Geskiedkundige konferensie oor Afrikaans in die Noord-Kaap

  • 16

Sol Plaatje-Universiteit. Foto: Marni Bonthuys

’n Geskiedkundige konferensie oor Afrikaans in die Noord-Kaap is begin November by die nuwe Sol Plaatje-Universiteit (SPU) in Kimberley gehou. Die tweedaagse geleentheid is georganiseer deur die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) in samewerking met Sol Plaatje se Skool vir Geesteswetenskappe, spesifiek hulle Departement Afrikaans en Nederlands.

Vir die Noord-Kaapse universiteit – ’n indrukwekkende nuwe instituut vir hoër onderwys in ’n provinsie wat voorheen ’n leemte op dié gebied gehad het – was dit in nog ’n opsig ’n historiese moment: Dit is die heel eerste konferensie wat by dié instelling aangebied is. Die sprekers was vernaamlik akademici verbonde aan die twee departemente asook enkele uitgenooide gaste wat kenners is oor die konferensietema.

Die Departement Afrikaans en Nederlands van die UWK het ’n lang tradisie as ’n belangrike bydraer tot navorsing oor Afrikaans en spesifiek swart Afrikaanse skryfwerk. Tans is dit wat studentegetalle betref een van die grootste Departemente Afrikaans in die land, met ’n aansienlike en toenemende groei in voor- en nagraadse inskrywings oor die laaste vyf jaar. Die nuutgestigte Sol Plaatje-Universiteit (hierdie universiteit het sy eerste studente in 2014 ingeneem) se Departement Afrikaans en Nederlands bestaan tans uit twee personeellede,  Victor Teise en Lionel Snyders, wat verantwoordelik is vir die onderrig van Afrikaans en Nederlands aan ongeveer 70 eerstejaarstudente en 15 tweedejaarstudente. Vanaf 2018 word Afrikaans en Nederlands op derdejaarsvlak hier aangebied. Dié nuwe departement toon ook potensiaal as ’n groeipunt vir navorsing oor Afrikaans met die hoop dat die eerste honneursgroep in 2019 sal aantree. Die konferensie was dus in die eerste plek ’n inisiatief om Sol Plaatje se Departement Afrikaans te ondersteun in die belangrike taak wat vir hulle voorlê – naamlik om ’n bakermat te word vir Afrikaans in ’n provinsie waar dit die meeste inwoners se moedertaal is.

Foto: Karien Brits

’n Tweede mikpunt van die konferensie was om lig te werp op die kwessie van Oranjerivierafrikaans – ’n oorkoepelende term vir die Afrikaanse subvariëteite (soos byvoorbeeld Namakwalandse Afrikaans en Griekwa-Afrikaans) wat in die Noord-Kaap gepraat word. Dit is ’n algemeen bekende feit dat Afrikaanse variëteite, maar ook taalvariëteite in ander wêrelddele, nie altyd dieselfde aandag en erkenning kry as die gestandaardiseerde vorm van die taal nie. In die laaste paar jaar is daar al meer belangstelling in Kaaps as ’n toonaangewende variëteit van Afrikaans. Oranjerivierafrikaans kry egter minder blootstelling, hoewel dit ’n interessante, belangrike en wydgebruikte variëteit is – soos aangedui deur Frank Hendricks (UWK) in sy hooflesing getitel: "Oranjerivierafrikaans: van aanklopper tot binnevaarder". Die konferensie is dan ook opgedra aan Hendricks. Hy tree vanjaar af na hy vir dekades as dosent betrokke was by UWK se Departement Afrikaans en Nederlands. Hy het ’n belangrike bydrae gelewer ten opsigte van navorsing oor Afrikaanse taalvariëteite – ’n aantal essays hieroor is in die vorm van ’n boek, getitel Taalkundige essays – ’n gerf uit die vroegskemer, by die konferensie bekendgestel. Hendricks dien ook lank op die Afrikaanse Taalkommissie waar hy hom juis beywer vir die erkenning van die verskillende Afrikaanse variëteite.

