Gaan ons uiteindelik ’n/die Derde Afrikaanse Taalbeweging beleef?

  • 40

Wannie Carstens (Foto: Izak de Vries)

1. Inleiding

In sy minderheidsuitspraak rakende die befaamde beslissing van die Konstitusionele Hof oor die gebruik van Engels as primêre taal aan die UV het regter Johan Froneman gewonder of daar nie ’n “derde taalbeweging” vir Afrikaans – gestuur deur jong mense – moet plaasvind nie. In LitNet van 18 Januarie 2018 (https://www.litnet.co.za/university-language-debate-afriforum-another-v-university-free-state) staan daar die volgende oor die genoemde uitspraak:

Froneman closed his judgment by noting that on the papers as they stood he would have reserved costs and referred this matter back to the High Court so that additional evidence could be taken. He expressed his hope that the outcome in this matter would not undermine the development of languages other than Afrikaans and English as languages of higher learning. In a passage written in Afrikaans, Froneman expressed doubt about the effectiveness of the applicants’ conduct and, noting the diverse history of Afrikaans, called on young people to lead a “Derde Taalbeweging” (Third Language Movement) for an inclusive Afrikaans stripped of racial and other prejudices. (My kursivering)

Ten einde hierdie vraag oor ’n “derde taalbeweging” al dan nie te kan beantwoord, is dit nodig om net eers kortliks terug te gaan op ’n stuk geskiedenis rakende Afrikaans, sodat die begrip van ’n taalbeweging verstaan kan word. Ek gaan net na enkele aspekte hiervan verwys ten einde die gesprek oor taalbewegings van Afrikaans in perspektief te plaas. Die besonderhede van die geskiedenis kan in talle gesaghebbende bronne geraadpleeg word. Goeie bronne in hierdie verband is JC Steyn se bekroonde boeke Tuiste in eie taal (1980) en “Ons gaan ’n taal maak”: Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014). Beide is formidabele boeke wat in elke geval verdien om gelees te word deur almal wat ’n belangstelling in Afrikaans se verlede het. En dan ook in John Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, Deel 1 (Kaapstad: Human & Rousseau, 1984, 2de uitgawe).

Vir baie ouer Afrikaanssprekendes is die geskiedenis oor die eerste en tweede taalbewegings nie onbekend nie. Dit was soveel jare lank deel van Afrikaans-leerplanne van op skool, maar ná 1994 is dit stadigaan opsy geskuif. Die jonger geslag weet gewoon bitter min hiervan. Vir baie jonger mense onder 40 is die begrip taalbeweging heeltemal onbekend.

2. Agtergrond

In die 1870’s het ’n proses begin om die spreektaal van die tyd – die destydse vorm van Afrikaans – erken te kry as skryftaal naas die aanvaarde skryftaal van die tyd – Nederlands. Hierdie proses is deur twee belangrike sake gestimuleer:

  • ’n rede (behoefte) om met so ’n proses te begin
  • mense wat die proses aktief stuur.

Reeds teen 1870 het daar ’n behoefte ontstaan om die destydse Nederlandse Bybel wat saam met die nedersetters Kaap toe gekom het, die Statenvertaling (in 1637 voltooi), te vertaal in Afrikaans, wat die spreektaal van die grootste groep mense was, in die besonder die teikengroep van die vertaling: die mense in die kombuise (slawe) wat gekersten moes word. Uiteraard was daar ook baie wit mense wat nie die Nederlands kon verstaan om van die weë van die Here te leer nie.

Die proses om dit te laat doen het op aandrang van Nederlanders soos Pannevis en Hoogenhout begin en is aktief gesteun deur ’n gebore Suid-Afrikaner, (ds) SJ du Toit, en ook ander Bolandse plaaslike rolspelers. Grootliks gebaseer op hulle voorbereidende werk het uiteindelik in 1875 in die Paarl die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) tot stand gekom en dit sou mettertyd tot verskeie uitkomste lei (wat ek uiters kursories stel!): die bewegings wat uiteindelik bekend sou staan as die Eerste en Tweede Taalbewegings, en op langer termyn ook die beplande Bybelvertaling (wat in 1933 verskyn het). Belangstellendes in wat dit alles behels, kan gerus die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl gaan besoek en dan ervaar hoe die mense van die GRA te werk gegaan het.

Met die insig van vandag weet ons dat (a) hierdie prosesse – wat “bewegings” genoem word – geïnisieer is deur die behoefte om die Nederlandse Bybel in Afrikaans te laat vertaal, en (b) hierdie prosesse aktief gedryf is deur ’n aantal persone wat geglo het in dit wat hulle doen: naamlik dat daar voldoende rede is om die taal wat aan hulle bekend is te verhef tot op so ’n vlak dat daar ’n Bybel daarin vertaal kan word – dat hierdie taal dus godsdienstaal word.

Oor die jare is daar heelwat navorsing gedoen oor hoe ’n taalbeweging gedefinieer moet word, hoofsaaklik omdat dit kort voor lank duidelik was dat onderliggend aan wat ons dink ’n taalbeweging is (dws ’n beweging wat daarop gemik is om ’n taal te verhef, soos ons sou kon aanneem na aanleiding van die naam), heelwat meer as bloot taal behels. Navorsing deur Theo du Plessis, Jaap Steyn en Christo van Rensburg het getoon dat ’n poging om politieke of politieke doelwitte te bereik dikwels verbloem was as ’n taalbeweging, en dat dit nie noodwendig ’n beweging gemik op die erkenning van ’n taal op sigself was nie.

Dit het in die 1980’s tot een van die interessantste debatte in taalkringe in Afrikaanse geledere gelei, gewoon omdat ons in eie kring ook wou verstaan wat werklik agter die geskiedenis lê van wat ons tradisioneel as taalbewegings ken. In hierdie proses het daar ook alternatiewe sienings na vore gekom oor wat ’n taalbeweging is en hoeveel taalbewegings daar dan sou gewees het. In Afrikaans in beweging (1986) het Theo du Plessis aangevoer dat daar meer in die definisie van ’n taalbeweging is as wat ons gedink het, en ook dat daar vyf eerder as twee taalbewegings is/was.

