Geloof alleen. Reise deur die kerkhervormings: ’n onderhoud met André Pretorius

  • 0

Geloof alleen. Reise deur die kerkhervormings
André Pretorius

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316902

Skrywers oor hul nuwe boeke: André Pretorius gesels met Naomi Meyer oor Geloof alleen.

André, sonder om hoegenaamd parallelle te trek: is jou boek Geloof alleen ’n soort antitese van die Da Vinci Code deur Dan Brown? Hiermee bedoel ek: is jou boek een oor reise na ruimtes met geestelike betekenis?

Ek sou nie kon sê nie, want ek het nie die  Da Vinci Code gelees nie!  As ’n boek bloot per toeval die antitese van ’n ander boek kan wees, dan is dit seker moontlik om dit so te sien.  Ek verstaan die Da Vinci Code is ’n fiksionalisering losweg gegrond op godsdienstige gegewe.  Aangesien ek die verbeelding ontbreek om te fiksionaliseer, was ek gebonde deur feite – dit wat gebeur het en my eie belewenisse van die plekke waar dit gebeur het. 

Want Geloof alleen is in die eerste plek ’n reisboek: daar is geskiedenis in (want daarsonder sou die reise nie sin gemaak het nie) en die reise is ingegee deur godsdienstige temas en gebeure, maar dit bly ’n reisboek oor plekke.  Dit is nie ’n boek van geestelike oordenking nie – as daar oordenking is, is dit van plek: die plekke wat ek besoek en my eie plek in die wêreld.

Wil jy dalk vertel waarom jy die boek geskryf het?

Ek het grootgeword op die Afrikaanse platteland van die tagtigerjare, ’n tyd en plek waar lewe en denke gerig is deur ’n Gereformeerde, Calvinistiese lewensuitkyk.  Maar die verloop van my lewe het beteken dat ek my bevind het waar ek haas onbedoeld aan beide kante van die kloof van die Kerkhervorming leef: ek het getrou met ’n (Suid-Afrikaanse) Katoliek en ek woon in Brittanje waar die staatskerk ’n sonderlinge kombinasie van Katolieke vorm en Protestantse teologie is. 

En dan het ek altyd ’n belangstelling in geskiedenis gehad: geskiedenis nie in die sin van "dinge wat in die verlede gebeur het" nie, maar eerder van "dinge wat in die verlede gebeur het en wat steeds weerklink in hoe ons dink en wat in ons wêreld gebeur". 

Dit was teen daardie agtergrond wat ek wou reis na die plekke van die Kerkhervormings, die plekke waar daardie Protestantse wêreld waarin ek ontvang en gebore is, sy beslag gekry het, maar ook waar die Katolieke wêreld waarin ek my nou halflyf bevind, teruggeveg het.  Ek wou dit doen om saam te val met die 500ste herdenking van die begin van die Protestantse Hervorming in Oktober 1517, maar ook in ’n tyd waarin "hervorming" in ’n breë sin in Suid-Afrika steeds gemoedere laat opvlam.

Die reise wat jy onderneem het, loop die wêreld vol. Brei asseblief uit op die bestemmings wat jy alles besoek het – en waarom.

Ek wou nie ’n boek skryf wat begin en eindig by Martin Luther en Johannes Calvyn nie.  Luther se lewe alleen bied ryk genoeg stof vir so ’n boek, maar as ek daar volstaan het, sou ek net in Duitsland gereis het en nooit die kloof van tyd en afstand tussen 16e eeuse Kerkhervorming in Europa en my 1980s-kinderjare in Suid-Afrika kon oorbrug nie.  En Calvyn se lewe, eerder as sy denke, bied min konkrete bestemmings om te besoek.

Dus wou ek wyer kyk en reis, na die plekke waar verskillende sytakke van die geskiedenis aangesluit het by daardie Protestantse stroom (of weggevloei het daarvan). Die Kerkhervorming is nie vir my ’n geïsoleerde epog vyf eeue gelede nie, maar iets waarvan ons die rimpeling in ons tyd voel.

