Evolusie, wetenskap en geloof: 'n Biografiese inleiding tot die denke van Teilhard de Chardin

  • 13

Titel: Evolusie, Wetenskap en Geloof: 'n Biografiese inleiding tot die denke van Teilhard de Chardin
Skrywer: Jaap Durand
Uitgewer: Bybel-Media
ISBN: 9780864877055

 

Koop Evolusie, Wetenskap en Geloof by Kalahari.com.

 

 

Nog 'n boek oor evolusie, wetenskap en geloof deur 'n gereformeerde teoloog! Met alle respek, het ons nie al genoeg van daardie soort gehad nie?

Jaap Durand het daardie vraag voorsien. Met die intrapslag sê hy:

In ons tyd kry die probleemverhouding tussen wetenskap en geloof in veral die populêre media besondere, selfs oormatige, aandag. [...] Hoe moet dit gedoen word sonder om weer stofgetrapte paadjies te bewandel en te sê wat almal dink jy behoort te sê, of selfs nie te sê nie? (11)

Deur die loop van die inleidende hoofstuk word uitgewei oor daardie paadjies. Aan die een kant staan die hedendaagse kreasioniste, wat aandring op die letterlike lees van Genesis 1 en 2 en veral in die VSA oor genoeg politieke slaankrag beskik om skoolleerplanne te beïnvloed; aan die ander kant, die "apostels van die leegheid" (Richard Dawkins en George Claassen word op die naam genoem) wat alle vorme van godsdiens as misleidend brandmerk en aktief beveg.

Durand wys daarop dat die hele kwessie ver in die geskiedenis van die Christendom teruggaan, en erken dat die verteenwoordigers van die Christelike geloof nie juis 'n lofwaardige rol gespeel het nie. Hulle antwoorde op "die moeilike vrae [...] is met soveel beterweterige verwaandheid aangebied dat, toe die valsheid van daardie antwoorde bo alle twyfel duidelik geword het, die saak van die geloof byna onherstelbare skade aangedoen is" (17).

Iewers tussen die onversoenbare uiterstes kan gemeenskaplike terrein gevind word: daar bestaan talle gelowige wetenskaplikes; die meeste gereformeerde Bybelkundiges het 'n genuanseerde, geskiedkundig-gefundeerde siening van die Bybel; en selfs die Vatikaan maak so nou en dan deure oop deur dogmatiese uitsprake uit die verlede te herroep.

Die gebruiklike manier om hierdie teenpole te versoen, is 'n soort "vreedsame naasbestaan": teologie en wetenskap oortree nie op mekaar se terrein nie. In hierdie boek word 'n ander manier beskryf, waarvan die sobere subtitel min verraai: "'n Biografiese inleiding tot die denke van Teilhard de Chardin". Daardie manier is niks minder nie as 'n volle sintese van wetenskap en geloof: om 'n wetenskaplike te wees en om 'n gelowige te wees, was vir Pierre Teilhard de Chardin (1881–1955) een en dieselfde ding.

Teilhard was tegelyk 'n opgeleide Katolieke teoloog, 'n deurleefde mistikus en 'n wetenskaplike van die voorste rang. In sy eie leeftyd was die meeste van sy belangrike teologiese geskrifte slegs in manuskripvorm aan 'n klein groepie vertrouelinge bekend. Die rede daarvoor was dat hy hom aan die dissipline van die Genootskap van Jesus (beter bekend as die Jesuïete) onderwerp het. Daarvolgens moes hy goedkeuring van sy owerste verkry vir die publikasie van elke boek, vir die aanvaar van elke betrekking, vir die gee van elke openbare lesing, selfs vir kort reise buite die land waar hy op daardie stadium gestasioneer was. Teilhard is telkens vermaan om hom by die suiwer natuurwetenskappe te hou en oor teologiese sake te swyg. Op die ou end is hy aangesê om uit sy pos as professor te bedank en in China as paleontoloog te gaan werk.