Die stimulus hiertoe was Jaap Steyn se Tuiste in eie taal. Hy voer hierin aan (1980:54) dat die bevordering van taalgetrouheid onder die gebruikers van ’n taal en die beplanning van hoe om die taal se status uit te bou, in ’n groot mate afhang van taalbewegings en taalhandhawingsveldtogte. Dit is hiervolgens moontlik om aan te voer dat taalbewegings op sigself daartoe kan bydra om tale te laat groei of te laat kwyn. Hy onderskei ’n aantal prosesse (te wete demografiese prosesse en taalverplasing) en faktore (onder meer siekte, honger, militêre en politieke magsmisbruik of magteloosheid, ekonomiese mag of magteloosheid, gehalte van die kultuurlewe, struktuur van die taal, taalpropaganda, taalstigmatisering en die tydsgees) wat kan meehelp tot die groei of agteruitgang van tale. En die groei van ’n taal kan in die vorm van ’n taalbeweging plaasvind.

Na aanleiding van ’n ondersoek na die Vlaamse beweging (in België), Guarani (Paraguay) en Hebreeus (Israel) in terme van die bogenoemde faktore en prosesse kom Steyn (1980:74) tot die gevolgtrekking dat taalbewegings oor “dekades (kan) strek en ’n volgehoue politieke, ekonomiese en kulturele beplanning en aanmoediging van taalgetrouheid vereis”. Dit gaan dus duidelik om meer as net taal.

Volgens hom (1980:75–8) is daar enkele belangrike voorwaardes – eintlik “onontbeerlike kragte” - vir die meet van die sukses van ’n taalbeweging:

  1. Daar moet heelwat sprekers wees wat die betrokke taal in hulle huise gebruik.
  2. Daar moet intellektuele wees wat die “voortou neem en die massa handhawingsbewus maak”. Hierdie intellektuele moet leiers “met propagandawaarde” wees, dit wil sê “mense wat doeltreffend en met die juiste aanslag propaganda vir die taal kan maak”, “mense wat omvattend kan dink en mense wat in staat is om die bevolking taalbewus te maak, planne van optrede kan uitdink, taalgetrouheid kan skep”. As die “intellektuele wegval, kan ’n beweging klaaglik misluk” (76).
  3. Daar moet gebeure – wat as prikkels dien (as dele van ’n proses of as ’n reeks gebeurtenisse) - wees wat “sterk genoeg is om die intellektuele te prikkel en die massa in beweging te bring”. Goeie voorbeelde van sodanige prikkels is kolonisering, politieke of ekonomiese verdrukking.

As hierdie drie kragte aan die werk is en dit word in ooreenstemming gebring met die oogmerke wat persone het as hulle in ’n taalbeweging of taalbewusmakingsveldtog betrokke raak, naamlik:

  • dat die leiers probeer om die ander lede van die taalgemeenskap bewus te maak van die agterstand van die taal en daardeur taalgetrouheid en taaltrots wil bevorder
  • dat die leiers die sprekers van die agtergestelde taal wil ophef (sosiaal, ekonomies, polities) en daardeur die taal self ook wil ophef

dan is daar ’n goeie kans dat ’n taalstryd sal ontstaan.

So ’n taalstryd sal tipies in drie (nie altyd so duidelik onderskeibare nie) fases verloop (Steyn 1980:78–90):

  1. ’n Bewusmakingsfase: Dit behels die bewusmaking, op watter wyse ook al - maar veral deur propaganda oor behoeftes, strewes, eise, drome, helde, verraaiers, skoonheid van die taal se struktuur, en so meer - sodat daar ’n geleidelike bewusraking ontstaan van ’n waargenome leemte.
  2. ’n Strydfase: In hierdie fase moet die bevolking deur die intellektueles/leiers oortuig word dat die stryd vir hulle ’n voordeel sal inhou, dat dit wins vir hulle sal bring. Dikwels word hier politieke, kulturele en ekonomiese voordele as motivering voorgehou. In hierdie proses gebeur dit meestal dat die taal waarin die stryd gevoer word, dan ook bevoordeel word, op so ’n wyse dat dit funksies (soos ’n standaardvariëteit) en magte of status verkry wat dit vroeër nie gehad het nie.
  3. ’n Handhawingsfase: In hierdie fase word daar gekonsolideer rondom die taal se vordering, en dit lei dikwels tot die vinnige groei van ’n taal se struktuur en die optekening daarvan. Dit kan selfs amptelike erkenning en groei op talle terreine (byvoorbeeld onderwys, letterkunde, kerk en howe) behels.

Hiermee het Steyn aangetoon dat Afrikaans nie uniek is wat betref die voorkoms van taalbewegings nie – volgens hom (1980:90) leer “die geskiedenis [...] dat ’n taalbeweging nie kan slaag sonder ’n stryd aan die politieke, ekonomiese en kulturele ‘front’ nie”.

Hierdeur lê hy dan ook ’n groot leemte bloot in tradisionele beskouings oor Afrikaanse taalbewegings, naamlik “die gebrek aan ’n deurdagte definisie van die konsep taalbeweging” en dat juis weens hierdie gebrek beskouings oor die Afrikaanse taalbewegings gekenmerk is deur lukrake toepassings op ’n toevallig samehangende reeks gebeure in die tydperk 1870–1925 en dat dit dan ’n naam kry, soos “Eerste Taalbeweging” (dit dek ruweg die tydperk 1872–1896) en “Tweede Taalbeweging” (1898–1925, toe Afrikaans uiteindelik amptelike taal erken is). Later was daar volgens sommige mense self ’n Derde Taalbeweging (die tydperk ná 1925 toe Afrikaans gevestig en uitgebou moes word). Voeg hierby Theo du Plessis se vyf alternatiewe bewegings en dan het ’n mens nogal ’n redelike warboel.

3. Die winste uit die debat?

Die winste van die hele debat was dat daar kriteria ontwikkel is aan die hand waarvan dit wat as ’n beweging wat tot die erken van ’n taal sou kon lei, gemeet kan word. Wanneer kon ons werklik praat van ’n nuwe taalbeweging?

