Fiksie: "Die ander vrou"

  • 0

Hulle was albei getroud, Assia met haar derde man en Ted met sy neurotiese vrou, toe hulle een oggend oor ontbyt op mekaar verlief geraak het. Sy het hom van ’n droom vertel wat sy daardie nag gehad het en hy het haar gesoen. In die kombuis was sy vrou besig om koffie te maak.

Met ’n uithangtong het Ted agter Assia begin aandraf, vir haar liefdesbriewe en gedigte in sy knoperige handskrif geskryf. Sy heuningpot, sy jakkalsie, sy soettand. Sy wierook en mirre vir altyd, het hy elke nag beloof.

Oor sjampanje het hy vir Assia vertel hoe sy vrou se geneul en gesanik hom wurg en nek omdraai, hoe elke gesprek tussen hulle ’n aanklag en ’n skuldigbevinding geword het. Om nie eens van haar woede-uitbarstings te praat nie. Die ander dag het sy elke boek in hul huis van die rakke afgeruk en flenters geskeur. Sy’t met haar spykerhakke ’n gat in sy studeerkamerdeur geskop. Sy’t ’n vuur gemaak en sy manuskripte en briewe verbrand terwyl sy gewieg en een of ander hokus-pokus gemompel en amper die hele plek afgebrand het. Hy het elke dag gevoel asof hy in ’n kamer vol skrikgemaakte voëls leef, en hoe de hel was hy veronderstel om in só ’n omgewing geniaal te wees? wou hy weet.

Natuurlik het Assia besef hy’s geen engel nie. Haar vriende het haar tog gewaarsku: hy’t ’n los oog vir mooi vrouens, hy’s arrogant, het hulle gesê, selfs gewetenloos, vir homself die son en die maan en die blinkste ster. En hoewel Assia geweet het sy kon enige man laat huil, was dit vir hóm wat sy wou hê, vir Teddy. Daarvan was sy vanaf die eerste dag seker.

***

Twee dae ná Teddy se vrou, Sylvia, selfmoord gepleeg het, het Assia by Teddy en sy twee kinders in Sylvia se woonstel ingetrek. Dit het haar nie gepla nie. Die kombuis waar Sylvia haarself vergas het, was koel en netjies, die waterpype stom gevries. In ’n laai het Assia op resepte en spyskaarte afgekom, in die yskas ’n piesangbrood en vars melk.

Teddy was bleek terwyl hy vir die kinders probeer verduidelik het, die vel los onder sy oë. Die dogtertjie, Frieda, wat elke dag meer na haar ma sou lyk, was drie jaar oud en het nie die woorde gehad om te begryp of onthou nie, en die jongste, Nicholas, was skaars ’n skaduwee. Sy sou dit geniet om na hulle om te sien, het Assia gedink terwyl sy deur die woonstel dwaal.

In die badkamer het sy die medisynekassie oopgemaak. Teddy het dikwels genoem hoe Sylvia gedurig ’n skeet gehad het en vir dae in die bed sou bly. Migraine, sinus, verkoue, ’n veluitslag, winterhande wat sy aanhoudend sou koester en krap, ’n pyn hier en ’n kramp daar, koors om geen rede nie. Die Nembutals en Valiums het Assia in die toilet afgespoel. ’n Leë bottel Halo-sjampoe in die stort het beloof om ’n goue glans aan blonde hare te gee.

Die slaapkamerdeur was toe. Op die spieëltafel het lipstiffies skuins gepunt in ’n ry gestaan – Revlon se Cherries in the Snow, Riding Hood Red van Max Factor en Bravo van Helena Rubinstein. Assia het onthou hoe oordadig en geforseerd Sylvia altyd met haar grilrooi lippe kon glimlag. Sy het Sylvia se klere en notaboeke opsy geskuif, op die bed gaan lê en haar oë toegemaak. Buite was die eikebome swaar van die koue.

Natuurlik het Assia geweet mense sou haar vir Sylvia se selfmoord blameer. Sy was verdoem as verleidster, beskuldig en gevonnis as ploert, heks en hoer. Vorige vriende het omgedraai as hulle haar sien, die vertrek verlaat, gemaak asof sy nie bestaan nie. Selfs Teddy se ouers, wat nooit van hul skoondogter gehou het nie, het aan Teddy duidelik gemaak Assia was nie in hul huis welkom nie.