Tot 'n baie groot mate stel Jaap Durand vir Teilhard self aan die woord. Slegs die eerste en laaste van die sestien hoofstukke van die boek bestaan uit Durand se eie kommentaar oor die kwessie van wetenskap versus geloof. Sy doel "is nie om enige uitvoerige kritiek op Teilhard se lewe te gee nie", maar slegs om hom onder Afrikaanssprekendes bekend te stel "binne die konteks van die ingrypende en tans weer aktuele vraag na die verhouding tussen die Christelike geloof en wetenskap, veral wat evolusie betref" (313).

Twaalf hoofstukke word gewy aan die lewe van Teilhard. Ons leer hom ken as iemand wat onwrikbaar hou by sy gelofte, hoe onwelkom die gevolge ook al mag wees. Talle kere word hy deur die Jesuïete gestuit. Die Katolieke Kerk van die 20ste eeu kan hom nie deur dreigemente van foltering tot verloëning dwing soos dié van die 16de eeu met Galileo kon maak nie. Al wat tussen hom en 'n loopbaan as internasionaal beroemde professor en wydbelese provokatiewe denker staan, is sy weiering om uit die orde te bedank.

Hierdie biografiese deel is veral onmisbaar omdat Teilhard se teologiese lewenswerk postuum gepubliseer is (goedkeuring deur Jesuïtiese gesagstrukture was toe nie meer ter sake nie), en ons dus nie uit publikasiedatums alleen die ontwikkeling in sy denke kan volg nie. Sy boek Le Milieu Divin (Die Goddelike Leefwêreld) is byvoorbeeld reeds in die jare 1926–1927 (30 jaar voor publikasie) tydens Teilhard se tweede ballingskap in China geskryf, nadat hy gedwing is om 'n dokument te onderteken waarin hy sy kontroversiële standpunte oor die erfsonde repudieer.

Ironies genoeg is dit juis hierdie vertraging wat veroorsaak het dat 'n denker wat sy tyd ver vooruit was, se idees maksimale impak gehad het: toe die tyd daarvoor wel ryp was, kon 'n hele stroom boeke as nuwe werke die een na die ander verskyn. Die Engelstalige publikasie daarvan het 'n volle twintig jaar geduur.

Hoofstuk 14 word gewy aan hoe sy tydgenote hom gesien het, veral sy biograaf Claude Cuénot. "Sy beskeidenheid was so groot dat hy nooit sy eie genialiteit besef het en nooit gedink het dat hy beter of belangriker was as iemand anders nie" (283). Durand haal nie eksplisiet uit Pierre Leroy se voorwoord tot Le Milieu Divin aan nie, maar dieselfde gedagtes staan ook daar: "Dit was hierdie diepgewortelde geestelike oortuiging wat vader Pierre Teilhard de Chardin gelei het tot die beoefening van selfverloëning: die eie ek word vergeet binne 'n simpatieke eenwording met alle mense en met elke individuele mens."

Die biografiese deel van die boek bevat 'n opsomming van Teilhard se betrokkenheid by die "ontdekking" van die Piltdown-mens (43–6), aangevul met Teilhard se reaksie op die bewys dat dit 'n vervalsing was (255–6), en 'n lang bespreking (257–9) van die aantygings dat Teilhard self by die vervalsing betrokke was. Dat hierdie insident in "'n biografiese inleiding tot die denke van Teilhard" hoegenaamd enige vermelding verdien, is glad nie vanselfsprekend nie. Die manier waarop dit opgedis word, slaan boonop so 'n vals noot dat die hele saak met vrug weggelaat kon word.

Om sondebokke vir die Piltdown-kullery uit te dink, is 'n gekrap waar dit nie jeuk nie, 'n belaglike akademiese speletjie vergelykbaar met die soektog na alternatiewe outeurs van Shakespeare se dramas. Durand verwys na 'n boek van 1955, 'n populêr-wetenskaplike artikel van 1979, en 'n Johannesburgse paleontoloog se vergesogte raaiskoot wat in 2012 die Sunday Times gehaal het. Miles Russell se uitvoerige studie van 2003 word glad nie genoem nie. Daarin word bewys dat Charles Dawson, wat die eerste fragment "ontdek" het en toe mense soos Teilhard en Arthur Smith Woodward genooi het om te kom saam "soek" na nog, ook by minstens 37 vorige valse vondste betrokke was. Geen redelike mens hoef dus verder as Dawson na die alleendader te soek nie.