Van alle plekke het ek begin in ’n klooster in België waar ek jare gelede ’n – vir my – ontroerende gesprek met ’n baie ou monnik gevoer het oor die kloof tussen Katoliek en Protestant. Van daar het ek teruggegaan na my kinderjare: sonder ’n begrip daarvan, sou my reise vir die leser min sin maak.

Vir Luther het ek gegaan na Wittenberg waar hy monnik was en sy opstand opgevlam het, na Worms waar hy homself met verstommende waagmoed verdedig het teen Kerk en Keiser, na die Wartburg-kasteel waar hy ’n voëlvry voortvlugtige was en die Nuwe Testament in Duits vertaal het, en na die universiteitstadjie Marburg waar die verdeling in Protestantse geledere reeds in 1529 versteen het.

Schlosskerk, Wittenberg

Luther in brons, Wittenberg

Studeerkamer in Wittenberg

Nentershausen, Marburg

Eggo's van Calvyn het ek probeer terugvind in Noyon naby Parys waar hy as Katoliek gebore en getoë is, en in Genève waar hy sy volwasse lewe geslyt en sy roeping uitgeleef het.

’n Katedraal in Noyon

Toe wou ek na plekke van verwoesting: die Kerkhervormings het tussen 1517 en 1648 bygedra tot van die bloedigste konflikte in die menslike geskiedenis.  Ek het gaan loop tussen die romantiese ruïnes van die Katolieke kloosters in Yorkshire wat wreed deur koning Hendrik VIII onderdruk is en het gereis na Praag, Maagdenburg en Münster waar die Dertigjarige Oorlog begin het, geveg is en geëindig het.  Daardie oorlog was in sy tyd net so vernietigend soos die Tweede Wêreldoorlog in ons s’n en die vredesverdrag wat dit in 1648 beëindig het, vorm steeds die grondslag van moderne internasionale betrekkinge.  Boonop was daar in Münster in 1534 ’n eindtydse sekte, die Wederdopers, wat ’n 16e eeuse weergawe van David Koresh en die Branch  Davidians by Waco, Texas uitgeleef het – die ysterhokke waarin hulle tereggestel is, hang steeds teen die kerktoring ...

Maar om die oorde van vernietiging te besoek sonder om ook die herskepping gebore uit Hervorming op te soek, sou eensydig wees. Dus het ek gaan soek na die spore van daardie beroemdste Engelse Bybelvertaling, die “King James Bible”, na die musiek van JS Bach, die grootse toonsetter van die Hervorming, en na die grootste skilder van Nederland se Calvinistiese Goue Eeu, Rembrandt. In my vorige boek, oor Italië, was daar ’n hoofstuk oor die skilder Caravaggio en deur oor Rembrandt te skryf wou ek eintlik vra of Rembrandt die skilder sou wees wat hy was as hy nié in ’n Noord-Europese, Calvinistiese milieu gewerk het nie, en dieselfde oor Caravaggio in ’n Suid-Europese, Katolieke wêreld.

Ek het gaan soek na die plekke waar die nuwe geloofsienings gekodifiseer is in belydenisskrifte wat tot in ons tyd oorleef – Augsburg vir die Lutherane, Heidelberg om sy Kategismus en Trento in Italië vir die groot kerkvergadering van die Katolieke "Teen-Hervorming".

Maar steeds was ek net in Europa en ver van die NG Kerk Marble Hall waar ek groot geword het.  Dus het ek ook gaan soek na hoe hierdie sienings oor die planeet uitgewaaier het na die vier windrigtings: daardie verstommende Barok-bouwerke van die Katolieke in Goa aan die Indiese kus en die tonele van die Puriteinse "volksplanting" in wat "Amerika" sou word.

Einde ten laaste was ek op die Duitse plaas naby die Nederlandse grens waar die Pretorius-familie sy oorsprong gehad het.

