Estland se eeufees op 24 Februarie 2018

  • 0

Dis Estland se 27ste jaar sedert sy tweede onafhanklikwording en 'n paar dae voor die eeufees sedert sy eerste onafhanklikwording. Om in die land te wees, gee insiggewende betekenis aan demokrasie en vryheid, terwyl die rowe van die verlede nog by baie mense moet genees, skryf Maryke Roberts.

Die letsels van Duitsland en Rusland se onderdrukking, die strafkampe van Siberië en die ontkenning van ’n eie identiteit is steeds duidelik sigbaar in moderne Estland, alhoewel die land sedert onafhanklikwording heelwat vinniger gegroei het as wat die meeste lande kan.

Vir my as jong kind op die afgeleë Suid-Afrikaanse platteland was baie van die begrippe rondom die Sowjetunie, kommunisme en die Rooi Gevaar deel van grootword, maar nooit ’n werklikheid nie, want Rusland was aan die ander kant van die wêreld. Siberië was ’n verskriklike, onwerklike plek wat meestal in Heinz Konsalik se boeke uit die dorpsbiblioteek geleef het.

Maar soos jou horisonne verbreed, veral wanneer jy ’n jong joernalistiekstudent is, sink die ware betekenis van die Sowjetunie, die letsels van verbrokkelde gesinne en die lyding in strafkampe in.

In die agt dae wat ek in Tallinn, Tartu en Viljando as deel van ’n mediagroep van Suid-Afrika besoek aflê, kom ek elke dag minstens twee mense teë wie se grootouers óf deur die Russe tereggestel is óf na Siberië weggevoer is en daar gesterf het; of hulle was selfs deel van die sogenaamde Forest Brothers, vegters van Letland, Estland en Litaue wat ’n guerrilla-oorlog teen die Sowjetbewind geveg het.

Ek ontvang in my mediapak ’n ligblou voubiljet wat amper aan ’n verjaardagkalender herinner. Dis vol swart-en-wit foto’s en datums. Die grootste verskil tussen my skoonma s’n agter die badkamerdeur en hierdie een is dat dié een by 8000 vC begin en in 2018 eindig. Dis ’n chronologiese weergawe van Estland se grootste geskiedkundige gebeure, meestal gewelddadig en ‘n geskiedenis waarin die Estlanders aan die kortste ent getrek het. Dis nou behalwe die goue jare van die twintigs en dertigs en dan weer die afgelope bykans drie dekades.

Die eerste kennismaking met hierdie werklikheid van die KGB en hul afluistersentrums, agtervolging en skrikbewind is in die hotel waar ons tuisgaan, The Original Sokos Hotel Viru Tallinn, die eerste wolkekrabber in die stad; kuierplek van prominente gaste en in die sewentigs deur die Finne gebou. Gedurende die Sowjetera het die 23ste vloer ’n KGB-radiosentrum gehuisves, waar hotelgaste afgeluister is. Blykbaar het 60 hotelkamers versteekte afluisterapparate gehad en selfs van die tafels in die restaurant het versteekte mikrofone gehad. Die KGB het die hotel in 1991 verlaat, maar die kamers is eers in 1994 ontdek. Die voormalige radiosentrum is nou ’n museum, maar net op afspraak te sien.

Skielik is die Rooi Gevaar ’n onwelkome gas in ons midde wat ons oral volg.

Ons onderneem ’n geskiedkundige staptoer om die stad se konteks binne die land en die geskiedenis te verstaan. Deur die ou stadstorings uit die 15de eeu wink die nou moderne Sikos Hotel Viru wat ons enkele minute gelede agtergelaat het.

Tiina Rüütmaa, ’n professionele gids en dosent by die Tallinn-universiteit, lig ons straatjie vir straatjie in. Sy vertel dat Estland bekend is vir twee hoofdinge: Tallinn se oustad, wat ’n Unesco Wêrelderfenisgebied is, en die ongerepte natuurskoon, waar jy nog bere en wolwe kan jag.

“Jy sal ons in die woud kry waar ons vir sampioene of jenewerbessies soek; ’n snoeiskêr in die een hand en ons iPhone in die ander hand. Jy weet, ons wil altyd een honderd persent in kontak met die wêreld wees, maar ook een honderd persent nader aan die natuur!” lag sy.