Die leser word egter met die indruk gelaat dat Teilhard onteenseglik die hele tyd goed geweet het dat die skedel 'n vervalsing is. Durand waag dit selfs om te bespiegel (259) dat Teilhard daardie wete verswyg het omdat sy eie reputasie daaronder sou ly. Hierdie bespiegeling doen Teilhard se nagedagtenis en Jaap Durand se boek 'n groot ondiens aan.

Die beskikbare feite, insluitend alles wat ons van Teilhard se karakter weet uit sy onderwerping aan die gesag van sy orde en die tydgenootlike waarderings soos hier bo aangehaal, ondersteun nie die teorie van iemand wat sy eie reputasie sou probeer beskerm nie. Inteendeel, soos duidelik uit Teilhard se eie briewe blyk, was hy nie daarvoor te vinde om iemand wat hy vertrou het, verdag te maak nie, alhoewel hy klaarblyklik vermoed het dat alles nie pluis is nie.

Die tweede laaste hoofstuk is 'n opsomming van Teilhard se boek Le Phénomène Humain (Die Verskynsel Mens). Durand stel eers die sentrale uitgangspunt van Christelike wetenskapsbeoefening: daar is twee waarhede, die openbaringswaarheid en die waarheid van die natuurwetenskappe. Hulle lê op verskillende vlakke, maar kan nie volledig van mekaar geskei word nie. Die allesomvattende waarheid is God. Daarna som Durand in 15 bladsye op wat Teilhard meer as 300 bladsye geneem het om te sê; en nou gaan ek probeer om dit verder na enkele sinne te verkort. Uiteraard gaan daar baie verlore!

  1. Die heelal ontwikkel in die rigting van groter kompleksiteit: energie tot materie, atome tot molekules, molekules tot megamolekules, megamolekules tot selle, selle tot senustelsels, senustelsels tot selfbewussyn, selfbewussyn tot 'n innerlike lewe, dws 'n psige of siel. Evolusie is nie 'n beperkte model van lewe op aarde nie, maar 'n beginsel wat alles dryf.
  2. Soos wat daar 'n biosfeer is wat bestaan uit alle lewe, bestaan daar 'n noösfeer, wat bestaan uit alle denke. Dit is as 't ware die "siel" van ons planeet.
  3. Evolusie vind ook in die noösfeer plaas. Mense se denke ontmoet mekaar al hoe meer; hulle beïnvloed mekaar wedersyds; kommunikasie verbeter steeds; en die invloed van elke individu begin reeds om 'n effek op elke uithoek van die aarde te hê.
  4. Soos wat dit miljoene jare geneem het om van energie tot geosfeer, en van die geosfeer tot die biosfeer, dus ook die mens, te vorder, so gaan daar nog ook miljoene jare se evolusie in die noösfeer plaasvind. Dit hoef nie tot ons planeet beperk te bly nie; en ons wat aan die begin daarvan staan, het geen benul van waartoe dit gaan vorder nie.
  5. Daardie ondenkbare einddoel, die "Punt Omega", is die eenwording van die kosmos met Christus, die ware wederkoms. Christus is die Voleinder en die Voleindiging van die evolusie: kosmogenese na biogenese na noögenese na Christogenese.

Onthou nou: hierdie idees van Teilhard kom uit 'n boek wat in die jare 1938–1940 geskryf is. Die oerknal, wat in 1931 deur Georges Lemaître (net soos Teilhard, 'n Katolieke priester) geformuleer is, was 'n spekulatiewe nuwerwetsheid en nie soos tans die aanvaarde kosmologiese model van die wetenskap nie. James Lovelock se Gaia-hipotese, waarvolgens Planeet Aarde gesien word as 'n enkele intelligente organisme, het eers na 1970 die lig gesien. Die internet het eers in die 1990's ontstaan, en slegs in die afgelope dekade gegroei van 'n private netwerk van enkele ingewydes tot 'n alomteenwoordige bron wat binne sekondes aan elkeen toegang gee tot alle brokkies van kennis, bespiegeling en gerug wat enigiemand op die aarde daarop laai. Hierdie 20ste-eeuse profeet was inderdaad sy tyd vooruit!

