fliekNET 2017/2018: hoogtepunte

  • 11

Dis tyd vir fliekNET!

fliekNET is vir ’n derde jaar terug! Nou is jou kans om ’n bietjie te “binge watch” aan al jou gunsteling Afrikaanse flieks – van toeka tot nou.

Wat is nou lekkerder as om in die vakansietyd met ’n bak springmielies op die bank voor die kassie neer te plak en in van jou gunsteling flieks te ontsnap? Vanaf 16 Desember 2017 tot 12 Januarie 2018 is fliekNET weer op DStv kanaal 198 te sien. Kykers kan uitsien na ’n propvol skedule en sal beslis elke dag ’n groot verskeidenheid Afrikaanse flieks kan sien.

Op Maandae kan kykers terugreis in tyd om al die tydlose flieks te geniet. Dinsdae is propvol flieks om die tieners gedurende die vakansietyd uit die moeilikheid uit te hou. Woensdae sorg weer vir liefdesverhale en romanse, terwyl diepsinnige Donderdae sal sorg vir ’n spul flieks om oor na te dink. Vrydae hou ons kykers op hulle tone met rillers, aksie en gruwelflieks.

Op Saterdae gaan daar ook ’n ekstra bederf vir die kleinspan wees en daarmee saam ’n ruskans vir al die ma’s en pa’s wat so hard grootgemaak het deur die jaar, want op Saterdagoggende rondom 10:00 sal fliekNET die kleiner kykers oorrompel met Khumba, Heidi, Die sneeukoningin en Maya die by.

DStv Catch Up Plus

Vir dié van julle wat nie tyd vir stilsit gaan hê hierdie vakansie nie, ondersoek gerus die opsie om jou dekodeerder aan die internet te koppel. DStv Premier-verbruikers wie se dekodeerders aan die internet gekoppel is, kry toegang tot DStv Catch Up Plus, waar al die fliekNET-flieks tot einde Februarie afgelaai en geniet kan word.

Klik hier om die dokument in PDF-formaat af te laai.

Op die spyskaart:


 

Tydlose Maandae

Paljas

Drama
25 Desember om 19:50 op fliekNET

’n Spoorwegwerker en sy gesin bly op ’n afgeleë dorpie in die Karoo. Hulle eenvoudige, dóg moeilike lewens verander drasties wanneer die sirkus hulle opwagting maak. Skielik kry hulle bestaan, ’n magiese kwaliteit en word alles in hulle lewens gelukkiger en duideliker.

Fiela se kind

Drama
1 Januarie om 19:50 op fliekNET

Fiela se kind vertel die pragtige verhaal van ’n bruin vrou se liefde vir haar wit optelkind. Fiela Komoetie en haar gesin word uitmekaar geskeur wanneer die magistraat haar “hanskind” wil wegneem en in sy regte ouers se sorg wil terugplaas.

Stuur groete aan Mannetjies Roux

Drama
8 Januarie om 18:10 op fliekNET

’n Tienermeisie se kuier by haar oom en tante in die Karoo verander in ’n ontdekkingsreis, waartydens sy moet uitvind wie sy werklik is. Drie besoekers verander haar lewe onherroeplik.


 

Jeugdige Dinsdae

Hollywood in my huis

Romantiese komedie
19 Desember om 19:50 op fliekNET

Dit is matriekafskeidtyd in 2004 en Jana van Tonder is geïnspireer deur Charlize Theron se Oscar. Sy besluit om haar matriekafskeid in haar eie Hollywood-glansgeleentheid te omskep.

Strikdas

Komedie
21 Desember om 16:20 op fliekNET

Willemien se lewe verander handomkeer wanneer sy vir Vossie, die grootste “nerd” op kampus, huis toe neem om haar pa en eks-kêrel ’n les te leer.

Jou Romeo

Romantiese komedie
2 Januarie om 20:30 op fliekNET

Twee gedetermineerde drama-entoesiaste gaan uit hulle pad uit om hulle Shakespeare droomproduksie ’n realiteit te maak; met ’n paar onverwagse nagevolge.