Haar woorde kry nog meer betekenis toe ek terugdink aan ons aankoms enkele ure tevore. Tegnologie is onlosmaaklik deel van die Estlanders se lewe. Hulle was nie verniet die eerste land wat elektronies gestem het en selfs motors aanlyn koop en besighede binne minder as 18 minute registreer nie. Al wat jy nie aanlyn kan doen nie, is trou, skei en eiendom koop.

Die konsep is heeltemal onwerklik as jy oor die klipperige Middeleeuse straatjies loop nadat jy pas jou eerste ervaring gehad het van hoe die jonger geslag tegnologie heeltemal in hul leefstyl ingelyf het.

Ons gasheer, Elari Lend, ontmoet ons by die lughawe en vertel dat ons ongelukkig agt minute vir die trem moet wag. Hy gesels ‘n bietjie oor die weer; loer vinnig op sy foon en sê dat die trem nou net drie minute weg is.

Ons het nie 15 treë uit die lughawe gestap nie. Die trem is daar. Tallinn-inwoners betaal nie vir openbare vervoer nie; ons rit in stad toe kos ons 1,40 euro en sal 17 minute duur. Alles danksy die toepassing op Elari Lend se foon. Herinner effe aan Uber, dié gevolg op ’n foontoepassing, maar steeds verbasend effektief. Ek dink onwillekeurig aan my land waar mense soms drie ure vir treine wag weens die hoë voorkoms van kabeldiefstal.

Ons probeer die vreemde taal op die uithangborde lees en vra dat ons by ’n boekwinkel moet stop vir ’n fraseboek. “Nee, jy kan nou Esties aanlyn leer – verniet,” vertel Tiina.

Ons verkyk ons aan die geboue in die oustad: Lutherse kerke wat in die Katolieke tyd gebou is en toe met die Renaissance opgeknap is en Baroktorings en horlosies gekry het. “Gelukkig het Tallinn toe deur ’n swaar finansiële periode gegaan en die meeste van ons geboue is nie soos in die res van die Baltiese lande gesloop en herbou nie. Ons geboue het minimale bouwerk ondergaan en baie van hierdie geboue is vandag, te danke aan geldnood van ’n eeu of twee gelede, pragtig bewaar,” vertel sy.

Ons probeer sin maak van hierdie land wat in 1991 sy onafhanklikheid van Rusland verkry het toe die Russiese Ryk geval het. Ons demokrasieë is ewe jonk; die wrede verlede ook op siele ingebeitel en die ooreenkomste tussen die oorheerser en die benadeelde duidelik, al verskil die tale en kulture soos dag en nag.

Tiina sê as kultuurgroep is die Estlanders nader aan Lettiese Lutherane, maar hul taal is nader aan Fins, hoewel dit soveel van Fins verskil as Engels van Fries. “Die verskil tussen Esties en Hongaars is so groot soos tussen Duits en Persies,” vertel sy.

Dit het ek reeds voor my besoek nagelees in Estonian Language deur Urmas Sutrop, waarin die skrywer vertel dat Esties deel is van die Finse tak van Fins-Oegriese tale. Dit is dus nie verwant aan die Indo-Europese tale soos Russies, Letties of Sweeds nie.

Sutrop skryf voorts dat Esties, naas Yslands, een van die kleinste tale in die wêreld is wat aan al die vereistes voldoen vir ’n onafhanklike staat om linguisties te presteer. Dis die enigste amptelike taal in die regering en staatsinstellings en word sedert 2004 as amptelike EU-taal erken. Russies word egter op groot skaal in sekere dele van die land gepraat en in skole onderrig.

Die historici verskil oor die ouderdom van die Estlanders se teenwoordigheid in hierdie land: sommige glo dis 6 000–7 000 jaar; ander meen dis nader aan 10 000.

“Die moderne Estland het in die 15de eeu ontstaan, maar omdat die Duitsers ons regeer het sedert die middel-13de eeu, is baie min oor Estlanders opgeteken. Ons het selfs Oud-Duits in skole geleer in die begin van die 20ste eeu.”

Tiina verduidelik dat die Estlanders vir eeue as diensknegte vir die Duitsers gewerk het. “Ons het nie gelees of geskryf nie en dis hoe die Duitsers meesters dit wou hê. Ons taal en kultuur was ’n gerieflike grens tussen die baas en klaas. Ons was Wiking-afstammelinge; die Duitsers het Christenskap deur Europa versprei.”

