#GelykeKanse-persverklaring: Gelyke Kanse gaan hof toe oor Afrikaans aan die US

  • 1

Persverklaring deur die Gelyke Kanse-veldtog

Gelyke Kanse is gebore as 'n versetgroep in 'n poging om die Universiteit Stellenbosch ("US") te oorreed om nie weg te doen met Afrikaans as 'n primêre taal van onderrig met gelyke status aan dié van Engels aan die US nie.  Daardie poging het, helaas, nie geslaag nie en die Raad van die US, op aanbeveling van die Senaat, het op 22 Junie vanjaar 'n nuwe taalbeleid aanvaar waarmee weggedoen word met Afrikaans se status as 'n gelyke taal van onderrig.

Gelyke Kanse en 'n paar ingeskrewe studente aan die US beoog gevolglik om môre, 30 September 2016, in die Hooggeregshof te Kaapstad 'n aansoek uit te reik in terme waarvan die Hof versoek sal word om, ondermeer –

  • die US se nuwe taalbeleid te hersien en tersyde te stel;
  • die US te gelas om die taalbeleid en taalplan wat op 22 November 2014 deur die Raad goedgekeur is, te implementeer; en
  • te verklaar dat die nuwe taalbeleid aan Afrikaans 'n "mindere plaats", vergeleke met Engels, toewys.

Die laaste bede word versoek omdat die US al vir dekades die voordeel van 'n bemaking in die testament van wyle mnr JH Marais geniet op voorwaarde dat Afrikaans nie 'n "mindere plaats" aan die US inneem soos wat nou sal gebeur nie.

Afgesien van die ondersteunende beëdigde verklarings van die bruin en wit studente wat mede-applikante is, sal Gelyke Kanse ook steun op beëdigde verklarings deur deskundiges soos Breyten Breytenbach, RW Johnson, prof Anne-Marie Beukes, dr Marié Heese, prof Hermann Giliomee, prof Johann Rossouw, dr Francis Galloway en die bekende bruin skrywer Abraham Phillips.

Gelyke Kanse betreur die feit dat dit genoodsaak is om hierdie roete te volg, maar die US se hardkoppige versuim om enigsins ag te slaan op die aandrang op die behoud van Afrikaans as 'n primêre taal van onderrig en die daadwerklike ontwikkeling van Xhosa as 'n wetenskaps- en akademiese taal, laat dit met geen ander keuse nie.

Gelyke Kanse is van mening dat moedertaalonderrig noodsaaklik is vir gemeenskapsontwikkeling en dat die breër Afrikaanssprekende gemeenskap en bestaande Afrikaanse instellings betrek moet word by 'n beweging wat daarop gemik is om onderrig in en die gebruik van Afrikaans in die breë te bevorder, asook om veeltaligheid in die algemeen te bevorder.

Gelyke Kanse sal bly voortbestaan om hom te beywer vir onderrig in Afrikaans, nie alleen aan die US nie, maar ook aan ander tersiêre instellings, asook die breë aanvaarding van die belangrikheid van moedertaal-onderrig ter wille van 'n proses van gemeenskapsontwikkeling.  Met dit in gedagte sal Gelyke Kanse sigself ook beywer vir die ontwikkeling van ander inheemse Afrika tale as akademiese en wetenskapstale.

Gelyke Kanse het met misnoeë kennis geneem van die sogenaamde misverstand tussen die US-bestuur en die drukgroep 'n Kans in Afrikaans! wat daartoe gelei het dat laasgenoemde onder die indruk was dat die US-bestuur 'n onderneming gegee het dat Afrikaans sy gelyke status met Engels sal behou, ondanks die feit dat 'n mosie met dié formulering op 'n raadsvergadering in Mei vanjaar afgestem is.

Die voor-die-hand-liggende vraag is waarom die US-bestuur nie dadelik daardie wanindruk uit die weg geruim het nie en dit eers aan die lig gekom het nadat 'n raadslid, mnr Johan Theron, dit tydens die raadsvergadering van 26 September 2016 geopper het.

Dit is nie alleen 'n Kans in Afrikaans! wat onder 'n misverstand verkeer het nie, die publiek is ook, minstens deur die US-bestuur se stilswye, mislei.

Hoe ver die US gevorder het op die pad na volkome verengelsing blyk onder meer uit die feit dat net 'n Engelse weergawe van die nuwe taalbeleid aanvaar is.  Dat 'n amptelike Afrikaanse weergawe later aanvaar mag word, dui op die onbehoorlike haas waarmee die nuwe taalbeleid deurgeloods is.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top