Flakka, die Big Days en Bitcoin

  • 0

Olivia M Coetzee

Flakka, die Big Days en Bitcoin

Dit klink soes daai ’n titel van my neks boek moet wies. Assie gel net kan kô, lat ek die boek kan skryf. Dis my Krismis-wens, wan al wat ek rêrig wil doen in die wêreld, is skryf. Ek praat toggie vannie hele storie van “let’s-go-hug-a-tree and love-another” nie. Niee, het dit proebee, maa dit wêkie. Dit lyk al waana ôs wil luister is ’n geklaery oo die slegte gawement, ennie wit en swat, ennie onnodige tekse wattie City ennie gawement nou op ôs moet smyt wan boeta Zuma en dié se manskappe steel alles wat hulle sien. Hulle steel sieke die water oek. Is mos lekke om allie vinges na die grootkop vannie land te wys.

Maa boeta Zuma moet tog baie slim wies. Hy’t homself gelee lies, hy’t chess gespeel en hy’s nou al dee hoeveel motions of no confidence, but die bra staan nog steeds op stêke biene. En as djy rêrig net sit en kyk hoe die bra soes Keanu Reeves in The Matrix bullets dodge, dan sal djy siekelik vestaan hoe gevaalik hy rêrig is. Maa ek hoep hy sien wat met oem Bob gebeerit, al het dit angegan vi ampe vetag jaa. Ek dink oem Bob het beginte te oud raak daa agte daai deure, en soe het hulle toe besluit dat dit is tyd om van hom te lat gan. Ek mien, dit kan mos al lankal gebeerit, dis net soes hie in Suid-Afrika. Hulle kon hom al lankal innie pad gestiek het, maa hy is mos maa net ’n pawn in die politiese speletjie.

Maa het julle gehoo wat Cyril gesê het? Kannit nou wies! Na daai vroumens soe lank moes ly, nou wil hy kô sê ja, hy dink sy was vekrag. Alles ’n PR-stukkie, but vi my voel dit mee soes ’n spyker in sy kis. Dink hy ommat dit lyk of hy die wenner gat wies van die ANC Race, dat hy kan maa nou die waarheid praat net soes hy lus kry. Die Ingelse mense sê: “Don’t count your chickens ...” Ek mien maa, as dit dan nou rêrig gegan het oo Kwezi, of oo die geregtigheid, dan sal hy mos al lankal iets gesê het. Maa wat anners moet ’n mens vewag?

Die hele storie is maa ’n droewige een.

Maa anyways, dié gattie oo Zuma en sy cronies nie, oekie oo nog ’n onnodige boek wat wee ’n boek-deal gekry hettie. Ek klink nou soes ’n bederfde kind wat op en af spring en skrie: “Waa myne, waa myne?!” ’n Mens kannie mens self soe serious vattie. Stories vetel, gat-maak en lag, dissie beste medisyne, soe gloe my antie Ragmat. Dié’s nou wel ’n hele storie van priek virrie koor, maa hoe anners as mee dan 80 pesent vannie land hulle lieswêk op anne plekke doen dan in boeke. En wat doen ôs dan nou met allie inligting wat kom van ’n spoek (dis mos wat hulle genoem wôd) af wat wegkruip in Russia. Vi my mense sou die boek bieter gelies het as ’n spy-film, soe ampe ’n Mission Impossible movie. Ek wens dat een van julle wat dié lies, ’n grootkop is innie filmsektor, en gat met Jacques Pauw praat en die film maak. Ek mien dan soe sal die storie mos somme dee baie mense gelies wôd. Dis mos sieke hoe ’n mens soe ’n storie moet vetel. “Dié is ge-base op happenings wat gebeerit, en dit gebee nog steeds” – soe moet die film begin. En as julle ekstra hanne nodig het om ’n paa scenes uit te skryf, moetie warrie, Livy’s hie vi julle.

’n Dogtetjie vannie land kan sieke mos maa droem.

Parties, niewe klere – Krismisklere – en braaivleis en dop, en fireworks, en armed robberies, en alles wat mal is, en swimming pools, en Krismiskaarte, en cheap Krismisboeme, en cheap Krismisprêsens onnerie cheap boem, en maer Vade Krismisse byrie malls.

Dis al wee daai tyd, mense. Die tyd waa ôs Christene die hele wêreld stop en ôs ees dans en angan oo die ienigste geboorte.

Ai ... Ôs moet regkom, daa is anne mense en geloewe oek.

Wiet julle wat soe baie met my kop gemôs het as kind? Elke Vade Krismis wat ek innie mall gesien het wassie wit of vet soesie TV hom gewys hettie. Ek kon nettie vestaan hoekô die Wit Vade Krismis dan nou nie vi ôs swat kinners wil kô prêsens gie nie. Die nagevolge van gloe in wat djy sien oppie TV, en van kolonialisme. Vade Krismis kannie swat wiesie.

Die hele storie is maa ’n droewige een, wan ôs amal ken mos vi “Jan-moet-warrie” ná die big days.