Frank Hendricks (UWK) en Victor Teise (SPU) in gesprek. Foto: Karien Brits

Wat die wortels van hierdie variëteit betref, het Christo van Rensburg (NWU) in sy referaat geïllustreer dat Oranjerivierafrikaans ’n sterk invloed van die Khoi-taal toon en dat dit dus die draer is van ’n taalskat van woorde en terme wat uit vroeë tye dateer. Hy het gewys op die sterk invloed van Khoi-Afrikaans ook op gestandaardiseerde Afrikaans, terwyl Jacques van Keymeulen (Ugent) weer die Vlaamse invloed op Afrikaans en Afrikaanse variëteite belig het.

Naas die linguistiese waarde van Oranjerivierafrikaans is daar ’n hele aantal letterkundige werke wat in hierdie variëteit geskryf is en steeds geskryf word. Verskeie letterkundige tekste teken ook die leefwêreld van die mense van hierdie afgeleë streek op. Op die konferensie is referate gelewer oor Afrikaanse literatuur waarin die Noord-Kaap sentraal staan soos die poësie van die digters Donald Riekert, George Weideman en Melt Myburgh; asook prosawerke soos dié van Anzil Kulsen, Karin Brynard en Elias P Nel. In ’n referaat oor die rol van sogenaamde kontreistories wys Wium van Zyl (UWK) op die belangrikheid van hierdie tipe letterkunde wat dikwels bloot afgemaak word as volkse tekste, terwyl dit in werklikheid as kultuurdokumente iets van die psige van ’n streek opteken en bewaar. In ’n referaat deur Annie Klopper (UWK) oor die Namakwalandse rapper V.I.T.O is ook aangetoon hoe orale kuns soos rap in moderne tye toenemend in streke soos die Noord-Kaap die verhale van die gemeenskap verwoord, maar ook, soos V.I.T.O dit duidelik maak, ’n trots in ’n taal en taalgemeenskap bevestig. Die riel as tradisionele dans en eg Noord-Kaapse kulturele aktiwiteit is ook deur die skrywer en organiseerder van die ATKV-Rieldanskompetisie, Elias Nel, belig.

Sol Plaatje-Universiteit. Foto: Marni Bonthuys

Die belangrikheid van Afrikaans in hierdie streek en gemeenskap het in verskeie ander referate na vore gekom. ’n Referaat gelewer deur Anastasia de Vries (UWK) oor Afrikaans in die Katolieke Kerk onderstreep byvoorbeeld die feit dat Afrikaans die belangrikste liturgiese taal in verskeie Noord-Kaapse bisdomme is met ’n uitgebreide woordeskat in ’n eiesoortige Afrikaans. ’n Aantal referate het op skryf- en leespatrone van inwoners van die streek gefokus, terwyl die konferensie met twee paneelsessies afgesluit is waar Afrikaanse kunstenaars, kultuurwerkers, mediapersone en akademici saamgesels het ook projekte, samewerking en befondsingsgeleenthede wat tans plaasvind én in die toekoms verder ondersoek kan word. Hierdie paneelsessies het spesifiek gefokus op Afrikaans en veral die Afrikaans van afgeleë gemeenskappe (soos in die Noord-Kaap) wat sover moontlik bewaar en bevorder moet word. Dit is herhaaldelik beklemtoon dat dit noodsaaklik is om alle sprekers te oorreed om eienaarskap te neem van húlle Afrikaans en weg te doen met die beeld van Afrikaans as die taal van die onderdrukker wat deur enkelinge in ivoortorings gebruik word. Aan hierdie gesprek het verteenwoordigers van verskeie Afrikaanse kultuurorganisasies soos die ATKV, die Afrikaanse Taalraad, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en die Afrikaanse Taalmuseum meegedoen. Joernaliste van die SABC en plaaslike radiostasies het ook aan die gesprek deelgeneem.

