FIJ van Rensburg (1922–2015)

  • 0

Gebore en getoë

Francois Izak Janse van Rensburg is op 18 Januarie 1922 te Dewetsdorp in die Vrystaat gebore. Hy het sy eerste skoolonderrig op sy geboortedorp ontvang. Hy het sy laerskoolloopbaan in Bloemfontein aan die Dr Viljoenskool voltooi en is na Sentraal Hoërskool, ook in Bloemfontein, vir sy hoërskooljare. Hy het in 1938 sy matriek in die eerste klas geslaag en die Voortrekkergedenkbeurs is aan hom toegeken.

Verdere studie en werk

Frans van Rensburg is in 1939 na die destydse Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat (vandag Universiteit van die Vrystaat) waar hy hom ingeskryf het vir die BA-graad met Hollands, geskiedenis en Engels as hoofvakke. In 1941 het hy sy graad met onderskeiding in eersgenoemde twee vakke verwerf.

Hy het dadelik met die eerste deel van sy Magistergraad (later BA-Honneurs) in 1942 begin. In 1943 het hy sy universiteitsdiploma behaal en in 1944 die volle Magistergraad, al drie met lof. Sy M-verhandeling was getitel Die romanwerk van CM van den Heever.

Hy het in 1944 onderwyser geword en het gaan skoolhou op Ladybrand en Philippolis in die Vrystaat, voordat hy in 1945 as dosent aan die Vrystaatse Tegniese Kollege aangestel is.

In 1945 is hy getroud met Susan Grobler, ’n studentevriendin en vier kinders (drie dogters en ’n seun) is uit die huwelik gebore.

Die Koningin Victoriabeurs is aan Frans van Rensburg toegeken en tesame met ’n beurs van die Nederlands-Zuidafrikaanse Vereniging, kon hy na Amsterdam gaan vir verdere studie. Hy het aan die Gemeentelijke Universiteit in Nederlandse taal- en letterkunde gaan studeer terwyl Susan na die Vrije Universiteit is om haar verder te bekwaam in kindersielkunde.

Aan die Gemeentelijke Universiteit het hy onder professore Hellinga en Donkersloot gestudeer en ook lesings van NP van Wyk Louw in Afrikaans en professor Reichling in Algemene Taalwetenskap bygewoon.

Hy en sy vrou het albei in Maart 1951 hulle doktorale eksamens afgelê. Hulle het aan die begin van 1952 na Suid-Afrika teruggekeer waarna hy vir twee jaar op Kroonstad in die Vrystaat gaan onderwys gee het. Hy het intussen gewerk aan sy tesis, Skering en inslag: ’n stilistiese analise van "Ballade van die bose" van NP van Wyk Louw, waarvoor hy in 1954 sy doktorsgraad behaal het. Dit is in 1964 in boekvorm gepubliseer.

Frans van Rensburg het die tersiêre akademie in 1955 betree toe hy by sy alma mater, die Universiteit van die Vrystaat, aangestel word as lektor in Afrikaans-Nederlands, met opdrag taalkunde, Nederlandse letterkunde en stilistiek. In 1962 is hy bevorder tot senior lektor.

Die gesin het die Vrystaat middel 1967 verlaat toe hy in Julie as eerste professor in Afrikaans-Nederlands aan die Randse Afrikaanse Universiteit (vandag die Universiteit van Johannesburg) begin werk het. Hier was sy leeropdrag Afrikaanse en Nederlandse letterkunde. Hy was afwisselend departementele voorsitter, lid van die uitvoerende komitee van die senaat, voorsitter van die leerganggroep tale en dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte.

Hy het ’n belangstelling in publikasievryheid en -beheer gehad en in 1983 is hy na Wes-Europa met die doel om verder te studeer in hierdie onderwerp, veral die publikasievryheid en beheer in enkele Europese lande. Hy het in dieselfde jaar lid geword van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde.

In 1985 is sy boek oor pornografie deur Butterworths uitgegee onder die titel Pornografie. In ’n onderhoud met Koos Prinsloo in Die Burger (9 Oktober 1985) het Van Rensburg aan hom gesê dat die pornografie wat in Suid-Afrika geproduseer word, van die "bedenklikste" is. Sy boek is gerig op die openbare debat oor pornografie en beheer. "Dit wil dus almal bereik wat belangstel in die gehalte van die geesteslewe van die land."

