Flora se geheime taal deur Madine Swart: ’n onderhoud

  • 2

Flora se geheime taal – Stories oor Suider-Afrikaanse plante
Madine Swart

Uitgewer: Strandveld Boeke
ISBN: 9780620723909

Flora se geheime taal – Stories oor Suider-Afrikaanse plante is ’n boek wat deur die sielkundige Madine Swart nagevors en geskryf is. Van die mooiste Afrikaanse volksname kom hierin voor. Herman Lategan het agter die blommegordyn gaan loer en met die skrywer gesels.

Vertel ons in ’n neutedop oor die boek en oor jouself.

Die boek is ’n nostalgiese reis deur die geskiedenis, volksname en simboliese betekenisse van ons inheemse plante. Dis ’n “navorsingsverslag” oor die emosionele waardes wat mense aan plante heg, maar sonder die swaar wetenskaplike taal en met ’n bietjie humor daarby.

Jy het op ’n plaas in die Strandveld grootgeword. Wat was daai plaas se naam en waarmee het julle geboer?

Die plaas se naam is Wiesdrift en dis blykbaar afgelei van die Nederlandse “wies” vir “was”, want in die outyd is die skape by die drif gewas. ’n Drif is ’n vlak plek in ’n rivier wat as deurgang vir diere en mense gebruik word. Daar word vandag nog geboer met skape, beeste (vir vleis sowel as melk), en ook gesaai.

Hoe was jou kinderjare op die plaas? En hoe sou jy die Strandveld beskryf aan mense wat nog nooit daar was nie?

Ek het as kind baie tyd in die veld deurgebring, met klei gespeel by die rivier, saam met my ma veldblomme gepluk en dit geniet om saam met my pa in die bakkie rond te ry. Die Strandveld is ’n ongerepte streek aan die voet van Afrika: die natuurskoon en die mense wat daar woon deel hierdie eienskap. Die woord “Poelak” word dikwels in ’n negatiewe konteks gebruik, maar is ’n toepaslike beskrywing vir hierdie area en sy inwoners: eenvoudig, onbedorwe en sonder aanstellerigheid. Ondanks boerderyaktiwiteite is daar nog heelwat natuurlike veld en die Nuwejaarsrivier kronkel deur vleilande na die see.

Jou naam – Madine? Hoekom nie Nadine nie?

Madine is ’n samestelling van my ma (Marilda), my pa (Dico) en my ouma (Josephine) se name. Ek is dankbaar vir my ouers se kreatiwiteit, en hou van my naam.

Jy het op Bredasdorp skoolgegaan, Stellenbosch studeer, toe is jy Kovsies toe om sielkunde te swot. En toe bly jy sommer vir nege jaar daar aan. In die Vrystaat. Waar in die Vrystaat en hoekom?

Ek het in Bloemfontein gebly en dit was ’n wonderlike tyd. In Bloemfontein kan jy binne 10 minute by teaters, flieks, goeie restaurante en al jou vriende uitkom. In die Vrystaat is mense meer op mekaar aangewese, en die platteland het ’n spesiale bekoring.

Die binneland was vir my baie goed – een van my gunsteling-aanhalings uit Etienne van Heerden se Kikoejoe: “In die Boland is die berge altyd om jou en jy is nooit sonder koestering nie ... Maar jy moet die vlakte kans gee. Hy gaan tydsaam met jou om. Hy gee oopte aan jou gemoed. Hy’t nie stem nie. Hy’t nie vrae nie. Hy’t nie antwoorde nie. Soos hy daar lyk, só maak hy vir jou ook. Allesverdurend.”

Ná nege jaar daar trek jy toe Strand toe, want jy het na die Kaap verlang. Waarna het jy verlang?

Die Strandveld en Kaap Agulhas. Die reuk van veldblomme en die see. My familie. Hulle het elke jaar vir Kersfees vir my ’n ander kunswerk met ’n Kaapse tema gegee, eers Tafelberg, toe kanolalande en so meer. Toe al my mure vol was, was dit tyd om te trek.

Jy is ’n sielkundige. Traumaberading is jou forté. Hoe het jou loopbaan juis in daardie rigting beweeg? En wat doen jy om aan die einde van ’n sessie of baie sessies sielkundig self te “decompress”, die druk te verlig? Dit moet tog emosioneel uitmergelend wees.

