Fokusberoep: Entrepreneur

  • 8

Wil jy ’n entrepeneur word en jou eie onderneming begin? Twané Gouws vertel wat dit beteken.

1. Hallo, Twané. Presies wat is die NSBC? Waarmee is julle daar besig?

Die nasionale kamer vir klein sake, of NSBC, is een van die grootste organisasies in ons bedryf. Die NSBC het in 2008 tot stand gekom en is as ’n niewinsgewende organisasie geregistreer.

Die NSBC se ledetal het binne 48 maande tot 48 000 gegroei.

Ons luister na wat ons lede van ons wil hê en beplan al die voordele volgens deelglike en volgehoue navorsing. Die NSBC bied daardie ekstra ondersteuning en hulp vir ’n onderneming. Ons is daar om jou te help om jou eie besigheid te begin en te laat groei. Deur al ons funksies, projekte en publikasies kan jy belangrike inligting bekom en jou met die regte mense omring en die regte oplossings vir jou onderneming kry.

2. Watter projekte of werksessies bied julle vir sake-eienaars en voornemende entrepreneurs aan?

Ons het verlede jaar “Small Business Friday” saam met Nedbank begin. Julle sou al die advertensieborde op straat gesien het. Small Business Friday val op die eerste Vrydag van September. Die fokus is om elke keer as jy in jou motor klim om winkel toe te gaan “klein” te dink en pleks van by die groot korporatiewe onderneming te stop, eerder na jou klein onderneming op die hoek te gaan.

Die “My Business Expo” in Johannesburg, Kaapstad, Durban en Port Elizabeth – www.mybizexpo.co.za

“Think Beyond a Job Create Your Own – National Seminars” – www.thinkbeyondajob.co.za

“Buzz Party” – www.buzzparty.co.za

“The My Business Mag” – ’n weeklike publikasie wat per e-pos uitgestuur word. Dit is vol inligting, geleenthede en funksies vir jou en jou onderneming.

3. Watter voordele ontvang ondernemings wat as lede van die NSBC registreer?

As jy lid van die NSBC is, fokus ons daarop om jou te help om jou onderneming van die grond af te kry, jou met die regte mense en verskaffers te omring, jou van waardevolle inligting, inspirasie en motivering te voorsien en om jou koste tot die minimum te beperk. Daar is ook baie netwerkgeleenthede sodat jy jou kliëntedatabasis kan uitbou. Jy kan ook op ons webblad, www.nsbc.org.za, na al die voordele gaan kyk. Klein, middeslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s) kan gratis by ons aansluit.

4. Hoe gaan ’n mens te werk om ’n entrepreneur te word? Kan ’n mens daarvoor studeer of is dit bloot ’n geval van die regte idee op die regte tyd?

Geen kursus kan jou leer hoe om ’n entrepreneur te word nie. Jy is óf daarvoor bedoel óf nie. Ons sê altyd jy moet baie noukeurig daaroor gaan dink voor jy jou eie onderneming begin. Dit is harde werk. Baie mense dink dit is beter om jou eie baas te wees; dit klink baie romanties. Die waarheid is dat jy baie harder werk, baie meer ure moet insit en baie langer vat om suksesvol te wees.

As jy die besluit neem om wel jou eie onderneming te begin, is daar een geheim: Moet nooit opgee nie. Al misluk jy een, twee of drie keer, moet nooit opgee nie. ’n Entrepreneur gee nooit op nie.

5. Hoekom is dit so belangrik om klein ondernemings in Suid-Afrika te ontwikkel?

Klein ondernemings is die nuwe “groot besigheid”. Daar is meer as 1,2 miljoen KMMO’s in Suid-Afika. As elke klein onderneming net een ekstra werknemer aanstel, word meer as 1 miljoen werkgeleenthede geskep.

6. Watter raad het jy vir leerders wat graag eendag hulle eie ondernemings wil bestuur?

Spandeer tyd saam met ’n entrepreneur. Maak seker dat jy en jou familie seker is van jou keuses en die besigheid wat jy wil begin. Vat kanse, bou jou kennis op, lees baie, neem verantwoordelikheid as dinge verkeerd gaan, moet nooit ander mense en situasies blameer nie en moet nooit tou opgooi nie. Moet nooit nee vat vir ’n antwoord nie en raak ontslae van negatiewe mense in jou lewe. Hulle sal jou net afbring.

