Etienne van Heerden-veldsoirée

  • 4

Mens besef dit nie. Maar ek is eintlik ’n ou man. Ek het min tyd oor in die akademie. Dis die besef wat tot my deurgedring het na my siekte verlede jaar. Net twaalf jaar tot aftrede. Ek het toe besluit daar is ’n paar dinge om af te handel. Unfinished business. En die enigste ding wat vir my oorgebly het, was ’n Etienne van Heerden-veldsoirée.

Darryl David

“As one cannot talk about Israel without having read Amos Oz, or India without Salman Rushdie, or South America without Marquez or Llosa, so you will have to read Van Heerden if you want to know anything about South Africa. It is fiction at its best.”
— Herman de Coninck, NRC Handelsblad, Amsterdam, Netherlands

Buffelshoek Dirosie Lodge (Foto: http://buffelshoekdirosielodge.co.za/gallery.php).  In die agtergrond is Buffelskop, waar Olive Schreiner begrawe lê.

Etienne van Heerden is ’n skrywer met ’n groot reputasie. Miskien was dit te danke aan die reusesukses van Toorberg toe hy nog jonk was. Miskien het dit iets te doen met sy twee Hertzogpryse. En dat hy basies elke literêre prys in Afrikaans ingepalm het.  

Eendag was ek besig om ’n lesing te gee oor Literêre Toerisme in die Karoo. Wat die Karoo betref was ek maar ’n snotneus. Ek het so pas daardie tyd die Boekedorp in die Karoo begin. Niemand het van my geweet nie. Toe stap hy Graaff-Reinet se stadsaal binne, in swart, met sy kenmerkende leertas. Ek is besig om oor Schreiner te praat en begin baie senuweeagtig te voel – nie iets waarmee ek gewoonlik sukkel nie. Ek was verbaas om te sien hy het na die hele lesing geluister. In die jare wat gevolg het, het ek geleer hierdie skrywer luister na al die jong stemme. Maak nie saak hoe groot hy is nie. En dis nie iets wat jy by baie skrywers sien nie.

Hoe beter ek Etienne leer ken het, hoe meer het ek besef, ons is albei Karoo-mense. Ons is boekmense. Hy praat dikwels oor die Karoo as “landscape of the mind”. Ek praat gereeld oor die Karoo as “landscape of the heart”. Ek het altyd geweet ek wou ’n Etienne van Heerden-fees eendag op die been bring. Daai eendag is nou om die draai.

Tydens die naweek van 22 tot 24 September gaan die eerste Etienne van Heerden-veldsoirée plaasvind. In Cradock, op Buffelshoek, waar Olive Schreiner se sarkofaag is. Langs die plaas waar Etienne van Heerden lank as kind gebly het. En by Die Tuishuise, waar groot dele van Etienne se jongste roman Die Wêreld van Charlie Oeng geskryf is. Dis heel gepas dat die fees op Cradock gaan plaasvind, want die karakter Charlie Oeng het sy oorsprong in Cradock.

Olive Schreiner se sarkofaag (Foto: http://buffelshoekdirosielodge.co.za/gallery.php)

Veldsoirée?  Wel, ek het met die idee van ’n Etienne van Heerden-fees na hom gekom. Hy het gemeen die woord "fees" laat dit te groot klink. Die term "veldsoirée" was toe sy voorstel. Vir twee dae gaan ons lekker kuier by Buffelshoek Dirosie Game Lodge. Want hierdie fees gaan nie slegs oor boeke nie. Dit gaan oor die “wye en droewe land”. Dit gaan oor die vrolikheid van musiek onder die sterre. Die ongetwyfelde hoogtepunt vir my gaan die besoek aan die sarkofaag van Olive Schreiner wees. Op die derde dag gaan ons weer dorp toe na Die Tuishuise. Want ons is ou manne, ek en Etienne ...

Die Tuishuise en Victoria Manor (Foto: http://www.tuishuise.co.za/)

Die Tuishuise (Foto: http://www.tuishuise.co.za/)

Hier volg die voorlopige lys van deelnemers wat aan die eerste  Etienne van Heerden-veldsoirée gaan deelneem.

  • Etienne van Heerden
  • HemelBesem
  • Coenie de Villiers
  • Ashwin Desai
  • Lien Botha
  • Clinton du Plessis
  • Tim Huisamen
  • Godfrey Meintjes
  • Luthando Lucas
  • Kirby van der Merwe
  • Thys Human
  • Christa du Plessis
  • Jason Lloyd
  • Helize van Vuuren
  • Bernard Odendaal
  • Barry Pienaar
  • Wilna Adriaanse
  • Darryl David
  • Tom Dreyer
  • Cas Wepener
  • Heather Costaras

Buffelshoek Dirosie Lodge: 

Tel: +27 (0)60 433 4797
E-pos: buffelshoek.gamelodge@gmail.com
Webwerf: http://buffelshoekdirosielodge.co.za/

  • 4

Kommentaar

  • Magriet Rossouw

    Klink wonderlik! Ek en my man sal dit graag bywoon. Ek neem aan mens bespreek by Buffelshoek Lodge.

  • Annalien Potgieter

    Fantasies! Het reeds my blyplek bespreek by Buffelshoek lodge. Waar, hoe en wanneer is die program beskikbaar? Moet ek iewers registreer?Kan nie wag nie. Is 'n volwaardige Etienne van Heerden-aanhanger! Groetnis vanuit Pietermaritzburg.

  • Hallo almal. Mens kan of by Buffelshoek of by Die Tuishuise bespreek. Jy hoef nie vir enigiets te registreer nie. Al die lesings is gratis. So jy hoef nie vir enigiets behalwe die Game Drive en besoek aan die Schreiner-graf by die gastehuis op Buffelshoek te bespreek nie. Praat gerus met Dirkie Visser, die eienaar. Op hierdie stadium gaan ons Vrydag 22 September by Die Tuishuise in die dorp afskop. Julle sal kans kry om die Schreiner-museum te besoek. Die afstand tussen Die Tuishuise en Buffelshoek is sowat 20km. Dag 2 en 3 van die fees sal by Buffelshoek gehou word. Program? Voor die einde van Augustus. Ek belowe. Bly om te sien mense van so ver as Pietermaritzburg, my tuisdorp, het klaar vir die veldsoiree bespreek. Vir meer inligting, kntak Darryl David. Davidd@ukzn.ac.za. Of bel my op 081 360 9231 verkieslik na twee-uur.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top