Uit die gesprekke en gesindhede by hierdie konferensie was dit weereens duidelik dat daar hoop is vir Afrikaans en ook vir variëteite soos Oranjerivierafrikaans. Hierdie jaar was die konferensie ’n klein geleentheid en min gaste en sprekers is uitgenooi. Die belangstelling en positiewe terugvoer wat dit gekry het, dui daarop dat dit die potensiaal het om te groei en daar word beplan om dit in die toekoms tweejaarliks aan te bied.

  • 16

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Die meeste inwoners van die Noord-Kaap is Afrikaanssprekend. Hierdie byeenkoms was die ideale geleentheid om mosies soos die volgende te aanvaar: (1) Die onderrigtaal van die universiteit behoort Afrikaans te wees en (2) die naam van die universiteit moet nie na 'n omstrede persoon verwys nie en na Universiteit van die Noord-Kaap verander word.

  • Salomé Malherbe

    Mens raak sommer bewoë wanneer jy agterkom hoe koesterend daar met ons taal gewoeker word. Wel gedaan en hoe wonderlik dat die Sol Plaatjies Universiteit met sulke kwaliteit mense kan spog. Alle voorspoed vir die toekoms. Mag julle van krag tot krag groei en 'n reuse-oes insamel.

  • Andre Badenhorst

    Ek is totaal oorbluf deur hierdie inisiatief. Baie geluk UWK!

    In antwoord op Dewald Koen hierbo "dat ander Afrikaansdepartemente in SA nie betrek is nie", sou ek sê dat 'n bietjie "skunk works" (https://af.wikipedia.org/wiki/Skunk_Works) bitterlik nodig is. In die kunste word genoem dat ons nie die Muses moet kwaad maak nie.

    Dit beteken nie dat elkeen nou op sy eie mishoop moet gaan sit nie, maar as jy die heeltyd na die groter prentjie moet kyk en na alle belanghebbendes (in die "establishment") moet omsien, dan vat jy baie van die ondernemingsgees weg. Afrikaans het juis ruimte nodig om asem te haal sonder dat Groot Broer die heeltyd oor jou skouer loer.

    En is die groei van die Afrikaansdepartement by UWK en die voortvloeiende inisiatief nie ongelooflik nie? (ek gebruik "ongelooflik" hier beslis nie geyk nie). Dit wys dalk op die volwassewording van 'n universiteit wat die Taal in die 80's "versaak" het. Dit teenoor wat kamstige "groot boet" Stellenbosch in die 21ste eeu so tieneragtig besig is om te doen.

    UWK, ek weet julle het nie my wit seënwense nodig nie, maar doe zo voort!

  • 'n Pragtige inisiatief. Gelukwensinge aan die UWK-kollegas. Mag die Sol Plaatje Universiteit se Departement Afrikaans en Nederlands sterk groei.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ek hou baie van die Afrikaanse word 'kletsrym', hoewel 'rap' (Rhythm And Poetry) seker meer bekend is.
    Sol Plaatje is glad nie 'n omstrede figuur soos wat een van die kommentatore opmerk nie. Wat is "omstrede" aan Sol Plaatje?