Frans van Rensburg was sedert die 1960's besig met sensuur-aangeleenthede. Hy het aan Prinsloo vertel dat hy aan literêre debatte deelgeneem het en saam met Van Wyk Louw "ingeklim" het om die kritiek wat daar was teen die toekenning van die Hertzogprys aan Sewe dae by die Silbersteins, teen te werk.

"Ek het gehelp om byvoorbeeld die Vrystaat vir Leroux oop te skrywe, sover hy dit nie self gedoen het nie. Ek het heelwat gedoen om ’n ruimer klimaat vir die nuwe literatuur te skep. Maar gaandeweg, na gelang daar ’n liberalisering van publikasies gekom het – waaroor ek my grootliks verbly – het mense die nuwe geliberaliseerde toestand begin uitbuit. Allerlei skemerverskynsels maak nou hul opwagting. Maar dis ’n natuurlike verskynsel."

Dit was langs die weg van die sensuur dat hy by pornografie beland het, het hy aan Prinsloo verduidelik. "Dit lê volkome op die weg van die letterkundige om hom met pornografie besig te hou. In sy tekshantering moet hy onderskei tussen dit wat op ’n natuurlike wyse in die teks hoort of by die hare bygesleep is.

"Die letterkundige kritikus is die mees betroubare, ewewigtige getuie vir die aan- of afwesigheid van pornografie in ’n werk. Weens hul ‘belang’ by die kwessie van skuldig- of onskuldigbevinding van ’n publikasie op verhoor is die oordeel van ’n lid van ’n publikasie- of sensuurliggaam beperk vergeleke met dié van die onafhanklike kritikus – selfs 'die kundige getuie' in boekverhore."

Hy het die begrip "goedkeurende beelding" bygebring in die jare lange debat oor pornografie en dit is noodsaaklik, want, het hy aan Koos Prinsloo gesê, as pornografie omskryf word as net "ontmenslikte seks", ontsê jy die kunstenaar die reg om al daardie gevalle in sy boeke te beskryf waarin hy in sy ondersoek van die werklikheid afkom op gevalle waar mense ontmenslik word deur seks.

"Die verwarring oor die presiese aard van pornografie het diepgaande gevolge vir die gemeenskapslewe. As dit waar is dat pornografie verderflik is, moet daar nie twyfel bestaan dat sulke publikasies nie vrylik beskikbaar behoort te wees nie."

Braam Coetzee, destyds direkteur van publikasies in die sensuurbestel, het Pornografie as interessante leesstof beskryf, veral omdat iemand soos Frans van Rensburg, die belangeterreine van twee tradisioneel onversoenlikes bymekaar wou bring, naamlik kuns en sensuur.

"As literêre kritikus bied hy as’t ware aan om met sy struktuur-geskooldheid toe te sien dat die nodige onderskeid tussen pornografie en kuns gemaak en gehandhaaf word."

Die laaste twee hoofstukke van die boek is vir Coetzee ietwat teleurstellend omdat dit eintlik op ’n aanval op die "liberale benadering" van die Publikasieraad uitloop. Dit kan veroorsaak dat die werk as ’n soort morele traktaat gesien kan word. Coetzee het dit as jammer geag, want na sy mening "doen dit gewis af aan die deeglike navorsing en studie waarvan die eerste gedeelte getuig.

"Pornografie is ’n allesins leeswaardige werk oor ’n baie belangrike saak waaroor menings in die gemeenskap ongelukkig dikwels só uiteenlopend is dat daar nie vrugbare inwerking van die een op die ander is nie."

Sensuur het in 1990 gevolg en Joan Hambidge het in haar resensie in Oosterlig van 22 Junie 1990 geen doekies omgedraai oor haar mening van Sensuur nie.

Só skryf sy: "FIJ van Rensburg se poging om te wys dat sensuur nie ’n 'brute, neerdrukkende mag' is nie, 'maar ’n faktor wat saam met sy teenkantende krag iets waardevols tot stand kan bring, te wete ’n dinamiese ewewig van twee interaktiewe kragte: verantwoordelikheid en vryheid' oortuig my helaas nie.

"Dit mag vir die skrywer ’n lewenslange worsteling met ’n moeilike en sensitiewe vraagstuk wees, maar hierdie leser vind die goedkeurende knikkies in die rigting van ’n represserende sisteem ónaanvaarbaar."