Ons weet nou dat daar drie belangrike voorwaardes vir ’n suksesvolle taalbeweging is: dat daar voldoende mense moet wees wat die taal (wil) praat; dat daar intellektuele moet wees wat die leiding neem met die bewusmakingsproses; en dat daar ’n prikkel moet wees wat die proses aan die gang sit. Verder weet ons nou ook dat so ’n taalstryd en die afloop daarvan (suksesvol al dan nie) in drie fases verloop: bewusmaking van die leemte en behoefte; stryd om dit wat jy wil hê te bereik; en die handhaaf van jou winste uit die stryd en die uitbou daarvan.

Hoe raak dit nou ons siening van regter Froneman se gedagte oor ’n moontlike derde taalbeweging?

4. En nou: ’n derde taalbeweging vanaf 2018?

Regter Froneman se vraag kan nou beter beantwoord word. Is dit wat nou aan die gang is, wel voldoende rede vir ’n verdere taalbeweging, hier in 2018? Of is die een wat in die 1870’s begin het, darem al afgeloop?

Ons kyk na die kriteria en die gebeure vandag:

Voorwaarde

Stand van sake teen 2018

Daar moet heelwat mense wees wat die taal in hulle huise gebruik.

  • Bykans 7 miljoen mense gebruik tans Afrikaans as eerste taal in Suid-Afrika.
  • Afrikaans is die derde grootste groep moedertaalsprekers in Suid-Afrika.
  • Hiervan is ruweg 51% bruin moedertaalsprekers van Afrikaans.
  • Bykans 15 miljoen mense kan Afrikaans op die een of ander wyse in Suid-Afrika gebruik (eerste-, tweede-, derde- en vreemdetaalsprekers).

Daar moet leiers, intellektuele wees (persone met “propagandawaarde”) om die voortou te neem en mense te mobiliseer om betrokke te raak.

  • Daar is geïdentifiseerde persone uit ’n uiteenlopende spektrum wat die leiding in die taaldebat neem: bruin, swart en wit.
  • Heelwat van hierdie leiers (akademici, gemeenskapsleiers, leiers van verenigings, joernaliste, skrywers, selfs politici, ens) het propagandawaarde, gebaseer op die posisies wat hulle beklee of beklee het.
  • Daar is individue en organisasies wat nie skroom om die leiding te neem om Afrikaanse mense by mekaar uit te bring nie.
  • Burgerlike organisasies speel ’n kardinale rol om druk op die regering en op toepaslike prosesse te plaas.

Daar moet ’n reeks gebeure of prosesse wees om die massa tot optrede te prikkel.

  • Die afskaal van Afrikaans in verskeie sektore: staatsdiens, howe, media, skole, universiteite, ekonomie, ens. Die huidige drastiese toename in die afskaling dien as verdere prikkel.
  • Die nienakoming van die taalbepalings in die Suid-Afrikaanse Grondwet.
  • Alhoewel die nuwe taalwet in Mei 2013 aanvaar is, en die daarmee gepaardgaande regulasies in Februarie 2014, waarborg dit nog nie die implementering van die wet nie.
  • Die drastiese afskaal van Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite in Suid-Afrika (UV, UP, UJ, Unisa, US) laat mense twyfel oor die langtermynvolhoubaarheid van Afrikaans as taal van tersiêre onderrig.
  • Die uitspraak van die Konstitusionele Hof in Desember 2017 oor die posisie van Engels aan UV en die suggestie dat Afrikaans verdelend is en nie tot sosiale kohesie lei nie (eerder ’n voortsit van rasseverdeling).
  • Druk vir die verandering van Afrikaanse skole na parallel- of dubbelmediumskole (waar Engels oorheers) neem baie sterk toe – die debakel by die Hoërskool Overvaal in Januarie 2018 bevestig die politieke druk.
  • Afrikaanse ouers wat begin sê dat hulle kinders eerder in Engels moet onderrig ontvang.

 

Uit selfs hierdie eenvoudige tabel is dit duidelik dat daar wel die regte klimaat vir ’n nuwe taalbeweging is, en ook dat die klimaat voldoen aan die kriteria vir ’n nuwe taalbeweging – steeds baie mense wat dit praat, persone en instansies wat die leiding neem om die afskaling te keer of om te keer, en ’n reeks gebeure wat weerstand prikkel.

Dit skep ook die motivering vir bewusmaking dat die taal onder druk is (enige Afrikaanssprekende sal dit daagliks aan eie lyf ervaar via die media, skole wat verengels, funksies wat verlore gaan), en dit kan lei tot ’n strydfase (hofsake; protes) op elke plek waar die taal onder druk kom (skool, universiteit, kerk, hof, media, ens); ’n stroom van briewe aan die media; weerhouding van fondse; verskuiwing van kinders uit skole; stig van eie instellings (privaatskole, privaatuniversiteite). As die stryd suksesvol sou wees, dus dat die taal se status erken word, dat die taal weer sy regmatige plek in die land as taal onder tale inneem, as die politieke klimaat sodanig is dat Afrikaanse mense weer tuis op eie werf voel, dan kan die handhawing begin. Op langer termyn word instandhouding en uitbreiding van die wins verwag – hierdeur kom ’n mens dan by die handhawingsfase uit – dus: konsolideer wat jy bereik het en word sterker vorentoe.

As ons die voorwaardes van ’n beweging op Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap van ná 1994 van toepassing maak, wat lewer dit op? Dit is duidelik dat die geskiedenis van voor en ná 1994 beduidend verskil: voor 1994 was daar nog die stryd om groei vir Afrikaans te bewerkstellig en ná 1994 is dit eerder ’n stryd om ook vir Afrikaans ’n plek in die nuwe Suid-Afrika te kry.

Dit is dus twee verskillende tydvakke wat verskillend beoordeel moet word. Die tydvak voor 1994 was grootliks geslaagd as dit geëvalueer word in terme van die stappe vir ’n beweging: bewusmaking, stryd en handhawing. Die gevolg hiervan was ’n aanvaarde standaardtaal wat met verloop van tyd al die funksies van ’n standaardtaal gehad het en ook deeglik gekodifiseer was.