Intussen begin selfs agnostiese wetenskaplikes smag na 'n teologie wat geëvolueer het om tred te hou met die ontsluiting van die wondere van die heelal. Carl Sagan (1934–1996) skryf in Pale Blue Dot (1995:52; vertaal):

Hoe is dit dat skaars enige groot religie na die wetenskap gekyk het en bevind het: "Dis beter as wat ons gedink het! Die heelal is veel groter as wat ons profete gesê het, grootser, subtieler, meer elegant. God moet selfs groter wees as wat ons kon droom"? In plaas daarvan sê hulle: "Nee, nee, nee! My god is 'n klein godjie, en ek wil hê hy moet so bly." 'n Religie, oud of nuut, wat die grootsheid van die heelal soos deur die moderne wetenskap onthul, beklemtoon, sou bronne van verering en ontsag kon ontsluit wat skaars deur konvensionele gelowe getap word. Vroeër of later sal so 'n geloof ontstaan.

Ek kon geen getuienis vind dat Sagan ooit Teilhard gelees het nie. Dalk sou hy daar gevind het wat hy soek.

Dit was Durand se doel om 'n inleiding tot Pierre Teilhard de Chardin se lewe en denke te gee, nie 'n omvattende geheelbeeld nie, maar die boek bevat nogtans 'n menigte name, plekke, gebeurtenisse en idees. Dit is daarom jammer dit nie 'n indeks het, of (wat ewe goed sou wees) elektronies beskikbaar is nie.

Die boek sou ook kon baat by 'n deeglike finale redaksie en proeflees. Daar word van Galileo gepraat as die "vader van die astrologie" (20) in plaas van astronomie; die woord Thomisme word verkeerdelik met Thomas à Kempis geassosieer (33), terwyl dit eintlik na Thomas Aquinas se leer behoort te verwys, soos wel later (47) gedoen word; die eerste paragraaf op bl 302 bevat 'n setfout wat so ernstig is dat die leser nie eens kan raai hoe dit moes lees nie; en daar is talle tipografiese en spelfoute.

Dis egter klein sakies. Die boek prikkel ongetwyfeld die leser om meer te wete kom van hierdie merkwaardige teoloog-wetenskaplike en visioenêre mistikus, en slaag dus uitmuntend in sy gestelde doel.

Vir diegene wat verder wil lees: die goeie nuus is dat byna al Teilhard se boeke in gratis elektroniese weergawes by http://archive.org beskikbaar is.

Bykomende materiaal is hier te vinde: http://experimentaltheology.blogspot.com/2008/05/notes-on-teilhards-omega-point-part-1.html

Dirk Laurie, 'n afgetrede wiskundeprofessor en afstammeling van drie dominees, is die Natuurwetenskappe-redakteur van LitNet Akademies.

  • 13

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Dit is hoogs wenslik dat lesers van Durand se boek kennis van Laurie se knap resensie neem. Daar kan gerus ook gewag gemaak word van Johan Degenaar se kommentaar oor ewolusie en Teilhard de Chardin.

     

    Johannes Comestor

  • Dis altyd kostelik om te sien hoe die Christelike hiërargie en sy apologete, Laurie, Durand en Teilhard de Chardin inkluis, die uiters gewelddadige geskiedenis van hul geloof probeer wegpraat met allerlei akrobatiese intellektuele toertjies wat dan moet 'bewys' dat dit alles eintlik maar net aan die misverstaan van die Skrif te wyte was en steeds is. 

