#GelykeKanse: FW de Klerk leen sy steun aan die inisiatief

  • 4

fwdeklerk650

Voormalige president FW de Klerk het sy steun verleen aan die veldtog genaamd Gelyke Kanse, wat deur ’n groep besorgde Suid-Afrikaners van stapel gestuur is om Afrikaans se gelyke status gesamentlik met Engels as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch (US) te behou.

De Klerk was staatspresident van Suid-Afrika vanaf 1989 tot 1994 en is veral bekend vir sy rol in die beëindiging van apartheid en die transformasie en oorgang van die land na ’n volwaardige demokrasie, deur aan Suid-Afrika se meerderheidsbevolking stemreg toe te ken. In 1993 het De Klerk en voormalige president, Nelson Mandela, gesamentlik die Nobelprys vir Vrede ontvang vir hulle aandeel in die vreedsame beëindiging van apartheid.

FW de Klerk gee dryfkrag aan die veldtog wat dwarsoor Suid-Afrika en uit die buiteland ondersteuning ontvang vir hul inisiatief en, wat vanweë die relevante grondwetlike kwessies van menseregte, gelykwaardigheid en veeltaligheid groot belangstelling uitlok.

Die Nobelpryswenner JM Coetzee, die bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer, lord Renwick, voormalige hoë kommissaris in Suid-Afrika, die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, Ebbe Dommisse, oudredakteur van Die Burger, oudrektore, Theuns Eloff en Flip Smit en menseregte aktivis, Rhoda Kadalie is onder die duisende mense, hier te lande en in die buiteland, wat reeds die beswaarskrif by die internet-skakel www.gelykekanse.com onderteken het.

Die veldtog spruit uit pogings van die bestuurspan van die US om die universiteit te verengels. ’n Verengelsing-dokument wat verlede November deur die span uitgereik is, is kort daarna as gevolg van wydverspreide openbare teenstand deur die US-Raad gerepudieer. Maar begin vanjaar het die bestuurspan ’n nuwe konsep-taalbeleid in effens verwaterde vorm uitgereik, sonder dat hulle die Raad se voorskrif oor ’n taalkomitee en gelykberegtiging gevolg het.

Skerp kritiek teen die nuwe taalbeleid is onder andere uitgespreek deur die Hertzog-pryswenner Breyten Breytenbach, lid van die groep besorgde landsburgers wat Gelyke Kanse in die lewe geroep het. Volgens ’n woordvoerder van Gelyke Kanse, adv Jan Heunis SC, kry die groep positiewe terugvoering van ’n wye verskeidenheid van mense en groepe wat teen die afskaal van en selfs aanslag teen Afrikaans gekant is. Meer inligting is beskikbaar op die groep se Facebook-blad (wat al meer as 3 800 ondersteuners het) en die Gelyke Kanse webblad, www.gelykekanse.com.

Klik hier vir al die bydraes oor die US-taalbeleid.

  • 4

Kommentaar

  • Ekskuus, waar is die "cheques and balances" nou. Jammer pel, wat nou? Hulle sê mos enige publisiteit is goeie publisiteit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top