#FeesMustFall: vervreemding en protes

  • 0

Foto: Naomi Bruwer

Navorsers Wynand Greffrath en André Duvenhage wys in hul LitNet Akademies-artikel “’n Arabiese Lente in eietydse Suid-Afrika?” daarop dat sommige mense voel dat “die hoë vlakke van sosio-ekonomiese ongelykheid, werkloosheid en armoede in Suid-Afrika” kan lei tot wat hulle ’n revolusie noem.

Met die 2015- en 2016-“Fallist”-beweging in gedagte, is hierdie gevoel realisties? Menán van Heerden het met die twee navorsers gesels.

Jul artikel is in Maart 2015 gepubliseer. Daarna het die 2015/2016-studente-protes in intensiteit toegeneem en groot opspraak verwek. Voel julle steeds dat die situasie in Suid-Afrika nie met die Arabiese Lente vergelyk kan word nie?

Wynand: Die huidige Suid-Afrikaanse politieke bedeling is nog ver verwyder van die tipe outoritêre regime of staatsbestel wat kenmerkend was van die Arabiese streek gedurende die 20ste eeu. Grootskaalse protesgebeurtenisse soos die FeesMustFall-veldtog word dikwels instinktief deur die hoofstroommedia vertolk as ’n legkaartstuk in ’n groter prentjie van ’n dreigende “Suid-Afrikaanse Lente”. Ja, dit is waar dat protes ’n voorbeeld van politieke onstabiliteit is, maar sodanige onstabiliteit is net een bestanddeel, naas vele andere, wat aanleiding gee tot ’n gebeurtenis soos die Arabiese Lente. Alhoewel protesbewegings (soos FeesMustFall, maar daar is baie ander voorbeelde in die Suid-Afrikaanse omgewing) op sigwaarde na agitators vir revolusionêre verandering mag voorkom, is die paradoks van protes dat dit ’n baie effektiewe uitlaatklep vir politieke agitasie is – politieke eise word geformuleer, aksie word geneem, teenstaande kragte konfronteer mekaar en ’n mate van skikking word bereik. Natuurlik sou mens wou sien dat politieke deelname eerder deur politieke instellings gekanaliseer word, maar dit is tipies van ongekonsolideerde demokrasieë en ontwikkelende state dat politieke deelname met ander, dikwels gewelddadige, middele bedryf word. In teenstelling hiermee was die deurslaggewende eienskap van die Arabiese Lente dat die outoritêre regimes in die streek vir dekades géén politieke deelname toegelaat het nie, en dat die staatsmasjinerie tot so ’n mate ontwikkel het dat dit politieke deelname geheel en al gesmoor het. Die sosiopolitiese druk wat oor die jare opgebou het, was die enkele belangrikste faktor wat die verbysterende spoed en diepgang van die revolusies verklaar wat regoor die streek op mekaar gevolg het.

André: Die groot raakpunte is die aanwesigheid van sosiale, politieke en ekonomiese onstabiliteit binne albei die kontekste. Beide omgewings is onstabiel, maar daar is belangrike verskille in die aard en die uitspeel van patrone van onstabiliteit in die onderskeie omgewings. In sommige state soos Egipte en Tunisië het die onstabiliteit tot vorme van gewelddadige regimeverandering en die vestiging van niedemokratiese bewinde en/of pretoriaanse politiek (die ingryping van die weermag in die politiek) gelei. In Suid-Afrika is bogenoemde nog glad nie ’n lewensvatbare scenario nie – ten minste nie op die oomblik nie. Tydens 2016 het Suid-Afrika ’n relatief suksesvolle plaaslike verkiesing gehad en was daar vorme van demokratiese regeringsverandering (en beperkte regimeverandering) in sekere plaaslike kontekste, byvoorbeeld Tshwane, Johannesburg en die Nelson Mandela-metropool. Die verskille is egter ooglopend wanneer die kontekste met mekaar vergelyk sou word. ’n Baie belangrike verskil is dat Suid-Afrika steeds kwalifiseer as ’n demokratiese staat, terwyl die state waar die Arabiese Lente voorgekom het, sonder uitsondering niedemokraties van aard was en steeds is.

