Fritz Steyn (1913–1986)

  • 1

Gebore en getoë

Frederik Simon Steyn is op 14 Junie 1913 op Wakkerstroom in die destydse Transvaal (vandag Gauteng) gebore. Dit is ook waar hy grootgeword het. Sy vader het gestam uit die Steyns van die Voortrekkers – sy oupa Johannes Christoffel het by Bloedrivier geveg en sy oupa Mocke aan moederskant het by Port Natal geveg. Sy name, Frederik Simon, is afkomstig van die oupa Mocke.

Sy vader was ’n staatsamptenaar in die departement van justisie wat nadat hy afgetree het, ’n prokureurskantoor op Wakkerstroom oopgemaak het. Sy moeder was Hester (Hettie) Steyn van Riversdal in die Suid-Kaap. Hulle het afgestam van die Steyns wat nie getrek het nie. Sy was, volgens Fritz Steyn “’n vroom, onkreukbare Afrikaner en goed geleer vir daardie tyd". Voor haar huwelik was sy onderhoof van La Rochelle Meisieskool in die Paarl. (Biografiese skets deur skrywer by NALN.)

Hy het aan NALN genoem dat Wakkerstroom "klein genoeg was om sy kinders soveel buitelewe as op ’n plaas te veroorloof, en ek het gretig daarvan gebruik gemaak".

In 1926 toe Fritz 13 jaar oud was, is hy na die Hoër Volkskool op Heidelberg in Gauteng waar hy in 1929 op sestienjarige ouderdom gematrikuleer het.

Verdere studie en werk

Fritz se ouers het in 1929 na Pretoria verhuis en hy is na sy skooljare na die Universiteit van Pretoria waar hy in die regte studeer het. In 1934 het hy as deeltydse student sy LLB-graad behaal. Hy het ’n baie belangrike rol in die studente-aangeleenthede aan die universiteit gespeel en was onder meer betrokke by die stigting van die Afrikaanse Nasionale Studentebond. Hy het in die hoofbestuur van die liggaam gedien tot ongeveer 1939.

In 1933, terwyl hy studeer het, het hy by die staatsdiens begin werk en in 1936 het hy ’n administratiewe betrekking aan die Universiteit van Pretoria aanvaar. In 1940 is hy deur die regering van JC Smuts in hegtenis geneem en vervolg. Ná die hofsaak het hy by Daan Malan en Jan van Wyk de Vries aangesluit en die prokureursfirma Van Wyk de Vries, Malan & Steyn gevorm.

In 1948 het Fritz Steyn die politiek betree toe hy as kandidaat teen Jan Hofmeyer gestaan het in die algemene parlementêre verkiesing. In 1953 het hy in die sterk Engelse en Sap-setels van Johannesburg en Noordrand teen Blaar Coetzee gestaan.

In 1953 het hy lid van die Provinsiale Raad vir Kemptonpark geword en in 1954 lid van die uitvoerende komitee vir paaie en plaaslike bestuur. Fritz Steyn het in 1958 by die Pretoriase balie aangesluit en lid van die Volksraad vir Kemptonpark geword. Hy is egter in 1965 uit die aktiewe politiek toe hy aangestel is as ambassadeur aan die EEG, België en Luxembourg. Hy was in België gesetel. In 1968 is hy as senior Consultus benoem en in 1969 het hy afgetree as ambassadeur.

Met sy aanstelling in 1969 as regter was daar heelwat mense in die regsberoep wat ongelukkig was oor sy aanstelling. Hulle het gemeen dat hy slegs ’n "nominale" advokaat was wat nooit as sodanig gepraktiseer het nie en dat hy te lank (ongeveer sestien jaar) uit die regsberoep was. Hy het sy pos as regter op 4 Augustus 1969 betree.

In 1974 was Fritz Steyn weer eens by ’n polemiek betrokke toe ’n prokureur van Rustenburg, Jaap Traut, beweer het dat Steyn betrokke was by onreëlmatighede in sekere kreefbelange by Paternoster aan die Weskus. Mnr Traut het twee telegramme aan twee Sondagkoerante, asook aan die Prokureurs-Generaal van Transvaal en Kaapland gestuur waarin die beweringe vervat is. ’n Kommissie van ondersoek het egter gevind dat geeneen van die beweringe korrek was nie.