     

    Bid jou aan, die dogmatiese vertolking daarvan en die grootskaalse indoktrinasie met daardie dogma van hele volkere wat opsetlik en per dekreet oor 'n tydperk van byna twee millennia oningelig en dom gehou is, word in beginsel met 'n pennestreep doodgetrek.  Die Donker-tot-Laat-Middeleeue waartydens wetenskaplike ondersoek en die onderwys van die gewone mens verbied is, die wrede onderdrukking van vroue op bykans alle gebiede tydens die Christelike era, insluitende deur middel van die Groot Europese Heksejag - hoofsaaklik op vroue - wat oor eeue gestrek het, die stigmatisering van die liggaam, die vervloeking van homoseksueles, die kondonering van slawerny, die massale en chroniese aanstoking van bygelowigheid - dit alles word nederig aan daardie kamma 'misverstand' toegeskryf.  

     

    Die Heilige Skrif bly onaangetas, word opnuut vrygespreek en in wese as eintlik piekfyn en versoenbaar met wetenskaplike ondersoek salig verklaar, met die implikasie dat daar nou moedig, vars en van voor af met die verspreiding van 'n nuut vertolkte Blye Boodskap voortgegaan kan word. 

     

    Daarby bly hul God die Vader steeds almagtig, maar nie een van hulle vra die mees basiese vraag nie: indien Hy so almagtig is, waarom is Sy Woord (want dit ís mos Sy Woord, nie waar nie?) dan nie glashelder en vir alle tye vir almal verstaanbaar nie.

     

    Op die ou end bewys hul onderskeie apologieë maar net weer watter absurde anachronisme die Christelike geloof is en hoe totaal en al dit dit met vrye denke en menseregte strydig is. 

  • CorneliusHenn

    Liewe Jessica, nee, die Bybel is nie die Woord van God soos die Calvinistiese Bybelaanbidders daarmee dweep nie ... Jesus Christus is die Woord (GOD) ... katolieke (met 'n klein k) groete, Cornelius Henn

     

  • Ek is bly ek kon vir Jessica help om 'n antwoord op die vraag "Behoort ek hierdie boek te lees?" te vorm. Dis al wat 'n resensent probeer regkry.

  • Hmm ja, 'n resensent van sy geesgenote se filosofering oor Bybelverklaring kan dalk ook in onderbewustelik gedagte hê om die Groot Vergeet van sy geloof se wreedaardige geskiedenis te help bestendig.

  • Op 'n punt van feit: die boek wat ek geresenseer het, is nie 'n filosofering oor Bybelverklaring nie, en ek dink nie my resensie gee daardie wanindruk nie. Die boek gaan oor die lewe van 'n paleontoloog, ongemaklik geplaas binne die Jesuïetiese orde, wat 'n teorie van alles ontwikkel, gebaseer op evolusie as die dryfbeginsel, en sy eie uiters persoonlike mistieke siening van Jesus (slegs met tipies Jesuïetiese haarklowery Bybels fundeerbaar) as laaste van vyf stappe daarby aanlas. Wat ek nie gedoen het nie, omdat die boek 'n resensie is en nie 'n onafhanklike bespreking van Teilhard se denke nie, is om te noem dat soortgelyke gedagtes (maar sonder die laaste stap) ook in Julian Huxley ('n humanis) se werk te vind is, en dat hoewel die woord "noösfeer" 'n nuutskepping van Teilhard is, die begrip reeds te vind is in die werk van Vladimir Vernadsky ('n ateïs). Die hoofstroom van Teilhard se denke is inderdaad teologies neutraal; sy laaste stap was vir sy owerstes net so onaanvaarbaar as vir agnostiese wetenskaplikes.

  • 'n Opmerking vooraf: as gelowiges hulle bemoei met evolusie is dit gewoonlik weenseen of ander kreasionistiese agenda, om iewers die hand van 'n skepper in die proses in te smokkel.  Durand se biografiese benadering word onderstreep, maar die teologiese stertjie word tog maar weer aangeplak. 

    Jy kan glo wat jy wil oor wie of wat die heelal daargestel het, maar as jy probeer te kenne gee dat daar enigiets anders as evolusie deur natuurlike seleksie gebruik is om die aarde mee te bevolk, en dit steeds doen, is jy oningelig of doelbewus kwaadwillig. Evolusie is nie onderhandelbaar nie, dis 'n gegewe soos die werking van DNA of kernkrag.