Wat dan van die tydperk ná 1994? As dit gemeet word aan die hand van bewusmaking, stryd en handhawing, waar staan ons dan? Dit is duidelik dat dinge nie uitgewerk het vir Afrikaans soos ons gehoop het nie. Afrikaans is onder geweldige druk en hierdie druk het sedert 2014 in intensiteit toegeneem. Gebaseer op wat betogers onlangs by die Hoërskool Overvaal gesê het, is Afrikaans opnuut in die spreekwoordelike “dog box”. Baie Afrikaanssprekendes voel geviktimiseer en die gevoel van moedeloosheid en ontreddering neem toe – dit blyk uit soveel berigte in die media.

Hoe die Afrikaanssprekende gemeenskap uiteindelik hierop gaan reageer, gaan wel die uitkoms bepaal – of Afrikaans oor 50 jaar nog hier gaan wees, en wel in ál sy funksies. Volgens Hein Willemse moet ons wel deeglik besef dat “Afrikaans se plek in die nuwe, ontwikkelende omgewing [...] anders [gaan] lyk as in die ou bekende wêreld voor 1994” (Beeld, 17 Mei 2016).

Dus: is daar ’n derde taalbeweging aan die gang? Ek weet nie, maar ek sien baie duidelike tekens daarvan. Die geskiedenis sal uiteindelik oordeel wat hier gebeur het.

Hierdie beweging sal wel moet uitgaan van die jonger Afrikaanse gemeenskap. Die ouer gemeenskap is te besmet deur die geskiedenis en hulle sal moet terugstaan. Dalk is regter Froneman dan reg in wat hy implisiet sê: dat die toekoms van Afrikaans in die hande van die jonger geslag lê.

Wannie Carstens

Afgetrede professor in Afrikaanse taalkunde aan die NWU en buitengewone professor aan die NWU

23 Januarie 2018

  • 40

Kommentaar

  • Johann Marais

    Ons was nog nooit bekommerd oor Afrikaans nie. Ons is bekommerd oor ons plase en eiendom. HOU op om met 3000 woorde oor Afrikaans as ons taal te kerm oor jy belese is. Die ouers sal daai stories uitpluis. Kan jy ooit iets doen aan die ware probleme? Hoe gaan die woorde? “You don't impress me much.”

  • Johannes Comestor

    Ek ontken dat ek deur die geskiedenis besmet is en dus van 'n nuwe Afrikaanse taalbeweging uitgesluit behoort te word. Ook behoort taalhandhawingsveldtogte nie te wag op 'n taalbeweging nie. Die tyd is meer as ryp vir taalhandhawing, bv om Afrikaans oral en altyd te gebruik waar dit ook al sinvol is. Tereg word van taaltrots gewag gemaak. Maar ons kan trots op Afrikaans wees slegs as dit 'n taal uit eie reg is, bv as Afrikaans so duidelik moontlik van Engels onderskeibaar is. Suiwer Afrikaans is inherent deel van taalhandhawing. Tereg word gesê intellektuele moet die voortou ten bate van Afrikaans neem. Maar waar is diegene (bv Afrikaanstaalkundiges en -letterkundiges) en Afrikaansinstansies wat 'n veldtog ten bate van suiwer Afrikaans voer? Waar is die intellektuele en instansies wat diegene aanspreek wat hulle aan flagrante taalontrouheid skuldig maak deur bv die eentalige verengelsing van universiteite goed te praat?

    • Susarah Maria van Zyl

      Ek stem volkome saam met elke woord van Johannes Comestor, Ek sou my gevoel oor hierdie onderwerp nie beter kon stel nie.

  • Iets wat baie pla, is die Engelse advertensies op Afrikaanse eNuus. Het die adverteerders geen respek vir die taal van hulle Afrikaanse kliënte nie? Verder word 90% van die onderhoude met bv ons krieketkaptein (oud Affie), in Engels gevoer op dieselfde kanaal. Die wil om Afrikaans te bevorder ontbreek oral in die media. Wat die "besmet" uitdrukking betref, ek dink dis 'n belediging vir ons senior burgers, so asof ons melaats is. Ek glo die skrywer het heelwaarskynlik dan ook in 'n "besmette huis" groot geword?

  • Hannes Deetlefs

    Ek leef en beweeg volkome gemaklik in Duits, Switserse Duits (baie anders as "regte Duits, voorwaar!) Frans en Engels, en sien net een ding altyd weer raak: Die mode in alle tale om te vervlak, om oppervlakkig te word. Higgins het dit al in Pygmalion ("My Fair Lady") deeglik vasgevat: Leer vir daardie arme blommeverkopertjie behoorlike Engels en siedaar, sy sal in 'n ander wêreld leef. Haar vader egter bly "a common dustman" met vriende sonder "a week’s decent wages". Met bekommernis het ek dit in die Afrikaanse skryfkultuur bemerk: adolessensie op alle vlakke: Vloekwoorde, anglisismes, "deurmekruis" woorde, te lekker, net nie duidelik verstaanbaar nie. Tog is daar troos; Na die dae van "grootword" sal die werklike Afrikaans weer terugkom, want die taal is baie lewendig, vol kleure en geure, kan dinge raakvat. ("Tuinslang" vir waterpyp!) Ja-nee, daar word tans te veel "wolhaarstories" oor Afrikaans en sy toekoms verkoop. “Afrikaans is trots, springlewendig, twis en stry, sing en lag in vrolike, kleurige, geurige beelde:
    Fantasties beskrywend, “tuinslang” vir “pyp” is voorbeeld van sy onmeetlike woordeweelde!
    Rugsteunend is woorde van geloof, van sterkte en hoop, wat siekes en swakkes opbeur.
    In alles is Afrikaans tuis, dit kan dig en bid, troos, grappig of dreigend klets, skinder en versteur.
    *Klein Ondeug, moeders sorg en skat, haar lus, haar las, haar vreug
    Aangrypend die krag, die helder, suiwer klank van iedere woord
    verheug!
    Altyd volmaak: Die taal se woorde dans parmantig en speel, van heelhartige emosies gedrewe,
    Natuurlik en propvol geesdrif, borrelend vrolik, kragtig en kielierig
    spontaan of volkome verhewe:
    So gee die uitgekryte, vergruisde en verdoemde taal dag vir dag woorde vir ons ganse lewe.
    Is jy dalk die duiwel in, neerslagtig weer, ongelukkig, sonder hoop? Is jou hart baie seer?
    Sien, Afrikaans is kragdadig en ryp, ook daarvoor is daar woorde wat kielie en knyp:
    Dan is woorde soos ‘deksels’, ‘eina!’, ‘sjoe’, ‘tjankbalie’,
    ‘ditsem’, ‘aitsa’ en ‘siestog’ gevra,
    In verdigsels of ‘wolhaarstories’ vertel jy langdradig wat jou in jou lewe so vreeslik, so triestig pla.
    Eie die dubbele ‘nie’, want met ‘Nie meer nie!’ hou jy op met kla en jy sê ‘Ja-nee’ vir jou ‘Ja!’
    Treffend is die Afrikaanse woord in klank, in duidelikheid en mening,
    Altyd vir alles gereed, van vloek tot gebed, versoening en seëning.
    Alles word netjies en presies en klankvol bewoord, in die
    geroesemoes van ons lewe vasgepen:
    Lewendigheid, erns en spot, hoop, geloof en krag is dit wat Afrikaans altyd weer sal laat wen! (Kopiereg Hannes Deetlefs)

