Gaan spoor jouself op in Klein-Tibet

  • 2

Het jy al ooit gewonder of daar méér is? Of daar ’n deel van jouself is wat jy nog moet leer ken? As jy meer van jouself en meer van jou plek in die lewe wil ontdek, kan Streetschool die antwoord wees met hul unieke toere, avonture en werkswinkels in Dharamsala in die noorde van Indië en Nepal. Gerrit Rautenbach het gaan kyk hoe werk dit doer in die Himalaja.

Partykeer in die lewe ... nee meesal ... of eintlik liewer altyd, as jy leer hoe om op te let, werk dinge uit net soos dit moet. Jy is op ’n plek en in omstandighede omdat jy bloot daar moet wees. Want dis reg om op daardie oomblik in daardie plek te wees.

Ek reis graag en plekke is dus nog altyd belangrik. Maar daar is plekke en dan is daar plekke wat ’n sekere hunkering by ’n mens losmaak. ’n Behoefte om daar te wees. Plekke soos Zanzibar. Timboektoe. Die Zambezi. Serengeti. Kilimandjaro. Sisilië. Rusland. Die Namib. Die Himalaja. Everest. Nepal. Tibet. En Tibet. En Tibet ...

Jongiwara Road, McLeodganj, Dharamsala

Plekke is die een kant van die storie, maar kom ons kom terug na dinge wat uiteindelik uitwerk soos dit moet.

Dit het alles hier in die 1980’s begin. Ek was ’n jong skeppende hoof en my pad het met dié van Klasie Wessels, ’n jong opkomende kliëntedirekteur, gekruis by die advertensie-agentskap Lindsey-Smithers in Johannesburg. In daardie stadium was ons albei loopbaangedrewe en totaal gefokus om net die beste te wees wat dié bedryf nog gesien het.

Jare kom en gaan en Klasie was baie meer behoudend en gerig as ek wat baie gouer die lewe se lang pad gaan opsoek het. Ek het die pad gevat, ’n reisskrywer en fotograaf geword, maar hy het tot die hoogste sport gevorder by die agentskap. Tog het ons regdeur kontak behou en altyd ’n tydjie iewers ingewerk om op te vang. Kortom, ons was lankal nie meer kollegas nie, maar vriende en het altyd plek gemaak om te praat oor die ander passie buiten goeie advertensies wat ons gedeel het: reise en unieke bestemmings.

Op 1 Oktober 2007, 10 jaar gelede, het hy besluit dis tyd vir ’n nuwe lewe. In daardie stadium was hy meer as 25 jaar in diens van die agentskap, besturende direkteur van die Sandton-kantoor, maar het besluit om aan te beweeg. Hy het glad nie geweet wat hy gaan doen en waarnatoe hy gaan aanbeweeg nie, maar hy het geweet dis tyd. Hulle was erg spyt om hom te sien gaan en wou opreg dankie sê vir sy reusebydrae en het hom gevra wat sal hy graag wil hê as ’n afskeidsgeskenk.

“’n Vliegkaartjie Nepal toe.”

“Nepal?”

“Ja, Nepal.”

Die ding is, “advertensiewese” en “avontuur” lê na aan mekaar in die woordeboek en Klasie wou nog altyd die tog doen na Everest se Basiskamp. Dit was een van daardie droomdinge en myle verwyderd van sy vorige lewe. In daardie stadium het hy nog nie eintlik die verskil tussen Nepal en Tibet geken nie. Hy het wel Bob Segar se song “K-K-Kathmandu” geken.

Die koue wit pad op pad na Everest se Basiskamp

In die berge gaan hy vir vyf dae na ’n meditasie-oord. Skielik, tydens een sessie, weet hy hoekom hy daar is. Hy besef hy maak vir die eerste keer regtig kontak met homself en hy wil mense soontoe bring om dieselfde te ervaar. Hy wil ’n gids wees. ’n Fasiliteerder. ’n Brug tussen onse gewone mense en die unieke leermeesters wat hy daar ervaar. Hy wil mense konnekteer met geleenthede om antwoorde te kry op die groter vrae van die lewe.

Terug in Johannesburg het hy ’n besigheid genaamd Streetschool geregistreer. “Dis ’n plek, ’n ‘skool’ wat mens help om ‘streetwise’ te raak. ‘Streetwise’ oor die lewe, want die fondasie is ervaringsleer – jy leer deur blootstelling, in die strate, ja selfs in die gutters,” verduidelik Klasie.