Dit was ’n natuurlike ontwikkeling weens die verwysings wat ek toenemend in die praktyk gekry het. Traumatiese ervarings bring dikwels trauma van vroeër na die oppervlak en selfs simptome soos verslawing hou meestal met onverwerkte trauma uit die kinderjare verband. As terapeut werk jy met die huidige krisis, maar daar is ook nou die moontlikheid vir herstel van vorige trauma. Ek probeer ook meer leer oor tradisionele genesing, want kliënte se ervaring van trauma hou dikwels verband met hul verhouding met die voorvaders wat reggestel moet word.

Ek dink dis belangrik om ’n passie of afleiding te hê weg van werk, soos die navorsing vir die boek byvoorbeeld. Een oggend ’n week wat net aan plante bestee word, bring ’n goeie balans, en deur my kop te vul met plantstories is goeie “decompression”. Gereelde jogaklasse en stap langs die see met my labrador help ook. Dis ook belangrik om self in terapie te wees, en supervisie te kry.

Hoe is dit dat jy in volksname van spesifiek plante begin belangstel het? Daar is mos insekte, diere, visse, kossoorte, almal met mooi outydse name. Hoekom plante?

Ek het nog altyd ’n liefde vir veldblomme van die Strandveld gehad. Nadat ek Vanessa Diffenbaugh se Language of flowers gelees het, was my plan om iets soortgelyks te probeer skryf met die bewaring van renosterveld as agtergrond. Ek het begin om al die plantname wat vir my mooi is, neer te skryf en het die stories wat ek oor simboliek gevind het, so geniet dat die roman nie verder gevorder het nie. Intussen het ek ontdek watter mooi volksname, stories en legendes daar oor insekte bestaan, en sal seker nie anders kan as om hulle neer te skryf nie.

Twee jaar gelede het jy begin werk as vrywilliger by die Botaniese Tuin in Stellenbosch. Hoe is dit dat jy juis daar beland het?

Die kurator van die tuin, Martin Smit, het hul biblioteek tot my beskikking gestel en ek het heelwat tyd daar spandeer. Ek het van die ander vrywilligers daar ontmoet en besluit ek wil ook graag deel wees van hierdie groep wat op ’n Dinsdag hul passie vir plante kom uitleef. Dit is vir my baie lekker om deur ou plantkundige woordeboeke te snuffel op soek na volksname en dit op die databasis by te voeg.

Dink jy jongmense stel nie meer belang in kleurvolle volksname nie en dat hulle gaan uitsterf? Argaïsmes word? Boeke soos hierdie gaan hulle uiteraard nog lewendig hou, maar is dit volhoubaar?

Terwyl daar skrywers, digters en liriekskrywers is wat nog volksname gebruik, is daar hoop. Ek het ’n paar jonger plantkundiges ontmoet wat die waarde van volksname erken en die name gebruik. Daar is ook amateurbotaniste en boere wat moeite doen om volksname lewend te hou, en ek vertrou dat hulle die passie na ’n volgende geslag sal oordra.

Op ’n praktiese vlak, hoe het jy te werk gegaan? Het jy oor ’n tydperk gaan sit en ’n sekere aantal woorde elke dag geskryf? Waar het jy dit geskryf? Hoe het jy dit met jou tyd by jou praktyk ingepas? En was daar tye toe jy voel nee wat, dis nou ’n klomp probleme en stres, ek het dit nie nodig nie, ek gaan alles in die drom gooi. Wat het jou laat aanhou?

Dinsdae was navorsingsdag, dan het ek in Kirstenbosch en Stellenbosch Botaniese Tuine gaan rondloop en alles wat ek kon vind oor die simboliek van plante neergeskryf in ’n notaboek. Ek het baie gelees, byvoorbeeld sommer ook in die tye wat ek wag by my dogter se dramaklas. In die vroeë oggendure was die beste tyd om te skryf, in die dakkamer van my huis. Die hoofstuk oor vroulike plantjagters is geskryf terwyl ons met vakansie op Agulhas was.

Daar was baie sulke tye, ja, veral toe die uitgewers wat ek genader het, laat weet het hulle publiseer nie die genre nie. Toe die redigeerder die eerste keer die teks terugstuur met al haar rooi merke en opmerkings was my moed omtrént in my skoene. Dit het my ’n rukkie geneem om dit as opbouende kritiek te sien. Die plantkundiges wat positief was oor die idee en die ondersteuning van my vriende het my laat deurdruk.

Die boek beslaan 208 bladsye. Vertel kortliks van die hoofstukke – met ander woorde, breek die boek soos ’n ryp granaat vir ons oop. Die titels wissel van “Flora Capensis gaan oorsee”, “Plantjagters” en “Beleefde botanie” tot “Poësie is ’n bloeiwyse” en “Die simboliese taal van flora”. Gee vir ons van jou hoogtepunte. Neem ons op ’n kort staptoer deur die boek.

