Filmresensie: Lion

  • 0

Lion

Regie: Garth Davis

Draaiboek: Luke Davies

Spelers: Sunny Pawar, Abhishek Bharate, Dev Patel, Priyanka Bose, Nicole Kidman, Rooney Mara, David Wenham.

’n Mens kan sê Madonna en Angelina Jolie het dit beroemd gemaak – die aanneming van onbevoorregte kinders deur bevoorregte (lees: wit, Westerse) ouers – maar dis ’n praktyk wat in die afgelope dekades algemeen geword het. Lion is gegrond op een so ’n geval, soos beskryf in die boek A long way home deur Saroo Brierley en Larry Buttrose, van ’n Indiese seun wat aangeneem is deur ’n Australiese egpaar.

Saroo (Sunny Pawar) is ’n bekkige vyfjarige met ’n enorme bewondering vir sy ouboet Guddu (Abhishek Bharate). Hulle woon in ’n gehuggie in die Khandwa-distrik van Indië en is brand-, maar brandarm. Die kinders steel, waar hulle kan, steenkool van verbygaande treine terwyl hul ma (Priyanka Bose) klippe kap in ’n myn vir ’n karige inkomste. Toe Saroo neul om saam te gaan wanneer sy ouboet snags op die treine skarrel vir ’n verdienste, raak hulle van mekaar geskei. Saroo beland per trein in Kalkutta, bitter ver weg van sy tuisdorp, waarvan hy skaars die naam kan uitspreek. Sy uiteinde is die weeshuis, waar hy deur  Australiërs aangeneem word. Soos wat so dikwels die geval is, begin hy as volwassene (gespeel deur Dev Patel) sy afkoms bevraagteken en raak dit vir hom ’n obsessie om uit te vind wat van sy ma en broer geword het.

Die Indië-deel van Lion is werklik uitstaande – soos met Queen of Katwe wys dit ’n wêreld van ekstreme armoede, maar met ’n ryk geskakeerde gemeenskapslewe. Dev Patel (Slumdog Millionaire en die twee Best Exotic Marigold Hotel-films) is ’n aantreklike en vaardige akteur, maar dis asof hy hier nie heeltemal tot sy reg kom nie. Sy karakter lyk feitlik deurgaans depressief, en daar is min afwisseling in sy frustrerende soektog na sy grootwordplek. Die soektog hou ook te lank aan en raak later eenselwig – ’n meer verbeeldingryke draaiboek sou kon help. Nicole Kidman as die aanneemma is puik, maar die ster van hierdie fliek is die agtjarige Sunny Pawar.

Ten spyte van die paar besware hier bo is Lion ’n aangrypende film. Ek beveel dit graag aan vir kykers wat hou van ’n diep menslike verhaal.

Sterre: 4

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top