#feesmustfall: Lesse uit die verlede

  • 0

#feesmustfall

Wat kan vandag se studente uit die protes van die verlede leer?

Ons publiseer graag sterk en bondige bydraes, insluitend essays, gedigte en lirieke. Jy kan ook aan hierdie gesprek deelneem – stuur jou mening aan naomimeyer@litnet.co.za.


 

In die middel van Wits-studente se opmars na Luthuli House in Johannesburg het die digter Pippa de Villiers ‘n Facebook-pos geplaas oor "microphone sickness". Sy het dit gehad oor die studenteleier Vuyani Pambo wat probeer het om Gwede Mantashe, die ANC-sekretaris-generaal, te dwing om tussen die studente op die teer van Sauerstraat te gaan sit.

Pambo is daarna elders deeglik gekritiseer, maar De Villiers se onmiddellike reaksie en raakvatkritiek met ‘n lekker meme ook daarby, staan in die teken van die geweldige verskille tussen die opstande van die struggledae en die situasie vandag. Sulke kritiek sou nie in daardie tye moontlik gewees het nie.

Daar is niks wat vandag se studente kan leer uit daardie struggletye nie. Die landwye optogte en aksies is eerder ‘n demonstrasie van hoe baie die deelnemers aan openbare protes sedert daardie Koue Oorlog-dae geleer het. In kommentaar en benaderingswyses soos uitgedruk op sosiale media – natuurlik ‘n revolusionêre vlak van verskil tussen toe en nou – kom die idees om straatprotes wat tydens die era van die alterglobaliste in die laat ‘90’s en die Occupy-bewegings in meer onlangse jare duidelik na vore.

Die struggle was natuurlik baie groter, en ons sal nog moet sien of die huidige beweging genoeg fut het om na daaraan te kom wat omvang betref. Daar was felle onderdrukking met vele sterftes; staatsagente en informante was volop; en daar was natuurlik fisiese apartheid, wat mense in nou ruimtes ingedwing het soos in ‘n kookpot. Heelwat meer moed was nodig as vandag, maar dit het alles ook gelei tot heelwat dwang en dissiplinêre dwingelandy. Konformisme was die onuitgesproke eerste waarde en baie dissidente geeste het hulle in ‘n gees van opoffering onderwerp aan eise dat besluite vanuit Lusaka eerbiedig moes word, al het hulle nie altyd plaaslike omstandighede in ag geneem nie.

Elders ter wêreld het denkers raakgesien dat hierdie soort “yster in die siel” wat Jean-Paul Sartre voorgeskryf het, homself tot die dun end van die wig sou slyp wat uiteindelik daartoe sou lei dat enige werklike verandering op homself sal ineenstort. Die alterglobaliste het die teenoorgestelde voorgeskryf – so min moontlik struktuur, soveel as moontlik spontaniteit. Die swakpunt hiervan was natuurlik dat die beweging nooit genoeg krag kon ontwikkel, ten spyte van die honderde miljoene deelnemers aan optogte en aksies dwarsdeur die wêreld, om regtig ‘n verskil te maak nie. Toe Hugo Chavez van Venezuela dreig om dit oor te neem en daardie struktuur te verskaf, het die beweging doodgeloop.

Daarna het Occupy gevolg. Geïnspireer deur die Arabiese Lente en die okkupasie van Tahrirplein in Kaïro het studente Zuccottipark naby Wallstraat in New York beset. Hulle het dit gehad teen die uitspattighede van globale korporasies, gevoed deur die besef dat Wallstraat se bankiers nie net skotvry sou afkom van die 2008 finansiële krisis wat Amerikaners oornag armer gemaak het nie, maar selfs meer geld en mag sou laat verwerf. Die Occupy-idee is ‘n afbring-na-die-aarde van globale kapitalisme, wat elke mens op aarde se lewe diep affekteer, maar geen sentrum meer het nie, nie eens Wallstraat nie.