Om Streetschool suksesvol te kon aanbied is hy terug “skool” toe om te gaan leer oor neurolinguistiese programmering en kinesiologie en om ’n vierjaar Unisa-diploma in “Meaning and purpose” te doen. Dit is ’n erkende filosofie en daar word daarna verwys as die derde skool van sielkunde – Victor Frankl se werk.

In die beginjare van Streetschool het ’n jong student vir ses maande by hom kom werk terwyl sy gewag het om haar M in sielkunde te begin. Sy noem in ’n gesprek dat sy graag ’n regte krotbuurt in Indië wil ervaar. Klasie se avontuurlus skop in; verder dink hy dis ’n moontlike reis om aan te bied in die toekoms – en kort voor lank is hulle, saam met nog twee studente, daar weg na Faridabad net buite Delhi. Daar het hulle begin skoolhou in ’n krotskooltjie vir klein kindertjies. Dis growwe, krapperige, harde werk met ’n uniekheid en vorm van romantiek, alles. Behalwe hy wat Klasie is mis die spirituele, die vrae oor die lewe, waaroor gaan alles?

Monnike stap die stap van meditasie, op pad na Bagshu-waterval.

Met sy hunkering na die meer spirituele het hy meer en meer aandag begin gee aan boeddhisme en veral aan die Tibettane. Skielik het hy besef hoekom die lewe hom Indië toe gelei het. Minder as 500 km noord van waar hy was in Faridabad bly die Dalai Lama en 15 000 Tibettane in ballingskap.

Wat het eintlik in Tibet gebeur?

China het Tibet in die eerste plek gevat vir water. Al tien die hoofriviere van die subkontinent ontspring op die Tibettaanse plato. Water vir China, Maleisië, Pakistan, Indië, ens kom alles uit Tibet. Daar word gereken die volgende groot oorlog gaan baklei word oor water.

Die tweede rede is spasie, en dan is die plato ryk aan minerale. Die Chinese het iets soos 3 000 mynkontrakte in die laaste 10 jaar toegestaan. Hulle herlei selfs riviere (die langste is langer as die pad tussen Kaapstad en Johannesburg) om mense te ondersteun om te myn. Hulle bou betonkanale vir hierdie “nuwe” riviere.

Die diaspora is so 150 000, met 15 000 in Dharamsala en die res versprei oor Indië en verder deur die wêreld, so wyd as Australië, terwyl die res nog in Tibet is, maar op die politiese kaart is Tibet nie meer Tibet nie, dis nou China.

’n Reis na spirituele bewustheid in Dharamsala, Indië

Klasie het oor die laaste klompie jare ’n groot kennis van, en affiniteit met, die Tibettane opgebou. Sodanig dat hy al ’n aantal oudiënsies met Sy Heiligheid die Dalai Lama gehad het en hom betrek het in van sy spirituelebewustheidswerkswinkels in Dharamsala.

“At home when you think positive or you’re striving to be happy you’re always told that you’re being idealistic, but here it is a way of life.”
– Carrie Marder, Dharamsala September 2017

Nou ja, om terug te kom na die stelling van “’n mens is op die regte tyd op die regte plek omdat jy daar moet wees” ... Ek en hy het toevallig (toevallig?) by mekaar uitgekom aan die begin van September. Hy vertel my dat hy op pad is Dharamsala toe met ’n groep. Ek vertel hom dat ek in dieselfde tyd om ’n heel ander rede toevallig (toevallig?) in Delhi moet wees. Net daar besluit ek om ’n ekstra draai in my reisroete in te bou. Dharamsala is net 480 km van Delhi af, maar dit vat amper 12 uur per bus soontoe. En dis nou nie dat die bus so stadig is nie, die pad is so besig. Welkom in Indië.

McLeodganj in die skadu van die Himalaja

In Dharamsala, of eintlik nog bietjie verder noordwaarts teen die Himalaja uit in ’n klein-klein gehuggie met die naam McLeodganj, kom my ompad tot rus. Kort voor lank het ek dié plek in my eie kop herdoop tot Klein-Tibet. Dis waar die Tibettaanse bannelinggemeenskap en die Dalai Lama hulle bevind. Ek spoor vir Klasie en sy groep op en dis waar dinge heeltemal begin verander.

Eerstens was daar ’n sessie oor elkeen se gesondheid via die Tibetan Institute of Medicine and Astrology. Dis ’n uiters holistiese benadering wat begin met jou gees, jou binneste – die liggaam is net ’n “voertuig”, ’n manifestering wat jou geestelikheid vir hierdie oomblik huisves.