Ek lies ’n Facebook status vroeër. Dit lies toe: “Pêrens moenie julle kinners Jordans koepie, koep Bitcoin.” Wat wiet ôs van Bitcoin? En wat is Bitcoin gewarrie oo ôs? Een Bitcoin sal djy moet ankoep vi R226 141,47. Ek droem nog daavan om soeveel gel, of selfs helfte van dit te maak in ’n jaar se tyd, maa wie wiet, miskien draai die toekoms en ek kan eendag my eie Bitcoin(s) bekostig. Maa ek wiet dat siekerie meederheid van ôs is mee gewarrie oorie cash loan wat ôs moet trugbetaal byrie cash loans plek oppie hoek. Of oorie phone, TV, laptops en soe wat moet trug uitie pawn uit gat koep wôd. Niks om oo skaam te wiesie, die liewe raak duurder byrie dag, ennie pay raak eeder minner offit bly dieselle, offit slat weg. I’m telling you! As daa nou een ding is wat ôs is, dan is dit … Unfortunately, of fortunately, kan ekkie daai wood hie skryfie, dissie geskik vi hierie platform nie, maa ek dink djy kry die reuk.

Die water innie krane wôd net minnere. Ek wonne maa net of mense wat daa boe bly in Oranjezicht dieselle geaffekteer wôd dan die mense wat hie onner innie Lane bly? Wan wat ek nou al gesien, en ervaar het, staan daai apartheidsomme nog skiertsregop voo ôs. Dié kee het dit maa net anne klere an. Die gawement hettie water virrie arm mense nie ennie ryk mense kla ommat hulle moet teks betaal oppie water wat hulle opvang in daai massiewe tenke wat hulle kan bekostig. Ek kan my tjommie hoo in die agtekant van my kop: “Ek gattie betaal vi water wat ek uitie hiemel uit vangie. Ek sallie betalie.” Djy issie rykie, my tjommie, djy is maa net soesie res van ôs, net ommat djy ’n watertenk in jou jaarts het, bedoelie djy’s rykie, dit bedoel maa net djy’s slim.

Slaap die gawement se mense? Daa is soeveel veskillende maniere wat hulle kan help dat ôsie daai ­Day Zero moet haalie, but hulle môs aaire hulle tyd om te sit en pot oo hoe hulle vêdere gel uit ôs uit kan trek.

Ek wiet ek klink sieke baie droewig op hierie einde vannie jaa, ’n tyd waa ’n mens heppie en jollie moet wies. ’n Tyd waa djy ees al jou gel moet môs op onodige dinge. Hulle sê volgenne maan sal vi homself sorg, en God sal agte ôs kyk. God is sieke oek al moeg vi allie leë beloftes en lenings wat ôs maak.

Die hele ghetto’s is vol praat van ’n Flakka, en dis soes ôs amal dit vekoep op social media. Het julle al ooit gewonne hoekô die onnodige dwelmsie daa “boe” uitkommie? Soes ek nou al my navorsing gedoen het, en myself moeg gekyk het annie home-made video’s wat mense op Facebook en YouTube vesprei, daa issie een ryk kind/mens/pesoon wat geraak wôd deurie die onodige dwelmsie. Dis mos maa net ôs “arm” mense, en ôs sien nie die goed raakie, wan ôs is te veel gewarrie oo Name-lekkes ennie diep-fridge wat lieg is, en loaf, en soe an, en soe an. Soms skaam ek myself dood, ek’s tog net mens!

“Depopulation!” Daa is ’n Afrikaanse woord virrit, maa ek issie Afrikaansie. Depopulation, dis nou waa die gawement en die boebase hulle plannetjies anmaak ommie nasies minner te maak of uit te roei. Maa hulle moet dit soe op ’n manier doen lat hulle nie soes dr Tiego Selebano of dr Makgabo Manamela moet “please explain” oo wat dan rêrig gebeerit met daai “arme” mense nie. Ek sê maa net, ’n mens moet sieke beginte warrie oo hoekô dit nettie ryk mense se paaie is wat geteer, gepaint en gepolice wôd. Ek moet vra: is die hele storie oorie water wat min raak oek deel van depopulation?

Die ghetto’s wôd bestroei met bullets, deur hanne wattie ees “gans” ... oeps, “guns” kan spellie. Ek wietie eens of hulle die G vannie A vannie N vannie S af sal kennie. Dis net clip-clip-clip-bang-bang-bang!! Wie warrie dan nou nog oo spel, wan die Department van Basiese Onnerwys gannie warrie nie. Ek wil hiermee oek dan vi die studente wat soe die universiteite mal gehad het laas jaa sê, geluk op die prestasie. At least het julle darem vi my nou kans gegee om te graduate. ’n Anne tjommie van my sal nou wee gesê het: “Olyffie, dit gannie oo jou nie. Daa is ’n groter baklei wat hie angan.” Ja, dit gannie oo my nie, maa ek het darem net oek my graad gan afhaal. Ek het hard gewêk, en ek moet daai gawementlenings beginte trugbetaal. Mense, as djy NSFAS gekry het, asseblief moetie soesie cronie gang wiesie, gat betaal jou skuld!

