Filmresensie: Nina

  • 0

Nina

Regie: Cynthia Mort

Spelers: Zoe Saldana, David Oyelowo, Mike Epps, Ronald Guttman, Ella Thomas

Hierdie biografiese film oor die legendariese Nina Simone (1933–2003) het my baie herinner aan La vie en rose oor Edith Piaf, met Marion Cotillard wat “die mossie van Parys” onvergeetlik vertolk het. Al twee was uiters talentvol; al twee het swaar emosionele bagasie uit hul kinderjare saamgesleep; al twee het verval in drankverslawing. Piaf kon die tragiek van haar lewe nie te bowe kom nie en is dood op 47. Simone het agt jaar voor haar dood daarin geslaag om ’n musikale terugkeer te maak, en dis daardie greep uit haar lewe wat die onderwerp van hierdie film is.

Nina open met ’n uitstaande sekwens: Simone wat as kind voor ’n saaltjie vol witmense moet klavier speel terwyl haar ouers skaars in die vertrek toegelaat is weens Amerika se destydse segregasiebeleid. Die musiek gaan naatloos oor in ’n uitvoering van “Feeling good”, een van haar grootste treffers. Dis ’n hoendervleis-oomblik, waarvoor debuutregisseur Cynthia Mort beslis ’n pluimpie verdien. Met dié toneel vestig sy ook reg aan die begin die oorheersende dryfveer van Simone se lewe: diskriminasie teen haar as swart mens en haar verset daarteen saam met die Civil Rights Movement. Sy was opgelei in klassieke musiek en had drome om ’n konsertpianis te word, maar haar beursaansoek vir die prestigeryke Curtis Institute of Music is afgekeur ten spyte van ’n positiewe oudisie.

Vir Zoe Saldana as Simone is dit die rol van ’n leeftyd – sy het ook self die musiek vertolk. David Oyelowo, wat so beïndruk het in Queen of Katwe en A United Kingdom, is puik as Clifton Henderson, Simone se bestuurder.

Vanjaar by die Woordfees is die uitstekende dokumentêr What happened, Miss Simone? vertoon. Dit gee ’n meer volledige beeld van “the high priestess of soul” en dien as sinvolle agtergrond vir Nina.

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top