In die Suid-Afrikaanse konteks is die scenario’s eerder ’n eskalerende patroon van korrupsie teen die agtergrond van ’n verswakkende staat aan die negatiewe kant en ’n moeilike fase van demokratiese konsolidasie aan die ander kant. Die groot vraag is watter een van hierdie twee lyne dominant gaan wees in die Suid-Afrikaanse politiek in die volgende vyf jaar. Die algemene politieke trajekte van die twee omgewings is dus baie verskillend op die oomblik. Die politiek van die Midde-Ooste en die vlugtelingkrisis in daardie omgewing is baie andersoortig as dit wat Suid-Afrika tans ervaar en beklemtoon die eiesoortige dinamika van die onderskeie omgewings. (Sommige ontleders en politici, onder wie Henry Kissinger, wys op die moontlikheid van ’n eskalerende oorlog in die Midde-Ooste en daar word selfs van ’n moontlike derde wêreldoorlog gepraat.) Op medium termyn kan verdere politieke onstabiliteit vir Suid-Afrika wel in die vooruitsig gestel word as gevolg van politieke, ekonomiese en sosiale kontekste wat onstabiel en/of disfunksioneel is. ’n Revolusie in die tradisionele sin van die woord is onwaarskynlik.

Wat is die verskil tussen ’n revolusie (soos wat die geval met die Arabiese Lente was) en ’n beweging (byvoorbeeld die “Fallist”-beweging, insluitend #FeesMustFall, #RhodesMustFall, #AfrikaansMustFall, ens)?

Wynand: ’n Revolusie het as doel die omverwerping van ’n staande staatsbestel of regime en die daarstelling van ’n nuwe politieke orde. Dit is dus ’n breë politiekemagsprojek wat die staat, ekonomie en maatskaplike omgewings tot hul wortels raak. Die Fallist-beweging se retoriek spreek tot so ’n uitkoms, maar hul aktivisme is in werklikheid toegespits op meer beskeie doelwitte by universiteite, soos ons oor die afgelope jaar gesien het.

André: ’n Revolusie kan voorgehou word as die gewelddadige omverwerping van ’n bestaande politieke orde (regime) as gevolg van die feit dat die bestaande stelsel nie by magte is om hoë vlakke van politieke mobilisasie te beheer en te hanteer nie. (“Revolusie” word egter dikwels gebruik om ander vorme van verandering, soos die tegnologiese of kommunikasierevolusie te beskryf. My beskrywing is spesifiek polities en skerper gefokus.) ’n Revolusie kan as uitkoms hê ’n nuwe politieke bedeling (regime) byvoorbeeld soos in Rusland na 1917, China na 1948 of Kuba in die laat vyftigs. Dit kan egter ook lei tot patrone van verdere onstabiliteit en selfs burgeroorlog, soos wat die geval was met Angola en Mosambiek tydens die sewentigerjare. Hoewel die Fallist-beweging (soos gevoed vanuit die denke van onder meer Fanon en Sartre) ’n sterk revolusionêre inslag het, is dit lank nie ’n revolusionêre beweging wat die regime gewelddadig omver kan en wil werp nie. Hier is eerder patrone van gewelddadige onstabiliteit wat voortspruit vanuit bepaalde sosio-ekonomiese uitdagings binne die groter samelewing. Die konsep van ’n uitgebreide en selfs gekoördineerde, opstand in die sektor is meer korrek as die woord revolusie soos hier bo gebruik. Wat egter wel duidelik is, is dat hierdie aktiwiteite toenemend verpolitiseer raak met die linkerkant van die politieke spektrum waar radikale kommunistiese denke asook swartmagdenke binne die raamwerk van postkolonialisme belangrike dryfvere word vir radikale en selfs gewelddadige politiek. Hierdie tendens in samehang met ander vorme van onstabiliteit ten opsigte van dienslewering, arbeidsonstabiliteit, die afbrand van skole ens dra tans daartoe by dat die Suid-Afrikaanse politiek besig is om te sekurokratiseer in ’n poging om orde, stabiliteit en veiligheid te verseker. Pretoriaanse politiek is dus besig om sterker binne die Suid-Afrikaanse politieke omgewing na vore te tree. Argumente kan wel gevoer word (en ek het dit al gehoor vanuit die linkse politiek) dat ons in ’n sogenaamde prerevolusionêre situasie vasgevang is. Ons het wel met soms hoë vlakke van sosiale, politieke en ekonomiese onstabiliteit te make (dit wil sê ’n onstabiele stelsel), maar is nog nie op die vlak van ’n revolusie soos wat dit vroeër beskryf is, of wat in sommige state tydens die Arabiese Lente ervaar is nie. ’n Kombinasie van faktore binne politieke, ekonomiese en sosiale omgewings in samehang met swak bestuur deur die regerende ANC mag vorentoe bydra tot hoër vlakke van onstabiliteit in Suid-Afrika. Dit is in hierdie verband dat die uitdrukking “perfekte storm” al gebruik is. Ons is nog nie daar nie.

