Filmresensie: Fabergé – A life of its own

  • 0

faberge650

Draaiboek en regie: Mark Patrick

Jongkêrels van die 1980’s sou een van drie geure aan die melkbaarde tik: Blue Stratos, Old Spice, en dan so ’n trappie hoër – Brut deur Fabergé. Dat laasgenoemde ’n verbintenis het met die fabelagtige Fabergé-eiers sou ek nie kon raai nie.

Benewens die heerlike visuele oordaad van die objects d’art – goud, silwer, edelstene en helderkleurige enemmelwerk – bied hierdie dokumentêr ’n oorsig van die Russiese sosiale en politieke geskiedenis vanaf die 1880’s tot ná die revolusie van 1917. Die laaste twee tsaars, Alexander en Nikolaas, het duidelik niks geleer uit die Franse Revolusie van ongeveer honderd jaar vroeër nie, en wie weet of die wêreld van skatryk-teenoor-brandarm vroeg in die 21ste eeu enige lesse uit die geskiedenis sal leer.  

St Petersburg was indertyd die setel van die Romanof-tsaars, en al was die stad se pragtige argitektuur Italiaans geïnspireer, was die Romanof-hof wat modes en kuns betref op Frankryk gerig. Carl Fabergé is as eersteling van Franse immigrante-ouers in St Petersburg gebore. Sy pa had ’n klein juwelierswinkel, maar dit was van kleins af Carl se ambisie om as’t ware die Romanofs se hofjuwelier te word. Saam met sy jonger broer, wat ook in Europa as juweelontwerper en vakman opgelei is, het hy deur die jare die hoog aangeskrewe Huis van Fabergé opgebou, wat mettertyd internasionaal uitgebrei het.

Hoe Fabergé veel later by (onder andere) ’n oorsoet naskeermiddel uitgekom het, kan kykers maar self uitvind in hierdie fassinerende film. Belangrik: Van die beperkte speeltyd by die land se vier Cinema Nouveau-teaters is nog net twee vertonings oor, naamlik 29 en 30 Julie om 20:00. 

Sterre: 4

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top