Fanie Naudé wen Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2014

  • 0

Die rektor en vise-kanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), prof. Brian O’Connell, kondig graag aan dat die Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2014 aan S.J. (Fanie) Naudé toegeken word. Die beurs beloop R350 000 en word toegeken vir ’n skryfprojek.

Die toekenning spruit uit ’n bemaking van oorlede Marjorie Wallace ter ondersteuning van kreatiewe skryfkuns in Afrikaans.

O’Connell het bevestig dat “die Jan Rabie en Marjorie Wallace toekenning die grootste toekenning vir die aanmoediging van skeppende skrywers in ons land is” en ’n uitvloeisel is van Rabie en Wallace se ”visie en ruimhartigheid van gees.”

Na deeglike oorweging is Naude se aansoek eenparig gekies deur die beurskomitee, bestaande uit Ingrid Winterbach, Anastasia de Vries en prof. Steward van Wyk, voorsitter van die UWK se departement Afrikaans en Nederlands.  Prof. Van Wyk het aangedui dat ’n totaal van 30 aansoeke ontvang is. Die komitee was ingenome met die groot aantal aansoeke van jong, opkomende skrywers wat getuig van die lewenskragtigheid en talent binne die Afrikaanse skrywersgemeenskap.

Naudé het ’n uitstaande projekvoorstel ingedien met ’n breedvoerige en besonder deurdagte uitleg van die beoogde roman asook ’n duidelike werksplan. Die beoogde roman speel af teen die agtergrond van diaspora en binne ’n kosmopolitiese wêreld en is daarop afgestem om ongekaarte gebiede vir die Afrikaanse taalwêreld oop te skryf.

In reaksie op die nuus het Fanie gesê dat dit vir hom ’n blye dag is.

Hy moet egter nog tot verhaal kom. Hy bedank die Universiteit van Wes-Kaapland vir die geleentheid wat die beurs skep om hom nou toe te wy aan die skryfprojek.

Lees nog oor Fanie Naudé: SJ Naudé se ATKV-Skrywersalbum

Lees nog: Onderhoud met Steward van Wyk oor die Jan Rabie Marjorie Wallace Skrywersbeurs

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top