Vanaf 1932 het Fritz Steyn ’n belangstelling in jag begin toon en sedert 1932 het hy gereeld Laeveld toe gegaan om te gaan jag. In 1934 het hy daar vir hom ’n plaas gekoop en deeltyds begin boer.

In 1938 is Fritz Steyn getroud met Christina Helena (Christa) Muller, dogter van generaal Chris H Muller en twee seuns en ’n dogter is uit die huwelik gebore. Hulle is op 15 Maart 1970 geskei waarna hy met Margaret getroud is. Twee kinders is uit hierdie huwelik gebore.

Fritz Steyn het in 1932 begin kortverhale skryf. Hy het gou sukses behaal toe sy kortverhaal "Die laaste passasier" die eerste prys in ’n wedstryd van die Pretoriase Kunsvereniging verower het. Sy verhale is hoofsaaklik in Die Vaderland en Die Huisgenoot gepubliseer. ’n Vervolgverhaal uit sy pen, Aasvoëls, wat die Rebellie as onderwerp gehad het, het in Die Vaderland verskyn.  Aan die einde van die 1930's het hy vir Anna Neethling-Pohl ontmoet en met hierdie vriendskap as aansporing het hy hom begin toespits op die skryf van dramas.

Die gevolg hiervan was die publikasie van drie dramas Grond (1938), Die wildsboudjie (1941) en Vername mense (1951). In Grond word daar gefokus op die Afrikaner en sy plig om die tradisies van die verlede na te kom, asook om die belangrikheid van die lewe op die platteland te bewaar. Die seun hou nie van boer nie en word onderwyser, maar belowe tog sy pa dat die plaas in die familie sal bly. Hy vertel nie vir sy kinders hoe hy werklik oor die plaas voel nie. Hulle wil ook nie boer nie, maar word deur hulle pa gedwing om die plaas vir die familie behoue te laat bly. Die uiteinde is dat hulle as gevolg van ’n haelstorm en verbandlenings verplig is om die plaas te verlaat.

Merwe Scholtz het in Oosterlig (27 Augustus 1987) geskryf dat Die wildsboudjie Fritz Steyn se beste "literêre prestasie" was. Hy het dit ook beskou as een van die enkele handjie vol top komedies in die Afrikaanse toneelliteratuur.

Hy het voortgegaan: "Maar hierdie blyspel was dadelik iets meer as bloot die goeie stuk werk wat Steyn in opdrag van Pretoria se Volksteater geskryf het. Die wildsboudjie, die uiters geslaagde opvoering (mede onder leiding van Anna Neethling-Pohl) wat die stampvol Pretoriussaaltjie drie Novemberaande in die oorlogsjaar 1940 uit sy nate laat bars het, was duidelik iets meer. Dit was ’n soort betuiging; ’n manifes, ’n hef-aan – net soos byvoorbeeld die stigting destyds, in Kaapstad, deur Van Wyk Louw en sy strydgenote, van die Vereniging van die Vrye Boek."

Die wildsboudjie handel oor die konflik tussen die reg en die boeregemeenskap oor die reg om wild te jag. So het dit gebeur dat die ryk boer, Abel Potgieter, woedend geword het toe hy uitvind dat ’n rooibok op sy plaas geskiet is. Sy suspisies is verder aangejaag toe hy verder verneem dat sy buurman, Sarel Plessis, wie se dogter verloof is aan Potgieter se dogter, ’n rooibokboudjie aan dominee Gompel en sy niggie Elsa vir middagete gaan voorsit. Dit alles kan net lei tot een misverstand op ’n ander. Pieter Fourie was die regisseur.

Daarna is Die wildsboudjie eers weer in die 1980's op die planke gebring en Scholtz het gemeen dat dit te wyte kon gewees het dat die NTO hulle eie skrywers gehad het wie se stukke opgevoer moes word. Ook sou André Huguenet homself té waardig geag het om die rol van die bywoner Doors, die sterkste karakter in Die wildsboudjie, te vertolk. Dit was Pieter Fourie wat in 1985 toestemming gekry het om Die wildsboudjie weer op die planke te bring. Die eerste vertoning is in 1985 deur Kruik opgevoer.