    • Beste Hannes Deetlefs,
      'n Tuinslang is en was nog nooit 'n waterpyp nie. 'n Mens gebruik 'n tuinslang om jou tuin nat te spuit, en 'n loodgieter gebruik waterpype om water na jou huis en krane aan te lê.
      Daar bestaan nie so iets soos 'n suiwer taal nie; nie Engels nie, nie Afrikaans of Duits of Italiaans nie, selfs nie eens Latyn nie. Ek sien jy spog daarmee dat jy kan Latyn praat. Dis glo maklik.
      Koos het sleg gevaar op universiteit, en om sy pa te beïndruk vertel hy toe dat hy geleer het om Latyn te praat. "Wat is die?" vra sy pa. "O, Pa, dis 'n vurkieboes." "En wat is dit die?" wil sy pa weet. "O, Pa, dis 'n messieboes." "Ou vrou," skree die pa na die kombuis se kant toe. "bring vir my die sambokkieboes, dat ek hom slaanieboes dat hy barsieboes." Jy moet oppas dat jy nie geslaanieboes word met jou kennis van Switserse Duits nie. En ai, tog jou stelling, "Hoe beter jy jou taal beheer, hoe hoër is jou sosiale stand," laat my hond se gedagte kry. Ek kan my voorstel hoe jy vrotreuk-in-die-neus loop en neersien op die mensdom om jou.
      Groete,
      Angus

  • Andri Nieuwoudt

    Wat hier buite die deur gelaat word is die Afrikaanssprekers wat buite Suid-Afrika en Suidelike Afrika woon en die taal gebruik: die bindingsfaktor is sosiale media en die gebruik van Afrikaans in gespreksforums. Die "bedreiging" van Afrikaans as kommunikasietaal en taal van die hart kom uit veelvuldige oorde, en die identiteit van die spreker as Afrikaansspreker in 'n vreemde taal- en kultuuromgewing sal interessant bly.

  • Ben van Bruggen

    Uit die kommentare is dit duidelik dat intellektuele verdeeld is. Sommige wil kaalvuis baklei, sommige hoop die grootste groep bou Kaaps uit, die gelatenes sal tuis aanhou praat, feeste bywoon, boeke koop maar hul kinders in Engelse skole vir die moderne wêreld oplei. Die saak word beste bevorder as venynige, kwetsende binnegevegte gestaak word. Sit jou geld waar jou mond is. Skryf goeie boeke vir ’n wye mark. Handhaaf waardig en beskaafd. Gebruik die howe wanneer die beskerming wat die grondwet bied geminag word. Alles word alreeds gedoen. Verbeter daarop.

  • Jennifer van Niekerk

    Ek het nou deur al die lyne gelees. Ek was in ’n Engelse skool, het groot geword in ’n volledige tweetalige huis, Afrikaans en Engels. Ek het vriende in vele verskillende kulture en praat hul eie taal.
    Net ’n vraag? Hoekom is die Afrikaner in hul eie wese so verdeeld? Elkeen will sy eie mening plaas op gebeure van die geskiedenis. Daar is so baie geskiedenis die wêreld vol, maar niemand leer daaruit nie. In hierdie land is daar soveel rasse van elke aard, dat die mens hier moet plek maak vir mekaar. Maar ons grootste probleem is nog altyd propaganda. Dit het die wesens hier ’n verskriklike onreg aangedoen. Net die wat die geleentheid gehad het om verder te studeer het onder mekaar ’n trant begin van minderwaardigheid, onder die Afrikaners, en so het dit ’n bitterheid versprei onder kulture ook. Hulle kan navorsing doen vir ewig, en gaan dit nie regkry om vereenselwig te word nie. Ons dade daagliks teenoor mekaar in elke opsig is al wat ons uit hierdie gemors gaan haal. Daar is Afrikaanse mense wat nou al begin in asblikke krap om te oorleef. Dan praat hulle van die stryd om Afrikaans as onderrigtaal behoue te laat bly. Kom al die geleerdes, staan saam vir Afrikaans, maar ook om geen ander taal af te breek nie. Dan sal ons dalk bo uitkom met die regte visie.

    • Gerhard Scheepers

      Jennifer, ek stem oor die propaganda saam as jy praat van propaganda teen Afrikaans. Lees gerus die boekie Native Nostalgia van Jacob Dlamini. Die man win daarmee baie respek by my in. Hy praat nogal oa oor die daaglikse se betekenis.
      Ek verstaan nie hoekom u Afrikanerminderwaardigheid aan verder studeer koppel nie. Bedoel u miskien dat ons wie meer studeer het ander kulture as minderwaardig begin aanskou het? Help!
      Ek voel dat Afrikanerverdeeldheid eie aan die mens self is. Dis aan die orde van die dag om individueel, dus van ander verdeeld, te wees. Dis deesdae fundamenteel aan menswees. Daarsonder is aan jouself verantwoording doen nie moontlik nie, en waarheid verminder dan tot 'n sosiale gesprek; dit ontneem jou alles, jou toekoms veral. Tog bestaan ons elk in terme van, as deel van verskeie groepe. Die Afrikaanse groep is op 'n plek van self aanwakker en dis 'n gesonde plek.