    T de Chardin was nie die gerekende paleontoloog soos gelowiges hom probeer teken, om meer gewig aan sy menings te kan toedig, nie. Hy het geen betekenisvolle vondse gemaak of bydrae gelewer tot die teorie of praktyk van evolusie op die grondslag van oorspronklike navorsing nie. Gaan lees gerus wat die Nobelpryswenner Peter Medawar oor TdeC se bydrae gesê het.

    Tde C se toekomsvoorspellings het nie die toets van die tyd goed deurstaan nie - in die lig van wat die kosmologie en fisika deesdae doen en al hoe meer oortuigend postuleer, word sy siening by die dag meer absurd. As hy sy visie bloot as fantasie of fiksie aangebied het, sou dit nog kon deug, maar as (selfs spekulatiewe) wetenskap is dit grotendeels nonsens.

      

        

  • Peter Medawar se resensie van 1961 oor The Phenomenon of Man moet gesien word teen die agtergrond van die verontwaardiging en skok van Britse rasionaliste dat een van hulle eie mense, Julian Huxley, die gemeenskap verraai het deur 'n voorwoord vir die Engelse vertaling van 'n boek deur 'n Christen te skryf.  Dit lees soos 'n  politikus se aanval op 'n teenstander, tot die vermaak van 'n gehoor van partylede, nie soos 'n bydrae tot 'n intellektuele debat nie.

    Huxley maak dit egter in sy voorwoord baie duidelik met watter aspekte hy nie saamstem nie, en om watter redes. Dit is hierdie soort onderlinge verdraagsaamheid wat Jaap Durand probeer aanmoedig het in sy boek, en waarmee ek ook ten diepste saamstem. Die uitruil van idees, die lewer van konstruktiewe kritiek op dinge waaroor mense verskil, is die sleutel tot die vooruitgang van menslike denke.

    Ek gee toe, trouens, ek dring daarop aan, dat die laaste van die vyf punte waarmee ek Teilhard se visie opgesom het, sy eie hoogs persoonlike siening is. Watter van die eerste vier, egter, het nie die toets van die tyd deurstaan nie?

  • U sou wel opgemerk het dat my waarnemings vanuit 'n eenvoudige, nie-godsdienswetenskaplike hoek kom.  Selfs as 'n jong vrou stel ek, soos so baie van my feministiese geesgenote, lankal reeds glad nie belang in enige filosofiese substansie van u of enige ander Christen se deelname aan die diskoers rondom Teilhard se filosofie nie, maar in die blote feit van daardie deelname - in hierdie geval die feit van u deelname as resensent.  Ek gee glad nie om of u met hom saamstem of nie en of u op enige ander manier aktief by die diskoers betrokke raak en 'n eie bydrae lewer nie.  U resensentstatus is gevolglik wel van belang omdat u uiteraard 'n belydende Christen met 'n duidelik diepgaande kennis van die Christelike geskiedenis is.

     

    Vind u dit nie noemenswaardig dat al drie van u belydende Christene is nie?  My soort feminis vind so-iets altyd veelseggend, want ons het 'n insluitende siening van wat indoktrinasie behels; dit sluit die volgehoue, eeuelange diskoers rondom eksegese in, wat onvermydelik die indruk - subliminaal of bewustelik - by u kerk se lidmate en gelowiges in die algemeen sal sterk en perpetueer dat die Christelike geloof en sy Rots, die Bybel, steeds onaantasbaar rein voortbestaan, en dat niks sleg wat die afgelope twee millennia as gevolg van Evangelisasie gebeur het, 'n verskil daaraan kan maak nie.  

     

    Ons daarenteen weet, op grond van onaanvegbare historiografiese feite, dat die historiese Christelike onregte en verskrikkinge wat ek in my inleidende repliek opgenoem het, nie altyd die gevolge van menslike misverstande was en is nie, maar hoofsaaklik logies voortgevloei het en steeds vloei uit wat die Woord konstateer, wat op sy beste erg ambivalent is.  Die naakte waarheid dat die Christenheid twee millennia later nog diepgaande oor die betekenis van die Woord verskil vir sover as wat dit daardie onregte en verskrikkinge betref, behoort mos selfs die gelowigste Christen diep te laat nadink, al is dit net oor daardie ambivalensie.        