In 1986 is Die wildsboudjie deur ’n geselskap met die naam van Die Bywoners (Elma Potgieter en Schalk Jacobsz se onafhanklike toneelgeselskap) in die Sturrock-saal in Johannesburg opgevoer. En Fanie Olivier skryf in Rapport van 10 Augustus 1986 dat niks so lekker werk as ’n klugtige komedie wat goed gespeel word nie. Cobus Rossouw het die rol van Doors Visagie vertolk, met Schalk Jacobsz as Abel Potgieter en Ernst Eloff as die buurman Sarel Plessis. Paul Malherbe het in sy oorspeling van die dominee die gehoor laat skaterlag.

"Vir plesiersoekers is Die wildsboudjie net die ding vir ’n aand uit. Vir mense wat die toneel lief het, is dit ’n kans om ensemble-spel en vertolkings te sien wat nie sommer maklik weer op die Afrikaanse verhoog gaan opduik nie."

Dit is weer in 1987 in Port Elizabeth opgevoer onder regie van Gerrit Swanepoel.

Steyn se volgende drama was Vername mense wat beskou kan word as ’n satire op belangrike stedelike Afrikaners. Dit is in 1946 die eerste maal opgevoer. Die stuk speel hom af rondom Org Moolman wat onwettige diamante in sy besit het en in vrees lewe dat die polisie hom sal vang. Ook is hy in ’n verhouding betrokke met sy vriend, Bartel Jonker, se vrou.

Die resensent (R) van Ekstra: byvoegsel tot Die Vaderland van 10 November 1951 was van mening dat Vername mense nie ’n vooruitgang is op Steyn se "tegniek en dramatiese vermoë" nie. Sommige situasies word lomp hanteer en die einde loop amper op ’n antiklimaks uit.

Steyn het ook Hulle sien die kruis geskryf wat nooit gepubliseer is nie. Dit is in opdrag vir die Hugenotefees van 1939 geskryf en is in daardie jaar deur die Volksteater opgevoer.

1941 was ’n redelike vrugbare jaar wat skryfwerk vir Fritz Steyn betref. Naas Die wildsboudjie word Die penkopkommando en Die laaste passasier: verhale ook uitgegee. Die penkopkommando het as vervolgverhaal in Die Huisgenoot verskyn en EV het geskryf dat dit baie lekker is om die gewilde verhaal in boekvorm te kan besit (Transvaler 29 Oktober 1941). Die gebeure speel af rondom die Tweede Vryheidsoorlog en die verteltrant is baie natuurlik en bereik op plekke skitterende hoogtes.

EV was in dieselfde koerant ook vol lof vir die verhale wat in Die laaste passasier opgeneem is. Meeste van die verhale was pakkend en baie van die verhale het ’n onverwagte uiteinde gehad. Slegs die verhaal, "Die magistraat", was vir EV nie oortuigend nie.

In 1948 verskyn Die verste blou berge en weer wend Steyn hom tot die Suid-Afrikaanse geskiedenis om ’n lekker avontuurverhaal vir die jeug en volwassenes te vertel. Dit is gesitueer in die tyd van die Sekoekoeni-oorlog en vertel die verhaal van Dirk Viljoen wat na die Oos-Transvaal te perd reis om sy oorlede vader se plaas in besit te gaan neem.

Die resensent in Die Taalgenoot van Oktober 1948 meen dat die boek "vol intense spanning" is en dat dit getuig "van ’n uitstekende kennis van die veld en van die leefwyse van die pionierbevolking, asook van die romantiek van die voorposbeskawing".

In Die Voorligter van Maart 1949 het die resensent Die verste blou berge hoog aangeprys: "Hoewel hierdie boek geensins ’n godsdienstige karakter dra nie, vertolk dit op simpatieke wyse en met diepdeurvoelde meelewing die karakter van die stoere boerevolk van ’n honderd jaar gelede. Van al die geskiedkundige romans wat oor ons eie Transvaalse verlede handel, is hierdie verhaal van Fritz Steyn myns insiens die aangrypendste. Hy is ’n goeie verteller en weet hoe om die leser enduit te boei."