  • Doktor Chris Joubert

    `n Pannekoek-en Boereworsbeweging klink meer van pas. Ek is natuurlik ten gunste van `n Braaivleisbeweging en terwyl Rome brand, kan ons sommer `n Naaldwerbeweging stig. Liewe,Vader, wanneer gaan ons ooit leer!

    • Gerhard Scheepers

      Liewe doktor, brei so 'n bietjie uit, jou naalde raak-raak maar jou koker het gate in. U en Jennifer praat beide van leer, maar wat?

      • Dr. Christiaan Joubert

        Beste Gerhard
        Verskoon tog vir die gate in my koker; naaldwerk is nie so maklik as wat dit lyk nie. Afrikaanstaliges sal meer pragmaties moet omgaan met taalkwessies in ons land. Ofskoon die akademiese belangroepe `n waardevolle bydrae lewer tot die instandhouding van Afrikaans as voertaal, is dit nie voldoende nie. As mense honger, kwaad en ekonomies gemarginaliseer word, het hulle eintlik vrede met taalkwessies, juis omdat hul mees basiese behoeftes nie aangespreek word nie. Deur byvoorbeeld voedingskemas, opheffingsprojekte en multikulturele uitruilprogramme kan ons `n liefde vir Afrikaans kweek, maar dan moet ons ook bereid wees om ander inheemse tale aan te leer en te respekteer.

        • Gerhard Scheepers

          Christiaan, ja-nee honger praat universeel. Op kindsbeen kon ek gelukkig twee tale optel maar het daarna tevergeefs 'n ander probeer myne maak. My taalhouer lyk my is klein. My hongerte lê seker elders. Ek het met twee kerke wie sopkombuise bedryf kontak. Per toeval het ek andersins 'n enkeling pastoor ontmoet wie lankal 'n klein kosbesigheid het want dit laat haar toe om 'n klompie kere weekliks huisloses van die omgewing met kos te voorsien. Die persoon is lankal grys maar sy's so jonk soos gister heeldag. Ek het nie gevind dat taalkwessies enigsins by die instansies se optredes ter sprake was nie, want hulle spreek fisiese hongerte aan. Die mens se hongerte vir goedheid van ander mense word so ook gevoed en ja, so bou die gemeenskap lekker ekstra krag op, met moeite maar gelukkig.

  • Hannes Deetlefs

    Jammer, maar ek moet dit herhaal: "My Fair Lady": Leer vir daardie arme blommeverkopertjie nie naaldwek nie, maar behoorlike Engels (en kultuur ...) en siedaar, sy sal in 'n ander wêreld leef. Haar vader egter bly "a common dustman" met vriende sonder "a week’s decent wages". Hoekom? Omdat hy nie behoorlik kan praat of skryf of lees nie. En hy drink hopeloos te veel bier (en eet dalk ook braaivleis, wie weet ...) Afrikaners kan dit ook doen, as hulle maar net wil. Kla help nie, jy moet drome hê: "All I want is a room somewhere ..."

  • Baie dankie vir hierdie noodsaaklike en uiters belangrike artikel! Sonder tydgepasde analitiese denke en insig oor waarvandaan en waarheen Afrikaans op pad is, is ons anker- en koersloos.
    As 'n Afrikaanse Kanadees is dit verblydend om net weer daaraan herinner te word dat die Afrikaanse taal werklik lewendig is en derhalwe nie tussen die dooies begrawe is nie. Viva vir die volgende beweging!

  • Dankie aan Hannes Deetlefs, jou kommentaar vind ek tog te komieklik, dierbaar en te oulik!

    Professor Carstens, ons maak so hoor!

    Te oordeel aan die elemente teenwoordig, is die nuutste Afrikaanse Taalbeweging volstoom aan die gang.

    Daar is BAIE vegters ... en die stryd begin nou eers lekker raak.

    Afrikaans leef!

  • Hannes Deetlefs

    In die Sestigerjare het ons van die Goudstad-Onderwyskollege die winkels in Johannesburg "bestorm" en net Afrikaans gepraat. Sjoe, dit was vir baie winkeleienaars iets aardigs, hoor! In John Orrs het hulle nie eens geweet dat daar so 'n taal in Suid-Afrika bestaan nie!
    Vandag is dit ook weer "sukke tyd". Die Duitse en die Franse het dieselfde probleem. Ook hulle praat en skryf nou hul taal meer as ooit, dit om teen die verengelsing wal te gooi. Daarom praat die grootkoppe van die EU Frans, en nie Engels nie. Leer van hulle!

  • Albert Oosterhuis

    Asseblief , vergeet van die Hollandse bastertaal. Afrikaans is dood juis agv mense soos jy.

    Is jy van Stellenbosch? Gaan praat jou suiwer Afrikaans daar.

    • Johannes Comestor

      Albert, ek neem aan dat jy Engels suiwer probeer praat, dus sonder bv Afrikaanse woorde. Waarom sou geradbraakte Afrikaans my moedertaal se enigste kans op oorlewing wees? Kortom, waarom kan daar maar met Afrikaans gemors word maar liefs nie met Engels nie?

    • Ons SAL ons pragtige suiwer Afrikaans orals met trots praat, baie dankie hoor! Ons los dit aan jou oor om 'n hibriede, niksseggende tipe bastertaal te praat.
      Selfs die puriste wat gesteld is op die korrekte gebruik van Engels sal 'n oorval kry oor die gemeng van Afrikaans en Engels. Los dus asb Afrikaans uit en skep julle eie nuwe taal: Engikaans of so iets dergeliks!

      • Beste JC,
        As jy so spog met jou "suiwer Afrikaans" wat jy praat, dan moet jy dit ook skryf. Jou skrywe wemel van die woorde wat deur Engels Afrikaans binnegekom het: hibriede, tipe, puriste, ens. Jy skryf selfs in die Engelse idioom: "Ons los dit aan jou oor." "Los dus Afrikaans uit." "oor die gemeng van Afrikaans en Engels."
        Groete,
        Angus

        • Dankie Angus, daar bewys jy net mooitjies my hele argument.
          Die veragtelike globalisme (waarvan Engels 'n instrument van is) tog vernietiger van kulture en beskawings... en nog erger ...