     

    Dus: my belangstelling gaan bloot daarom dat apologete afkomstig vanuit die Christenheid se ekklesiastiese hiërargieë belang stel in/hulle sonder ophou bemoei/besig hou met allerlei Skrifverklarings.  Want dit is wat Teilhard se filosofie essensieël behels: net nog 'n vertolking van sy God die Vader se Woord.  Ek self sal stom verbaas staan as daar nie reeds 'n nuwe kerklike denominasie of twee ontstaan het wat Teilhard se vertolking as dogma verkondig nie.  Dat hy die Wetenskap as instrument van Christus se Groot Plan vir die mensdom opeis is vir ons feministe bloot 'n amusante bysaak, en kom as net 'n heerlike intellektuele dwelm voor wat die aandag van jul Geloof se skrikwekkende verlede en steeds skokkende hede moet help weglei.

  • Die aspek van Teilhard se denke wat my interesseer, is die primêre rol wat evolusie speel. Dis nie soos vir die meeste wetenskaplikes net die verklaring van die verskeidenheid van lewe nie, dis nie soos vir die meeste Christene ten slegste onbybels en ten beste 'n instrument in die hand van God nie, dis vir Teilhard 'n sentrale beginsel van die heelal wat sowel sy siening van die wetenskap as sy eie geloof bepaal. Die ander punte wat Jessica opper, is almal interessante sake waaroor ek heelwat te sê het, maar 'n gesprek oor Teilhard aan die hand van Durand se boek is nie die plek waar ek dit wil sê nie.

  • Al die punte wat ek geopper het en wat Dirk Laurie interessant vind, hou kwintessensieel verband met die belangrike rol wat evolusie in Teilhard se denke speel.  As eerstens 'n Christen en tweedens wetenskaplike is dit onbetwisbare geskiedenis dat hy júís sy self-gefilosofeerde 'sentrale beginsel van die heelal' - d.w.s. evolusie - gesien het as uiteindelik die mees fundamentele Christogene instrument 'in die hand van God'. 

     

    Die saak werk dus net mooi andersom as wat Laurie hierbo beweer: inteendeel, God as die 'allesomvattende waarheid' het Teilhard se geloof en daarom sy siening van evolusie as 'n Goddelike instrument bepaal.  Of God self of Sy Seun die 'sentrale beginsel' is en of Hulle dit bloot as instrument gebruik, is eintlik die relevante vraag.  Teilhard sou evolusie in elk geval nooit bo die Godheid verhef het nie.  Christogenese veronderstel skepping en God is die Skepper.  Laurie merk self tereg op dat Teilhard tot die bitter einde by sy Jesuïtiese gelofte gehou het.  Evolusie as 'sentrale beginsel' sou vir hom ook nooit as 'n proses apart van sy geliefde God die Vader se oneindige skepping kon bestaan het, soos wat Laurie definitief suggereer nie; laat staan nog dat dit alleen (en as sodanig) vir hom geloofsbepalend sou kon gewees het. 

     

    As 'n mens Teilhard se 'visioenêre mistisisme' met sy idiosinkratiese terminologie en al analities bekyk, word dit boonop gou duidelik dat hy hy hom as 'n aktiewe deelnemer aan daardie Christogene evolusieproses gesien het - hy het per slot van sake op sy eie met dié filosofie vorendag gekom. 

