Filmresensie: Captain Fantastic

  • 1

captainfantastic200Captain Fantastic

Draaiboek en regie: Matt Ross

Spelers: Viggo Mortensen, Frank Langella, Trin Miller, George MacKay, Samantha Isler

Ek weet nie of dit valse advertering se skuld is nie, maar dié fliek is iets heel anders as wat ek verwag het. Dis nie Little Miss Sunshine nie, ook nie ’n komedie nie. Die titel ten spyt is hierdie ’n ernstige drama – ver weg van tipies Amerikaanse soetlikheid en sentimentaliteit, al lyk die plakkaat soos The Brady Bunch.

Ben (Viggo Mortensen) en Leslie Cash (Trin Miller) se lewensbeskouing is ekstreem. Hulle is gekant teen “die stelsel” en alles in die samelewing wat klakkeloos as “die norm” aanvaar word. Hulle het jare gelede ’n stuk berggrond gekoop, hulle daar teruggetrek saam met hul ses kinders en geleer om van die land af te leef. Hul ideaal was die skep van ’n paradys soos beskryf deur Plato, die invloedryke filosoof van antieke Griekeland; hul kinders is volgens die Platoniese model opgevoed om filosoof-konings te wees.

Die slang in die paradys was egter Leslie se siekte, bipolêre depressie. Om haar te probeer help, het Ben haar na haar skatryk ouers in Nieu-Mexiko geneem, waar sy ná drie maande haar polse gesny het. Ben se skoonpa verwyt hom dat hy Leslie na haar dood gedryf het, en sou Ben die begrafnis bywoon, sal hy hom laat arresteer. Maar Leslie se testament stipuleer kremasie in die natuur en Ben wil dit uitvoer, buig of bars.

Hierdie fliek is die kyk werd, maar wees voorbereid op nogal skokkende inhoud – dit laat jou behoorlik nadink oor vandag se siek samelewing. Gelukkig lei alles na ’n bevredigende slot.

Sterre: 4

  • 1

Kommentaar

  • Marietjie Luyt

    'n Baie lekker fliek vir mense met leftie-sentimente: het lekker gelag vir die gesin se viering van Noam Chomsky-dag, byvoorbeeld. Dit was ook wonderlik om die tonele te sien wat waarskynlik in die Cascades in die Pacific North-West geskiet is. Werklik paradysagtig.
    Het wel gedink die fliek val so 'n bietjie plat nadat Viggo die kinders by sy skoonouers gelos het, en hulle toe - wonder bo wonder! - uit eie beweging iewers diep uit die gesinsbus verskyn. Ongeloofwaardig, het ek nogal gedink. Sou die skoonpa nie die polisie op die kinders se spoor gesit het nie?
    Was ook nie seker of die slot - waarin die pa 'n hoofstroombestaan op 'n plaas vir sy gesin skep - teenoor sy vorige radikale "off the grid"-bestaan heeltemal oortuigend was nie.
    Ek kan nie juis sê die fliek was vir my skokkend nie. Lees genoeg radikale ekologiese en anti-kapitalistiese werwe op die internet, en alles lyk dan sommer heel normaal! Per slot van sake is daardie geweste die heimat van die hippies, die Unabomber en zoer non-konformistiese (en paranoïese) individualiste.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top