Gedigkompetisie: ’n onderhoud met die wenners

  • 1

Elodi Troskie en Sandra Norval is pas aangewys as die wenners van LitNet se gedigkompetisie “Huis, woning, tuiste”. Elodi se “snow angels in victoria” is deel van ’n reeks gedigte wat as ode vir Stellenbosch geskryf is en is deur Daniel Hugo as die wengedig aangewys. Sandra Norval, ’n Afrikaans-onderwyseres van Pretoria, was die naaswenner met “die beloofde land”.

Liné Enslin het met die twee wenners gesels.

Elodi Troskie

Wie is jy en wat doen jy wanneer jy nie dig nie?

Ek is ’n tweedejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch, waar ek BA (Taal en Kultuur) studeer. Wanneer ek nie met akademie besig is nie, werk ek by ’n gastehuis in Stellenbosch en skryf ook vir Die Matie

Wanneer ek nie daarmee besig is nie, bring ek heeltemal te veel tyd in Häzz deur om toekomstige vakansies te beplan en te werk aan die blog "The Bread Poet Society", wat ek saam met my mede-bread poet, Carla de Beer, begin het. 

Het jy ’n skryfroetine? Weet jy vooraf wat jy gaan skryf, of gebeur dit spontaan?

Ek het glad nie ’n skryfroetine nie. Wanneer ek met iets begin, het ek nie regtig ’n plan vir hoe dit verder gaan verloop nie. 

Wanneer ek ’n rowwe idee het van iets wat ek wil skryf, sal ek dit net op die naaste plek neerskryf. Partykeer is dit ’n nota op my foon, tussen my opsommings of klasnotas of selfs êrens op my arm as dit nie anders kan nie. Dit is gewoonlik net ’n paar lomp woorde. Dan kan weke verbygaan voor ek weer daaraan dink. 

Die idee waarmee ek oorspronklik begin, verander baie keer heeltemal. Dit is alles baie onvoorspelbaar en dit is maar altyd vir my ook ’n verrassing om te sien wat op die ou end gaan gebeur.

Wat was die inspirasie vir jou wengedig?

"snow angels in victoria" is een van ’n paar gedigte wat oor en vir Stellenbosch geskryf is. Dit kan seker beskryf word as ’n ode aan Stellenbosch.

Die gedig is basies net ’n beskrywing van ’n tipiese week in Stellenbosch. Ek wou myself herinner dat daar nie elke dag een of ander groot gebeurtenis hoef plaas te vind om my lewe meer opwindend te maak nie. Daar is iets moois in elke dag. Kuns is oral en heeltyd, solank mens dit raaksien. 

Om meer spesifiek te wees: die titel van die gedig het sy oorsprong in die aand van Vensters vroeër vanjaar. Victoriastraat was toegemaak vir voertuie en vir die eerste keer vandat ek in Stellenbosch woon, kon ek reg in die middel van die straat loop sonder enige gevaar of bekommernis. My een vriendin het in die pad gaan lê en, soos sy dit genoem het, "snow angels in Victoria" begin maak, net omdat sy kon. Die woorde was so mooi en eenvoudig dat ek dit dieselfde aand nog gaan neerskryf het. Ek wou dit nooit vergeet nie.

Vertel my asseblief bietjie van jou huis.

Ek het heelwat rondgetrek toe ek jonger was. Ek het al by die see gebly, op ’n plaas, in die dorp, in die koshuis ... Op die oomblik bly ek in Wolseley. Dit is my huis, maar ek voel ook dat Stellenbosch my huis is. Ek dink ook aan Buffelsbaai as my huis, en aan die Kaap en aan Frankryk en Engeland en baie ander plekke waar ek nog nie eens was nie. Ek dink my "huis" is dikwels nie net ’n plek nie, maar die mense en die tyd en gevoel wat my aan ’n sekere plek herinner. 

Wat lees jy graag? Watter boek lê op die oomblik op jou bedkassie?

Ek het ’n slegte gewoonte om boeke halfpad klaar te lees. Partykeer is dit omdat ek belangstelling verloor, maar meestal net omdat ek nie genoeg tyd kry om dit klaar te lees nie en dan heeltemal daarvan vergeet. 

Ek lees baie gedigte en plays. Op die oomblik gaan Bibi Slippers se Fotostaatmasjien saam waar ook al ek gaan. Ek is ook besig met There's a hippie on the highway van James Hadley Chase en Shakespeare se The Tempest (Shakespeare is voorgeskrewe – ek lees dit beslis nie uit vrye wil nie). 

My guilty pleasure is ook om Elle en Vogue se webtuistes op weekliks van hoek tot kant deur te lees. Die Vogue-argiewe in die universiteit se biblioteek is my paradys. (Ek dink dit is ook een van my huise.) 

Wie of wat inspireer jou? In jou digkuns, maar ook in die algemeen.

Sedert Bibi se bundel verskyn het, is dit regtig een van my grootste inspirasies. Ek het ook onlangs begin om al die vorige Nuwe stemme-bundels te lees. Dit is baie interessant om te sien waaroor "nuwe" digters die afgelope paar jaar skryf. 