Tot laat in die 19de eeu het Estlanders geen vanne gehad nie, tot die Duitsers vir hulle meestal Duitse vanne gegee het, en Tiina verduidelik dis hoekom jy nog so baie Duitse name kry onder selfs jongmense wat nooit onder die Duitsers geleef het nie.

“In die 1880’s het ’n reuse-‘Russifikasie’ plaasgevind. Die Duitsers het hul taalmag oor ons verloor en skielik is Russies in ons skole. Die arme Estlandkinders het nie veel verstaan nie.

“In die Sowjetjare is ons verplig om Russies te leer, maar ons het dit gehaat. Baie mense ouer as 40 het steeds ’n morele teenkanting jeens die taal,” vertel sy. Sy sê hulle moes in die skool Russiese klassieke werke leer, maar niemand het hulle geleer hoe om iets in die winkel in Russies te bestel nie.

Ons stap na die reusehoutdeur tussen die onderdorp en die bodorp – in ander samelewings word dié skeiding dikwels deur ’n spoorlyn aangedui. Die koninklikes van eeue gelede wou nie met die handelaars in die onderdorp meng nie en saans is die deur gesluit.

Die dik hout, met sy reuseklinknaels, sit al daar vandat perdepote primitiewe karre oor die klipstraatjies getrek het. Tiina sê dat ’n voormalige Britse spioen vertel het dat hulle gesukkel het om inligting uit te smokkel, omdat KGB-agente hulle voortdurend gevolg en dopgehou het. In die steil kort pad wat na die deur lei, het hy gereeld opgestap, regs geswaai by die deur verby, waarin hy mikrofilm versteek het, onder ’n klinknael wat kon uitdraai. Daardie paar sekondes waarin hy homself as’t ware in die agtervolgende Russiese agente se blinde kol bevind het, was genoeg om die film te versteek en waardevolle inligting uit te smokkel.

Daar is ’n klein rilling wat teen my ruggraat afloop. Ek hoor musiek speel. Tiina lei ons vinnig in die rigting van die pienk paleis, oftewel die stad se parlementsgebou. Net daaragter is ’n Middeleeuse kliptoring waarop ’n man die landsvlag stryk. Tiina sê dis hul volkslied wat speel, maar korrigeer haarself gou: dis die lied wat destyds gespeel het as versetlied teen die Russiese onderdrukking. Die man op die “Lang Herman”-toring is net ’n silhoeët teen die grys lug. Ons staan by Toompea reg voor ’n Russiese Ortodokse kerk, wat in die vroeë 20ste eeu letterlik op die parlementsgebou se voorstoep gebou is; daardie baie duidelike boodskap van “kyk wie is baas”.

Op pad na die maritieme museum, Seaplane Harbour, stap ons by Pagaristraat (Bakkery) verby. Dis hier waar die KGB-hoofkwartier in die stad was. Tiina vertel dat die kelderselle vir Estlanders was wat deur die KGB ondervra en gemartel is. “Ons het in daardie jare gesê as jy ‘Bakkery’ toe gaan, kom jy nie weer huis toe nie. Vandag is dit luukse woonstelle bogronds en die kelder is ’n museum, waarna ons oor ’n paar dae terugkeer.”

By Seaplane Harbour is ons gids Rauna Kuusik, ’n jong man wat saans en naweke films maak en draaiboeke skryf en bedags gids by die museum is om vir sy studies te betaal.

Die indrukwekkende gebou was eers ’n stoorplek vir Peter die Grote se vlootfort. Dit het die wêreld se eerste kolomlose sementkoepeldakke, waarin seevliegtuie met gemak kon omdraai. Dis tot die Tweede Wêreldoorlog vir seevliegtuie gebruik, maar is onder die Sowjetbewind as militêre stoorplek gebruik en het erg verval. Dit het in 2012 met sy nuwe baadjie heropen.

Rauna wys vir ons foto’s van die gebou se agteruitgang gedurende die Sowjetjare en sê die positiewe kant van die Russiese gebruik van die vliegtuigloods was dat omdat dit vir al daardie jare nie vir sy oorspronklike doel gebruik is nie, die struktuur pragtig bewaar is. “Die negatief is egter dat hierdie tipe unieke argitektuur baie instandhouding verg.”