Klasie voor die rooi deur van die Tibetan Library of Word and Archives, Dharamsala

Daar was ook ’n besoek aan die Central Tibetan Administration (CTA) – dis soos hulle regering. Ons is in gesprek met hul eerste minister, Lobsang Sangay, wat ’n doktorsgraad van Harvard het. Nie te lank terug nie was hy nog betrokke in Amerika toe die Dalai Lama besluit het hy raak nou te oud vir die geestelike sowel as regeringsverantwoordelikhede. En Lobsang Sangay kry laasgenoemde portefeulje. Toe gee hy Amerika prys vir Dharamsala. “I gave up Starbucks Frappuccino’s for Dharamsala,” reken hy. Teen $648 pm het hy dit beslis nie vir geld gedoen nie. In sy woorde: “I’m not making a sacrifice, I’m making a contribution.” Dis die vraag wat Klasie heeltyd vir sy mense vra: “Wat is jou bydrae?”

’n Monnik by ’n reuse-gebedswiel. Die wiel het klokkies aan wat lui as hy gedraai word. Daarmee stuur hulle goeie gebede die wêreld in.

Daar was sessies met monnike waar ’n wye verskeidenheid temas bespreek is. Ons gesels met een Venerable Kushu wat vier jaar in ’n Chinese tronk was voor hy kon ontsnap Dharamsala toe. Wat is sy storie? Hoekom is hy nie kwaad nie? Na hy gemartel was vir vier jaar? Hy skryf net sy stories en beskou homself as ’n aktiewe pasifis (“a monk on a mission”, soos hy sê). Hy besef as hy nie uitgaan en sy storie vertel waaroor dit gaan nie, gaan niemand dit doen nie. “Ek skuld dit aan die Dalai Lama en aan Tibet. Ek doen dit vir die mense van Tibet. Dis al ...” En dan besef jy as jy effe verlore, effe alleen voel, is dit heel waarskynlik omdat jy nie gekoppel is aan iets anders nie. Iets groters en belangriker as jy. Jy is bloot vasgevang in jou eie verdriet.

“Dit was asof die geleentheid ’n gekondenseerde boodskap van die heelal af was. ’n Boodskap dat ek moet aangaan waarmee ek in 2005 begin het. Ek het duidelikheid.”
– Jacques Myburgh, Dharamsala September 2017

Dan is daar die kluisenaar wat al meer as 30 jaar op die berg bly. Soms kry jy hom, soms nie. As jy hom kry waar hy sit en mediteer, is hy gretig om te gesels. Met sy 20 Engelse woorde. Een vraag wat Klasie hom altyd vra: “Wat is die betekenis van die lewe?”

“Die doel van my lewe is om die wêreld ’n beter plek te maak.” Dis hoe klein dit is ... of liewer, dis hoe groot dit is.

En as jy dan vir hom vra vir advies, hoe om dit reg te kry om die wêreld ’n beter plek te maak, antwoord hy sonder skroom: “Wees net goed vir almal om jou.” Nou die ding is, hy is nie in ’n invloedryke posisie met baie mense onder hom nie. Hy is nie ’n skoolhoof of uitvoerende hoof of in enige magsposisie nie. So watse betekenis gee hy aan die lewe in die geheel? Wel, as jy hom reg lees, besef jy betekenis in die lewe is nie iets wat jy kan toeskryf aan iemand nie. Elke mens moet besluit wat gee vir hom betekenis in die lewe. Wat gaan ek doen om my lewe betekenis te gee? En dis mos tweerigtingverkeer daardie. Jy kan tog net betekenis hê as jy iets vir iemand anders beteken. Dis oukei as dit dan net vir een ander mens is. Stadig kom die lig aan vir my.

Meditasie-sessie in die Tushita-meditasie-oord in die woud bokant McLeodganj

Dan is daar meditasie en Tibettaanse joga. Meditasie is iets wat ek nog altyd stilletjies gedink het is van daai goed wat sommerso is. En esoteries. Dit is nie. Om te mediteer is harde werk. Probeer bietjie om aan niks te dink nie en net op jou asemhaling te fokus. Dis nie maklik nie. Maar wanneer jy dit regkry, gaan daar deure oop. En joga is nie vir gimnaste nie. Dis vir enigiemand. Alles help om die lewe en jou plek daarin altyd effe beter te verstaan. Daar was nooit ’n weerligstraal nie, maar dit was soos ’n film wat geleidelik in fokus getrek word.