     

    Dit is waarom ek soveel klem lê op sy filosofie as 'n hermeneutiese instrument wat 'n nuwe lig op die Woord van God moes werp, m.a.w. 'n nuwe tipe 'Skrifverklaring' moes aanbied.  Selfs al was hy ten volle op hoogte van sy geloof se bloedige en onregverdige verlede, is sy bereidheid om nogtans sy filosofie uit te bou en sodoende daardie verlede implisiet te kondoneer, paradoksaal simptomaties van sy kerk self (wat sy filosofie gesensureer het) se institusionele amnesie en selektiewe blindheid teenoor die morele implikasies daarvan.  Daardie verlede was vir hom nie erg genoeg om sy geloof en dus sy filosofie ook te bevraagteken nie.  Ten spyte daarvan dat hy 'n goeie en nederige mens was, was hy dus onafwendbaar 'n produk van sy kerk en nie so onskuldig as wat voorgegee word nie.  Onbewustheid van jou godsdiens se genetiese gewetenloosheid veronderstel nie noodwendig jou eie onskuld nie - vra maar enige sielkundige. 

     

    As 'n eietydse, Bybelbesielde profeet was hy op die ou end net nog een van die legio eksegete en Heilige Woord-protagoniste in die eindelose Bybeleksegese-sage.  Dis 'n absurde verhaal van selfweerspreking, eierdanse en jakkalsdraaie wat sedert die aanvang van die Christelike jaartelling tot die enorme en formidabele eksegese-industrie van vandag aangegroei het.  Beslis nie 'n omgewing vir sissies nie, want dis waar die Groot Vergeet konstant en volhoubaar gefabriseer word.  Dis egter ook 'n industrie wat uiteraard die indruk skep dat die Woord van God nog altyd die reine en ewige waarheid was en vanselfsprekend steeds is.  Sonder sy 'misverstand-' cum 'wanvertolking-van-die-Woord'-uitweg kan die Christenheid eenvoudig nie voortbestaan nie.   

     

    Want dieselfde Woord 'is where the buck stops', die laaste skans vir die Christenheid teen die Niet, as ek my metafore so mag mieks.  Maar dis onvermydelik ook 'n objek van die Christelike historiografie, het self 'n evolusieproses ondergaan wat vandag duidelik waargeneem kan word in die radikaal teenstrydige verskille tussen die eerste en die hedendaagse Bybelvertalings - kritieke eksegetiese verskille wat nie meer weggepraat kan word as 'misverstande' nie, omdat hulle veral in hul oorspronklike vorm die pleeg van gruwelike misdadigheid en ongeregtigheid so goed as voorgeskryf het.  Misdadigheid en ongeregtigheid wat soos 'n pes die mensdom oor byna twintig eeue heen besmet het, wêreldwyd versprei het en nog steeds nie uitgemasel het nie. 

     

    Nietemin moet ons dag na dag aanhoor dat die Bybel die Blye Boodskap is, terwyl sy geskiedenis presies die teenoorgestelde oorvloedig bewys.  Die feit dat die allerverskriklikste leuens oor spesifieke vroue en vroue in die algemeen histories daarin vervat is, word bv. opsetlik verswyg.  Leuens wat sedert die vroegste eeue van die kansel af as die heilige waarheid en die normale stand van sake by die mensheid ingeprent is.  Leuens wat gelei het tot die geskiedenis se mees intense en pandemiese vrouehaat, die uniekste, onmenslikste skrikbewind en onbeskryflikste moorddadigheid teenoor vroue ooit; kollektiewe geweld teen die vroulike geslag wat sy beslag en aanloop tydens die Donker Eeue gehad het en eeue lank daarna voortgewoed het. 

     

    'n Christen-apologeet se eerste verweer hierteen is natuurlik altyd die 'misverstand'-ekskuus: lees maar liewers die nuutste vertalings wat die Bybel korrek vertolk, word aanbeveel.

     

    Durand se boek en Laurie se resensie daarvan is gevolglik baie pertinent die regte soort platform waar die Bybel se eie evolusieproses bespreek kan word.  As belydende Christene maak hul goedkeurende kyk op sy filosofie immers deel van Teilhard se Christogene evolusieproses uit, 'n proses wat die Bybel se historiese evolusie insluit.                     

  • Die saak wat my na aan die hart lê, soos ook verwoord in 'n bydrae wat ek tot SêNet gemaak het,    is om gemeenskaplike grond tussen wetenskap en geloof te vind. Dit is die konteks waarbinne die denke van Teilhard my interesseer.  

    Hiermee sluit ek my deelname aan die huidige bespreking af.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top