Vanaf 1978 tot en met sy aftrede in 1987 was hy redakteur van Aanbeeld, meningblad van die RAU en ’n jaar na sy aftrede is hy genader om weer die redakteurskap op sy skouers te neem – ’n taak wat hy baie goed verrig het tot 1993. Met sy aftrede in 1987 is hy benoem as spesiale professor in die Afrikaanse departement, ’n posisie wat hy beklee het tot 1997. Hy was voorsitter van die RAU-vereniging (voorheen die Stigtersvereniging), asook lid van die Raad van RAU.

Van Rensburg was veral bekend vir sy werke oor NP van Wyk Louw en het vyf boeke oor Louw geskryf, waarvan die eerste sy proefskrif is – Skering en inslag (1964), Van Wyk Louw se intellektuele houding (1974), Sublieme ambag (1975), Swewende ewewig (1975) en Septet: sewe Van Wyk Louw-studies (1996).

PD van der Walt (Transvaler, 15 Maart 1975) was van mening dat die brosjure, Van Wyk Louw se intellektuele houding, ’n "kwalitatief voortreflike stuk werk is, en besonder leesbaar". Dit was ’n gedenklesing wat Van Rensburg op 9 September 1974 aan RAU gelewer het.

Van der Walt het voortgegaan: "Om Van Wyk Louw se intellektuele houding te identifiseer en die dinamiek daarvan te formuleer, is ’n gedugte taak wat berus op ’n grondige kennis en begrip van Louw se hele omvangryke oeuvre van poësie, drama, literêr-teoretiese en filosofies-beskoulike geskrifte. Terselfdertyd belig hy ook Van Wyk Louw se werk opnuut, prikkel die leser met sy frisheid van siening en segging, laat by jou ontdekkingsvreugde en ’n besef van die rykdom en waarde van NP van Wyk Louw se intellektuele en literêre nalatenskap."
Die kritici het ook komplimente uitgedeel aan Sublieme ambag (1975), die eerste van twee dele met die subtitel Beskouings oor die werk van NP van Wyk Louw. In Rapport (7 September 1975) het André P Brink geskryf: "Om die hele oeuvre van Van Wyk Louw sistematies onder die loep te neem en 'die dinge wat die belangrikste deurlopende temas of kragte daarvan is' indringend in hul historiese ontwikkeling na te spoor, is die gedugte taak wat prof FIJ van Rensburg aan homself gestel het: ’n breed-opgesette en ambisieuse onderneming. (...)

"Dat hy in so ’n mate daarin geslaag het om van sy geheel-ondersoek ’n ryk en geskakeerde onderneming te maak waarmee die Louw-kritiek voortaan sal moet rekening hou, is op sigself geen geringe prestasie nie – selfs al sou hierdie eerste bundel daar dan taamlik uitsien."

En dan het Brink die tekortkominge in sy resensie gelys voordat hy afgesluit het: "Dit bly in elk geval ’n sleutelwerk in die uitgebreide en uitbreidende literatuur oor Van Wyk Louw se poësie. En in weerwil van, soms, ’n stilistiese moeisaamheid en ’n hinderlike voorliefde vir sekere stelwyses (hoeveel keer 'vertoon' of 'bestryk' iets '’n wye register'?), is dit ’n kosbare en soms briljante gids op mens se reis deur hierdie groot en veeleisende oeuvre."

Oor die tweede deel Beskouings oor die werk van NP van Wyk Louw onder die titel Swewende ewewig (1975) het Audrey Blignault (Beeld, 17 November 1975) geskryf: "Van Rensburg behandel met verhelderende insig en deurdagtheid Van Wyk Louw se intellektuele houding, sy kulturele perspektief, sy volgehoue strewe om groter ruimte vir die studie van die letterkunde te skep, die krag van die nasionalisme in sy werk, sy gebruik van volkspoësie-materiaal in sy gedigte, die deurlopende verandering en vernuwing in die geheelpatroon van sy letterkundige bydrae, sy geleidelike ontwikkeling tot aanvaarding van die christendom, ’n waardebepaling van sy geleentheidskuns, en, ten slotte, Van Wyk Louw as uitdaging vir die huidige tyd."

