Franschhoek Uncorked: 'n Besoek aan Four Paws

  • 1

Op pad Franschhoek toe, so 800 meter ná La Motte, kort na die bruin padpredikant wat sê Four Paws Winery, draai die Robertsvleipad na regs. As jy die paadjie se kronkel volg, óór die eenrigtingbrug, kom jy by ’n bordjie wat jou verder na Four Paws beduie. So pretensieloos soos die pad en rigtingwysers, so pretensieloos en aards is die wynmaker, Gerda Willers, wat jou verwelkom met haar drie honde en twee katte.

Die kelder is dié van die eertydse La Vigne-wyn – klein en knus en met die subtiele boeket wat wyne wat in vate lê en verouder. Gerda se wyne weerspieël haar eie hart-likheid. Sy is ’n hand-op-die-wynmaakproses-vrou. Elke wyn word met individuele aandag versorg – van die druif tot by die gebottelde produk.

Die afdraai is allesins die moeite werd, soos elkeen wat al ’n besoek aan hierdie kleiner, minder bekende kelder gebring het, kan getuig.

Vir die sesde Uncorked-fees het Gerda, met die hulp van haar assistent, Anne Jakubiec, en koskokkedoor Renette Vosloo, ’n 20-sitplek lang tafel in die kelder gedek waar delikate cuisine met weergalose oesjare kon paar.

Gerda en Renette se kos-en-wyn-paring het soos volg daar uitgesien:

’n Amuse-bouche doen wat die naam suggereer – die “amuseer” die palet en prikkel die eetlus. As amuse-bouche het Renette ’n snoephappie op ’n stokkie bedien: tamatieteksture bestaande uit bokkaaskoppies, tamatie-espresso en tamatietert. Die wyn hierby was Four Paws se 2014 droë rosé met ’n aarbei- en granaatkarakter.

Die voorgereg was ’n heel soutgebakte forel uit die Franschhoek-vallei, voorgesit met ’n pikante hollandaisesous en vinkel-blomkool-rösti. Die wyn wat perfek hierby gepas het, was die 2014-versnit van chenin blanc, sauvignon blanc en sémillon – ’n vol wyn met soet blomgeure en tropiese vrug en baie gepas genoem Calico, na ’n kat met drie kleure.

Die hoofgereg was plomp vryloophoenders bedek met chaud-froid, sout-lamsribbetjie, heelgebakte pampoen met rys gevul, en jong groente met olyfolie. Hiermee saam het Gerda haar 2012-shiraz bedien: ’n volronde rooiwyn met viooltjie-, witpeper- en melksjokoladegeure.

Saam met die nagereg – ’n individuele malvapoeding bedien in ’n rooibosberookte glaskoepel met geure van soutkaramel en gebrande lemoen – is die Michelangelo-bekroonde dessertwyn Picatso voorgesit. Picatso is ’n natuurlike soetwyn, gemaak van gedroogde viognierdruiwe, met die karakter van gedroogde steenvrug en heuning.

Deur die loop van Saterdag en Sondag kon besoekers kom wyn proe, madame Fromage se verskillende kase beproef, Renette se kulinêre kuns verken terwyl hulle na lewende musiek luister, en deelneem aan ’n kompetisie om ’n etiket vir die nuwe rooiwynversnit, Vincent van Dogh, te ontwerp. Kunstenaar Lötter de Jager se werke is uitgestal en te koop aangebied.

Four Paws maak aanstaande jaar weer so. Moet dit nie misloop nie!

 

  • 1

Kommentaar

  • Die besoek aan Four Paws was vir mij die hoogtepunt van Franschhoek uncorked! Great wines, great company, no pretentions and real love for making a good product! Thanks, Gerda and crew.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top