Daar is ook ongelooflike skrywerstalent onder studente in die Afrikaans-departement. Ek put baie meer inspirasie uit gedigte en stories wat geskryf is deur die "nuwer" generasie skrywers, soos dié in Nuwe Stemme en selfs deur studente wat ek ken, aangesien dit baie meer binne bereik is van dit wat vir my van belang is en waaroor ek wil lees. 

Ek het ook die gewoonte om "onbekende" digters op LitNet te soek en dan alle skryfwerk wat oor die afgelope paar jaar van daardie persoon gepubliseer is, te lees. Dit is baie interessant om te sien hoe duidelik iemand se algehele manier van skryf verander van byvoorbeeld 2012 tot nou.

Ek dink dat Afrikaanse musiek ook ’n uitstekende bron van inspirasie is. Daar is byvoorbeeld Spoegwolf-lirieke wat van die mooiste gedigte is wat ek al ooit teëgekom het. 

So voorspelbaar as wat dit mag klink, dink ek regtig dat enigiets as inspirasie kan dien. Ek weet nie hoekom ek iets soos koffiewinkels en reën en mense wat ander tale praat so romanties vind nie – ek dink regtig dat daar ’n gedig in enigiets kan wees.

Klik hier om Elodi se inskrywings te lees.

Sandra Norval

Wie is jy en wat doen jy wanneer jy nie dig nie?

Ek is ’n báie gelukkige Afrikaans-onderwyseres by Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria. Ek dig dus selde, maar spandeer die meeste van my tyd om my leerders bewus te maak van die wonder van taal. Onderwysers se mooiste poësie of kunswerke is eintlik die kinders. Dalk eendag daaroor skryf …

Het jy ’n skryfroetine? Weet jy vooraf wat jy gaan skryf, of gebeur dit spontaan?

Waar ek tans in my lewe is, skryf ek spontaan. Op ou kasregisterstrokies in my handsak, agter op toetse of kennisgewings, op my foon in ’n wagkamer, of in my ka(r)tedraal. Gedigte doen hulself voor as momente. Soms is ek te laat – die woorde het my dan verbygegaan. Maar dis goed so. Want dalk was dit iets wat ongesê moes bly.

Wat was die inspirasie vir jou wengedig?

My pad skool toe soggens, laatmiddag en veral saans. Waar kom jy tuis, wie vind ooit die tuiste/huis/beloofde land? ’n Bekende bedelaar op die hoek, die gesiglose massas op pad huis toe in oorvol skeefhang oranje busse, skuldiges en skuldenaars, heiliges en minder heiliges op pad … huis toe? Waar’s dit? Hoe kom ek daar met wat, sonder wat, ten koste van? Gedigte gebeur voor jou.

Vertel my asseblief bietjie van jou huis.

Ek bly in ’n blou huis. Dis ook bekend in ons buurt as die Blou Huis. Dis aards en anders, want almal in ons Blou Huis mag hulself wees. Ons is almal lief vir lees, die kunste, musiek. My man is ’n baie goeie fotograaf – die prentjieman. Blou sal altyd vir my hemels wees: die kleur van ’n stertswaaihond, ons kinders se stemme, genoeg omgee om die winterkooltjies te stook en om rook soos ’n sein by die skoorsteen uit te stuur – ek is rêrig tuis.

Wat lees jy graag? Watter boek lê op die oomblik op jou bedkassie?

Ek lees alles – plakkate, rubrieke, berigte, essays (ons het te min essayiste in Afrikaans), kortverhale, romans, bundels. Laaste bundel was bome reusagtig soos ons was – Hilda Smits. Ek wil Buys lees (reeds gekoop), maar werk eers deur die nuwe matriekletterkunde se Onderwêreld – uitstekende nuwe keuse. My kinders het die boek saam met my verslind en geniet! #goeiekeusehackafrikaans

Wie of wat inspireer jou? In jou digkuns, maar ook in die algemeen.

Breyten Breytenbach is vir my inspirerend en groter as groots! Dink ek het al sy bundels. Ai, daar is so baie skrywers wat my met woorde betower het: The hours van Michael Cunningham, Toorberg van Etienne Van Heerden, Agaat van Marlene van Niekerk, Nataniël, Blouwillem en Dana Snyman wat mens so deur die lag nog laat dínk ook. Dis oorweldigend – al die groot geeste – voel vir my hulle het alles klaar gesê. Maar hulle hou my intens bewus van die lewe wat gebeur en iemand moet dit ver-klank.

Klik hier om Sandra se inskrywing te lees.

  • 1

Kommentaar

  • Baie geluk, Elodi en Sandra! Julle gedigte het my, as oud-inwoner van Pretoria en Stellenbosch, groot vreugde verskaf.

    Sandra, ek het ook baie plesier gehad aan Hoër Meisieskool Pretoria se inskrywings vir die Akademie se Poort-kompetisie. (Brigitte Geyer was die wenner.) Ek besef natuurlik nou eers dat jy een van hulle onderwysers is!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top