geskoei deur Johan Rabie Murray: ’n FMR-resensie

  • 1

geskoei
Johan Rabie Murray

Uitgewer: Johan Rabie Murray
ISBN: 9781928405399

Johan Rabie Murray debuteer in sy 73ste jaar met ’n selfpublikasie. Die digbundel van 78 gedigte heet geskoei. Die kleurryke bandontwerp sluit ’n kunswerk van Spies Venter in. Die boekontwerp is deur Jane en Mike Ehrman.

Die bundeltitel geskoei verwys na almal en alles wat Johan in sy lewe tot dusver beïnvloed het. Dis ervarings waarop hy sy eie lewe kon skoei.

Hy is nou duidelik, soos hy dit noem, ’n ou toppie, uncle. Maar hier is nie juis selfbejammering nie. Nee, daar’s kort besinnings en ook kort-kort humor en ’n geesdriftige lewensblyheid. Hy is bly dat sy lewe nog “’n bietjie kan duur”. In die gedig “aardse sondag” sê hy ten slotte: “Dank sy God, deur Sy genade/ bly ons ingestem op vreugde!”

 Nog ’n sterk gedig oor ’n lewe na aan God is “stil kerk”:

ek bevind my in ’n kerk stil van samesyn
waar ek god se stem van bínne hoor
baie genade in die klein lokaal
en nagmaal wat die son laat skyn
genoeg ruimte vir seer se skryn
hier in ’n plek
waar ek my vind as god se kind
sonder hard gepreek vir vergifnis afsmeek
hier gewoon net mens
saam met ander wat ook sondig is
’n nederige kerk, sonder voorgestoeltes
’n klein woestyn bevolk
met naastes sonder naam
wat vol liefde, in stilte
mekaar se menswees beaam.

Nou ’n kontras. Kyk hoe akkuraat teken hy ou manne wat op ’n bustoer al slim geraak het met kleedkamerbesoek. Onthou die woordspeling in die titel:

opskud

twee ouballies klim strammerig uit hul bus
gedagtig g’n genade word gegee
vir ongeskeduleerde blaaskanse
berekend loop hulle eers ’n draai
vir wegneemhappies, maar vermy water
met of sonder borreltjies
gaan neem realisties gedwee dan
hul plek in, agter in die ry
vir hul beurt om in die krip te drup
en darem nog betyds af te skud
voor die bus vir ringkoppe wegry
en waar is hulle dán?

’n Mens kan jouself ook moontlik herken in die volgende situasie in “boekery”: Jy gaan verhuis na ’n aftreeplek. Hoe nou gemaak met al jou boeke? Jy vra jou af: “hoeveel gelees, ten diepste begryp,/ my eie gemaak, verinnerlik?/ kan nie onthou, die dat ek klou.” Verderaan in die gedig vind jy uit van die genietinge wat op jou wag.

In “erfporsies” kry jy kommentaar op verhoudings, hoe ander so baie vir jou doen en beteken, maar jy ... “pak jý nou ’n slag ’n koffer/ vir ander se koue seisoene”.

In ’n aantal gedigte word fisieke intimiteit binne verhoudings weergegee.

Johan Rabie Murray is in die Paarl gebore “in die tyd van pennies”. Toe was hy soos een van die kinders in “kinderversie”: “maan glimlag met ’n sagte skyn/ oor die kindertjies wat duimpie in die mond/ tot met hanekraai/ wegwêreld droom/ terwyl ou moeder aarde/ rustig deur die ruimte draai.”

Aan die Universiteit Stellenbosch behaal hy die graad BA (Hons) in Afrikaans-Nederlands. Daarna dien hy in die redaksies van Die Burger, Tafelberg Uitgewers, Beeld, Rapport en Insig. Hy is ’n Afrikaans-onderwyser in privaatskole. Met ’n MA in kliniese sielkunde van RAU gee hy klas aan die Sebokeng-kampus van Vista Universiteit. Tans woon hy op Grootbrakrivier en bied hy kunsterapie aan by klinieke op George.

Hy stel ’n heildronk op sy oud-Naspers-kollegas in:

ubuntu in die rondte;
ja, vir al die siele in die omte
drink ons hierdie ronde:
op ons gesondheid!
maar miskien, o wee
doen party van ons dit deserdae
met rooibostee
eerder as met KWV ...

Die digter Daniel Hugo het al dikwels digters bewonder wat woorde ongewoon laat rym. Hier’s ’n bundel wat hy gerus kan deurkyk: rooibostee/KWV; RSG/mee; lippe/klippe; die uncle wankel.

Murray ontgin woordbetekenisse: Sorgsaam, hartlik en behartigend. Of byvoorbeeld: g’n hondelewe / g’n katools / g’n kat-en-hond.

Ek moet tog beswaar maak teen die gebruik van enkelaanhalingstekens waar dit dubbeles moet wees.

In die bundel word aangedui dat Murray per e-pos bereik kan word: johanmurray@telkomsa.net.

Ek haal ten slotte iets stemmingsvol aan:

met sonsak
verdiep die dag
tot nag
en mens verstil tot rus
en op hierdie oomblik
is alles
goed soos dit is.

Die boek kan by http://groep7-selfpublish-books.co.za bestel word.

Foto van Johan Rabie Murray by die boekbekendstelling op 18 Oktober 2017 is deur Annelize Mouton. Lees ook hier Amanda Botha se indrukke van die bundel en bekendstelling, en kyk na nog foto's.

Hierdie resensie is oorspronklik in Boekkeuse onder leiding van Amanda Botha op 18 Oktober 2017 op Fine Music Radio uitgesaai.

  • 1

Kommentaar

  • Lelanie Roode

    Uitstekend! Lees ook Die Burger 20/3/2023 bladsy 11. Dit is uitsonderlik om so 'n postiewe resensie oor digkuns te kan raaklees!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top