Geluk by die ongeluk

Ek lê in my te klein koshuisbed (of liewer bedjie) en klou aan my deken vas soos iemand wat nog nooit ’n kombers besit het nie. Ek luister na die geluide om my. Die reëlmatige asemhaling van drie seuns. ’n Paar snorkgeluide wat my in my kussing wil laat lag. Die gekwetter van voëls – seker maar duiwe – wat buite verbete oor ’n paar vermorste broodkorsies hul vlerke op amper gewelddadige wyse op die matrieks se vierkant klap. My nuwe kamermaats genaamd James Smith, Nathan Jackman en Banzi Ngcobo. Gewoonlik hou ek daarvan om laat te slaap, maar ek lê al vanaf vieruur wakker. Ek tel saam die sekondes af soos die getik van my horlosie se sekondewyser op my bedkassie die tyd aftel na 06:30 gevolg deur die oorverdowende beier van die skoolklok uit die 150 jaar oue toring wat elke siel in hierdie plek uit sy vreedsame slaap wakker ruk.

Dit was nie my idee om hierheen te kom nie. Ek was baie gelukkig by Devon House College. Ek het nou wel nie daarvan gehou om ver van die huis af te wees en in die koshuis te bly nie, maar my pa het daarop aangedring dat ek die laaste drie jaar van my skoolloopbaan by sy alma mater moet voltooi. “Jy is ’n Kriel, en jy sal die tradisies van hierdie familie respekteer en eerbiedig,” was sy presiese woorde aan my einde laas jaar tydens die Kersvakansie. Pa praat en ek luister. So was dit nog altyd. En so sal dit seker ook altyd wees. My ma se simpatieke oë het my vanuit die kliniese kombuis met daardie kil graniettoonbank probeer troos met ’n effense glimlaggie om haar geplooide mondhoeke. Die donker kringe onder haar oë was nog effens sigbaar ten spyte daarvan dat sy dit met haar duur onderlaag probeer verbloem het. Dit was nog altyd haar manier om my te probeer troos. Haar skaam glimlaggie. ’n Kriel wys nie sy emosie nie. Geen drukkies en soentjies of mooipratery in dié gesin nie. Pa se woord was wet en die wet moet gehoorsaam word.

St Columbus Boys’ College is een van die spoggerigste en mees gesiene onafhanklike skole in die land. Hier word “Tradisie” met ’n hoofletter geskryf. Toe ons drywer, mnr Nyati, my gister met my pa se luukse Duitse sedan hier voor die hoofingang afgelaai het, het ek versigtig die trappe na die imposante hoofgebou opgestap. My tasse was swaar en ek het dit soos twee sementblokke agter my aangesleep. Naarheid het my skielik oorval en ek moes myself keer om nie in een van die roosbeddings te braak nie. “Kots” sou ‘n beter woord wees, maar my pa dring daarop aan dat ons slegs suiwer Afrikaans praat. Nogal ironies, want nou staan ek by die ingang van ’n Engelse kosskool – ’n bastion van Engelse kolonialisme. My oë het waterig geword, maar ek is ’n Kriel. En ’n Kriel huil nie. Nooit nie. Boonop kan ek nie my naam ruk deur my gevoelens oop en bloot te wys nie. Ek moet myself nie blootstel nog voor die eerste skooldag begin het nie. Die ontvangsdame het my vriendelik dog simpatiek gegroet en een van die matrieks gevra om my na my koshuis te neem sodat ek kon uitpak en my koshuisvader, mnr Robson, kon ontmoet.

Dit was gister. Nou moet ek opstaan en my nuwe skooluniform aantrek om hierdie nuwe dag aan te pak. Nuwe skooluniforms laat my altyd ongemaklik voel. Alles is so styf en die materiaal nog effe hard ten spyte van die eerste was en stryk. Toe die koshuisvader my gisteraand aan my nuwe kamermaats voorgestel het, kon ek die spanning duidelik aanvoel. James Smith, die skool se blonde eerstespan-waterpoloheld, het my met reptieloë aangegluur – koud en emosieloos. Banzi Ngcobo het net mompelend gegroet en homself spoedig uit die voete gemaak. In die hoek van die kamer regoor die bed wat aan my toegewys is, het ’n donkerkopseun gestaan. Hy was besig om sy rugbytrui op te vou en in sy hangkas te pak. Hy het vinnig omgedraai en na my gestaar. Sy oë het vir amper tien sekondes versteen. Ek het ongemaklik rondgekyk en stadig na hom gestap. Ek het my hand huiwerig uitgesteek en myself voorgestel. “Marnus Kriel, pleased to meet you.” Stadigaan het daar ’n effense glimlag op sy gesig verskyn. Sy twee kuiltjies het dadelik my oog gevang. “So you’re the new Dutchman.” Hy het omgedraai, op sy bed gaan sit en sy oorfone in sy ore gedruk. Harde rockmusiek wat nie goed vir sy oordromme kan wees nie – selfs ek kon die effense klanke van elektriese kitare hoor. Op sy hangkasdeur was sy naam in swart hoofletters op ’n etiket geskryf: Nathan Jackman.