          • Beste JC,
            Is jy nog ons, of het jy intussen nou ook maar julle geword?
            Groete,
            Angus

    • Hannes Deetlefs

      Liewe, beste Albert, nee, daar verskil ek met jou nou absoluut: Vandat ek kan dink was dit belangrik dat my Afrikaans suiwer en trots was, ook sonder vloekwoorde. Werklik, ek het nooit gevloek nie, doen dit vandag nog nie! Dieselfde met my Duits, Engels en Frans (of my bietjie Latyn!). In Switserland is dit "Switserse Duits", ("Chasht Du mir es holle?") deksels moeilik om te leer, want daar is heelwat idiome. En tog, dit maak 'n verskil as jy iemand met goeie Switserse Duits benader, al kan hy of sy ook nog so lekker Engels (of dan Hoogduits!) praat. As kinders is ons belet om die tale te meng, en dit was goed so! Nee, Prof Higgins was reg, glo vir my: Hoe beter jy jou taal beheer, hoe hoër is jou sosiale stand. En sy slotsom is ook reg: "There are even places where English completely disappeared. Well, in America they haven't used it for years!" of, op Engels: "The Queen would say ... "
      Net een fout het ek met die houding van my ouers: Ons kinders moes eintlik ons bietjie Ovambo en Herero in Namibië ook op 'n hoër peil gebring het. Dit spyt my vandag, soos ons in Johannesburg gesê het, "waternat".

    • Die grootste bastertaal vandag is Engels. Afrikaans kan maar net droom om ook so te verbaster. As 'n mens moet vergeet daarvan om bastertale te praat, sit jy met jou mond vol tande en dan moet 'n mens liewer jou bek hou.

  • Johannes Comestor, Engels het nie Afrikaans nodig nie, maar Afrikaans het Engels nodig. Haal die Engels uit Afrikaans, en daar bly net geradbraakte Afrikaans oor. Daar bestaan ook nie so iets soos suiwer Engels nie. Haal die Frans uir Engels en daar bly net so 'n bietjie Germaans oor.

  • 'Mors nie met Engels nie'? Sê wie? Daar word met Engels dwars oor die wêreld "gemors". Engels is egter 'n bielie van 'n taal, en vat hierdie gemorsery soos dit 'n stewige taal betaam. Baie van die 'gemorsery' het lank terug plaasgevind, toe weer verdwyn, en kan nie behoorlik bestudeer word nie. Gelukkig was daar so 'n ruk terug 'n groot boom in die Hawaiiese suikerbedryf. Die vraag na arbeid het veroorsaak dat werkers van oral ingestroom het: Sjinese, Portugese, Japannese, Puortorikane, Filippyners, you name it. Spoedig het 'n Pidgin ontstaan met niks anders nie as Engels, die grondtaal. Die linguis, Derek Bickerton het gaan ondersoek instel. Hier is voorbeelde van wat hy gekry het:
    Building high place, wall pat time nowtime, an' den a few tempecha eri time show you. Good, dis one, Kaukau any-kin dis one. Pilipine islan no good. No mo money. People no like t'come fo' go wok.
    Daar bestaan nie iets soos 'n suiwer taal nie. Alle tale waarvan ons weet het hulle ontstaan uit 'n mengelmoes van ander tale.

  • Hannes Deetlefs

    Angus, natuurlik is jy reg, ook Engels is maar "Boere-Latyn", dus vereenvoudigde Latyn. Die Switserse Lugdiens ken selfs die begrip "Swiss-English", wat beteken dat die arme piloot net die nodige sinne bemeester het om met die radiokontrole te praat, maar nie meer nie. Shakespeare gaan aan hom verby. Dink net: Wat 'n kulturele verlies.
    En hier is die punt: Elke taal kan verder ontwikkel, presieser, noukeuriger word. "Der Mensch lebt nicht von Brot allein." "Die mens leef nie net van brood nie." Ons moet ook ander doele hê, doele wat ietwat hoër lê as dit wat mens vandag so algemeen oor die media hoor en sien. Die meeste radiostasies beweeg op die vlak van 'n tienderjarige, luister maar net na die liedjies. "I love you" is so plat en uitgery dat dit glad nie meer naby die oorspronklike betekenis kan kom nie.
    Niks teen die hamburgers van McDonalds nie, maar as die hele wêreld net nog dit eet, het iets baie belangriks verlore gegaan. En ons moet oppas dat dit nie met Afrikaans gebeur nie. Deksels"! 🙂

    • Beste Hannes Deetlefs,
      ʼn Taal kan nie ontwikkel nie; ʼn taal moet ontwikkel, nie om skerper of noukeuriger te word nie, maar om aan te pas by omstandighede. Doen hy dit nie, is hy nie meer bruikbaar nie, en verdwyn.
      As jy sê die mens moet doele hê, dan is dit te vaag. Die enigste doel van die mens as lewende organisme, is om voortplanter van sy gene te bewerkstellig. Elke taal wat hy nie ken nie, is vir hom ʼn kulturele verlies.
      Afrikaans se krag lê juis in sy diversiteit. Daar is van bokkoms tot bobotie, om van melktert, pannekoek, koesisters, afval, skaapkop en tjoppies nie eens te praat nie. So nou en dan gooi ons ʼn Bedtafeltjie by, maar dit laat die toekoms net rooskleuriger lyk. Sonder brood sal ons ook nie kan lewe nie.
      So terloops, ek sou graag meer doele wou sien oor die media, maar deesdae stel die Springbokke my teleur.
      Groete,
      Angus

  • So nou en dan sien ek slimmighede oor prof Higgins, My Fair Lady en Pygmalion. Kan niemand dan verstaan dat dit nie om die blommeverkoopstertjie gaan wat nou kastig goeie Engels leer praat nie? Dis Pygmalion, prof Higgins, wat die karakterverandering ondergaan. Met al sy kennis van taal kan Henry Higgins 'n cockney blommemeisie leer om soos 'n prinses te praat, maar hy moet self leer hoe om te sê dat hy haar nodig het en lief is vir haar. Nie een taal of dialek is verhewe bo 'n ander nie. Ai, tog! Ek vloek sommer in Latyn.

