Fine Music Radio-resensie: Oorlog en terpentyn deur Stefan Hertmans, vertaal deur Daniel Hugo

Oorlog en terpentyn
Stefan Hertmans

Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306108

Die bespreking is op 15 Februarie 2017 in Boekkeuse op Fine Music Radio in Kaapstad uitgesaai.

Dit was opwindend en ’n voorreg om Oorlog en terpentyn te lees. Daniel Hugo het Stefan Hertmans se roman uit Nederlands vertaal, en Amelia de Vaal die grepies Frans. Die werk het in 2013 by De Bezige Bij in Amsterdam verskyn met dieselfde titel, net anders gespel! Die Afrikaanse weergawe is sedert 2016 by Protea Boekhuis beskikbaar.

Ek het al verkondig dis die beste boek wat ek nog ooit gelees het, maar dis darem te oordrewe. Maar in België is dit in 2014 bekroon met die AKO Literatuurprys, die Vlaamse Cultuurprys voor de Letteren en die Lezersjury se Gouden Boekenuil. En in 2015 het lesers van die tydskrif Knack en luisteraars na Radio 1 in België dit aangewys as ... die beste boek van die afgelope 25 jaar.

Die eerstepersoonverteller beskryf die ontstaan van die roman soos volg: “Meer as dertig jaar het ek die skryfboeke waarin my oupa Urbain Martien sy herinneringe noukeurig in sy weergalose vooroorlogse handskrif opgeteken het, bewaar en toegesluit gehou. Hy het dit vir my gegee enkele maande voor sy dood in 1981. Hy was toe negentig jaar oud. Dit is sy lewe wat hy my gevra het om te beskryf. ’n Lewe wat byna ’n eeu beslaan en wat begin het op ’n ander planeet. ’n Planeet van dorpe, grondpaaie, perdekoetse, gaslampe, wasskottels, bidprentjies ... ’n tyd van almagtige Rooms-Katolieke priesters wat na sigare en ongewaste onderklere ruik.”

Aanvanklik word tonele tussen die oupa en kleinseun opgeroep waaruit die begrip tussen hulle blyk.

Oupa was ’n kunsskilder wat skilderye opgeknap het, byvoorbeeld in kerke, of hy het bekende skilderye nageboots. Hy het ook eie skeppings gelewer. Die leser kry talle beskrywings van kunswerke en uitsprake oor die skilderkuns. Van die skilderye is te sien in illustrasies van vinjetgrootte. Ook illustrasies van plekke en mense. Die klein illustrasies vul die teks se inhoude wonderlik aan.

Teen die einde van sy lewe in die jare ná die Eerste Wêreldoorlog was Martien ontnugter oor die skilderkuns: Hy vind die skilders knoeiers; hy het eintlik ’n erger woord vir hulle. Ek haal aan: “Hulle het nie ’n benul van fynskilder, van al die aspekte van die vroeëre edel skildersambag nie. Hulle ploeter voort, respekteer nie meer die wette van die anatomie nie, weet nie eens hoe om ’n skildery te glaseer nie, gebruik terpentyn asof dit water is. Geen wonder daar is nie meer groot skilders nie.”

Maar Martien ontvang ook militêre opleiding waarin hy hom as baie gedissiplineerd onderskei. Wanneer die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, word hy opgeroep as korporaal. Dit vorm dan die grootste deel van die roman: die realistiese voorstelling van die verskrikkinge van die slagveld. Ek sal altyd onthou hoe wyle Chris Lombard, later digter, maar daar in die jare sewentig van die vorige eeu nog dosent in opvoedkunde by die Universiteit van Kaapstad, vir ons studente van die Akademie van Dramakuns betrek het by opvoerings vir skole. So moes ek generaal Alonso in NP Van Wyk Louw se Dagboek van ’n soldaat vertolk. Deel van die instudering was dat jy ’n verlede en hede vir jou karakter opbou. Ek het net vredestydse militêre opleiding gehad. Hoe het ek nie gesoek na boeke wat jou diep in die geveg kon inneem nie. Kon ek maar toe Oorlog en terpentyn gelees het.

Ek haal voorbeelde aan: “Daardie nag daag daar geen Duitsers op nie en ons word nie gevange geneem nie Ons gaan die oggend triomfantelik terug. Maar net toe ons dink ons is in die veilige sone, bars die geskiet los. Kort na mekaar sien ek twee manne by my opspring om weg te kom. Hulle word dadelik afgemaai. Ná ’n paar minute staan ek versigtig op en kry onmiddellik ’n skoot in my rug. Ek stelp die spuitende bloed, kots, druk so hard as wat ek kan die groot oopgeskeurde wonde toe.”

En hy stuur ook manskappe uit; maar hulle keer nie terug nie; hy het die verwyt: hy het hulle na hul dood gestuur.

Martien besin oor die oorlog en beskryf terselfdertyd die natuurtonele op die slagveld.

Stefan Hertmans roep die natuur telkens helder en uiters stemmingsvol op. En die vertaler, Daniel Hugo, vind akkurate Afrikaans daarvoor. Bekende woorde word so saam gebruik dat nuwe verbande ontstaan en die leser dit kan bewonder. Paragrawe en sinne se lengte wissel sodat daar ’n oplaai van spanning ontstaan.

Hier is ’n besinning oor soldaat wees: “Die tyd het ons in die steek gelaat, ons het êrens in ’n onwerklike, duister kringloop beland sonder begin of einde. Die seisoene volg mekaar op, die wolke dryf oor – (die wolke) is wit fabeldiere en wispelturige gode in die helder lig. Ons is voortydig oud, ons gedra ons soos opgesluite, fatalistiese kinders, afgestomp, onverskillig teenoor die lewe en die dood.”

Hier is ’n natuurbeskrywing: “die polders in Mei of September-dae, met hul kiewiete wat deur die lug bo die velde buitel, die wrang geur van populiere, die varkhokke, die einders reg rondom”.

En: “Daar vlieg wildeganse oor, weer en weer. Die eerstes het net voor skemer gekom, in die yskoue oomblikke voor dit lig word.”

Die titel Oorlog en terpentyn word aan die einde van die roman toegelig. In Martien se lewe was daar “’n paradoks: om heen en weer geslinger te word tussen die soldaat wat hy noodgedwonge was en die kunstenaar wat hy wou wees. Oorlog en terpentyn. Die vrede van sy laaste jare het hom stadigaan laat afskeid neem van sy traumas.”

In die jare ná die oorlog verloor hy sy geliefde. Hy begeef hom in ’n onvolmaakte huwelik. Dit beteken vir hom “swaarmoedigheid, versweë verlange, gesublimeerde erotiese verlangens.” Dit laat hom met die komponis Franz Schubert identifiseer. Hy het dikwels na Schubert se Rosemunde geluister. In die andantino in G-majeur waarmee Rosamunde afsluit, herken Urbain Martien sy eie essensiële geestesingesteldheid. Ná melancholie ‘n rustiger ligtheid. (Uittreksel uit Schubert se Rosamunde word gespeel.)

Oorlog en terpentyn-gesprek by US Woordfees
4 Maart 17:00
60 min | Bibsaal | R50 | R60 by die deur

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top