Nasionale Boekhandel publiseer in 1960 Die wêreld wat was wat ’n "getuienis is van Steyn se blywende en hartstogtelike liefde vir die Transvaalse Laeveld", het WEG Louw in Die Burger van 26 Augustus 1960 geskryf.

Louw het voortgegaan: "In die boek, wat sober, maar met groot innigheid en selfs iets van ’n nostalgiese verlange geskryf is, het die skrywer alles wat hom ter ore gekom het van ’n besondere hoek van die Laeveld, of wat hy self as jong man daar ondervind het, opgeteken – jagverhale, stories van swaarkry en menslike ontbering, grappige insidente, ontroerende kykies in die lewe van die eerste intrekkers van daardie wilde geweste, en alles gesien teen die landskap van daardie strook (...).

"Dis nie ’n boek wat ’n mens haastig moet lees nie. Die skrywer se rustige, maar terselfdertyd lewendige verteltrant, sy aandag aan klein besonderhede van die landskap, sy opmerksame weergawe van die gedrag van mense, maak dit bowenal ’n boek vir ’n lekker ontspanne naweek.

"’n Roman is dit nie. Ook nie ’n versameling kortverhale nie. Dis ’n boek oor sý wêreld, wat algaande die één indruk die ander laat inprent, die één opmerking die ander laat versterk en bevestig. (...) Wat my in dié boek besonderlik opgeval het, is die suiwer en gespierde Afrikaans, sonder opsmuk, maar met ’n skerpsinnige aandag vir detail."

Fritz Steyn se laaste boek voor sy afsterwe in 1986 was Liefde en oorlog wat in 1985 deur Human & Rousseau gepubliseer is. Elize Botha het in Rapport (27 April 1986) geskryf dat dit gelees kan word as ’n liefdesverhaal, ’n avontuurroman en ook as ’n verhaal van die Anglo-Boereoorlog. Vir haar was dit lewendig en oortuigend vertel asof dit verslae is deur ooggetuies en asof oorgelewerde belewenisse die bronne vir die boek kon gewees het.

Botha het voortgegaan: "Trouens, so sterk is die historiese komponent van die roman, dat die leser eintlik met ’n landkaart byderhand die oorlogsgebeure behoort te volg. Dit is die leerryke kant van die boek, dat die vroeëre gevegte aan die oosfront, later die Transvaalse Hoëveld, feitlik 'opgevoer' word, met ’n baie duidelike, stewige historiese oriëntasie binne die raamwerk van die verhaal."

Die verhaal word vertel uit die oogpunt van Gaaf Nel, wat volgens Elize Botha in meer as een opsig die konvensionele held van ’n roman is. Sy noemnaam weerspieël ook sy persoonlikheidstrekke – heldhaftig, dapper en ordentlik. Tog slaag Fritz Steyn daarin om hom as ’n interessante karakter te teken. Hy is nie jou normale boerseun van daardie jare nie – hy was na Nederland om in die regte te gaan studeer en bring dus ’n Europese perspektief saam met sy "onkreukbare vaderlandsliefde" terug.

"Deur die weergawe van sy gesprekke met mense van verskillende gesindheid word ’n verbasend objektiewe, genuanseerde beeld van die oorlogvoerende Boere opgebou waarin sentiment en fantasie heeltemal teruggedring word."

Die liefdesverhaal van Gaaf en Linda verskaf die romantiek en sentiment in Liefde en oorlog. Hy het vir haar lief geword nog voor hy na Nederland is alhoewel sy toe alreeds aan iemand anders verloof was. Die oorlog was so halfpad aan die gang toe loop hulle mekaar toevallig weer raak en spandeer hulle ’n "idillies-romantiese tussenspel" in die Oos-Transvaal. Botha het geskryf: "Die sprokiesagtige hiervan word heel goed 'veranker' deur Steyn se onteenseglike vertroudheid met die fisiese wêreld waarin hy sy minnepaar plaas en sy vermoë om dit in die beskrywing in te werk."

Die uiteinde van hulle verhouding is dat Gaaf vir Linda terugvat na haar gesin. Die verhaal word dan liewer ’n verhaal van "liefde en plig" as een van "liefde en oorlog". En, het Botha voortgegaan, "’n mens sou kon sê dat die geestesgeskiedenis van Gaaf Nel uiteindelik hoofsaak hier vorm: Hoe hy, die individualistiese uitsonderlike, uiteindelik daartoe gebring is om die juk van plig op te neem."