Bakgat! Tot die mag 3

Komedie
9 Januarie om 18:10 op fliekNET

Wimpie en sy verloofde, Katrien, emmigreer na Engeland, waar ’n rugbyklub vir hom ’n kontrak aangebied het. Hulle besef egter dat die lewe in Londen nie so “cool” is soos wat hulle gedink het nie.


 

Hartstog Woensdae

Vir die voëls

Romantiese komedie
20 Desember om 19:50 op fliekNET

’n Korrelkop rabbedoe, wat daarvan oortuig is dat onafhanklikheid die enigste vorm van vryheid is, word op alle vlakke uitgedaag wanneer die seun wat haar kleintyd geterg het, weer sy opwagting in haar lewe maak.

Leading lady

Romantiese komedie
27 Desember om 21:30 op fliekNET

’n Engelse aktrise oorreed ’n boer van Brandfort om haar te help voorberei vir ’n uitdagende rol in ’n Hollywood rolprent – dié van ’n Afrikaanse oorlogsheldin.

Pad na jou hart

Romanse
10 Januarie om 19:50 op fliekNET

Basson van Rensburg het vyf dae om by sy pa se begrafnisdiens in Kaapstad uit te kom, maar hy moet sekere take op sy reis eers voltooi voordat hy die suksesvolle familiebesigheid kan oorneem.

Mooirivier

Romantiese komedie
3 Januarie om 19:50 op fliekNET

Dié eerste ensemble-rolprent in Suid-Afrika volg die stories van agt paartjies tussen die ouderdomme van 10 en 70 wat elk op hulle eie avontuur van liefde gaan en uitvind wat die liefde nou eintlik beteken.


 

Diepsinnige Donderdae

Sink

Drama
21 Desember om 20:35 op fliekNET

’n Mosambiekse huiswerker moet moeilike besluite neem nadat haar dogtertjie tragies sterf terwyl haar een werkgewer toesig hou. Dinge word selfs verder gekompliseerd wanneer sy uitvind dat haar werkgewers hulle eerste kind verwag.

Noem my Skollie

Aksie/Drama
28 Desember om 22:15 op fliekNET

’n Jong man beland in ’n Kaapse tronk in die 1960’s. Hy gebruik sy talent as storieverteller om homself teen die bendes in die tronk te beskerm.

Ballade vir ’n enkeling

Romantiese drama
4 Januarie om 20:40 op fliekNET

Nadat ’n bekende Suid-Afrikaanse skrywer verdwyn, word ’n joernalis deur ambisie gemotiveer om dié skrywer se geheimsinnige geskiedenis aan die lig te bring.

Agter elke man

Drama
11 Januarie om 18:20 op fliekNET

’n Gevangene word op parool vrygelaat, maar het ’n obsessie om hom te wreek op die man wat verantwoordelik is vir sy straf. Dinge raak nog meer gekompliseerd wanneer daar ’n onverwagse moord plaasvind.


 

Vreeslike Vrydae

Wolwedans in die skemer

Riller
22 Desember om 19:50 op fliekNET

’n Jong vrou aanvaar ’n pos by die Hotel Njala. Op pad daarheen is sy in ’n frats motorongeluk en verloor sy haar geheue. Sy word ingetrek by die lewens van die familie wat dié vreemde hotel bestuur.

Die spook van Uniondale

Riller
29 Desember om 19:40 op fliekNET

’n Jong sakeman se naweekplanne verander drasties wanneer sy voertuig meganiese probleme nét buite Uniondale ontwikkel. Terwyl hy wag dat sy motor herstel word, leer hy van die spook van Uniondale.

My broer se bril

Riller/Misdaaddrama
5 Januarie om 21:30 op fliekNET

’n Hewige geveg tussen tweelingbroers, Adriaan en Paul van der Bijl, veroorsaak dat Adriaan blind agtergelaat word en Paul sy eie koers inslaan. Adriaan bly by sy siek pa agter en jare later ontstaan daar opnuut twis tussen die broers oor wie die familiefortuin sal erf.

Aanslag op Kariba

Aksie
12 Januarie om 21:40 op fliekNET

’n Bus vol toeriste word by die Karibadam in Zimbabwe ontvoer en in ’n kragsentrale saam met heelwat plofstof toegesluit. Net Kaptein Caprivi en sy manne kan hulle dalk red.