Assia was beslis: sy sou nié ’n kruis opneem en boetvaardig teen ’n olyfberg uitsteier nie, sy sou nie bloei of smeek of kniel nie. Almal het geweet van Sylvia, haar roekelose gedrag – veral na ’n paar martini’s – die kerfies teen haar bobene en die sogenaamde val van die trappe af, haar uitputtende entoesiasme wat soomloos na wanhoop kon verander. As ’n mens mooi kyk, kon jy die litteken van ’n vorige selfmoordpoging onder haar linkeroog sien.

Maar nee, mense wou veel eerder onthou hoe Sylvia op haar fiets deur Cambridge se studentestrate gery het, summa cum laude met haar hare in ’n poniestert, hoe uitbundig sy kon lag, hoe jonk sy na Nicholas se geboorte gelyk het, hoe sy bruingebrand in ’n tweestuk op die strand al agter die son aangetrek het. Een oorbeligte foto van geluk na ’n ander.

***

Mettertyd het Assia vir Sylvia uit die woonstel gestroop. Sy het die sitkamermeubels en kussings met Birmese materiale oorgetrek, swaar gordyne gehang en kerse en lampe met gedempte lampskerms op die tafels gesit. Sy het breekgoed sonder blompatroontjies gekoop, pakkies Embassy-sigarette weggegooi, laaie en kaste leeggemaak en Sylvia se klere na haar ma gestuur – linnepakkies en fyn truitjies versier met kantwerk, groot hofskoene. Sommer die strikke en haarkammetjies ook.

Net Sylvia se halfvoltooide manuskripte en aantekeninge het in die woonstel oorgebly, rondgestrooi asof sy enige oomblik met ’n koppie koffie kon verskyn, kind en ’n woordeboek op haar skoot. Soms het Assia, sonder dat sy seker was waarom, ’n paar bladsye van Sylvia se notas weggesteek en vir haarself gehou.  

***

Hulle lewe saam het rustig geword. Saans het Teddy sy corduroy-baadjie oor ’n stoel gegooi en, terwyl hy na Beethoven luister, Sylvia se skryfwerk georden. Aanvanklik het Assia hom gehelp. Hulle het nuwe gedigte bymekaar groepeer, selfs die eerste paragrawe van ’n roman geplaas. Maar as hy Sylvia se joernale lees, het hy die deur toegemaak, geskuil asof hy bang was om onverwags ’n geheim te verklap. En om sy eie gedigte het hy sy skouers krom getrek as sy inkom, of geglimlag sonder dat sy seker was waaroor. Ek wil nie daaroor praat nie, het hy dan gesê.

Sy het hom begin mis. Eers vir ’n paar dae, later aanhoudend. Soms het sy hom laatnag vir die eerste keer gesien wanneer hy soos ’n beneukte beer uit sy heilige grot kom op soek na kos en seks. In die bed was hy kru, het hy na ’n slagter geruik. Daar was dikwels bloed soos hy haar geskeur het. En as hy na een van sy drome wakker word, was dit asof hy uit ’n vuur stap. Seer en sensitief het hy sy lyf gedraai sodat Assia nie aan hom kon raak nie. Sy het weggerol na die ander kant van die bed, na hom lê en staar. Selfs in sy slaap het hy sy kakebeen verontwaardig uitgestoot.

Sylvia se postume digbundel met die bybelse naam Ariel as titel het verskyn toe die affodille daardie jaar vroeg in Londen geblom het. Assia het die gedigte oor en oor gelees, verstom dat ’n mislike mens so briljant kon skryf. Sy was nie verbaas toe sy een nag wakker word en tussen hulle, met haar skerp elmboë en groot voete, het Sylvia uitgestrek op haar rug lê en snork nie. Sylvia en haar grafsteen was nou sterker as klip, het Assia geweet.

***

Dit was nadat Teddy sy twee bladsye getikte “huisreëls” ingestel het dat Assia vir Sylvia meer gereeld begin sien het. Op Waterloostasie het hulle saam vir die trein na Hampstead gewag.

Eenkeer, so vieruur die middag, amper donker, het Assia nadergestap. “Jy lag vir my, nè Sylvia?”

Die trein het weggetrek sonder ’n antwoord.

“Is jy nog in jou slaapklere? Hoe laat is dit al? Kan jy nie vroeër opstaan nie?” het Teddy soggens oor stof en ’n koue ontbyt gekla, sy koffie in die wasbak uitgesmyt. “Die minste wat jy kan doen is om grimering aan te sit. Ek is al so gatvol vir dieselfde kos. Kan jy nie ’n nuwe resep probeer nie?” ’n Diep stem waarmee hy so lekker kon lieg.

