Filmresensie: Moonlight

  • 0

Moonlight
Regie: Barry Jenkins
Draaiboek: Tarell Alvin McCraney en Barry Jenkins
Spelers: Mahershala Ali, Alex Hibbert, Ashton Sanders, Trevante Rhodes, Naomie Harris, Janelle Monáe, Jharrel Jerome

Beter nuus kon ek nie op Oscar-Maandag gekry het nie: dat Moonlight bekroon is as beste film teenoor La-la Land, die oënskynlike gunsteling – met agt en veertien benoemings onderskeidelik was dit die twee voorlopers. Ek het niks teen La-la Land nie, dis ’n pragtige fliek en als, maar in vergelyking met Moonlight is dit spookasem.

Moonlight het gegroei uit ’n sterk outobiografiese toneelteks, In moonlight black boys look blue, deur Tarell Alvin McCraney. Die regisseur, Barry Jenkins, en McCraney is tydgenote wat heelwat uit hul grootwordjare in gemeen het. Hulle het saam die draaiboek ontwikkel, wat welverdiend bekroon is met die Oscar vir beste aangepaste draaiboek.

Die film is ’n lewensverhaal wat in drie tydfases (slim weerspieël in die plakkaatontwerp) vertel word: die hoofkarakter as negejarige seun, as sestienjarige en as volwasse man. Chiron (gespeel deur Alex Hibbert, Ashton Sanders en Trevante Rhodes) woon saam met sy dwelmgebruikende enkelma (Naomie Harris) in ’n behuisingskema in Miami. Hy is ’n eenkantkind wat bitter min praat en moeilik vriende maak, en omdat hy klein is, word hy genadeloos geboelie by die skool. Die verhaal open met die fokus op Juan (Mahershala Ali), ’n dwelmhandelaar in Chiron se buurt. Mettertyd word hy vir Chiron ’n soort mentorfiguur, maar hul verhouding volg glad nie die voorspelbare patroon nie.

Moonlight is nie die maklikste kykervaring nie, maar dis eenvoudig aangrypend. Jenkins se regie is minimalisties en meesterlik subtiel, en dis ’n jammerte dat hy nie ook as beste regisseur bekroon is nie. Ali het die Oscar ontvang vir beste akteur in ’n ondersteunende rol, ’n toekenning wat hy deur en deur verdien. Harris (genomineer as beste aktrise in ’n ondersteunende rol) lewer ook skitterende spel, maar dieselfde geld vir die twee jonger akteurs wat Chiron speel.   

Soos een resensent dit stel: Hierdie fliek praat nie baie nie, maar dit sê alles. Dit word hoog aanbeveel vir ernstige kykers.

Sterre: 5

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top