    • Johannes Comestor

      Barend, Sol Plaatje was 'n stigterslid van wat later as die ANC bekend geword het. Hy was 'n politieke aktivis. Dit in sigself maak hom omstrede omdat almal nie met sy en die ANC se politiek se doen en late saamstem nie. Die ANC-regering het eensydig besluit om kameraad Plaatje te vereer deur die universiteit in die Noord-Kaap na hom te vernoem. Dit ignoreer die gevoelens van baie mense wat nie waardering vir Plaatje en die ANC het nie. Vir my is 'n graadsertifikaat met Plaatje se naam daarop heeltemal onaanvaarbaar. Ek is ook nie bereid om as 'n dosent aan so 'n universiteit te werk nie. Dieselfde geld vir die Mandela- en die Sisulu-Universiteit. Geografiese benamings is ideologies neutraal en daarom meer aanvaarbaar. Universiteit van die Noord-Kaap is dus, anders as die huidige naam, sekerlik minder omstrede; eintlik glad nie omstrede nie.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ek kan nie enige problem sien met die naam Sol Plaatje nie. En ek is nie 'n ANC-lid of -ondersteuner nie. Sol Plaatje was 'n merkwaardige en hoogs geskoolde man. Ek wonder of jy ook so probleem het met die naam van Rhodes-universiteit. Daar is 'n lang lys van universiteite wat na mense vernoem was.
    Ek moes al baie in my lewe hoor dat die regerings van na 1994 "niks self gebou het nie". Dat daar nou 'n universiteit is wat vernoem is na een van die belangrikste ANC-leiers ooit, 'n man wat die Sesotho-deel van ons volkslied geskryf het, vind ek maar vreemd.

  • Johannes Comestor

    Barend, in uitsonderlike gevalle is universiteitsbenamings wat na persone verwys vir my aanvaarbaar, bv mense soos Desiderius Erasmus en Gottfried Leibniz. Daardie twee is al "universele geleerdes" en "lopende ensiklopedieë" genoem. Rhodes, Plaatje, Mandela en Sisulu kwalifiseer nie eens naasteby as openbare intellektuele of akademici nie. Sisulu het nie verder as standerd 6 gevorder nie en Mandela erken in sy outobiografie dat hy 'n swak student was. Plaatje was geen groot akademiese lig nie. Daar is letterlik duisende Suid-Afrikaanse akademici wat eerder as Plaatje in 'n universiteitsnaam vereer behoort te word - nie dat ek dit bepleit nie. Plaatje word primêr om politieke redes vereer; nie om akademiese redes nie.
    Maar waarom net oor die een saak, wat ek op 14 Desember hier bo aangeroer het, redekawel en nie ook oor die ander belangriker saak nie, naamlik dat daardie universiteit se onderrigtaal Afrikaans moet wees. In die artikel hier bo word gesê dat Afrikaans die moedertaal van die meeste inwoners van die Noord-Kaap is. Daarom behoort daar sterk steun vir Afrikaans as onderrigtaal te wees. Desnieteenstaande is daar dawerende stilte. Betaam dit nie 'n Van der Merwe om my in hierdie opsig te steun nie?
    In Die Burger (9 deser, p 11) vertel Carryn-Ann Nel hoe lief sy vir Afrikaans is. Terselfdertyd is sy "verheug" dat die Universiteit Vrystaat nou eentalig Engels is. Dit is glo in landsbelang. Jonathan Jansen het onlangs die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal aan die UV probeer regverdig deur voorkeur aan gedwonge rasse-integrasie te gee. Dit is 'n argument wat by Russel Botman oorgeneem is. Botman wou "verseker dat wit en swart saam in die klasse sit" (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 205). Afrikaans word dus om politieke redes ondergeploeg. Daar word wyd beweer dat ons grootse era van vryheid in 1994 aangebreek het. Maar dan moet ons nie net vry van verpligte rasseskeiding wees nie, maar ook van gedwonge rasse-integrasie.

    • Barend van der Merwe
      Barend van der Merwe

      Omdat ek nie saamstem met jou oor Plaatje nie. Niks aan hom is omstrede nie. Inteendeel ek bewonder vir Sol Plaatje.

      Die saak van moedertaalonderrig is 'n onderwerp wat geen maklike oplossing het nie. Ek dink nie dat Afrikaans as universiteitstaal gaan oorleef nie. Nie by publieke universiteite wat semi-staatsinstellings is nie.

      Ek het al gehoor hulle wil ook Khoi-tale by die Sol Plaatje Universiteit bevorder.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top