Occupy het een stap verder as die alterglobaliste gegaan, en hierdie idee sien ‘n mens in Suid-Afrika se studente-optogte: daar is nie eens ‘n lys eise nie, soos die Washington Post eenmaal geknies het. Geen georganiseerde groep is toegelaat om die beweging te kaap nie – Mmusi Maimane van die Demokratiese Alliansie is die vinger gewys, maar so ook lede van ander partye. Toe die ANC sy lede aanmoedig om deel te neem, het die boodskappe gou gevlieg hoe die party nie toegelaat moet word om die studente te infiltreer met sy manier van doen nie.

‘n Mens kan selfs verder gaan en beweer die 0%-slagspreuk het die staat die vatplek gegee wat hy nodig gehad het om die beweging hok te slaan: Zuma se aankondiging dat die staat aan die eis sal voldoen, het die wind uit ‘n paar seile geneem.

Hoe nou verder? Omdat die beweging so amorf is, kan alle onvergenoegdhede daarop oorgeplant word. Selfs konserwatiewe kommentators soos Business Day se Simon Lincoln Reader steun die studente. Van die begin af was dit duidelik dat dit gaan om “meer as net gelde”, en meer as net ‘n gratis opvoeding vir almal. Dit gaan op iets werklik blywends uitloop net as dit lei tot verandering van een of ander aard, en dan praat 'n mens nie net van ‘n vermindering van steun vir die ANC by aanstaande jaar se verkiesing nie. “Transformasie” is die alomteenwoordige woord, maar dis waar die beweging se swakhede, en dié van sy voorgangers, die volgende knelpunt gaan verskaf: terwyl daar nou ‘n wye koalisie ten gunste van transformasie is, selfs met die flou konserwatiewe sentiment van “so kan dinge nie langer verval nie”, is dit glad nie duidelik wat met “transformasie” bedoel word nie.

Sekerlik kan dit nie genoeg wees dat swart gesigte wit gesigte vervang nie. Een deurlopende, baie belowende tema in al die gesprekvoering is dat sommige swart gesigte witter as sommige wit gesigte is; “witheid” is nie meer ‘n velkleurgebonde verskynsel nie. Natuurlik kan dit lei tot die verrysing van ‘n swart rassisme, of die eksplisitering van die swart rassisme wat daar reeds in regerings- en partygeledere bestaan, maar daar is veel belowends daaraan om aan hierdie begrip ‘n klem te gee wat meer dui op ‘n plaaslike, Afrikagerigtheid – ‘n Occupy Africa.

Aan so ‘n soort diskoers kan Afrikaanse mense met groot vrug deelneem. Ons hele geskiedenis is een van Afrikagerigtheid – “Afrika” is in die naam van die taal wat ons hier te lande help skep het. Wat verblydend was in die reaksie oor die studente-optogte, was hoe baie Afrikaanse mense positief gereageer het, hoe baie wou gaan deelneem (hoewel dit nie lyk of baie toe by die Uniegebou opgedaag het nie). Die stompsinniges wat met ou Oranje Blanje Blou-sentimente gereageer het, het nogal baie soos die ANC se leiers geklink – net nog ‘n bewys dat die ou en nuwe garde in dieselfde kraal en ewe fascisties is.

Een van die temas wat bearbei moet word in die debat wat gaan kom, is dié van taal. Daar sal geen transformasie wees as opvoeding bloot gaan verswart en verengels nie. Dit sal net nuwe grense vir uitsluiting skep – trouens, Engels en swart is reeds gevestig as die nuwe formule vir die rangordes van eksklusiwiteit waarvan ons maar net nie kan wegkom nie. Dis duidelik – sien die meer onnosele uitsprake tydens die Open Stellenbosch-episode – dat daar groot onkunde oor taal bestaan, en veral oor die nierassigheid van Afrikaans, en hoe dit ‘n model vir ander tale kan verskaf. Hierdie onkunde bestaan ongelukkig ook onder universiteitsowerhede, wat nie verbasend is in die lig van die relatiewe gebrek aan mense uit die geesteswetenskappe in hul bestuursgeledere nie.

Afrikaans kan in die voorgrond van verandering en transformasie geplaas word. Afrikaanse mense is te geneig om terug te keer na uitgediende simbole en diskoerse; die stryd om Afrikaans kan baie maklik op konseptuele vlak in die transformasiebeweging inskakel.

Universities, language, access, education, and student protest – follow the debate.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top