"Tree aan!"-seminaar: Gehore se reaksie is hulle eie saak

  • 0

Die deurlees van Lida Krüger se artikel het my redelik intimideer. Sowat van groot woorde en begrippe! Ek reageer – bloot met my gedagtes en intuïtiewe gevoel oor wat ek weet, vermoed en lees.

Opperman het nie met Môre is ’n lang dag protesteer omdat hy ’n bang soldaat was nie. Uit die stuk, en meer spesifiek die woorde van Neil, blyk dit sy protes was teen die geloofsgeïnspireerde oorlog. Dit was die NG Kerk beheerde regering teen die ongelowige kommunis. Daar is die goed aangetekende insident, toe hy op die grens die kapelaan gaan sien het, oor ’n menslikheidsvergryp waarvan hy ooggetuie was. Hy het deur die reaksie van die kapelaan hom as indirek aandadig beskou. Die man het gesê hy moet hom bepaal by sy werk. Oor die insident voel Opperman tot vandag sterk. Hy speel self die fiktiewe rol van die mal verworpeling – uiteraard sy weergawe van die kapelaan. Gemeet aan die karakter in die TV reeks Hartland se lot, is dit soete wraak vir Opperman.

In die baie goed beredeneerde argument van Krüger , wat die verskillende invalshoeke van Opperman se Môre is ’n lang dag teenoor “Tree aan!” belig, is daar ’n baie duidelike diskrepansie wanneer die vyand in die bosoorlog teen wie geveg word as Satan uitgebeeld word.

Belangrik in Opperman se vroeëre proteswerk is die vyand se rol as deel van die debat. Neil in Môre is ’n lang dag belig dat die geveg teen gesiglose mense, mense soos ons, is en hy vra namens talle dienspligtiges van destyds: “Vir wat?”. Opperman druk homself sterk uit oor hoe Neil eerder sy pa as die gesiglose vyand verpes. Die geweld wat vreedsame mense aanleer, is ook deeglik sigbaar in die stelling: “You just shoot them”. Hy word van sy sensitiwiteit gestroop deur die traumatiese gebeure. Daar is in Môre is ’n lang dag een van die belangrikste elemente van ’n goeie stuk te sien – karakterontwikkeling. Karakterontwikkeling is sigbaar by ’n paar karakters, en by niemand meer as by Van, wat altyd aan Lappies onderdanig was nie. In Môre is ’n lang dag is daar grys areas en nuanses. In “Tree aan!” (wat ek nie gesien het nie) minder. So mens gee iets prys by die blyspel, wat nie ideaal is nie. Hier is dus sprake van kontraste tussen die twee stukke, en die tipe stukke wat dit is.

Donkerland bevat kras, realistiese tonele wat herkenbaar is uit ons geskiedenis. Ek kon kwalik bly kyk hoe die boerseun die swartman met die sweep slaan, ’n daad wat aan hom opgedwing is deur sy pa. Die grootste oorweging van die pa is die oorsensitiwiteit waarmee hy self loop; sy eie skuldgevoelens, die seerkry omdat sy seun nie sy wens wil uitvoer nie. En hy pers hom af tot die sweepslaan – om met geweld en ’n gevoel van mag sy eie kookpunt-gemoed te lawe. Opperman (2011b:9) sees the refusal of the current government to honour these former servicemen in Freedom Park as an attempt to suppress their experiences and memories. (Krüger).

Ek is ’n groot Opperman-ondersteuner. En, nes “Tree aan!” tereg as subjektief belig word, is ek ook moeilik objektief oor Opperman. In sy verweer wil ek graag aanvoer: Deon Opperman skryf “Tree aan!” uit protes teen ’n klomp dinge, en projekteer dit op die oorlog. Krüger skryf tereg: “’Tree aan!’ attempts, as a historical drama, to process the traumatic past of the Border War, make sense of its repercussions and confirm Afrikaner identity.” Opperman se direkte motivering is die weglaat van dienspligtiges by die Muur van Herinnering. Maar dit kom teen ’n agtergrond van wrewel oor, onder andere, die bestuur van die land sedert 1990. ANC-gesinde kommentators beweer graag dat Suid-Afrika die oorlog by Die Slag van Cuito Cuanavale verloor het – wat ernstig deur kenners, generaals en soldate wat betrokke was, betwis word. Deon Opperman se protes mag dalk soms vir die publiek na pure rassisme lyk, maar hy is te veel in die guns van die underdog. Hy is te intelligent en te pragmaties, te menslik, om bloot rassisties op te tree. Maar is hy nie meedoënloos realisties nie?

