Gesamentlike persverklaring deur die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch en senior onderwyskundiges

  • 6

Danie van Wyk (foto: Naomi Bruwer); Wim de Villiers (foto: YouTube)

Senior onderwyskundiges en die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) gaan teen die agtergrond van die nuwe Taalbeleid in die Wes-Kaapse onderwyssektor ruimtes skep vir gesprekvoering oor akademiese sukses vir spesifiek Afrikaanssprekende studente uit histories-benadeelde omgewings in 'n meertalige hoëronderwysinstelling.

Die Bestuur van die US en onderwyskundiges het ontmoet om die nuwe Taalbeleid wat in 2017 in werking tree, te bespreek. Teen hierdie agtergrond word die volgende gesamentlike verklaring uitgereik:

Die US-bestuur en onderwyskundiges sal in 'n vennootskap van wedersydse vertroue en samewerking ruimtes skep om onder meer studentesukses in ‘n konteks van meertaligheid vir ‘n diversiteit van studente, spesifiek ook vir Afrikaanssprekende studente uit histories benadeelde kontekste, te bespreek.

Die US en onderwyskundiges is gesamentlik verbind tot die verwesenliking van die strategiese strewe van die US soos verwoord in die US se Institusionele Voorneme en Strategie, naamlik toegang en sukses, uitnemendheid deur diversiteit, inklusiwiteit, toekomsgerigtheid en innovasie.

Voorts word die US se strewe na meertaligheid in die multitalige Suid-Afrikaanse samelewing ondersteun.

Tydens die bespreking het die groep die Taalbeleid se strewe bevestig: om gelykwaardige studentesukses te verseker vir ‘n diversiteit van studente, spesifiek ook vir Afrikaanssprekende studente van sosio-ekonomies benadeelde kontekste. Hierdie studente behoort dus 'n gelykwaardige kans gegun te word om suksesvol aan die US te kan studeer.

Ontmoetings word beplan met verskeie groepe skoolhoofde met 'n beduidende aantal Afrikaanssprekende leerders om die nuwe Taalbeleid  te bespreek en toe te lig, en om enige onduidelikhede of verkeerde persepsies uit die weg te ruim.

Van die vrae wat bespreek sal word tydens die beplande ontmoetings is die volgende:

  • Is daar inderdaad ‘n gelykwaardige kans op sukses vir Afrikaanssprekende studente uit sosio-ekonomies benadeelde omgewings?
  • Watter moniteringsmeganismes word in plek gestel om te verseker dat sodanige gelykwaardige kans op sukses in die praktyk werklikheid word?
  • Wat word gedoen om te verseker dat Afrikaans se status as volle wetenskapstaal in ‘n meertalige konteks gehandhaaf word?
  • Wat word gedoen om die ontwikkeling van isiXhosa in ‘n veeltalige konteks te ondersteun?

Die onderwyskundiges in die samewerkingsvennootskap beklemtoon dat ons nie namens ‘n Kans in Afrikaans aan hierdie belangrike proses met die US-bestuur deelneem nie.

Uitgereik namens:

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die  Universiteit Stellenbosch

Mnr Danie van Wyk, namens onderwyskundiges


Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

 

  • 6

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Die Universiteit Stellenbosch weier steeds om te erken dat Afrikaans as onderrigtaal tot 'n minderwaardige posisie afgegradeer is. Let ook daarop dat die Van Wyk-groep hom nou van die Kans-groep distansieer. Nie-inklusiwiteit was deurgaans kenmerkend van die Van Wyk-groep, soos nou ook duidelik blyk uit waarop daar met die US ooreengekom is. Dit gaan om die bevoordeling van "benadeeldes" en nie om die bevordering van Afrikaans as sodanig nie.

  • Victor Correia

    Ek sal net graag wil weet wat met die studente gedoen word wat teenwoordig deur die besluite benadeel word. Dat daar spesifiek vir Afrikaanssprekende studente uit voorheen benadeelde gemeenskappe voorsiening gemaak word, hou nie rekening met die feit dat daar vandag ook verskeie armblanke-studente is wat op verskeie maniere in die huidige bedeling benadeel word nie. Kan daar dalk meer duidelikheid gegee word of die inisiatief ook vir blanke studente beskikbaar sal wees?