“I’ve had MS for 17 years and was nervous to come along. But I wanted to see how I could cope with my compassions and how to get to know different cultures. It has been an absolutely unbelievably rewarding experience.”
– Brian Eades, Dharamsala September 2017

Aangesien die spirituelebewustheidswerkswinkels in Dharamsala rondom boeddhistiese monnike geskoei is, dink baie christene hierdie projek is vir die antichris. Maar Streetschool se benadering is sekulêr en hulle bly by die filosofie. Daar word geensins van jou verwag om jou geloof prys te gee nie. Inteendeel, dit gaan juis oor verryking. Die Dalai Lama en sy monnike sê daar is drie maniere om na boeddhisme te kyk: geloof, filosofie en wetenskap. En Streetschool raak nie aan geloof nie.

Tog sê Klasie mens kan nie in Indië reis sonder dat geloof iewers oor jou pad kom nie. Want iewers gaan iemand moontlik ’n kruisie om die nek dra. Dan sal ’n monnik dalk opmerk: “Ons praat nou oor die liefde, vergewing of deernis (medelye) en Christus het sus of so daaroor gesê. Wat sê jy?” Die ding is, die Tibettaanse monnike bestudeer die christelike geloof as filosofie. Die verwagting is dat die omgekeerde ook behoort te gebeur. Dis verrykend. Hulle is baie inklusief en sê: “Watter geloof ook al van jou ’n beter mens maak, is die regte geloof vir jou.” Almal is welkom.

Tibettaanse steengeskrifte. Die woorde is deel van die mantra “Om mani pad me hung”, wat die vyf elemente van die lewe verteenwoordig: lug, water, aarde, vuur, ruimte.

Die groot rede vir Streetschool se bestaan rondom die Tibettaanse ballingskapgemeenskap is bloot dat hierdie mense, wat so ’n verwoesting oor dekades moes deurstaan, steeds kalm en vredeliewend teenoor hul medemens is. Selfs teenoor diegene wat hulle so uitmekaargeskeur het. In ’n mate júis teenoor die mense wat hul so uitmekaargeskeur het. Dit is dit wat hulle unieke leermeesters maak. Dit gaan nie geïsoleerd oor godsdiens nie, maar oor hoe ’n mens jou lewe behoort te lei.

Wat is die absolute essensie van Streetschool?
Die hele fondasie van Streetschool is dat dit uitwaarts werk; dis om die ervaring eksperiënsieel te maak. Dit berus op avontuur en voorspelbaarheid, wat eintlik teenpole is. Veral die Dharamsala-werkswinkel in spirituele bewustheid val in daardie kategorie. Sekere goed is vooraf bepaal. Die groep weet hulle gaan sekere monnike ontmoet en met hulle in gesprek tree. Hulle gaan die heler/dokter sien; gaan blootgestel word aan astrologie, meditasie, joga, ens. Maar wat presies die uitkoms van al die ervarings gaan wees, is onvoorspelbaar.

“Dit het iets in my gevul wat ek met niks anders kan vul nie. Dit het my anders laat kyk na die wêreld, na die lewe.”
– Dr Trudi Nel, Dharamsala September 2017

Gewoonlik is soortgelyke Westerse (veral Amerikaanse) werkswinkels helder en duidelik verpak met ’n spesifieke uitkoms basies gewaarborg. Dié projek is ook verpak, maar net tot op ’n punt. Daarna is dit chaos – weliswaar georganiseerde chaos, maar dis waar die resultate begin kom. En dis iets uniek en anders vir elke individu. Dis baie stresvol vir Klasie, want hy gaan met die bedoeling dat hierdie projek mense se lewens gaan verander. Hy doen alles wat hy kan om elke stukkie besonderheid raak te sien en dit vir hulle uit te wys. Dis soos ’n spieël: mens moet sien wat reflekteer en wat vir elkeen individueel werk. En glo my, dit werk. Jy kom beter terug ...

Streetschool se variasies op die avontuurtema
 Avontuur word volgens die meeste slim woordeboeke gedefinieer as “’n ongewone en opwindende of uitdagende ervaring met ’n unieke resultaat”. Om enige van genoemde emosies te ontketen, moet ’n mens kwesbaar gemaak word. Die ding is, dis maklik om te dink kwesbaarheid word deur fisiese gevaar veroorsaak. Dis nie noodwendig so nie. Die werkswinkel in spirituele bewustheid in Dharamsala hou geen fisiese gevaar in nie. Maar o wee, die blootstelling maak jou kwesbaar. Want die grootste kwesbaarheid is om jouself in die gesig te kyk. Dis iets wat ek nog altyd ’n kopreis genoem het. En dis een van die grootste avonture wat daar is.