Waaroor gaan die Fallist-beweging presies, en hoe sou mens dit omskryf?

Wynand: Die #MustFall-bewegings het elk hul eie selfgeformuleerde doelstellings en eise wat ek nie sal waag om te rekonstrueer nie. My interpretasie van die Fallist-verskynsel is egter een wat die bewegings beskou as deel van Suid-Afrika se kronologiese politieke ontwikkeling – spesifiek vanaf ’n postapartheid tydperk tot ’n postkoloniale periode. Kortom: die postkoloniale fase word gekenmerk deur ’n verwerping van die “kompromis” van postapartheid en ’n nuwe toespitsing op radikale oplossings vir bestaande politieke probleme. In die proses word die geskiedkundige onregte van kolonialisme en apartheid opgewakker ter regverdiging vir radikale en gewelddadige verandering. Die Fallist-verskynsel is dus die vergestalting van hierdie radikale postkolonialisme in die domein van hoër onderwys in Suid-Afrika. [Ek verwys graag die lesers na ’n artikel wat ek onlangs juis oor hierdie tema geskryf het.]

André: Die “Falliste” verteenwoordig ’n beweging wat verantwoordelik is vir gekoördineerde opstande eerder as ’n meer konvensionele revolusionêre organisasie met ’n ideologie, struktuur, lidmaatskap en ’n vasgestelde strategie. Die ideologiese wortels van die Fallist-beweging is divers en sluit in denke ten opsigte van dekolonisering (Fanon, Sartre ens); swart mag (Biko, Critical race theory ens); radikale feminisme; pan-Afrikanisme en selfs denke vanuit die sogenaamde Old Left en New Left. Daar is nie ’n eenvormige en samehangende ideologiese verwysingsraamwerk nie, maar eerder ’n “broad church” van denke. Van “politieke” strukture met permanente lidmaatskap is hier bykans geen sprake nie. Eerder verteenwoordig die Falliste ’n beweging wat sporadies steun organiseer en mobiliseer en waarin die sosiale media ’n belangrike instrument is. (Nic Grové, registrateur van UP, het by geleentheid verwys na “virtual gangs on social media” wat universiteite teister!) Soos met state waarin die Arabiese Lente voorgekom het, was die rol van sosiale media van kernbelang en is hier ongetwyfeld belangrike ooreenkomste. Die profiel van leiers is egter nie baie sterk nie en daar is al na die Fallist-beweging as ’n “leierlose revolusie” verwys.