Nadat ek my ontbyt vinnig moes afwurg om betyds vir die kapeldiens te wees, het ek ongemaklik tussen hordes ander raserige seuns my plek op een van die ongemaklike houtbanke in die kapel ingeneem. Terwyl die priester gebid het, het ek my pa verwens dat hy my na dié plek gestuur het. Nóg verder weg van die huis. Weg van die paar vriende wat ek by Devon House College gehad het. Weer moes ek die aanslae van ’n nuwe skool in die gesig staar. Letterlik én figuurlik gesproke.

Die skooldag het soos by enige skool sy gang gegaan. Wiskunde was eerste aan die beurt, gevolg deur Engels. Afrikaans is egter my gunstelingvak en ek het dadelik van my onderwyser gehou. Mnr Du Buisson was anders as die ander onderwysers. Sy gemoedelike persoonlikheid het my dadelik opgeval. Die feit dat Afrikaans my huistaal is, het dadelik gesorg dat mnr Du Buisson ’n glinstering in sy oë gekry het. Met die apatiese houding van die seuns rondom my in sy klas, kan ek dink waarom hy belangstelling in my sou toon. Vir hom was ek ’n oase in die dorre woesteny van addisioneletaalonderrig by St Columbus Boys’ College: hordes seuns wat jaar na jaar in sy klas woordorde, voegwoorde, tye van die werkwoord en die negatief moes aanleer – meestal met groot frustrasie aan beide kante. Oor gedigte en letterkunde sal ek liewer nie praat nie. Dit was duidelik dat mnr Du Buisson ’n toegewyde onderwyser is. Iemand met ’n passie vir Afrikaans en veral die letterkunde. Maar helaas het min seuns sy passie gedeel. Maar ek deel wel sy passie. Ek. Marnus Kriel.

Reeds sedert my laerskooldae het ek boeke verslind. Die biblioteek was my veilige hawe. Leon Rousseau se Fritz Deelman-reeks, Maretha Maartens en Marita van der Vyver het my met hul stories na onbekende plekke op verbeeldingsreise geneem. Op hoërskool het ek die bosverhale van Dalene Matthee en die reisverhale van Elsa Joubert ontdek. Ek het my dae in skoolbiblioteke omgesit. Myself in die stories van ander verdiep. Weg van die realiteit wat die lewe daar buite vir my was. Die realiteit van ’n pa wat op meer sakereise gegaan het en tyd op kantoor deurgebring het as by die huis. ’n Ma wat altyd senuweeagtig haar voorskoot in haar hand gefrommel het as my pa wel by die huis was. Rondgetrippel het om te wag vir my pa se volgende instruksie. Skelm sjokolade onder my kussing weggesteek het wanneer ek vakansies by die huis was. Sakgeld in my baadjiesak gedruk het wanneer mnr Nyati my by die skool moes gaan aflaai aan die begin van ’n nuwe kwartaal.

Soos die dae en later weke verbygegaan het, het ek stadig my voete by St Columbus gevind. Ek was weer eens vriendloos en het pouses in die biblioteek gaan skuil. Etenstye alleen gesit en die ander seuns op ’n afstand dopgehou. Net een paar oë het myne altyd ontmoet wanneer ek die omgewing rondom my bespied het. Dié van Nathan Jackman. Ek het altyd dadelik weggekyk, maar kon sy helderblou oë op my voel brand soos die laserstraal van ’n skerpskutter se geweer.

Einde Februarie het ek onder dwang aan die swemuitdunne deelgeneem. Al daardie aandag van starende oë en die baie klein swembroekie het my effens uit my gemaksone geplaas. Ek het die eerste plek in die 100 m-vlinderslag sowel as die 200 m-borsslag behaal. Tot my groot verbasing is ek in die skool se swemspan ingesluit. Die swemafrigter was so beïndruk met sy nuut-ontdekte talent dat hy my naweke privaat afgerig het om my swemtegniek te verbeter. Ek het elke Saterdagoggend klokslag by die binnenshuise swembad aangemeld en my lengtes geswem. Mnr Thackeray het my omtrent verskree, maar al die harde werk was die moeite werd. Tydens die eerste interskoolgala het ek ’n silwermedalje in die 100 m-vryslag gewen. My hart het in my keel geklop net voor die afsitter die skoot afgevuur het. Maar ek het geweet dat ek hard geoefen het. Daardie silwermedalje het ek verdien. Ek het daardie aand vir my pa ’n boodskap getik en dae lank vir ’n reaksie op my e-pos gewag. Maar daar was geen boodskap van hom nie. Hy was seker besig.

Vanmiddag na ’n uitmergelende swemoefening het ek op my bed kom lê en ’n roman van Etienne Leroux gelees wat mnr Du Buisson vir my geleen het. Sewe dae by die Silbersteins is nou nie wat ek ontspanningslektuur sou noem nie – nogal ‘n vreemde roman. Ek is teen dié tyd nou al gewoond daaraan om myself besig te hou. My klasmaats sowel as my kamermaats hou hulself op ’n afstand.