Assia het reeds besef hy gaan nie met haar trou nie; hulle gaan nie saam in ’n groot huis in die Engelse platteland woon waar hul vriende elke naweek kom kuier en tot laatnag gesels nie. Agter sy kuif het hy weggekruip wanneer sy met hom wou praat. ’n Vreemdeling met wie sy eens drome oor ontbyt gedeel het.

En hy kon aanhou. “Moenie nou praat nie. Speel met die kinders. Hou hulle stil. Is daar skoon klere? Is hul tande geborsel? Moes hulle nie al in die bed gewees het nie?”

Daar was ook die dag in ’n koffiekroeg in Charing Cross. Dit was definitief Sylvia – die voet wat op en af wip, hande ineengestrengel, haar mond ’n giftige rooi tulpie wat ’n enkele woord teen die koppie se rand agterlaat. Teef.

“Ek gaan vir jou dood bliksem, Sylvia,” het Assia agter haar aangeskree.

***

Toe Assia swanger word, het Teddy dit duidelik gestel hy wou nie nog ’n kind gehad het nie. Hy was nie eens seker dis sy kind nie, het hy beskuldig. Hulle kon skaars na mekaar kyk sonder om te sis en te gluur. Assia het hul dogter na haar Russiese voorsate vernoem. Shura het Assia se Slawiese oë en haar pa se lang gesiggie gehad.

Dalk moes hulle mekaar vir ’n ruk nie sien nie, het Teddy voorgestel. Hy wou stilte en ruimte hê. Gerugte van ander vrouens het gou by Assia uitgekom. Sy het advertensie- en vertaalwerk gedoen om haarself en Shura te onderhou. Teddy het geweier om onderhoud vir Shura te betaal. Hy was vrygewig genoeg om vir Assia geld te leen. Elke lening is noukeurig aangeteken.

Terwyl sy ’n gedig van die Israeliese skrywer Yehuda Amichai uit Hebreeus vertaal, het Assia gewonder of sy ooit ’n keuse gehad het:

Datums is reeds in sig
waarop jy nie langer bestaan nie,
Reeds waai ’n wind wolke
wat nie op beide van ons sal reën nie.1

Dit was van die begin af duidelik, onvermydelik, het sy geredeneer. Hoe slim, hoe nougeset en perfek het Sylvia dit nie bewerkstellig nie. ’n Glansryke selfmoord, en die feeksgodin van blosende sonskyn regeer vir ewig vanaf ’n plek waar mense jou dadelik vergewe en met liefde onthou.

***

Buite was dit bewolk en koud. In die hawe het skepe tussen ysblokke probeer deurbreek. Later die dag het sy Sylvia vir oulaas gesien, waar sy by ’n straatkafee ’n bos pers lelies koop.

Assia het die woonsteldeur gesluit, die laai oopgetrek waarin sy Sylvia se notas gebêre het, en vir die eerste keer opgemerk hoe Sylvia se handskrif vanaf kinderlik rond verander het na letters wat oneweredig en los uitmekaar gerek is. Asof sy vinniger en vinniger moes skryf. Assia het dit in ’n koevert gesit. Die volgende oggend sou sy soveel meer na Sylvia lyk, het sy gedink – met helderrooi lippe en ’n gesonde blos op haar wange, met stywe vingers en bene. ’n Somervakansie met koue nagte.

***

In haar testament het Assia bepaal dat haar suster Sylvia Plath se notas wat sy aan haar gepos het, moes verkoop sodat daar geld vir Shura sou wees. Die ironie dat Sylvia vir Shura indirek sou onderhou, het Assia nie verbygegaan nie. Maar dit was onnodig. Assia se suster het Sylvia se gesteelde manuskripte aan Ted teruggegee, want iewers deur die nag het Assia van besluit verander. Sy sou haar kind nié met toebroodjies en melk voor ’n toe deur los nie; sy sou haar kind saamneem.

Shura was waarskynlik gou slaperig van die medikasie. Voor die gasstoof het sy die kind neergelê. Toe het Assia ’n mengsel van whiskey en slaappille gedrink, haar kind in haar arms gevou en die gas oopgedraai. Ted, kon sy maar net hoop, sou vir die res van sy lewe soos ’n kat met ’n krom rug en stomp naels sy gemors probeer toekrap in een gedig na die ander.

Naskrif

Nicholas Hughes, seun van Sylvia Plath en Ted Hughes, pleeg op 16 Maart 2009  selfmoord deur homself te hang.

1 Afrikaanse vertaling deur die skrywer. Assia se Engelse vertaling van Yehuda Amichai se gedig lui: “Dates are already in view/ In which you no longer exist,/ Already a wind blows clouds/ Which will not rain on us both.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top