Die geskiedenis van die indrukwekkende gebou dateer na 1905 toe oorlog tussen Rusland en Japan uitgebreek het en Rusland die onderspit gedelf het. Met die Golf van Finland die enigste seeroete na St Petersburg het die Russe besluit daar moet ’n seevliegtuighawe by Tallinn gebou word. Die Silorsky Ilja Muramets was die grootste seevliegtuig op daardie stadium met ’n vlerkspan van 30 meter. Die gebou is 50 x 105 m lank, sodat dié vliegtuig ongehinderd binne-in die gebou kan omdraai.

Ons stap deur ’n duikboot, die 1936 EML Lembit – eens die trots van die Estlandse vloot – en sien dat al die museumborde in Esties, Russies en Engels is. Rauna verduidelik dat hulle baie Russiese toeriste kry. Tog interessant hoe die lewe esse gooi: eers onderdrukker, nou toeris wat help om die land se ekonomie te laat groei.

Dae later is ons by die Estonian National Museum in die land se tweede grootste stad, Tartu. Ons gids vir die dag, Sigita Matulevicené, is ’n Litauer wat ses tale magtig is en al regoor die wêreld gewoon en gewerk het.

Sy vertoef by ’n uitstalling van wit-en-swart foto’s van ’n ellelange menseketting en vertel van die 50-jarige vieringe sedert die Molotof-Ribbentrop-verdrag tussen die Sowjetunie en Nazi-Duitsland. Die Baltiese Weg, of Baltiese Ketting, was ’n vreedsame politieke optog op 23 Augustus 1989.

“Ongeveer twee miljoen mense het hande geneem om ’n mensketting van meer as 675,5 kilometer regoor die drie Baltiese lande, Estland, Letland en Litaue, te vorm. Dié lande was toe nog onder die Sowjetregering. Die optog is deur pro-onafhanklikheidsvegters gereël: Estland se Rahvarinne, Tautas fronte van Letland en die Sąjūdis van Litaue.

“Die mensketting het vir die wêreld en vir Rusland gewys ons wil ons onafhanklikheid hê. Daar was nie telefone of kommunikasie nie; mense het net geweet waarheen om te gaan en hoe laat om daar te wees. Ek was ’n klein dogtertjie en onthou die verkeer was só erg dat ons 30 km voor ons beplande vergaderplek die motor moes los en stap en by ’n sytak van die ketting aansluit,” vertel sy.

Sy tik op die foto’s van die ketting in verskillende dorpe en plaaspaadjies en stop by ’n foto van ’n laagvlieënde vliegtuig. “Hierdie vliegtuig het oor ons koppe gevlieg en niemand het geweet wat die vliegtuig gaan doen nie – gaan dit skote afvuur, of bomme of gas op ons gooi? Maar toe gooi dit blomme af,” vertel sy met trots.

Sy vertel dat niemand daardie oggend geweet het of hulle weer huis toe sal terugkeer nie, want verset teen die Sowjetunie is nie geduld nie en mense het met hul lewens daarvoor geboet.

Die Sowjetunie kon nie die golf keer nie en sewe maande ná die optog het Litaue die eerste hul onafhanklikheid verkry.

Met ’n besoek aan die Viljandi Kulturele Akademie vertel Ave Matsin, visedirekteur vir akademiese aangeleenthede, dat baie Estlanders gedurende die besettingsjare hul tradisionele volksdrag gedra het. “Dit was ’n stille protes teen die Sowjetunie. ’n Soort van ‘ek is steeds ’n Estlander, ongeag wie my regeer of probeer beheer’,” vertel sy.

Elari knik instemmend, sy gedagtes ver. Oor aandete erken hy: “Wanneer ek terugkyk na my kinderdae in die Sowjetjare, is dit met nostalgie wat ek onthou. As ek oor my oupa en ouma en hul ervaring van daardie jare gesels, is dit seer herinneringe, maar ek dink dit is nodig dat ons daaroor praat, want meer mense moet hoor van daardie jare.”

Hy erken dat hy as’t ware met sy voete in twee eras staan: ’n jong man wat die Estland van 2018 geniet aan die een kant; ’n produk van geskende voorouers wat wrewel jeens die Russe dra aan die ander kant. Soos jong Suid-Afrikaners met ’n ander baadjie aan, maar die kern is dieselfde.

Die ooreenkomste en verskille tussen ons twee demokrasieë word oor die volgende paar dae nog duideliker. Terwyl ons albei vir ongeveer vyf dekades in isolasie geleef het, was Estland vinniger uit die wegspringblokke en hul voorsprong word net groter.