James Smith kom onverwags by die kamer ingestap. Hy loop met ’n tennisbal en speel. Hy gooi dit in die lug op en vang dit dan weer. Oor en oor. Voor my bed in die linkerkantste hoek van ons kamer stop hy in sy spoor. Hy druk sy hand in sy broeksak en haal ’n half verfrommelde stuk papier uit. Ek laat sak stadig my boek en loer bo-oor die rand na die stuk papier. Vir ’n paar sekondes wat soos ’n ewigheid voel, stoot die suur in my maag in my keel op. Die ligblou vel papier met die swart en goud skoolwapen herken ek dadelik. Daardie stuk papier wat ek uit een van my ou skryfblokke van Devon House College geskeur het. Die woorde en sinne in swart daarop geskryf syfer soos nat ink deur die papier. Die woorde wat ék geskryf het. Die brief waaraan ek so lank geskryf het. Weke se wroeging. Elke woord versigtig oorweeg en heroorweeg. Seker twintig keer oorgeskryf om die regte bewoording te kry. Nou is daardie brief in die hande van James Smith. Koudbloedige waterpoloheld met sy donkergroen oë wat my hart en siel deurboor.

Ek kan nie veel onthou wat daarna gebeur het nie. Ek onthou egter ek het ’n harde hou in my gesig gevoel. Daar was ’n ystersmaak in my mond. Iets nat het teen my wang en van my ken af gedrup soos slakslym teen ’n muur. Twee stemme het op mekaar geskree. Meubels wat rondgestamp word. En toe word alles donker.

Waar ek nou hier in die skoolkliniek lê, wonder ek steeds wat presies daardie middag gebeur het. Die verpleegster spuit my gereeld met pynstillers in en ek slaap baie. Ek weet nie eens hoeveel dae ek al hier lê nie. Die son skyn helder by die venster oorkant my bed in. Ek hoor die veraf geskril van die skoolklok wat lui en seunstemme wat lag en skree. Die skoolhoof het my vanoggend besoek en wou ’n verklaring by my afneem. Al wat ek weet, is dat James Smith my geslaan het. Goed gebliksem het – soos mens in minder gesofistikeerde Afrikaans sal sê. Dit is al wat ek hom kan vertel. Of liewer – dit is al wat ek hom sál vertel. Ek weet waarom James dit gedoen het. Maar ek kan niks sê nie. Ek wil, maar ek kan nie. Ek mag nie. My pa. My pa sal uitvind. Hy sal weet. Hy kán nie weet nie. Hy mág nie weet nie.

Twee dae later het die verpleegster my uit die skoolkliniek ontslaan. Ek het myself vir die eerste keer in die badkamerspieël bekyk toe ek my skooldrag aangetrek het. My blou oë staan prominent uit teen die kontras van die bloupers kneusmerke op my vel. Plek-plek verkleur die kneusplekke en ontstaan daar ’n skynsel van geel. Ek lyk nie juis besonder aantreklik nie – al moet ek dit nou self sê. My blonde hare lê plat op my voorkop. Ek wonder wie almal weet wat gebeur het? Ek moet nou die moed bymekaar skraap en hier uitstap om die wêreld in die gesig te staar.

Terug in my koshuiskamer lyk my blou katoendeken amper huislik. Die reuk van deodorant en stink kouse hang in die lug. Ek vind die reuk skielik walglik. Ek trek my skoolbaadjie uit en hang dit in my hangkas op. Ek gaan lê skoolskoene en al op die bed en staar na die plafon. James se beddegoed is weg. Sy hangkasdeur staan half oop en die kas is duidelik leeg. Banzi en Nathan se beddens is netjies opgemaak soos daar van ons verwag word. Ek steek my hand onder my kussing in om my stywe nek te ondersteun. Ek voel ’n vreemde voorwerp wat nie daar hoort nie. Ek trek dit versigtig uit en vind ’n naamlose wit koevert. Ek druk my vinger onder die flap van die koevert in en skeur dit versigtig oop. Ek haal die bladsy uit en vou dit oop. My oog val dadelik op die naam onderaan die brief. Die naam wat alles veroorsaak het. Daardie naam waar alles begin het. Die handskrif is onnet en ek sukkel om sommige woorde te lees.

Dear Marnus

I am so sorry for what James did to you. When I walked into the room and saw him pounding your face, I immediately knew what had happened. It is my fault for not hiding your letter. I was in a rush to get to cricket practice and after having read your letter I simply left it on my bedside cupboard. Having said this, I want to thank you for your letter. When our eyes met on the very first day of term, I knew. I feel exactly the same way about you. Ek lief jou ook. (I hope my Afrikaans is correct.)

Nathan

Ek vou die brief versigtig toe en druk dit styf teen my bors vas. Ek word onverwags oorval deur ’n gevoel van innerlike vrede wat net Nathan sal verstaan.

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top