Eurovision-liedjiekompetisie 2017: meertaligheid, diversiteit en die siel van Europa?

  • 4

Al gehoor van die Sweedse popgroep ABBA? Dan het jy al een van die wenners van die Eurovision-liedjiekompetisie teëgekom, en ook die grootste Eurovision-treffer van alle tye – lees hier.

Hierdie artikel deur Koos Holtzhausen bied 'n oorsig oor die agtergrond van die kompetisie. Hy noem dit "’n voorloper van die huidige Idols-tipe programme, maar dit gaan in die eerste plek oor die liedjie wat deur die land ingeskryf is."

Dié liedjiekompetisie het in Italië begin en was inderdaad 'n soort realiteitsangprogram, maar die ideologiese redes was duidelik: dit was 'n poging om Europa in die vyftigerjare saam te bind.

Maar vir 'n kompetisie wat doelbewus daarop fokus om lande te verenig, is daar heelwat politieke onderstrominge.

Maar dis nie net Europeërs wat hierdie kompetisie volg nie. Ander bydraes oor Eurovision het ook op LitNet verskyn. Lees hier en ook Etienne Viviers se kommentaar onderaan hierdie artikel.

Dié kompetisie is nie heeltemal onbekend aan Suid-Afrikaners nie.     

Hier is 'n lys van Eurovision-liedjies wat deur 'n Britse koerant as treffers beskou word.

Kyk en luister mens na die aanbieding op televisie, is die musiek so uitspattig soos die haarstyle en beligting.

Dit het my verbaas dat 'n liedjie van Stef Bos deel gevorm het van hierdie kompetisie.

Hier sing Stef Bos self die liedjie:

'n Mens verwag nie 'n teer ballade by hierdie kompetisie nie. Tog is vanjaar se kompetisie hierdie naweek gewen deur 'n Portugees wat ook 'n onverwagse lied gesing het: 'n Portugese minnesang.

Luister na hierdie onderhoud met die sanger en sy suster, wat die lied geskryf het:

Opvallende woorde: "Mense verstaan dalk nie die taal nie, maar hulle verstaan die emosie."

Meertaligheid is nie juis aan die orde van die dag in hierdie kompetisie nie – dit word oorwegend in Engels aangebied.

Aan die begin van die kompetisie, jare gelede, was dit baie meer gebruiklik vir deelnemers om in hul eie tale te sing. Die kompetisie het ondertussen uitgebrei. Aanbieders heet kykers in Engels welkom en sê dan gewoonlik 'n sinnetjie in die gasheerland se voertaal. Nadat almal applous gegee het vir die woorde wat hul nie verstaan het nie, slaan die aanbieders dan weer oor na Engels. En hoe kan dit anders? Dit raak 'n onbegonne taak om te tolk, om genoeg erkenning aan elke deelnemer en sy land se taal of tale te gee. Wanneer mens hierna kyk, is mens vanuit Suid-Afrikaanse perspektief van vooraf bewus van die praktiese uitdagings rondom meertaligheid.

Daar is groot gewag gemaak van die feit dat diversiteit vanjaar hier gevier word (dis die tema) en daarom kritiseer 'n koerant soos die Irish Times die feit dat die kompetisie deur drie wit mans aangebied is.

Maar wat het die Eurovision-liedjiekompetisie met ons hier in Suid-Afrika te doen?

Nie te veel jare gelede nie het wit mense in hierdie land dalk op bankies gesit waarop die woorde gepryk het: "Europeans only". Maar dit was 'n belaglike leuen, destyds reeds.

By verre die meerderheid mense in hierdie land het daaronder gely. En Europa het sanksies ingestel en hulle ook teen daardie leuen verset.

Die verf van daardie bankies sukkel nog steeds om van almal se klere af te kom.

(Lees ook hierdie bydrae deur Herman Meulemans oor 'n uitstalling in die Rijksmuseum wat probeer sin maak van Suid-Afrika se verlede. Op een van sy foto's pryk een van daardie apartheidbankies.)

Ons is nie Europeërs nie, niemand van ons nie. En ons ken nie die siel van Europa nie, ons hier in Suid-Afrika.

Miskien kyk mens na die kompetisie soos na 'n Facebook-bladsy: Hoe maak ander lande? Is mense gelukkiger daar? Hoe klink hulle tale, die bietjies-bietjies daarvan wat ons op hierdie grootliks Engelstalige program hoor?

Miskien, dink mens, net dalk, gaan mens agterna iets van daardie lande verstaan. Of oor hul verspotte liedjie of kleredrag gaan skinder, nes mens maak met ander mense wat jy op die sosiale media teëkom.

Kyk bietjie na vanjaar se inskrywing uit Italië:

'n Mens hoef nie in Italië te woon om te besef dat hierdie liedjie nie 'n uitbeelding is van die gemiddelde Italianer nie. Landelike Italië omhels nie juis ander gelowe nie, maar is Katoliek.

Daar moet beslis ook bygevoeg word: dis onmoontlik om met een bydrae 'n uitspraak oor die hele kompetisie te maak. Beslis seëvier kwaliteitinskrywings van tyd tot tyd. 