Sy het Van Rensburg se toegewyde studie geprys, en so ook sy toepassing van vergelyking en ontleding, die twee belangrikste werkmetodes van die kritikus. Die leser kom ook onder die indruk van die "ruimheid" waarmee Van Rensburg sy taak as skrywer opgeneem het. Hy skryf "insiggewend en oortuigend oor die nasionalisme as een van die fundamentele dryfvere van Louw se werk en optrede. Duidelik toon hy aan hoe die Afrikanervolk as onmiskenbare tema in Louw se werk aan die orde van die dag is."

Frans van Rensburg se laaste boek met studies oor NP van Wyk Louw en sy werk is in 1997 gepubliseer onder die titel Septet: sewe Van Wyk Louw-studies.

Die eerste van die sewe studies, "’n Afrikaanse Abélard en Héloïse" handel oor die aangrypende liefdesgeskiedenis tussen Van Wyk Louw en Sheila Cussons. Pieter Duvenage (Tydskrif vir Letterkunde, Mei 1999) beskou hierdie essay as een van die beter bydraes van die bundel. In "Van Wyk Louw simbolis?" word gefokus op simbolistiese elemente in Louw se digwerk. Van Rensburg se uiteindelike slotsom is dat hoewel Louw toe hy jonger was, "onwennig" teenoor die simbolisme staan, dit later op ’n organiese vlak deel van die werk geword het.

Met die volgende essay "Buig, of nie?" ondersoek Van Rensburg die unieke wyse waarop Van Wyk Louw die byvoeglike naamwoord gebruik. En, sê Duvenage, in hierdie essay vind die leser Van Rensburg op sy mees tegniese en sal net die mees ingewyde leser dit verstaan. Die laaste opstel in die groep wat as meer tegnies beskou kan word, is "om met ’n skoon oog te kyk ...", wat handel oor een van die belangrikste uitsprake van Louw, "om die wêreld met ’n skoon oog te bekyk". Vir Duvenage is dit verblydend dat Van Rensburg hierdie uitspraak van Louw aan beide sy skeppende en besinnende werk meet.

In die tweede groep essays laat gaan Van Rensburg sy vergrootglas oor bepaalde temas in Louw se besinnende werk. In "Van Wyk Louw en sensuur" is ’n opstel ("Sensuur of pornografie?") wat Louw in 1947 geskryf het, sy uitgangspunt. Duvenage skryf: "Ten spyte van enkele inkonsekwensies, een van die weinige plekke in die bundel waar Van Rensburg dit versigtig waag om Louw teen te gaan; tog beskou Van Rensburg hierdie werk nog altyd as ’n klassieke bydrae oor die tema.

In die bydrae "Hoe praat jy met die hele volk?" behandel Van Rensburg op watter manier Louw sy plig as literêre volksopvoeder beskou het teen die "agtergrond van die spanningsverhouding tussen intellektueel en gemeenskap".
.
In die laaste bydrae, "Konfrontasie met Van Wyk Louw", kyk Van Rensburg na die kritiek wat die gevolg was van Gerrit Olivier se studie oor die literêr-filosofiese gevolge van Van Wyk Louw se denke. Duvenage skryf dat Van Rensburg, net soos JC Kannemeyer, afwysend staan teenoor Olivier se "totale Krieg" teen Louw.

Duvenage sluit sy bespreking af: "In die geheel beskou lewer Van Rensburg met enkele van die sewetal studies ’n verdere waardering van Louw se kreatiewe en besinnende werk. Hoewel sy 'tegniese geleerdheid' dreig om sommige bydraes te oorweldig, is die meeste bydraes heel toeganklik geskryf. Die grootste leemte van die bundel bly egter dat Van Rensburg te na aan Louw staan en daardeur verhoed dat sy nalatenskap met ’n breë literêre en teoretiese verwysingsraamwerk in gesprek geplaas word."

Roy Pheiffer het die resensie vir Insig van April 1997 gedoen en vir hom dui die titel daarop dat dit sewe artikels is, "op sigself staande en nie deurgekomponeer nie; los essays in een band". "In elke stuk word een aspek van Louw se werk metikuleus behandel, sover moontlik vanuit ’n teks-immanente benadering, en dit vind ek goed." (...)