Die eerste hoofstukke handel oor die geskiedenis van Suid-Afrikaanse plante – dit begin met baardsuikerbos wat in 1597 na Holland geneem is en so ’n beroering in Europa veroorsaak het dat plantjagters na die Kaap gestroom het. Dan volg die opteken van volksname en inheemse kennis deur hierdie plantjagters en besoekende botaniste. Daar is ’n hoofstuk oor die ervaringe van manlike plantjagters aan die Kaap, en dan volg die uitdagings van vroulike plantjagters. Plante wat gebruik word vir hofmaak, begrafnisrituele, beskerming en inisiasie word in die volgende hoofstukke beskryf. Daarna volg hoofstukke oor plante in kuns, en volksname in Afrikaanse poësie en musiek. ’n Beskrywing van my verhouding met die Strandveldse plante is ingesluit en die boek eindig met ’n hoofstuk oor die simboliese taal van plante, waarop ’n tabel met ’n seleksie van name en hul simboliese betekenisse volg.

As daar een boek is wat jy kan aanbeveel vir die aspirantbotanis wat so pas begin het om plante te ontdek, wat sou dit wees?

Ernst van Jaarsveld se Waterwise Gardening in South Africa and Namibia. Die 2010-uitgawe is net in Engels beskikbaar, maar sluit Afrikaanse volksname in. Dis ook toepaslik vir hoe ons moet tuinmaak in hierdie droogtegeteisterde tye.

Hoekom moet mense jou boek koop?

Plante het my baie geleer oor ons land se mense, en ook nuuskierig gemaak om meer te verstaan van inheemse kennis en tradisies. Die skryf van die boek het my gehelp om die plantkoninkryk oop te maak, en ek hoop dat dit vir die leser die begin van ’n wonderlike ontdekkingsreis sal wees. Dit is vir mense wat bereid is om fyn te kyk en te luister oor wat die natuur vir ons wil sê.

Kry ’n mens nog sewejaartjies? Die oumense soos my ouma het dit altyd gehad. Ek sien hulle nie meer nie. Ek wonder hoekom hulle so lief was vir daai blomme.

Jou ouma was heel moontlik lief daarvoor omdat dit so lank gehou het – tot sewe jaar, al was die kleur later nie meer so helder nie as gevolg van stof. ’n Mens kry nog sewejaartjies ja, veral in die Strandveld rondom die dorpie Elim. Matrassewejaartjies is vroeër deur die Elimmers gepluk en na Europa uitgevoer om matrasse mee te stop.

Wat was jou onbewuste motivering vir die skryf van die boek?

Die skryf oor plante en veral die omgewing waar ek grootgeword het, was ’n soort helingsproses. Eers met die terugkyk kan ek sien hoe ek afgesny was van Moeder Natuur en die Strandveldse veld toe ek in sub A koshuis toe gestuur is. Daar is iets van daardie vry, wilde en onbedorwe tye op die plaas wat ek wou terugvind. Ek het dit tog ’n groot mate gevind deur die blomme wat my soveel plesier verskaf het as kind te gaan herbesoek en te beskryf.

Wat lê nou voor?

Ek is betrokke by die projek om die stories van Piet van As opgeteken en gepubliseer te kry. Piet is ’n Strandvelder in murg en been wat jare reeds die “ou-ou stories uit die ou mense kry om flenters onthoue saam te gooi”.

Dan werk ek ook aan ’n aanbieding vir ’n kongres oor Jungiaanse sielkunde in Julie 2017. Dis ’n uitdaging om die planttradisies met sielkunde te koppel, maar daar is heelwat te leer van inheemse kennis rondom veral inisiasierituele.

Gee asseblief vir ons ’n paar van jou eie geliefkoosde woorde.

Skaamgesiggie-suikerbos
Allerhande-gedagtes
Bergbruidjie
Waternooientjie
Deurmekaarbos
Moeder-skep-oppies
Adam-se-ribbe
Slaphoring-aalwyn
Truitjieroemenie
Witskollie-suikerbos
Vallende-sterre

Foto van Madine Swart: Marinda Louw Photography

  • 2

Kommentaar

  • Baie dankie vir hierdie sielvoedende onderhoud. Dis bemoedigend om te verneem van 'n boek oor so 'n belangrike onderwerp.

  • Magda Lambrechts

    Volkserfenis. 'n MOET as jy Trots-Suid-Afrikaans is. Koop sommer vir al jou familielede in verre lande met hartsverlange oor die ver van die huis!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top