My indruk is wel dat daar politieke organisasies agter die skerms behulpsaam en ondersteunend is tot die Fallist-beweging. Die naam van die EFF het telkens opgeduik, veral ten opsigte van die meer noordelike kampusse. (CPUT in die suide blyk ’n uitsondering op die reël te wees.) Daar was ook getuienis dat organisasies links van die sentrum, met bande met die sogenaamde New Left en die SAKP, ondersteunend tot die Falliste kan wees. Wat egter duidelik is, is dat hoër onderwys nou vierkantig binne die domein van die radikale politiek geherdefinieer word. Die status quo soos wat ons dit geken het na 1994, het onherroeplik verander. Politieke groeperinge wat historiese bande met die ANC gehad het (maar ontevrede is met die leierskap en bestuur van die organisasie) vind in die Falliste ’n strategiese bondgenoot vir kritiek teen die bestaande politieke orde, wit kapitaal en bevoorregting, en word benut as grondslag vir die bevordering van die politieke agenda links van die sentrum. My oordeel is dat die Falliste sterk ant-Zuma georiënteer is en ook as drukgroep funksioneer binne die groter raamwerk van die “broad church” van die ANC.

Is die Fallist-beweging direk gerig teen universiteite, of is dit eerder ingestel op die regering?

Wynand: Beide, ten dele. Die sosio-ekonomiese sy van die beweging eis dat gratis tersiêre onderwys geïmplementeer moet word, dat arm studente se voedsel en verblyf befonds moet word, en dat alle universiteitswerkers billike salarisse moet ontvang en permanent in diens geneem moet word. Hierdie eise is ver buite die universiteite (as individuele instellings en as sektor) se vermoëns om te verwesenlik. Dit is veel eerder die domein van die staat. Tog teiken die Fallist-bewegings die universiteit verkeerdelik as verantwoordelik vir die voorsiening van hierdie publieke goedere. Sommige universiteitsbesture het ’n groot fout begaan deur hierdie makrokwessies te probeer oplos. ’n Onwerkbare presedent is daardeur geskep wat universiteite daaraan uitlewer om staatsfunksies te verrig, ten koste van die universiteit se funderende kennisfunksie.

Aan die ander kant spreek die Fallist-bewegings se institusionele eise direk tot universiteite. Sake soos institusionele kultuur, taal en die sogenaamde dekolonisering van die kurrikulum is kwessies wat binne die universiteit se bevoegdheidsfeer val.

André: Die fokus is wesenlik die sosiale en ekonomiese transformasie van die samelewing in die algemeen met as doel “to eradicate the specific relations of productions that underpinned the national and gender oppression and the super exploitation of the majority of South Africans” (Strategy and Tactics, 2007). Hoewel die groter konteks (die tweede fase van transformasie) sentraal staan, is die fokus van die Fallists wel universiteite. Die beweging het egter vinnig momentum opgebou en simbolies sy invloed laat geld op ander terreine van die samelewing, met inbegrip van die staat, kerk ens. Wanneer sosiale onstabiliteit ’n sekere vlak bereik, soos wat die geval was met #FeesMustFall, verkry dit ’n politieke dimensie en word die sekurokrate ingetrek in die proses. Dit is wat tydens 2016 gebeur het en my indruk is dat die sekurokrate beter voorbereid is vir gebeure tydens 2017. Indien die onstabiliteit van 2016 tydens 2017 herhaal word, mag die uitkoms hoër vlakke van geweld wees.

Tot watter gevolgtrekkings sal ’n waarnemer kom wanneer die Fallist-beweging met die 1976-opstande in Suid-Afrika vergelyk word?

Wynand: Daar is sekerlik parallelle wat tussen die twee gebeurtenisse getrek kan word. Dit is veral belangrik vir die Falliste om die legitimiteit van die ’76-opstande vir hulle toe te eien vir die beweging se eie doeleindes en politieke beeld. Tog dink ek die Fallist-verskynsel moet beskou word vanuit die unieke kontemporêre ontluikende postkoloniale tydsgees waarin dit tans afspeel.