Tog het Klasie se oorspronklike gedagte vir Streetschool rondom ’n tog na Everest se Basiskamp begin. ’n Tog waar fisiese blootstelling die kwesbaarheidsaspek van die avontuur is. Die hoogte, die koue, die sneeu, die elemente ... alles wat jou klein laat voel.

’n Groep kanker-oorwinnaars wat Streetschool in samewerking met die Borskankervereniging in 2016 na Everest-basiskamp geneem het.

Daar het hy ook al ongelooflike ervarings gehad. Daar waar die omstandighede en die fisiese blootstellings die hooffasiliteerders word. Met een ekspedisie het Allan Bailey en sy dogter Bianca saamgekom. Allan se seun Steve (dus Bianca se broer) is onverwags twee jaar tevore oorlede op 18. Pa en dogter besluit om hulself saam aan die Basiskamp-ekspedisie bloot te stel om te help om afsluiting van hul verlies te kry. Om ’n nuwe verbintenis aan mekaar te kry.

Na so drie dae op pad boontoe pols Klasie hom: “Allan, hoe voel jy oor Steve?” Allen sê hy hoor baie keer vir Steve praat, veral as hy gholf speel, dan gee Steve raad oor hoe en waar hy moet slaan. Allan vertel ook spesifiek vir Klasie dat hy en Steve groot Liverpool-ondersteuners was. Hy noem dat amper almal by die begrafnis rooi baadjies of serpe aangehad het. Hy sê ook dat hy wens hy kan ’n teken kry. Dat hy kan afskeid neem.

Allan se skoonsus en haar seun van Engeland af was ook saam en hulle het eerste by die oornagplek aangekom. Toe Klasie en Allan daar aankom, wys skoonsus vir hulle iets uit. Teen die plafon van die teekamer waar hulle op daardie oomblik sit, is ’n ekspedisievlag vasgesteek. Dis iets wat oral gebeur op die pad Basiskamp toe. Maar dié vlag was in rooi en wit, met die name Steve en Allan daarop geskryf. Heeltemal ’n ander, vreemde Steve en Allan, maar wat’s die kans?

Vlae by Everest-basiskamp 5 364 meter bo seevlak

Ja, partykeer in die lewe ... nee meesal ... of eintlik liewer altyd, as jy leer hoe om op te let, werk dinge uit net soos dit moet. Jy is op ’n plek en in omstandighede omdat jy bloot daar moet wees. Want dis reg om op daardie oomblik in daardie plek te wees.

Ek was in Dharamsala ... nee, McLeodganj ... nee, Klein-Tibet saam met Streetschool. Is ek streetwise? Ek weet nie, maar ek glo ek het myself daar gevind. En meer. Soos die voorlaaste oggend van my besoek: ek loop weer die paadjie na die Tibettane se hooftempel toe. Nederig langs die weg sit daar ’n jongman. By ’n tafeltjie. Daarop uitgestal is vele eksemplare van ’n boek. Sy debuutdigbundel: Sweet butter tea.

Ten Phun stel sy boek, Sweet Butter Tea bekend.

Ten Phun is nou 28. Op elfjarige ouderdom het hy uit Tibet ontsnap. Ontsnap en deur die Himalaja se sneeu geloop tot in Dharamsala. Want hy wou ’n opvoeding kry. Hy wou leer skryf. Ek koop sy bundel vir R22. Ek vra hom om vir my voorin ’n boodskap te skryf. “Writing is a long walk, often therapeutic.” Ek maak die bundel lukraak oop:

The Secret
There’s only one secret,
Buried deep inside each heart
Among the men of letters,
And in the clouds of criticism.
All men have it,
And each man knows it  ̶
The Truth.

Die mense leef uit hul harte uit. Dis wat die verskil maak.

Vir meer inligting oor hierdie ekspedisies en ander avonture wat Streetschool aanbied, asook vertrektye vir 2018, besoek www.streetschool.co.za, e-pos Klasie by klasie@streetschool.co.za of skakel hom by 082 55 44 614 of 021 880 0269.

 

  • 2

Kommentaar

  • Christine van der Westhuizen

    Geweldig interessant en insiggewend. Wens daar was 40 of 50 jaar gelede so 'n ekspedisie gewees. Dankie Gerrit vir jou bekendstelling aan Klasie se wêreld.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top