekaar.

    Die grondwoord in "solvabiliteit" is "solver" en kom uit Oudfrans, wat dit op sy beurt van Latyn gekry het. Die oerbetekenis is "om los te maak". Woorde in Afrikaans met hierdie grondwoord kom uit Nederlands en/of Engels wat dit albei uit Frans gekry het. En ons het 'n hele paar woorde wat in die handel hul oorsprong in hierdie grondwoord het, nl. solvent, solvensie, insolvent en insolvensie. Ons beskou hulle tog nie as vreemd nie.

    Die woord "solvabiliteit" kom in leidende vertalende en verklarende woordeboeke voor (sien bv. Pharos se Sakewoordeboek en ook hul Afrikaans-Engels / Engels-Afrikaans-woordeboek. Ook Pharos se onlangse uitgawe van die Tesourus van Afrikaans bevat die woord.

    Ek het altyd groot vertroue in die vele woordeboeke, bv. vertalende en verklarende woordeboeke, ook vakwoordeboeke en bg. tesourus. Hulle is gewoonlik saamgestel deur slim en kundige mense. Taalkundiges en vakkundiges het 'n groot rol gespeel by die keuse van vakterme. Dit sou vir my 'n kwade dag wees as ons hul leiding ignoreer. Dis natuurlik nie te sê dat ons nie nuwe woorde, waar nodig, kan skep nie. Die woordeboeke moet groei soos taal en tegnologie groei!

    So, "solvabiliteit" is maar net nog 'n Romaanse woord wat ons taal verryk.

  • Nico van Staden

    Baie dankie vir ougat plasing !

    Wanneer ek woorde soos "solvabiliteit" voel ek gdwonge om ook soos "Pendoring Beperk" laaste woorde te uiter: "OK Baai!"

    Moet tog nie my "Meisie" (Afrikaans) vet maak nie asseblief!

    Kom luister weer saam op RSG na Weeksdae: Rika Sennett lees Audrey Blignault, om ons dapper, dawerende, strelende taal in al sy krag, gevoel en liefde te ervaar!

  • Nico van Staden

    Ek voel verder dat selfs die "konsep" op sigself, meestal vervang kan word met gedagte, ontwerp, uitsig, ens. afhangende van die verband, bv wetsontwerp.

    Ja-nee, on sake the bedryf is soveel beter as om 'n besigheid te hardloop, al wil ons graag dat ons besighede moet hardloop en nie gedryf word nie 😉

  • Volgens Pharos se Sinonieme en verwante woorde is jou keuse:
    hartstog, liefde, temperament.

  • Die tweetalige Pharos-woordeboek sal jou help. Dit hang alles af van die spesifieke betekenisaspek en of die 'n werkwoord
    of 'n selfstandige naamwoord is. Ek sien egter in die algemeen niks verkeerds met ekwivalent nie.

  • Hanno Visagie

    Is daar 'n gratis aanlyn Afrikaanse verklarende woordeboek waar 'n mens 'n woord kan opsoek en kyk watter sinonieme aangebied word?

  • Dankie! Dis 'n oulike lys!

    Ek voel wel dat daar 'n plek is vir die woord 'realiteit', saam met woorde soos 'reëel'. Realiteit is 'n goeie woord met verwysing na fisiese feite.

    Die woord 'werklikheid' het ryke betekenis en 'n waardevolle gebruik met verwysing na (pragmatiese) waarheid, soos Hegel se gebruik van 'Wirklichkeit'. 'n Werklikheid is 'n waarheid wat kan werk, een wat lig werp op 'n situasie, en hierdie twee aspekte, saamgevoeg, dui op die staat van daardie waarheid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top