Dink jy mense sal hierdie boek van jou kan lees en as reisgids aanwend? Of wat sal rusbankreisigers tussen die boek se blaaie kan ontdek?

Reisbeskrywings en reissketse aan die een kant, en reisgidse aan die ander, is gans verskillende goed.  My boek sal van min praktiese nut wees as gids van waarheen om te gaan, wat om daar te doen, waar om te slaap en eet.  Maar ’n doel wat ek hoop die boek kan dien is as inspirasie, as vertrekpunt vir die reise van ander.  Ek self lees graag die reisbeskrywings van ander, soms eietyds, soms ook veel ouer. Ander se belewenis van plekke op verskillende tye verryk my eie belewenis van daardie plekke, of ek nou soontoe reis om daaroor te skryf, of net om die reis self.  Om die waarheid te sê, ek het pas verhuis en ten spyte van my poging om my boekrakke te rasionaliseer kon ek myself maar nie bring om uit te dun onder my reisboeke nie ...

Ek hoop ook die boek het betekenis as ’n reisbeskrywing wat ’n leser kan geniet ongeag of sy/hy beoog om self na daardie plekke op reis te gaan.  Ek hoop dit dra iets oor van die gevoel van plek, van die erfenis van die Hervormingsgeskiedenis in hierdie plekke in die 21ste eeu, en doen dit op ’n manier wat lekker is om te lees.

Jou boek se titel verwys enersyds na ’n gedeelte van die Bybel waaroor Protestante verskil: Geloof alleen (of hoe dan gemaak met geloof sonder dade, of ’n boom wat nie vrug dra nie, is dood)? Waarom het jy die titel van die boek gekies?

Ja, ek hoop nie die titel is misleidend nie!  Dit is nie in die eerste plek ’n boek oor my geloofsbelewenis nie en ook nie oor die teologie van geloof teenoor dade nie – ek sou hoegenaamd nie gekwalifiseer wees om dit te skryf nie (skoenmaker, hou jou by jou lees!). 

Die rede vir die titel is dat dit Martin Luther se groot insig was, êrens tussen 1517 en 1522: dat die verlossing van die mens deur "geloof alleen" bewerkstellig kan word.  Daardie insig, daardie twee woordjies, was die aambeeld waarop die Katolieke hegemonie verpletter is en ’n ganse nuwe wêreldorde gesmee is.  Ek kon nie dink aan ’n beter titel vir ’n reisboek oor plekke van die Kerkhervormings nie.

Watter ontdekkings het jy langs die pad gemaak? Geestelik en fisies (wat plek betref)?

Geen enkele, oorheersende ontdekking nie.  Eerder klein gewaarwordinge, soos die manier waarop die gelouterde teologie van Calvyn die gestroopte Gotiese argitektuur van twee of drie eeue tevore weerspieël: amper asof Calvyn wou teruggaan na ’n suiwerder geloof soos dit miskien neerslag gevind het in daardie ou katedrale.

Bier met Calvyn

Of hoe dit wat terugskouend onwankelbaar vas skyn, indertyd ook maar gebore is uit onvolmaakte menslike soeke en kompromie. Ek het byvoorbeeld grootgeword met die idee van die Heidelbergse Kategismus as ’n onfeilbare dokument wat as't ware op kliptafels gebeitel is uit die suiwerste teologie. Iets soos die Belydenis van Belhar kan mos hoegenaamd nie op ’n gelyke voetstuk staan nie!  Ek het geen mening oor Belhar nie (skoenmaker ...), maar ek het ten minste besef dat die Kategismus ook maar voortgekom het, nie alleen uit suiwere teologie nie, maar uit teologie en oordenking in ’n spesifieke politieke konteks.

En miskien ’n beter begrip vir waar ek vandaan kom en hoekom dinge was soos hulle was, en wat die mooi en goed daarin was.

Foto's: André Pretorius

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top