Wan hoekô moet university veniet wies, soedattie kinners van vedag, daai grade four-ers en soe, wat nie kan lies met begrip nie, oo agt jaa moet ’n kans kry om wee veniet iets te kry? Ek mien maa, uit watte skool uit kô daai kinners wattie kan lies met vestantie? Sieke mos maa die skole wat veniet is – mamie en dêdie hoefie te warrie nie, wan Papa Gawement sôg mos vi alles. Ek wil mos net sulke tye vloek, wan dit lyk soms dissie ienigste taal wat ôs vestaan.

’n Movie wat onlangs uitgekô het, vetel die een vrou vi die anne man: “Nothing in life is for free. if you don’t work for it, you not gonna care about it.” Djy kan daai les sien in alles vannie liewe. As djy nie gan wêk vi ietsie, en djy kry dit somme net soe GWA!! dan gan djy dit nooit waadeerie.

En dan soek ôs nog Free Higher Education­? Dit gattie wêkie, wan ôs hoef dannie daavoo te wêkkie, en ôs gat dit net dee ôs se gatte trek.

Ek mien maa, kyk om jou, kyk selfs na jouself. Het djy al ooit gedowwel en toe wen djy en djytie ees reg jou oë geknippie toe is daai gel weg? Wel, dis maa hoe dit is – ’n mens waadeerie iets wat djy somme net soe kry nie.

Niks is veniet in die wêreltie, nie eens Flakka nie. As djy wil angan soes ’n zombie, dan moet djy nog daavoo oek gel uithaal. Hoekô is mense soe mal? Iemand moet ’n kamp oep maak, offie gawement, maa dit moet op een van daai ou oil rigs wees wat agte innie diep siee gelos was. Dan kan djy, as djy voel dat dit jou gawe is om jou liewe op te môs met cheap drugs, join en daa gat bly. Natuurlik moetie dwelms mos nou vloei soes water. Op soe ’n manier kry djy jou fix ennie res van ôs wat sense het, bly in vriede. Iewers innie buiteland het hulle soe ’n program, waa hulle die tik-koppe, ennie anner dwelmmisbruikers help deur hulle net elke dag ’n bietjie te gie van die dwelm wat hulle an veslaaf is. Op soe ’n manier het daai plek se gawement beheer oorie misbruik van dwelms (dis mos nou nie soes hulle nie lankal in beheer issie) en soe kan hulle oek die siekes help. Miskien moet dit oek hie gebee, dan wiet ôs waa hulle amal is. My warrie is net een van daai Flakkas, of Tiksters, kom spring dee my kamevenste. Wie is ek dan nou tien soe ’n monsterasie? (Ek wiet daai issie ’n woortie, ek het dit nou somme gou ge-invent.)

Soe, al is dié ’n seisoen van “giving”, miskien moet ôs maa ophou uitdeel. As djy te veel het, is fine, bêre dit vi môre of vi “Jan-moet-warrie”. As djy nou rêrig die familie wil oo nooi vi Krismis-iete, maak sieke allie anties bring iets saam en hulle eie Tupperware- of ice cream bakke, wan soe kan mensie bakke uitdeel an mense en hulle bring dit nooit truggie. Sien wat ek sê, as djy iets veniet kry, dan ...

Of miskien: maak dié jaa jou hart, jou deur en jou beursie oep virrie regte riedes.

As djy nou moet swat Vade Krismis speel, maak sieke dat elke een die pêrens het bygegooi ommie prêsens te koep. En proebee jou beste om jou “Ho-ho-ho” reg te “Amerikaans”, miskien gloe die kinners dat daa rêrig ’n swat Vade Krismis kan wies. As daa iemand is wat moet hoep kry elke dag, dan is dittie kinners. Soe moetie stingy wiesie, maa moetie die kinners spoilie. Ek wiet wat maak spoil: djy is heel opgemôs as grootmens van soe baie goed veniet kry.

2017 was maa ’n baie droewige jaa, maa daa is ’n blink kant en dié se naam is 2018. Onthou djy hoefie soesie res te wies en New Year’s Resolutions te hettie. Daa is niks êger as ’n grootmens wat bederf is wattie hulle way kan kry nie, en wattie hulle beloftes an hulleself kan nakommie. Dis 2018, soe maak dit lekke en wies lief vi jouself! En onthou, wies heppie, wies liefdevol, en gie wat djy kan sonne om an jouself te dink. It’s called being human!

Op die oudedom van 16 was uh Goodhope fm dj by o’s skool. Hy het met uh mic innie ronte geloep om kinnes te vra wie hulle is en waa’vandaan hulle kom. O’s almal het oppie netbalbane se sementblad gesit. Hy’t voo my kô staan, en hy’t my gevra. “So who are you and where you from? Heelwat op sy nerves. Ek ’it hom boe oo my brille gekyk en stadig gesê: “Ek is Livy. Vannie Rive.”  

Bly te kenne!

En dankie vi julle onnesteuning deur 2017!

Heppie Heppie!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top