 

Kleinspan Saterdae

Khumba

Animasie
16 Desember om 10:30 op fliekNET

Khumba is ’n jong sebra wat blameer word vir die skielike droogte wat die land getref het. Hy span kragte saam met twee ongewone reismaats om ’n legendariese watergat op te spoor.

Heidi

Kinderliteratuur
23 Desember om 10:00 op fliekNET

Beleef allerlei avonture saam met Heidi, haar oupa en Peter in die berge. Kyk ook hoe die nare Juffrou Rottenmeier haar lewe omkrap wanneer sy begin skoolgaan.


 

Skaterlag Saterdae

Nommer asseblief

Komedie
30 Desember om 22:00 op fliekNET

Al die ou gesigte van dié populêre TV-reeks is weereens in hierdie bekende lekkerlag komedie te sien. Dit handel oor die De Waals en hul kleurvolle familie, vriende en mededingers in en om ’n dorpie in die Overberg.

Tolla is tops

Komedie
6 Januarie om 21:15 op fliekNET

Tolla van der Merwe probeer mense uitvang met sy wolhaarstories en sy slagoffers se reaksies word met versteekte kameras verfilm. Kom lag lekker saam met hierdie legendariese grapjas!


 

Dramatiese Sondae

Die windpomp

Drama
24 Desember om 18:50 op fliekNET

Henry beland as gevolg van omstandighede buite sy beheer by sy seniele, teruggetrokke oupa in ’n aftree-oord. Hy kom gou agter dat daar geheime skuil en dat een van dié geheime hom die liefde van sy lewe kan kos.

Lien se lankstaanskoene

Drama
17 Desember om 18:40 op fliekNET

Lien is die oudste kind in ’n disfunksionele gesin wat oornag brandarm geword het. Lien moet self plan maak en inspring om brood op die tafel te sit.

Faan se trein

Drama
7 Januarie om 21:20 op fliekNET

Faan het nooit die onskuld en eenvoud van ’n jong kind ontgroei nie. Wanneer Faan se pa sterf, los hy al sy besittings om verdeel te word tussen Faan en die kerk.

Verskietende ster

Drama
7 Januarie om 19:50 op fliekNET

Phillip Schuman se wêreld stort in duie die dag toe sy ma sterf. Terwyl sy pa, Tomas, lankal reeds moed opgegee het met die lewe, probeer Phillip hard om sy droom om ’n pianis te word, te bewaarheid.

  • 11

Kommentaar

  • Dis vir my so lekker om die ou en nuwe Afrikaanse flieks te kyk.
    Nou moet ons altyd vir Desember wag.

    Kan die Kanaal 198 nie vir altyd ingestel word nie, asb?

  • Elna Badenhorst

    Ek stem saam. Daar moet 'n skatkis vol Afrikaanse flieks wees wat ons graag weer sal wil sien. Dit sal ook heerlik wees vir ouer mense asook jonger kinders om die flieks te sien. Dit is mos die keuse van die kykers wat dit nie wil sien nie.

  • Soos wat ek verstaan is dit vir almal beskikbaar volgens advertensies. Het nou ingebel en volgens call centre net vir Premium intekenare.

  • Ida Estethuyzen

    Ek wil graag die fliek 'In die lente van ons liefde' weer sien. Kan KykNet dit asseblief uit die argiewe haal en weer vertoon?

  • Dis so mooi om die nuwe geslag aan hierdie skatkis bekend te stel. Kinders van vandag, nè. Heeltyd met hulle videospeletjies besig. Die kleinkinders "floss" vir almal om te sien. Gee hulle gesonde vermaak soos Heidi. Dankie fliekNET. Groete, Tilda.

  • Outjies, my ouma het gisteraand n fliek gekyk op fliekNET Om 22:00. Kan Iemand my help met die fliek se naam?

  • Sal dit graag ook weer wil sien. My oorlede suster het daarin gespeel en haar seun het dit nog nooit gesien nie, sal dit graag vir hom wil wys!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top