André: Die Falliste het heelwat simboliese impetus gehaal uit dit wat in 1976 in Soweto gebeur het. Tog is daar belangrike verskille, naamlik die fokus van die Falliste op universiteite op ’n nasionale vlak (die meeste universiteite is direk of indirek geaffekteer) en historiese en konteksmatige verskille in terme van die reaksie op apartheid vs reaksie teen die nalatenskap van kolonialisme. In beide gevalle was die onderwyssektor egter ’n sagte teiken met verreikende implikasies vir die sosiale, politieke en ekonomiese omgewing binne die groter staat. (Hou in gedagte dat die skade van #FeesMustFall op bykans een miljard rand gereken word en, meen ek, die simboliese en psigologiese skade nog heelwat meer.) In beide gevalle is ’n kultuur van onstabiliteit gevestig wat geensins positief was of is vir die groter onderwysbedeling in Suid-Afrika nie. Die probleem is dat ’n tradisie van geweld ’n politieke kultuur kan word wat baie moeilik gestuit word – amper soos wat tans met diensleweringsproteste die geval is.

Is die oorsaak van die Fallist-beweging die mislukking van die regering om aandag aan ernstige sosio-ekonomiese kwessies na 1994 te gee?

Wynand: Sonder twyfel, ja. Die postapartheid “born-free”-generasie (wat tans die postkoloniale voorhoede is) se waardigheid en selfvertroue is beroof deur die ANC se regeerkundige mislukkings oor die afgelope 20 jaar, waarvan die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel sekerlik die mees kritieke slagoffer is.

André: Daar is geen twyfel dat sosio-ekonomiese kwessies tans voorop gedefinieer word in die Suid-Afrikaanse politiek nie. Die NDR (Nasionaal-Demokratiese Revolusie-idee) – die leidende politieke ideologie – word nie verniet voorgehou as “a process of struggle that seeks to transfer power to the people and transform society into a non-racial, non-sexist, united, democratic one and changes the manner in which wealth is shared, in order to benefit all the people” (Strategy and Tactics, 2007:21). Die tweede fase van die revolusie fokus juis op sosio-ekonomiese aspekte. Die argument is dat die Grondwet goed was vir die politieke oorgang, maar ontoereikend is vir sosio-ekonomiese transformasie. Die Mandela-De Klerk-akkoord word selfs as verraad gesien wat reggestel moet word. Universiteite en #FeesMustFall is nie los van hierdie groter denkpatroon nie. Trouens, dit is ’n direkte manifestasie van hierdie denkpatroon en hoe daar revolusionêre optrede moet wees om die onregte van die verlede reg te stel. Die linkses wys daarop dat die regering misluk het om armoede uit te skakel, gelykheid te bevorder en sosiale opheffing te verseker. Daarom kan en moet die reg gevolglik in eie hande geneem word. Hierdie verskynsel sien ons deesdae op meer terreine van die samelewing en dit is besig om in intensiteit toe te neem.

Indien wel, in watter mate sny die Fallist-beweging sosio-ekonomiese ongelykheid, werkloosheid en armoede aan?

Wynand: In ’n baie klein mate. In ’n samelewing waar minder as 7% van die bevolking ’n vorm van naskoolse onderwys voltooi het, is die Fallist-bewegings gemoeid met die belange van ’n uitgesoekte elite. Verder moet daar in gedagte gehou word dat die finansiering van die Falliste se eise vanuit ’n beperkte nasionale begroting verhaal moet word – die koek is immers net só groot. Dit is dus hoogs waarskynlik dat ander dringende maatskaplike prioriteite as gevolg van die Fallist-beweging se suksesse by universiteite nié aandag sal kry nie.

André: Dit is ’n belangrike onderliggende motivering vir radikale optrede en handeling. (Vergelyk ook die vorige antwoord!) Dit moet ook onthou word dat universiteite sagte teikens is wat hulself nie maklik kan verdedig nie en waar die simboliese impak hiervan geweldig groot is in vergelyking met dit wat ons in Wes-Europese state in die sestigerjare van die vorige eeu gesien het. Dit is ’n maklike, relatief goedkoop strategie met ’n baie groot sielkundige en simboliese impak. Sosio-ekonomiese aandrywers (toelatings, behuising, klasgelde ens) is belangrike redes op grond waarvan steun georganiseer en gemobiliseer kan word en dien as motivering vir die bedryf van radikale politiek.