In die TV reeks Hartland het Opperman die swart held teenoor die skelm Afrikaners. Dié gesinnetjie sal, ondanks die moord op hul ouers, selfs familie indoen weens gulsigheid. Die teregstellingsmoord op hul ouers deur swart mense dien selfs as motivering vir hul opperste skelmstreke.

Ek mis erkenning van die realisme waarmee Opperman gereeld werk in Krüger se artikel. In my taal is wat Krüger gereeld beskryf as “abstraksie”, eerder die diepgaande realisme.

Terug by sy oorweging om “Tree aan!” op te voer: Juis die verskille wat hy had oor menslikheid, het hom nie ’n ondersteuner van die grensoorlog gemaak nie. Maar hy was daar. Hy het sy plig gedoen (Neil se woorde in Môre). Nou, hedendaags, word hy en sy mede-dienspligtiges en hulle ouers, kinders, families, soos een man nie net verkwalik vir die verlede nie; die opofferinge en sterftes word sommer geïgnoreer asof dit nooit was nie. Opperman sal dit sterk teen dit hê. Talle dienspligtiges en hul ouers was nie net teen die oorlog op die grens nie, baie is daardeur geraak. Deur lewensverlies, deur getraumatiseerde persoonlikhede, deur egskeidings, verlore liefde, wanaangepaste kinders uit enkelouerhuwelike – om net ’n paar mutasies te noem. En die Afrikaanse mens, mense wat leef in wat Deon noem “sy gevoelstaal” (hy is sterk Engels), is nuwelinge tot lewens sonder hoop en vooruitsigte. Die areas hardste gertef is dalk die noorde van Suid-Afrika, veral Pretoria en omstreke. Opperman praat namens hulle. Hy gee hoop. Soos toe Sean Else en Pierre van Pletzen daar Afrikaanse klugte vir oneindige lang speelvakke opgevoer het. Soos toe Bok van Blerk die “De la Rey”-liedjie die lig laat sien het.

Opperman raak ook ontslae van ’n woede waarmee hy al meer as dertig jaar gekonfronteer is. Die kwessie van regte, die underdog (Kosie) en eerlikheid lê hom na aan die hart. Deon self laat graag sy gemoed oorloop. Sy stem wil gehoor word. Terselfdertyd is dit nie slim om in teatervorm iets soos Keburu as kommersiële aanbieding te hê nie. Dis ’n teaterstuk, baie patrioties en krities oor landsverlaters, met baie hoop vir plaaslike teatergangers. Maar gehore sal beperk wees. Op Aardklop was dit tjok en blok vol, en die opvoering wat ek bygewoon het, oombliklik begroet met ’n begeesterde staande applous. Maar dis nie ’n kriterium vir kommersiële sukses buite die fees nie. Ek dink ’n gesprek tussen Opperman en Anton van Niekerk, iemand met wie ek dink Opperman baie gemeen sal hê, sal hoogs informatief en vermaaklik wees.

So: dit maak sin om by ’n gehoor wat tradisioneel bekend staan as die beste gehoor in die land, die Pretoria gehoor, in die staatsteater met musiek ’n produk aan te bied wat gehore sal vervul met hoop. Afrikaanse musiek is die afgelope twee dekades ’n maklike finansiële sukses, of mens nou daarvan hou of nie. En bied die “hoop” soos hierbo verwys.

’n Musiekblyspel leen hom minder tot realisme. Selfs al behels dit ’n man bekend vir sy regverdigheid, vreedsaamheid en sin vir geregtigheid, naamlik generaal De la Rey. In Ons vir jou is De la Rey simpatiek, tot op ’n punt. As die generaal glo eers op iets besluit het, hou hy voet by stuk. En dis hier waar mens die argumente van Max du Preez en die skryfwerk van PG du Plessis kan betrek.

Du Preez het al gevra om die gesprek oor wie hensoppers was en wie nie. Was sommige mense wat as verraaiers beskou is nie helde omdat hul die lyding van vrouens en kinders in konsentrasiekampe wou staak nie?