Beplan jou onderneming, beplan wat jy wil doen, , beplan waarheen jy wil gaan met die besigheid en hoe jy daarby gaan uitkom. Dit is soos om jou gesin met vakansie te neem en al die bagasie in te laai, maar geen idee te hê waarheen jy gaan nie. Jy beplan jou vakansie deeglik. Beplan jou onderneming net so.

Jy moet hou van wat jy doen. As jy nie hou van wat jy doen nie, sal jy nooit suksesvol wees nie. Maak ook seker dat jou kliënte hou van wat jy doen. Jy kan dink dat kliënte hou van wat jy doen of aanbied, maar vra hulle wat hulle van jou onderneming dink. Dit sal jou ook help om van rigting te verander indien daar ’n probleem is.

 7. Oor watter karaktertrekke moet ’n mens beskik om ’n entrepreneur te word?

Deursettingsvermoë. Glo in jouself en wat jy wil bereik. As jy in jouself glo, sal alles in plek val. Wees gelukkig, wees vrolik en wees aangenaam. Een van die grootste redes waarom mense by jou sal koop, is omdat hulle van jou hou.

8. Om vir jouself te werk, klink baie lekker, en baie mense dink dat jy heeldag in jou slaapklere kan lê en Vampire Diaries kyk as jy baas van die plaas is. Wat is die werklike risiko’s en uitdagings waarvan voornemende sake-eienaars moet weet?

Die waarheid is dat jy alles kan verloor: jou onderneming, jou gesin, jou vriende, jou bates. Soos voorheen genoem is dit harde werk, maar as jy die sukseswenke volg en nooit opgee nie, sal jy uitkom waar jy wil wees. Moenie bang wees om te misluk nie. Dit is die ondervinding wat tel, en jou vermoë om op te staan en weer te probeer.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 8

Kommentaar

  • Alta de Bruin

    Ek het 10 gastehuise binne 3 jr op die been gebring. Ons het self al ons werkers opgelei in die bestuur vd gastehuise en om voedsel voor te berei. Het tans so 25 persone in diens. Dis 'n baie gesonde kontantbesigheid wat ons met 'n paar geleende meubels begin het. Ons is egter op sekere tye baie stil. Omdat ons op die platteland is het ons 'n tariefplaffon. Ons wil graag die personeel verdere opleiding verskaf sodat ons inkomste kan kry om sodoende nie personeel af te betaal nie. Wie kan ons daarmee help asb?

  • Johan van Tonder

    Goeie dag, Ek het 'n patent wat geregistreer is en marknavorsing gedoen deur Prof M Cant wat sê dat die produk sal werk. Patent Ease Plate Plastiek wil dit aan iemand gee om oor te vat om die produk op die mark te kry (al wat ek van die patent wil hê is 'n deel van verkope).
    Hoop julle kan my help.
    Dankie - Johan van Tonder

  • Goeie naand, ek is 'n 20 jarige jong dame van 'n klein dorpie en wil graag eendag my eie onderneming bestuur. Ek besef dat om 'n entrepreneur te word harde werk vereis, maar ek is gewillig en vol passie. Ek wil kennis opbou maar weet nie waar nie, kan iemand my asseblief sê waar ek kan aansoek doen vir sulke kursusse of selfs watter instansie die beter keuse sal wees. Sal dit baie waardeer, mooi bly. Die Here seën u 🙂

  • Hannes Venter

    Ek wil nie ’n besigheid begin nie, ek wil werk skep vir die gemeenskap, want die gemeenskap het nie geld om enige iemand te ondersteun nie. My bedoeling is om ’n skakel in ’n bestaande produksie proses van verskillende ondernemings te word. Gee vir my ’n produk ons rond dit af of maak dit klaar, sit dit aanmekaar of maak dit gereed vir die volgende proses, gee dit terug en die mense wat dit gedoen het word vergoed vir hulle werk.
    Die bedoeling is om die geleedheid daar te stel vir elke persoon wat wil om dan net te kom aanmeld en te werk vir jouself en jy word betaal vir wat jy gedoen het vir die dag.
    Kan so iets werk? Wat van die arbeidswette? Waar begin ek om kontakte op te bou?
    Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top