Fotoblad: Swellendam verwelkom die rooskoningin

  • 0

rose1

Dit is min dat ’n mens op reuk die lokaal van ’n boekbekendstelling kan kry, maar dit het inderdaad Dinsdagmiddag 27 Oktober 2015 gebeur. Die bekendstelling was digby die bekende Drostdy in Swellendam, maar ek wis nie presies waar nie.

rose2

Toe ek naby kom, toe weet ek. My neus het my gelei. Swellendam is ’n beeldskone dorp, een waarby ons heeltemal te maklik gewoon verbyry op die N2.

rose3

Die mense is vriendelik en die dorp is ’n lus vir die oog. Wat meer is, die mense gee om. Toe die plaaslike leeskring hoor Nan gaan ’n boek skryf, wou hulle opsluit vir haar nooi om te kom praat. Daardie belofte is gestand gedoen en op 27 Oktober was die saaltjie langs die museum behoorlik gepak. Die leeskring het ontsettend baie moeite gedoen en verskeie lede van die ATKV-tak op Swellendam het ook opgedaag.

rose4

Nan se uitgewer, LAPA, het bygedra tot die koste van die verversings, maar die leeskringlede het dit uiteindelik alles self voorberei. Leopard’s Leap het oudergewoonte die wyn geborg.

rose5

Nan Steyn se boek, Rose – die Suid-Afrikaanse groeigids vir al vier seisoene, is meer as ’n gids om rose te kweek. Dit kyk na alle aspekte van hoe ’n roos groei. Elke afdeling van roosverbouing word volledig bespreek, met maklike, praktiese raad en wenke. Daar word ook op die moontlike slaggate gewys.

rose6

Die natuur is vir Nan baie belangrik en daarom help die boek ’n tuinier om omgewingsvriendelik te wees.

rose7

Om dus te beweer dat Nan passievol is oor rose, sou ’n totale understatement wees.

rose8

Dit sou dan ook die rede wees waarom die hele saal vol rose was.

rose9

Bessie Bester was die gasvrou vir die aand en het ook aan Nan die vrae gestel.

rose10

Franci Swart, ’n veearts, was verantwoordelik vir die ongelooflik mooi foto’s wat in die boek opgeneem is. Sy het ook die aand se verrigtinge bygewoon.

rose11

Nan se man, Piet, help graag in die tuin, maar hy bly op die agtergrond. By die boekbekendstelling het hy dit sy taak gemaak om die gaste se glasies vol Leopard’s Leap te hou.

rose12

Dit was ’n besonderse geleentheid om ’n besonderse boek te vier.

rose13

Die boek is ook in Engels beskikbaar, as Roses – the seasonal guide to growing roses in South Africa, ook deur LAPA Uitgewers uitgegee.

rose14

Nan Steyn is ’n lid van die Wes-Kaapse Roosvereniging en daarmee ook ’n lid van die Suid-Afrikaanse Roosvereniging (ROSA). Sy was in die verlede ook ’n lid van die American Rose Society (ARS).


Teks en foto’s: Izak de Vries

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top