PG du Plessis het so ’n karakter in Fees van die Ongenooides. Iemand baie simpatiek, wat teen sy broer se wil optree en hom die argwaan van die nasie op die hals haal.

Maar die oomblik wanneer hierdie soort feite in ’n debat betrek word, word mense kwaad. Hulle voel die kultuur van die Afrikaner word ondermyn. So, hoe kan Opperman miljoene spandeer op ’n produk wat die gehore op wie dit gemik is sal kwaad maak, en sukses by die loket in die wiele ry?

Ek dink Krüger se navorsing is op plekke beslis geldig. Dit wil definitief lyk of daar ’n wesenlike verskil in Opperman se beleid is in Môre is ’n lang dag, teenoor “Tree aan!”. Terselfdertyd wys baie van haar navorsers daarop dat die hede verskil, die gehore se samestelling verskil, die gegewe eerder deduksie is as wanvoorstelling. Tegnies is dit eerder ’n geval van ’n witleuen. Om die nasie hoop te gee, en ten minste die gehoor in die saal te kry, verswyg Opperman in “Tree aan!” sy eie teenkanting van die skynheiligheid van diegene wat die beleid van oorlogvoering teen ’n onsigbare vyand moes regverdig. So iemand was sy kapelaan. In Hartland en Donkerland verswyg hy dit nie.

Ten minste lewer die blyspel debatvoering op. Dit, as hedendaagse gegewe, teenoor die debat oor Môre is ’n lang dag destyds. So logies soos die protesstuk nou lyk, was die 80’s ’n ander plek. Die akteurs in Akerman se stuk, Somewhere on the Border, is na ’n opvoering in Johannesburg agtervolg en ernstig aangerand. ’n Gehoor het toe sy elemente gehad wat nie die realisme in Somewhere on the Border kon kop nie. Is dit dieselfde verskynsel soos die swart gehore wat nie “Tree aan!” bywoon nie?1 Mens sal dink hy sou volgelinge onder die swart publiek gëerf het na sy en Sean Else se Shaka Zulu. Dié opvoering was ook in die Staatsteater. Maar gehore woon seker by waarmee hulle gemaklik voel.

Terug by my verweer oor Opperman se werk: Terwyl Lida Krüger skryf oor die “abstrakte” in Môre is dit vir my die konkrete. Die verskillende karakters word in ’n kort bestek van tyd baie realisties uitgebeeld, sodat die enigste stereotipes op die verhoog dalk Neil is (en miskien ook Christo). Daar is minder abstrakte, oftewel realistiese, in die blyspel. Dis ook weens die styl van blyspel. Uit die voorbeelde deur Krüger genoem, byvoorbeeld van Lappies se musikale verweer teen aantygings teen hom, is dit op inhoudelike vlak meer kommersieel, maar minder sterk!

Geen van my verweer kan wegneem van geldig dele van Krüger se argument nie. Haar aanhalings van Boym, Van Coller, Baines, Taljaard-Gilson, Walton, Larson, Hauptfleisch en andere is raak, en is wetenskaplike rugsteun vir haar stellings. My kommentaar is dat die inhoud in die twee stukke parallelle is vir ’n bepaalde groep in die gemeenskap se sentimente in ’n tydsgreep.

Deon Opperman skryf in “Tree aan!” sonder ruimte om eie foute te erken. Hy is ’n uitlaatklep vir ’n groep mense. Beide die saak wat hy uitmaak en die effek daarvan sou verswak in die oë van die teikengehoor wat hy in die oog het. Toegegee, ’n meer genuanseerde weergawe sou baie respek genereer het – alhoewel nie noodwendig onder sy teikengehoor nie. Of dit in “Tree Aan!” “a very specific (and skewed) version of historical events is” (Krüger ), is debatteerbaar. Ook of hy, soos Krüger aanvoer, permuteer eerder as dat daar net ’n diskrepansie (my woord) is, is ook debatteerbaar.

Verder is gehore se reaksie hulle eie saak. Soos Buys en Claassen opinies het oor “Tree Aan!”, het sekere gehoorlede ook. ’n Laagtepunt van die Kunstekaap se openingsaand van Ons vir jou was toe ’n rassistiese “Ja baas” deur een van die gehoorlede uitgeroep is, met ’n gans onaanvaarbare bybedoeling. Dieselfde geld vir individue of groepe se reaksie op Bok van Blerk se “De la Rey.”