DJ Opperman het in die 1940's geskryf dat daar ’n "dartelende lewenslustigheid" in Steyn se werk is en dit het nie met die skryf van Liefde en oorlog verdwyn nie. "Dit is getemper deur ’n ryp nugterheid, waar dit op die weergawe van historiese sake en die insig in menslike dryfvere kom. Dis goed dat hy weer ’n boek geskryf het," was Elize Botha se bevinding.

In Volksblad van 29 Junie 1985 was Anna van Zyl nie heeltemal so komplimenterend nie. Sy kon Liefde en oorlog glad nie klaar lees nie. Steyn se argaïese styl het haar versmoor. Ook was sy nie tevrede met die taalhantering (en sy verskaf enkele voorbeelde uit die teks). "Die storie sleep saai voort met Boere wat rondswerf, hier en daar, doelloos, asof die Tweede Vryheidsoorlog so ’n soort losse uitkampery was, en die liefdesafdeling het dor-vaag gebly so ver ek gelees het. ’n Mens wonder net wat uitgewers beoog met so ’n publikasie."

Van Fritz Steyn se werke is in bloemlesings opgeneem: Hennie Aucamp neem ’n fragment uit Die wêreld wat was op in die versamelbundel Wys my waar is Timboektoe en Koos Human doen dieselfde in Willekeur. Die skets “Yindene” word opgeneem in die versamelbundel Flitse.

Fritz Steyn is op 10 Oktober 1986 aan hartversaking oorlede. Hy en sy gesin was op pad na Bryanston nadat hulle die skoolvakansie op ’n plaas naby Graskop in die Laeveld gekuier het. Hy het in die motor siek geword. Hy het sy vrou, Margaret, en vyf kinders agtergelaat. Hy is uit die NG Kerk Bryanston begrawe en is in Rebeccastraat se begraafplaas in Pretoria ter ruste gelê.

Die Vaderland (13 Oktober 1986) het as volg aan Fritz Steyn hulde betuig: "Met die oorlye van regter Fritz Steyn het die Afrikaanse samelewing ’n kleurryke en veelsydige figuur verloor. Wyle regter Steyn het hom op talle terreine onderskei – in die letterkunde en die politiek, in kultuurkringe en die regswese. Hy was ’n selfstandige denker en sy sienings was soms polemies. Die polemiese het hy met ’n besondere humorsin getemper. Van die humorsin getuig sy gewilde stuk Die wildsboudjie. Langs hierdie weg word meegevoel met sy naasbestaandes betuig."

Publikasies

Publikasie

Grond: ’n drama in drie bedrywe

Publikasiedatum

  • 1938
  • 1955
  • 1957
  • 1960

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Pretoria: Die Volksteater Vereniging
  • Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die penkopkommando

Publikasiedatum

  • 1941
  • 1955
  • 1959
  • 1960

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die laaste passasier: verhale

Publikasiedatum

1941

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die wildsboudjie

Publikasiedatum

  • 1941
  • 1953
  • 1955
  • 1957
  • 1959
  • 1974

ISBN

0628005466 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Voortrekkerpers

Literêre vorm

Komedie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Drie man sweet

Publikasiedatum

1944

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: Publicité

Literêre vorm

roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ons bou ’n stad

Publikasiedatum

1945

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Unie-Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die bron van ons ellende

Publikasiedatum

1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Reddingsdaadbond

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die verste blou berge

Publikasiedatum

1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vername mense

Publikasiedatum

  • 1951
  • 1958

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die lewe is ’n speeltoneel. Saam met HA Fagan en PWS Schumann

Publikasiedatum

1952

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die wêreld wat was

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Liefde en oorlog

Publikasiedatum

1985

ISBN

0798118148 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Fritz Steyn op die internet beskikbaar:

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Magdaleen du Toit

    Twee klein foute:
    1. Wakkerstroom is geleë in die ooste van Mpumalanga, nie in Gauteng nie. Dit lê feitlik op die grens tussen Mpumalanga en KZN (vgl die oupas wat by Bloedrivier en Port Natal geveg het).
    2. Jan Hofmeyr, nie Hofmeyer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top