Pheiffer het egter gemeen dat hy nie dink dat so ’n teksgebonde vertolking van Louw nodig is nie. "Waar daar nuwe insigte kom, is dit altyd goed. Maar vandag verlang ek veel meer na ’n interpretasie van Louw as ’n eenheid, wil ek graag meer geplaas sien in die perspektief van hede en verlede. Dan is die voortgaande debat tussen Van Rensburg en Olivier miskien nog die interessantste stem in die septet."

Van Rensburg het nooit gehuiwer om sy standpunt onomwonde te stel as dit gekom het by uitlatings wat ander mense gemaak het nie. In 1988 het André P Brink in ’n artikel in ’n Franse tydskrif gesê dat hy die doelstellings én die metodes van die ANC steun, hoewel hy sekere beginselbesware daarteen het. Hierop was Van Rensburg se reaksie as volg: "Dit staan enige landsburger vry om sy mening te lug oor sake wat hom raak. Van ’n bekende mens, soos professor Brink, kan ’n mens egter verwag dat ’n bietjie versigtigheid aan die dag gelê word. Daarmee bedoel ek dat as iemand uitsprake maak, is die ander man, byvoorbeeld politici, daarop geregtig om repliek te lewer.

"Daar moet ook gewaak word teen die gebruik van ’n bekende naam om sekere stellings aan die wêreld te verkondig. In die geskiedenis is daar talle voorbeelde van skrywers wat hulle by die revolusionêre geskaar het en later nie hul woorde en dade kon verantwoord nie. Daar was ook al in die verlede te veel gevalle waar ’n skrywer ’n omstrede stelling gemaak het, net om later, as hy gekritiseer word, te sê hy is verkeerd aangehaal of sy artikel is verkeerd vertaal."

In reaksie op ’n brief van RM de Villiers in Rapport van 20 Oktober 1974 oor die sensuurwet en die gevare daarvan vir die Afrikaanse letterkunde het Frans van Rensburg die volgende Sondag (27 Oktober 1974) in Rapport geskryf: "Die letterkunde het ’n partypolitieke speelbal geword, soos enigiets anders. Hy word van alle kante geskop, deur voor- én teenstanders van die regering. Dit is nié net ’n speletjie van mense wat die regering met en deur die letterkunde wil bykom nie, maar ook van hul opponente. Hul beweegredes, literêr gesien, verskil niks van mekaar nie. Albei véé hulle in laaste instansie aan die Afrikaanse letterkunde. Vir albei is hy maar ’n middel tot ’n doel. Dit is immers ’n bekende feit dat van die grootste pleitbesorgers van 'suiwering' van die Afrikaanse letterkunde deur sensuur, mense is wat nooit ’n Afrikaanse boek gelees het nie."

Frans van Rensburg het na sy aftrede nie agteroor gaan sit en rus nie, maar het hom besig gehou met ’n studie van die oorgang van een grondwetlike bedeling na ’n ander en meer spesifiek met die uiteinde van amptelike tale in so ’n situasie. Hy het verskeie voordragte oor hierdie spesifieke kwessie gelewer. Een van hierdie voordragte was getiteld "’n Taalbeleid vir ’n herenigde Suid-Afrika" wat oorspronklik as ’n referaat gelewer is op ’n tweejaarlikse konferensie van die Professor's World Peace Academy in Johannesburg in Januarie 1991. Dit is in die internasionale tydskrif Plural Societies opgeneem en in verkorte vorm in die Nederlandse tydskrif Beelden. Hy was een van die medewerkers wat die konsep-taalbeleid vir die Gauteng-provinsie opgestel het en was voorsitter van die Vrydaggroep, ’n landwye dinkskrum in belang van Afrikaans in sy veeltalige opset.

Hy was ook samesteller en redakteur van bundels literêre studies en drie digbundels van ander digters en het bydraes gelewer tot ’n groot hoeveelheid literêre studies. Hy het ook talle bydraes tot vak- en ander tydskrifte gelewer. In 1997 was hy aan die ontvangkant van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Gustav Preller-prys vir literatuurwetenskap.

In ’n onderhoud met Theunis Engelbrecht in Beeld (25 Maart 1997) het Van Rensburg gesê dat Van Wyk Louw se grootsheid geleë is in sy "openheid, sy oopstaan vir die volle werklikheid – die 'honger na die aard van die synde', soos hy dit in sy Amsterdamse intreerede gestel het. Die resultaat van hierdie ingesteldheid is die ruim register van sy werk, wat sowel artistieke skepping as kreatief-besinnende denke omvat (laasgenoemde in die vorm van twee omvangryke bundels, Versamelde prosa)."