In die tyd van Shakespeare het die armes die beste sitplekke, reg voor, by toneelvertonings gehad. Hulle kon tamaties na akteurs gooi wat hulle nie oortuig het nie. Dis dalk hoekom Macbeth “Tomorrow and tomorrow and tomorrow” soveel keer herhaal. Om onder die vibe van die tamaties uit te oortuig.

Ek sien soms dat die jonger generasie, wat hulle ouers as ingedoen sien, baie emosioneel raak by die aanhoor van musiek soos die uit Ons vir jou. Bok van Blerk se oeuvre – en sy sukses – berus bykans op dié soort musiek. (’n RSG-omroeper noem dit onlangs marsmusiek; musiek sonder enige voorgee om iets anders te wees.) Opperman en Else vul dalk eerder ’n leemte as wat hulle met tamaties gegooi sou word. Maar uit ’n persoonlike oogpunt – ek dink die realisme kan selfs beter gedien word, selfs binne die blyspel styl, met meer nuanse. Met so ’n moeiliker produk maak mens dalk net meer vriende, en meer geld.

Krüger skryf: Volgens Boym (2001:xiii) is die woord nostalgie afgelei van die Griekse woorde nostos (tuiskoms) en algia (hunkering). Dit maak vir my sin dat ek dog ek elemente van na-oorlogse, ondergrondse kabaret raaksien, toe ek Ons vir jou bywoon. Of amper iets soos The Sound of Music.

Krüger noem:

Balme (2012) is dan ook van mening dat teater vandag op sy kragtigste is wanneer dit skakel met ander vorme van (hoofsaaklik) massamedia en ’n debat ontketen, hetsy oor ’n omstrede produksie of ’n skandaal. Sodoende verleng die teateropvoering sy rakleeftyd en word mettertyd deel van die kollektiewe geheue van ’n gemeenskap – soos die geval met beide Ons vir jou en “Tree aan!”.

Die waarde hiervan word dalk onderstreep deur die ongelooflike effek op ons samelewing van opvoerings soos Piekniek by Dingaan, en in die media soos die Vrye Weekblad koerant. En Opperman weet hoe die hart werk. Dis waarom hy – soos in Stille nag – die emosies in “Tree aan!” ook laat opwel met sy verwysings na sterre. Dis amper ’n leuse vir emosie, soos die Afrikaanse deel van "Nkosi Sikelel' iAfrika".

Enkele mistastings probeer die argument teen “Tree aan!” ondersteun, maar is net dít. Die verwysing na Kosie of enige ander karakter as moffies, is dramaties sterker wanneer die karakter aan wie dit toegesnou word, juis nie homoseksueel is nie. Dis die oppervlakkige verwysingswêreld waarmee Lappies in Môre is ’n lang dag omgaan. Dis vooroordeel, nes rassisme. Dis tekenend van Lappies se beperkte vermoë tot belediging, van Lappies se vrees vir wat hy nie verstaan nie, en sy gryp na enige wapen om mee te slaan. Hy hoop ook om deur so ’n oppervlakkige stelling mense teen die prooi te draai. “Moffie” is vir hom ’n skelnaam, wat meer na sy aaklige streek wys, as na die prooi wat hy kwansuis etiketteer.

Die weermag was vervuil van Lappies-karakters. Getrou aan Opperman se werk, Môre is ’n lang dag, was daar ’n warboel van egte karakters. Hy het in Môre ’n mikrokosmos van egte karakters geskep.

Ter finale verdediging van Opperman, kan mens tog die eenvoud soek van: “Tree aan!” besing die gesneuweldes en speel sommige van die karakters teen mekaar af, maar weerspieël tog die geskiedenis en die feite, die verwarring, en die blinde lojaliteit wat tydens die grensoorlog betrokke was by die oorgrote meerderheid dienspligtiges. Bevat dit, soos ’n Donkerland, nie dalk ’n ongemaklike realiteit wat nie noodwendig Opperman se beskouing is nie, maar sy spieël vir die samelewing?

 

 

Eindnota

1 Dit het dalk iets te doen met die feit dat almal nie noodwendig Afrikaans magtig is nie. Iets wat ons regerings, toe en nou, nie verstaan (het) nie. Mens sou die oorvleueling kon hê as jy mense aan die opsie bekendstel.

 

Lees die ander kant van die argument hier.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top