Indien nie, wat is die fokus van die beweging, of is daar meerdere kwessies waarop gefokus word?

André: Die primêre fokus is (soos vroeër genoem) die radikale transformasie en ook die bevryding van universiteite. Dit hang egter saam met die groter sosiale en ekonomiese bevryding van Suid-Afrika en die daarstelling van ’n nasionaal-demokratiese samelewing met egalitarisme of gelykheid en die gelyke verdeling van produksiefaktore as belangrike en bepalende uitkomstes. Radikale bewegings soos #FeesMustFall kan en moet die regering se hand sterk om radikale transformasie in die sektor te bevorder.

Hou ook in gedagte dat universiteite van die laaste openbare instellings is wat nie volledig onder staatsbeheer is nie. Wetgewing is onlangs ook aanvaar om die staat groter beheer te gee om die nodige radikale veranderings aan te bring en die minister van hoër onderwys dienooreenkomstig te bemagtig. Dit is op talle vlakke vir universiteite ’n bykans onmoontlike situasie om te bestuur. Staatsingryping, wat outonomie direk bedreig, vergrote toegang en dus meer studente, swakker befondsing, verlies aan vermoë as gevolg van talle faktore en sosiale en politieke onstabiliteit is besig om die universiteitswese in Suid-Afrika in gevaar te stel.

In vergelyking met die konkrete besware teen swak dienslewering in die postapartheid era, wat is die ideologiese onderbou van die Fallist-beweging?

Wynand: Ek dink nie die Fallist-beweging beskik oor ’n koherente ideologiese onderbou nie. Eerder as ’n ideologie word ’n lapwerk van diverse, soms verbandhoudende, maar dikwels teenstrydige konstrukte op ’n hoogs pragmatiese wyse aangewend. Skadu’s van swartmagdenke, geweld, pan-Afrikanisme en anti-Westerse tradisionalisme word gemobiliseer saam met konsepte soos pasifistiese protes, interseksionaliteit en genderidentiteit. In sommige gevalle is hierdie konstrukte weersprekend of lynreg in stryd met mekaar. Dit is veral opmerklik (ironies?) dat rassebewussyn en rasse-identiteit ’n oorheersende rol speel in ’n beweging wat deur sogenaamde “born-frees” aangedryf word.

André: Hier is (soos ook vroeër genoem) nie net een ideologiese denkpatroon nie, behalwe moontlik dat al die denkpatrone ’n radikale inslag het. Hier is sprake van ’n “broad church” van denke wat inspirasie put uit radikale denkpatrone wat swartmagsdenke, radikale feminisme, denkpatrone vanuit die marxisme, neomarxisme, trotskiisme en eksistensialisme, asook perspektiewe vanuit die Old Left en New Left insluit. Die fokus is baie sterk postkolonialisties, wat meer fundamenteel en radikaal is as die kritiek teen apartheid in die postapartheid era. Laasgenoemde (postapartheid) het te make gehad met die politieke oorname en die vestiging van ’n nuwe regime, terwyl die postkoloniale fase te make het met die rekonstruksie van die ekonomie en die vestiging van ’n nuwe samelewingsorde gebaseer op ’n nuwe stel waardes. Universiteite staan sentraal en mag nie uit pas wees met die beweging na ’n nuwe orde nie. Trouens, universiteite moet juis die bouers word van hierdie nuwe orde en die nuwe akademie dienooreenkomstig help definieer wat op sy beurt kan help bou aan ’n nuwe samelewingsorde soos vroeër beklemtoon.

Hoe formuleer die Fallist-beweging hul besware teen die feit dat die demokratiese verandering in 1994 nie die gewenste uitkoms gehad het nie?