En die kompetisie is sekerlik bedoel as ontvlugting en pret! Ons hier in Suid-Afrika het ook 'n wêreldsokkerbeker beleef en vroeër met trane in ons oë Desmond Tutu se reënboognasie-ideaal omhels. Waarom alles ooranaliseer?

Ons almal kies blink tandepastaglimlagte en nog helderder ligte. Dit verblind die Europeër sodat hy nie die vlugtelinge op treinspore moet sien nie, of nie kyk hoe lyk die gesigte of lewensomstandighede van  die immigrante in honderde polisiestasies  dwarsdeur Europa, wagtend op hul stempel om hul verblyf te verleng.

Ons sien wat gebeur in Europa: Charlie Hebdo, Frankryk se terreur en Brexit gebeur nie in ongekompliseerde en vredevolle omstandighede nie.

Dalk moet mens nie van 'n liedjiekompetisie verwag om hierdie kwessies op te los of eens aan te sny nie. Niemand van ons wil heeldag en aldag oor al die moeilike goed praat nie.

Lina Spies skryf in hierdie LitNet Akademies-resensie-essay oor die swye van die tweede generasie na oorlogvoering. In hierdie land, Suid-Afrika, is daar veels te veel waaroor nie gepraat word nie. Alles is mynvelde, te plofbaar en te gevaarlik om op die naam te noem.

En hier is die raakpunt tussen Suid-Afrika en die Eurovision-liedjiekompetisie: niemand praat oor dit wat werklik saak maak nie. Ons glimlag eerder, en gee almal voor dat die lewe 'n handelsflits is. Dis pynlik om te praat. Wat is daar tog om te sê?

Toe daardie man met sy molla vanjaar by die Eurovision-kompetisie vir 'n paar mense laat hoor het hoe Portugees klink, was daardie vlietende sensasie nie die redding van meertaligheid nie. Maar tog het mense 'n oomblik lank na iemand anders se taal en na hom as mens, geluister. En hierdie vreemde woorde het tot hulle gespreek.

Geen diepliggende oplossings nie. Maar soms kán 'n konsert in die oomblik hoop gee.

Die aand het ligte vermaak verskaf op 'n Saterdagaand. En dalk het Eurovision 'n oomblik lank vir mense 'n platform gebied om te kan sing waaroor hulle nie kan praat nie.

 

  • Naomi Meyer het byna tien jaar lank in Ierland gewoon en byna jaarliks die Eurovision-kompetisie gekyk, soms met morbiede fassinasie.

 

  • 4

Kommentaar

  • Koos Holtzhausen

    Dankie Naomi dat jy die kompetisie weer in die kollig plaas. In my artikel waarna jy verwys, het ek die volgende gesê:

    "Ten slotte wil dit voorkom asof die Eurovision-liedjiekompetisie – wat deur die jare allerweë as ’n saambindende faktor beskou is vir die deur oorlog verdeelde Europa – hom nou vasgeloop het teen die realiteit van die huidige wêreldpolitiek. Daar word seker asem opgehou oor die aanbieding van 2017 se eindronde in Kiëf in die Oekraïne."

    Was die Russe toe ook daar? Na Brexit is Britse deelneming ook nie meer vanselfsprekend nie. Die kompetisie kan seker steeds as 'n saambindende faktor in Europa geld.

    Persoonlik is ek redelik versot op die sentimentele en nostalgiese Europese "pop"-musiek, in kontras met die Engels-Amerikaanse popmusiek.

    • Hallo Koos, dis lekker om jou kommentaar te lees. Dit was vir my duidelik toe ek jou artikel gelees het dat jy baie agtergrond van die kompetisie ken. Jy opper interessante kwessies, soos die vraag oor die Britse deelname ná Brexit. Deesdae kyk ek na die kompetisie as 'n waarnemer van buite, en ek besef dat ek maar min begryp van die Europese klimaat as ek nie daar woon nie. Groete, Naomi

      • Koos Holtzhausen

        Dankie, Naomi. Ek het uitgevind dat Rusland nie deelgeneem het nie, omdat Oekraïne hul visums geweier het!

        Ten spyte van wat ek gesê het, is daar in die jongste tyd 'n neiging om Engelse woorde te gebruik. Ek is dus bly oor die Portugese se stelling dat hul taal 'n mooi klank het. Die eerste liedjie wat ek destyds gehoor het, No no le ta, was in Italiaans en bly mooi.

  • Herman Meulemans

    Voor Naomi is meertaligheid heel belangrijk. Zij heeft tien jaar in Ierland gewoond (dat is dubbel zo lang als Karel Schoeman) en heeft geen enkel jaar overgeslagen om te kijken naar het Eurovisiesongfestival. Engels is de lingua franca geworden. Dit jaar won Portugal met een pretentieloos lied in het Portugees. Meertaligheid in Europa, in alle continenten is inderdaad de ziel van een open samenleving. Ik heb erg genoten van de bijdrage van Naomi, van de videoclips die mijn geheugen hebben opgefrist van vele jaren songfestival en van de 'merksteen' van Ierland.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top