    • Danie van Wyk

      Ek sal graag die volgende in perspektief wil plaas aangaande my en ander onderwyskundiges se standpunt wat met die rektor en visie-kanselier, prof Wim de Villiers, en lede van sy bestuur, in gesprek was oor 'n tydperk van twee maande.
      1. Afrikaans is nie afgeskaf as taal van onderrig/verstektaal by die die US nie. Dit maak dit anders as wat die geval by die UV en UP is.
      2. Op hierdie oomblik het ons nie genoeg redes om nie die US-bestuur te vertrou nie. Sou dit lyk na 'n vrugtelose proses, sal ons natuurlik van standpunt verander. Tans gee ek die proses 'n kans. Ons verkies 'n oop gesprek en 'n rondetafelbenadering, wat ek en ander meer sinvol vind om tot 'n oplossing te kom.
      3. Deur gesprekke met verskeie Afrikaanse gemeenskappe, sal die US self aan onderwysers, ouers, leerders en studente moet verduidelik dat daar steeds plek is vir die Afrikaanssprekende student. So help ons die US ook om kontak te maak met Afrikaanses wie se wêrelde nie begryp wil word nie.
      4. Vir ons is dit belangrik dat gelykwaardige sukses verseker word vir Afrikaanse studente. Hierdie studente sal dus 'n gelykwaardige kans gegun word om ook suksesvol aan die US te studeer, volgens die ooreenkoms.
      5. Dit gaan dus nie slegs oor die belange van bruin Afrikaanse studente nie, maar om ALLE Afrikaanse studente gelyke toegang tot die US te verseker.
      6. Dit het nooit by ons gegaan oor die wiskundigberekende gelyke gebruik van Afrikaans nie, maar oor gelyke toegang vir Afrikaanse studente. Die onus is nou op Afrikaanse skole, ouers en gemeenskappe om seker te maak dat leerders/studente in groot getalle tot die US aansoek doen om toelating. Afrikaanse skole is bekend daarvoor dat 'n hulle puik presteer en 'n goeie kwaliteit van onderrig handhaaf. Dit is die enigste manier hoe ons gaan verseker dat Afrikaans as onderrigtaal ernstig opgeneem gaan word.

      • Braam de Vries

        Danie, wat beteken gelyke toegang vir Afrikaanse studente as hulle ( waarvan ek bewyse het) in die eerste jaar in Engels moet klasloop in vakke waar die lektore nie eens Afrikaans kén nie? Julle het nou ja gesê vir gelyke toegang, en die punt volledig gemis: wat van die doseertaal? Wat van die eksamentaal as die dosent nie Afrikaans ken nie? Wat van die ontwikkeling van jou moedertaal as wetenskapstaal?
        Wat beteken "verseker dat Afrikaans as onderrigtaal ernstig opgeneem word" as die feitlike situasie is dat die student na die eerste kwartaal tuis aankom en kla dat daar hoevéél lesings nét in Engels is? Vra vir die US na hul getal Engelse dosente en in watter kursusse en jy sal sien van hoeveel die Afrikaanse student reeds uitgesluit is.

  • Danie van Wyk: die rassistiese ondertoon van die verklaring is verontrustend: "kans op sukses vir Afrikaanssprekende studente uit sosio-ekonomies benadeelde omgewings?"
    Ek sou dink dat die kans op sukses vir ALLE Afrikaanssprekende studente vanselfsprekend is; waarom die uitsondering? Afrikaanse onderrig word gewaarborg deur die grondwet; kan jy die versekering gee dat voorgraadse vakmodules op tweede- en derdejaar- en vierdejaarvlak in alle fakulteite onvoorwaardelik beskikbaar sal wees?
    Jy skryf: "Afrikaans is nie afgeskaf as taal van onderrig/verstektaal by die die US nie." Jy word 'n rat voor die oë gedraai deur die kulkunstenaar van die SA kampusse. Afrikaans IS afgeskaf as verstektaal, en gedegradeer tot onderrigtaal vir hoogstens die eerste studiejaar, en dan MITS 'n hele reeks van bepaalde voorwaardes nagekom word, insluitende dosente want in Afrikaans kan (of wil) doseer.

    • Henk, na aanleiding van jou stelling: "Afrikaanse onderrig word gewaarborg deur die grondwet", net die volgende:
      Wanneer 'n grondwetkenner, Marinus Wiechers, die volgende kwytraak by https://www.litnet.co.za/quo-vadis-suid-afrikaanse-universiteite/ :
      "Hoe daar ook al gewroeg word oor Afrikaans as voertaal van die tradisionele Afrikaanse universiteite, hoe daar ook al gepoog word met taalbeleide en vorme van gelyktydige onderrig en tolkdienste, asook hofsake en ander manmoedige veldtogte, moet aanvaar word dat Afrikaans op ons kampusse uitgeroei gaan word.", wil dit blyk dat die skrif aan die muur is vir die uitroeiing van Afrikaans. Dit blyk dat nie eens die grondwet die uitroeiing van Afrikaans gaan keer nie wanneer grondwetkenners alle hoop laat vaar het en wanneer prominente persone soos Trevor Manuel bevestig dat Suid-Afrika 'n bestendige erosie van grondwetlike beginsels ervaar. Net gister verskyn die artikel "SA is facing a steady erosion of constitutional principles, says Manuel" by die webadres: http://www.businesslive.co.za/news/latest-news/2016-10-13-manuel-warns-on-apartheid-press-tactics/?platform=hootsuite
      In die lig van bogenoemde breër en gewigter gewaarwordings is dit nie meer die moeite werd om op die besonderhede van bisarre persverklarings soos hierbo te reageer nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top