Filmresensie: Labyrinth of Lies

  • 0

labyrinth280Labyrinth of Lies

Regisseur: Giulio Ricciarelli

Spelers: Alexander Fehling, André Szymanski, Johannes Krisch, Friederike Becht, Johann von Bülow

Soms word ’n historiese film gemaak wat net so nódig is. Soos hierdie uitstaande film oor die vervolging van Nazi’s dertien jaar ná die einde van die oorlog. Dit speel af in 1958 in Duitsland en is gegrond op werklike gebeure.

Johann Radmann (Alexander Fehling) is ’n ambisieuse jong staatsaanklaer op soek na sy eerste groot saak. Dit kry hy toe ’n joernalis (André Szymanski) ’n man wat die Jodeuitwissing oorleef het (Johannes Krisch) by die vervolgingsgesag in Frankfurt aanbring, met belangrike getuienis oor gruweldade deur Nazi-offisiere by Auschwitz.

In Johann se soektog na inligting loop hy hom egter oral teen mure vas. Geen van die ander aanklaers wil hom help nie, niemand is bereid om te praat nie, die polisie weier om saam te werk. Die houding is: Duitsland het aanbeweeg en almal moet nou op heropbou fokus. Maak nie saak hoeveel Nazi-misdade toegesmeer en doodgeswyg word nie.

“Duitse deeglikheid” is ’n bekende gesegde, en dis nêrens skreiender as in die noukeurige boekhouding van elke aspek van die Jodeuitwissing nie. Die plakkaat van Labyrinth of Lies wys ’n vertrek vol lêers opgestapel tot teen die dak. Dit verteenwoordig net ’n deeltjie van die Nazi-dokumente; die res is sover moontlik in die doodskampe se hoogoonde verbrand.

Johann en sy span begin een vir een deur die lêers sif vir name en bewyse om ’n vervolgingsaak op te bou. Mettertyd word Johann se spesifieke fokus Josef Mengele, die dokter wat sulke gruwelike eksperimente op kinders gedoen het.

Die verhaal is meesterlik aanmekaar gesit, tot in die fynste nuanse van die temas wat ondersoek word – skuld, aanspreeklikheid, wraak, geregtigheid – terwyl die liefdesverhouding tussen Johann en Marlene (Friederike Becht) balans bring op ’n persoonlike vlak. As jy ernstig oor fliek is, gaan kyk hierdie een. Met apartheid en die WVK so in die agterkop.

Sterre: 5

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top