Geestelike geletterdheid en die sekspolisie

Hierdie webseminaar spruit voort uit die volgende LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)-artikels en neem die gesprek rondom die besluite omtrent selfdegeslagverhoudings wat op 9 Oktober 2015 in die Algemene Sinode van die NG Kerk geneem is, verder:


Homoseksuele predikante: ’n Regs- en morele dilemma

Helena van Coller
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)

Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?

Ernest van Eck, Ralph Barnard
LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe)


 

Louis van der Riet skryf oor hoe hy die Bybel ten opsigte van gaywees verstaan.

Ek sukkel om die woord “gay” oor my lippe te kry sonder emosie. Dit is ewe moeilik om die woord “God” oor my lippe te kry sonder 'n kop vol gedagtes. Ek wonder en worstel al vir baie jare, met beide my hart en kop: Hoe versoen ons seksualiteit en spiritualiteit? Maar hierdie week is anders. Want die NG Kerk het besluit om liefdesverhoudings te normaliseer. En dit help my. Ek deel graag hoekom.

Tussendeur al die geraas die afgelope week waar persoonlike sienings regs en links gedeel word, is ek getref deur die geestelike geletterdheid van lidmate wat nie weggesteek kan word nie; hulle manier van dink en praat oor die Bybel en God. Dit is ook vir my interessant hoe hierdie besluit 'n spieël ophou vir mense se kerkbegrippe. Dat mense omgee wat die [NG] kerk besluit en glo, is baie duidelik, soos ons kan aflei uit die reaksie op (ten minste) die sosiale media. En natuurlik die aantal ekstra pastorale gesprekke in enige predikant se dagboek – vra gerus vir Dominee. Verbasend, dog verblydend. Ons het lanklaas só ‘n publieke kreet gehoor.

Maar my kerk is ook lanklaas so skeefgetrek in 'n poging om dinge reguit te sê. Wat skeefgetrek is, is nie veroorsaak deur hierdie besluit nie. Inteendeel. Dit is duidelik uit alle amptelike kommunikasie van die NG Kerk dat hierdie besluit daaroor gaan om ruimte te skep en om 'n diversiteit van ervarings te verwelkom; die erkenning en omarming van menswaardigheid. Die erkenning van liefde is niks anders as 'n geskenk vir die kerk nie. Tog wil mense aanspraak maak op 'n denkwyse wat ons al duur laat betaal het. So dan hoor ons die vrae (gelaai met aannames en miskien met onskuld) soos: “Maar wat sê die Bybel?”, so asof die Bybel iets op sy eie kán sê.

Dit laat my ongemaklik en verlam, juis omdat ek my geloof in die Woord van God bely. Hoekom moet ons 'n verandering in hoe ons die Bybel lees en verstaan as 'n bedreiging of relativering sien? Ek vra dit omdat ek wonder oor die manier waarop ons verhoudings dikteer met ons vlak van geestelike geletterdheid, so asof ons die eienaars van die waarheid is. Hoekom wil ons juis so graag reg wees in ons geloof?

Ek is seker dat hierdie besluit niks verander het aan hoe God werk in die lewens van individue wat lief het buite die heteronormatiewe konstruksies waarmee ons so gemaklik geword het nie. Ons het bloot selfdegeslagverhoudings die ruimte gegee om die Godshandeling van liefde binne verhouding vrylik uit te lééf. As afgestudeerde teologiestudent en (nou) voornemende proponent, sê ek dankie vir hierdie nuwe ruimte (al voel dit nog soos 'n buitekamer), terwyl ek stilweg wonder wie anders bewus is van die straight privilege waarmee hierdie ruimte gegun is.

Ek is diep, diep dankbaar vir my kerk. Want dit is blerrie moeilik, veral met die geskiedenis wat ons saamdra, om oor jou eie behoefte om reg te wees te kom. En nie deurdat jy bloot luister na die tydsgees nie, maar omdat daar erkenning is dat God véél groter is as ons beheerbare formulerings. So ja, ons het tog die sekspolisie nodig, want individualiteit kan 'n leuen wees. Ek is vas oortuig dat ons vir God juis binne gemeenskap ontdek. En sjoe, ons het mekaar nodig, al is dit hoe frustrerend. Want ons groei in geestelike geletterdheid as ons vashou aan meer as ons eie verhale en ons behoefte aan beheer. Dit is seker dan ook nie onlogies om te dink dat my kerk se sloerende onvermoë om te versoen (lees Belhar) dalk 'n gedeelte van die pad oopgeskraap het vir die bevryding van gays nie.

Ons maak foute in die kerk. En dit is goed so. Want is worsteling (dood) en vreugde (opstanding) nie die enigste manier om ons te verlos van onsself nie – van wie ons dínk ons is en van ons vals keuses nie? Ek dink die NG Kerk se besluit om liefdesverhoudings te normaliseer, help ons. Ten minste help dit mý om te leef met die spanningsveld tussen kop en hart, Bybel-lees en kerk-wees, heteroseksualiteit en homoseksualiteit, spiritualiteit en seksualiteit.

Ek raak vandag stil met die woorde van hoop uit die Nederlandse Geloofsbelydenis se artikel 2 (oor die middele waardeur ons God ken): “Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.” Mag ons liefde altyd gesuiwer word deur geregtigheid.

 

Hierdie LitNet Akademies-webseminaar sluit ook in:

Die begin van 'n ruimer gesprek

Lulani Vermeulen, Charlene van der Walt
Seminare en essays 

God se Woord verander nie. Of hoe?

Ralph Barnard
Seminare en essays 

Sinode se gay-besluit: keuse vir verantwoordelike gebruik van die Bybel

André Bartlett
Seminare en essays 

Daar is 'n olifant in die kerk

Jean Oosthuizen
Seminare en essays 

 

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top