Wynand: Hier kom die sentrale tema van radikale postkolonialisme weer na vore waarna ek vroeër verwys het. Die onderhandelde demokratiese oorgang van 1994 was in terme van postapartheidsdenke gekonseptualiseer. Waar apartheid Suid-Afrikaners geskei het, was postapartheid ’n tydperk van toenadering en versoening. Dit was ’n tyd van reënboognasionalisme, “hande vat” en nasiebou. Dit was bowenal ’n kompromis wat gesluit is in die post-Koue Oorlog tydperk toe liberale demokrasie hoogty gevier het na die inploffing van sosialisme. Tydens daardie tydsgees van die vroeë negentigerjare het die internasionale gemeenskap van Suid-Afrika verwag om deel te word van die nuwe liberaal-demokratiese wêreldorde as uitkoms van ’n onderhandelde skikking. En dit is ook wat gebeur het. Daar was nie revolusie, bloedlating of vergelding nie – geen politieke katarsis of seminale oomblik van oorwinning nie. Vir baie Suid-Afrikaners was daar nie eers werklik verandering nie.

Na sowat 20 jaar is die postapartheid tydperk nou verstreke soos wat die sosio-ekonomiese belofte van demokrasie nog onvervuld bly. In die geïnstitusionaliseerde politiek is daar ’n verskuiwing na links te bespeur met progressiewe en radikale retoriek wat toenemend stemme werf. Buite die partypolitiek neem burgerlike protes en samelewingsgeweld toe. Dit is in hierdie tydsgewrig dat veral jong swart Suid-Afrikaners nou die skikking van ’94 en die postapartheidsidee verwerp, op soek na die daadwerklike verandering wat ander bevrydingsbewegings destyds regoor Afrika bewerkstellig het. In hulle oë was daar nog nooit genoegsame boetedoening en belydenis deur wit Suid-Afrikaners vir die sondes van kolonialisme en apartheid nie. Hierdie stryd word nou by universiteite deur ’n jong generasie gevoer wat geen geleefde ervaring van die oorgangsjare van die vroeë 1990’s het nie. Tesame hiermee is universiteite “sagte” teikens vir radikale postkoloniale en gewelddadige protesoptrede – enige instelling waar kennis en idees gebruik word primêr om verandering te bewerkstellig, is uiters kwesbaar teen aanslae van geweld en kragdadigheid. Vir die Falliste is sommige universiteite dus vestings van wit Westerse (en soms Afrikaanse) bevoorregting wat met die afskaffing van apartheid ook uitgewis moes gewees het.

André: Die revolusie het nie die uitkomstes gelewer wat veral vanuit die linkse kant van die politiek verwag is nie. Vandaar perspektiewe soos die uitgestelde revolusie ens. Die kernargument is dat politieke beheer (waar die regering jou boonop gefaal het) niks beteken as dit nie ook sosiale geregtigheid en ekonomiese bevryding beteken nie. Daarom moet die apartheids-/koloniale orde tot in sy fondament afgebreek word (ooreenkomstig die breë denkpatroon) en moet die fondasies vir ’n nuwe orde gelê word. Kortom, universiteite moet radikaal getransformeer word in terme van personeel, studentekorps, sillabusse en polities-ideologiese oriëntasie, en moet die spreekwoordelike Israeliete (die verontregtes en verdruktes) die beloofde land Kanaan ingelei word. Daarom word die huidige bedeling nie as volledig demokraties gesien nie en moet die revolusie eers volledig afgehandel word ooreenkomstig hierdie denkpatroon. Dit vorm dan ook die grondslag vir die regverdiging van radikale politieke denke en die gebruik van politieke geweld waar en indien nodig. Kortom, die demokrasie is ’n “onvoltooide projek” en benodig dikwels geweld (ooreenkomstig hierdie denkpatroon) om die bouwerk te voltooi. Hierdie perspektief staan egter teenoor die wese van dit waarvoor die demokrasie wel staan en waar dit vandaan kom.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top