Frans van Rensburg is op 10 Januarie 2015 (agt dae voor sy 93ste verjaardag) in die Morningside-kliniek in Johannesburg oorlede. Hy laat sy vrou, vier kinders en sewe agterkleinkinders agter.

Publikasies

Publikasie

Uys Krige

Publikasiedatum

1963

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Letterkundige biografie (Monografieë uit die Afrikaanse letterkunde. No 4)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die smal baan: aspekte en figure uit die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse letterkunde

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1971
  • 1975

ISBN

0624006514 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Letterkundige geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skering en inslag: ’n stilistiese analise van "Ballade van die bose" van NP van Wyk Louw

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Letterkunde en moderne tyd

Publikasiedatum

1968

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: RAU

Literêre vorm

Letterkundige studies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die helder woord: letterkunde vir standerd 6. Saam met JA de Coning

Publikasiedatum

1972

ISBN

0625010108 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasou

Literêre vorm

Letterkundige handboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Van Wyk Louw se intellektuele houding

Publikasiedatum

1974

ISBN

0869700472 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: RAU

Literêre vorm

Letterkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Sublieme ambag: beskouings oor die werk van NP van Wyk Louw. I

Publikasiedatum

1975

ISBN

0624006441 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Swewende ewewig: beskouings oor die werk van NP van Wyk Louw: II

Publikasiedatum

1975

ISBN

062400712X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Vyftig Afrikaanse skrywers: van die Eerste Taalbeweging tot die Sestigers. Saam met ander skrywers

Publikasiedatum

1981

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Africana-Pers

Literêre vorm

Letterkundige biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Van Vlaamse vos tot Afrikaanse jakkals: verafrikaansing van die Reinaert

Publikasiedatum

1983

ISBN

0869701436 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: RAU

Literêre vorm

Letterkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Pornografie

Publikasiedatum

1985

ISBN

9780409109054 (hb)

Uitgewer

Durban: Butterworths

Literêre vorm

Pornografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Sensuur: die stryd om ’n vrye verantwoordelike letterkunde

Publikasiedatum

1990

ISBN

0628034113 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Sensuur en letterkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Septet: sewe Van Wyk Louw-studies

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798136618 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

FIJ van Rensburg as samesteller:

  • Jubilate!: loofgedigte in Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg, 1995 [0624034275 (sb)]
  • Kokkewiet op Donderdag / saam met Cecile Cilliers. Kaapstad: Lux Verbi, 1992 [0869974149 (hb)]
  • Oor skrywers en boeke. Saam met ander skrywers. Johannesburg: Perskor, 1982 [0628018894 (hb)]
  • Reënboogmense reënboogland / saam met Cecile Cilliers. Kaapstad: Lux Verbi, 1995 [0869975080 (hb)]
  • Visser, AG: Roos en lanset: ’n keur uit AG Visser. Pretoria: Van Schaik, 1978 [0627009752 (hb)]
  • Boerneef, pseud: Sesde hoepel: 83 ongepubliseerde gedigte.Kaapstad: Tafelberg, 1976 [0624008363 (hb)]
  • Totius-kroniek: opstelle oor Totius.Kaapstad: Tafelberg, 1977 [0624009734 (hb)]
  • Pretorius, SJ: Veelspalt: ’n keur uit sy poësie. Johannesburg: RAU, c2000 [0869704796 (sb)

FIJ van Rensburg as redakteur:

  • Afrikaans: lewende taal van miljoene. Pretoria: Van Schaik, 2004 [062702579X (sb)]
  • Du Plessis, JCMD: FIJ van Rensburg (red): Afrikaans: lewende taal van miljoene
  • Die kunswerk as taal. Kaapstad: Tafelberg, 1975 [062400550X (hb)]
  • Onomheinde sin: huldigingsuitgawe vir FF Odendal / saam met JH Johl en R Johl.Johannesburg: RAU, 1989
  • Oopgelate kring: NP van Wyk Louw-gedenklesings 1-11. Kaapstad: Tafelberg, 1982 [0624017419 (hb)]

Artikels oor en deur FIJ van Rensburg beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top