  • Hannes Deetlefs

    Tale verander, pas aan. Ja, tale word gebore, tale leef en tale gaan ook weer dood. Maar, tale ontwikkel tot verskillende hoogtes: Dit is nie sonder rede dat die vakke medisyne, biologie en regswetenskappe so graag Latyn gebruik nie: Die woordeweelde, die duidelikheid is ongelooflik. Daar 'n groot klomp mense in Europa wat vlot met mekaar Latyn praat, iets wat min mense weet. Die voordeel? Dit is net min wat dit verstaan, veral, as dit vinnig gepraat word. En jy kan selfs in die trem Latyn praat. Die moontlikheid dat iemand die gesprek sal verstaan is miniem. Die Fransman weer is meesterlik daarin om net een deel van die woord, een deel van die sin te praat en die res aan sy handgebare en sy mimiek oor te laat. As jy net die "skool-Frans" geleer het, is jy gou, gou verlore. Die Fransman is verbaas: "Maar ek het dit mos vir jou gesê" snou hy jou toe. Maar, hy het nie. Hy het dit met sy mimiek gewys, net, jy het dit nie gesien nie. Daarom het die Franse taal ook glad nie die probleem met "politieke korrektheid" soos ander tale nie. Onthou: Afrikaans het baie Frans, en dit van die Hugenote! (Dubbele nie: "Ek gaan dit nie doen nie." Dan die name du Toit, de Villiers, de Klerk ...)

  • Beste Hannes,
    Wys jou net hoe kragtig Afrikaans is. My speller het sowaar Redlabeltjie verander na Bedtafeltjie.

  • Hannes Deetlefs

    Heerlik, Angus, en my rekenaar verander altyd 'n "ie" in 'n woord outomaties in "ei", want dit is Duits! 🙂 Jou argumente pas in die tyd, dit is waar, 'n tyd van ewige vervlakking na onder. Op die ou einde eet ons almal net nog chemiese tablette wat na braaivleis en bier smaak: Absoluut genoeg vir die liggaam, deur alle moontlike wetenskaplikes getoets en vir goed bevind. En die fabrieke wat die tablette maak, maak nie tablette nie, nee, hulle maak groot geld. En tog sal ons daardie lekker en gesellige braaivleis en bier mis. Kyk tog na die moderne stede: Almal dieselfde. Of lughawens. Dieselfde winkels, dieselfde dinge. Baie dele van Suid-Afrika lyk nou presies soos Kalifornië: Die inkoopsentrums is so ewe dat mens kan vergeet dat jy in Suid-Afrika is. Maar, ons is mense met emosies en eienaardighede, en nie masjiene nie. Dit geld ook vir tale. En Afrikaans is een van daardie lewendige tale wat verdedig behoort te word. Die anglisismes wat vandag so kop uitsteek het almal 'n goeie Afrikaanse woord, ja, 'n "grênd" of beter, 'n "treffende" woord. Die gebruik van swak Afrikaans is niks anders as "hensop" nie.

  • Dis jammer dat Wannie Carstens nie met Froneman se hele aanhaling in gesprek tree nie. Die deel wat hy kursiveer praat oor 'n derde taalbeweging “for an inclusive Afrikaans stripped of racial and other prejudices”. In grotere meerderheid is dit wit Afrikaanses wat hulself beywer vir die verdediging van “Afrikaans” en wat bruin Afrikaanssprekendes as 'n statistiek gebruik wanneer dit hulle argument pas. Dit vermom ras as taal, en probeer om bloed skoon te was. Ongeag van mooiheid en prag wil ek geen deel hê van 'n Afrikaans wat gebou word op 'n fondasie van ongeregtigheid nie.

  • Beste Hannes Deetlefs,
    Sê my tog waar ek daardie "klomp mense" kan kry wat beweer dat hulle vlot met mekaar in Latyn kan praat, dat ek hulle met my sambokkieboes kan slaanieboes dat hulle barsieboes, want hulle het vir jou gelieg. Latyn is niemand se moedertaal nie; die enigste mense wat Latyn ken, is diegene wat dit doelbewus geleer het op skool, op universiteit of ook by taalklubs. Latyn is die amptelike taal van die Rooms-Katolieke kerk, maar hulle het ook maar 'n leeskennis daarvan. Die pous kan glo Latyn praat, maar dit is te betwyfel of die kardinale hom dan verstaan. Daar bestaan ook 'n klub in New York waar mense Latyn leer, en dan met mekaar gesels. Latyn as gesproke taal het lank reeds uitgesterf, en in die plek daarvan het hulle 'n soort gesproke Latyn bekend as Vulgêrlatyn gepraat. Hieruit het tale soos die Toskaanse dialek, Italiaans, ontstaan, asook Frans, Spaans en Portugees. Die wetenskap en regstaal maak gebruik van Latynse woordeskat en die grammatika by wetenskaplike name en regsterme te skep volgens ’n vasgelegde patroon, maar verder is Latyn ’n dooie taal wat niks woordeskat bykry nie. Daar is so effense ontlening uit Frans, maar dis maar hoofsaaklik in naamgewing. Met die koms van die Franse Hugenote is Frans onderdruk, en het hulle gou-gou Verhollands. Vroeëre geskrifte bewys dat die dubbel nie alreeds in die Kaapse taal was, nog voor die koms van die Franse Hugenote. Sommige taalkundiges skryf die dubbel nie toe aan die Maleis-Portugese invloed op die vorming van Afrikaans.
    Groete,
    Angus

  • Beste Hannes,
    So, jy is ook een van daai hensoppers. Dit is heeltemal onmoontlik om Engels uit Afrikaans te hou. Die geografie laat dit nie toe nie. As Engelse woorde in Afrikaans veroorsaak dat Afrikaans dan 'n swak taal is, soos jy beweer, dan was Afrikaans van meet af aan al 'n swak taal, met al die tale wat 17de eeuse Nederlands so verswak het tot Afrikaans.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top