Hulle het in 27 jaar baie ver gevorder en is die geboorteplek van verskeie maatskappye wat die wêreld se aandag getrek het en die lewe op baie vlakke vergemaklik het.

Elise Sass, een van die projekleiers by Lift 99, ’n kreatiewe saamwerkkantoor in die ontwerpdistrik, waar kreatiewe professionele mense ’n lessenaar huur om as individuele werker deel van ’n groter span te wees, vertel ons meer van start-ups. Dis ’n groot neiging in Tallinn, veral as jy in ag neem dat vier Tallin-inwoners deel van die start-up maatskappy Skype was.

Agter Elise teen die muur is ’n oulike illustrasie van ’n paar start-ups – benewens Skype – wat daar sy ontstaan gehad het. Een van die Skype-stigters, Niklas Zennström, se handtekening is heel onder. Die woorde #EstonianMafia staan bo-aan en Elise verduidelik dat dit ’n goeie naam is, want Estland se slimmes was oral, al was hulle min. Sommige name wat vir my bekend is, is taxify, adcash en monese.

Mens wonder waar hulle ons verbygesteek het. Is dit hul 99 persent-geletterdheidsyfer; is dit hul baie lae inflasiekoers of baie lae werkloosheidsyfer?

Elise se mening is dat Estlanders onder die Sowjetunie bekend was vir hul wetenskaplikes, wiskundiges, rekenaarprogrammeerder en ingenieurs. “Dit was ook nie net die start-ups en die privaatsektor wat begin presteer en kreatief dink het nie; die regering het beslis hul kant gebring met tegnologiese ontwikkeling om ons so vinnig moontlik in die wêreldekonomie in te kry.

“Ons help ook jong besighede met bemarking, menslike hulpbronne; hulle reël sprekers en bring verskillende vaardighede bymekaar. Ons was vir soveel jare afgesonder van ’n vryemark en daar was vir die Sowjetunie geen rede om te adverteer nie; daar was altyd ’n tekort in die winkels. Maar teen die laat tagtigs het die regering besef hulle moet ook ‘cool’ wees en begin adverteer. Nie om iets te verkoop nie, maar net om te kan sê hulle adverteer.

“Bemarking was dus met ons onafhanklikwording vir ons ’n vreemde idee. Omdat Estland so klein is, moet ons met enige nuwe start-up wyer as ons grense kyk en ook besef dat hoewel ons baie goed is om dinge te ontwerp en bou, ons hulp nodig het van ander wat meer ervaring in onder meer bemarking het.

“Die jare se afsondering het ons egter geleer om slim maniere te bedink om met beperkte hulpbronne die taak gedoen kry. En met hulpbronne bedoel ek nie net geld nie, maar eerder mensekapitaal.

“Niklas het gesê as hulle Skype in China begin het, het hulle binne ’n paar dae honderde ingenieurs en sagteware-ontwikkelaars aan boord gehad, maar Skype se sukses was dat ’n handjievol mense dit net móés laat werk,” vertel sy.

Die volgende oggend is die Museum van Okkupasie aan die beurt – ’n glas-en-sementstruktuur wat weer eens aan ’n bomskuiling herinner en alle gedagtes van vooruitgang en vryheid verpletter. Buite staan ’n hele paar sementtasse en die deur is ’n reusestaaldeur waardeur jy effe ongemaklik voel om te stap; so asof jy bang is jy kom nie weer daar uit nie.

Die uitstalling hang op reusekartonborde uit die dak en gee ’n oorsig oor Estland se besettings in die 20ste eeu. Die vertellinge van mense wat deur hel is in Siberië, ouers of vriende of familie wat vermoor is, die Russe se onmenslike vergrype; die Duitsers wat dieselfde tirannie bring. Die Estlanders se verwarring en ontnugtering is duidelik uit die video’s wat op skerms deur die museum vertoon word. Hoe hulle die Duitsers weer vir die Russe moes verruil. Daar is spioenasietoerusting, propagandaplakkate wat Stalin bedank vir die goeie lewe, en items uit die Kommunistiese era wat jou nekhare laat regop staan.

Onder in die kelder vertel uitstallings en foto’s van ontvoerings, moord en guerrillas wat vir Estland se vryheid geveg het.

Ons gids, ‘n historikus met die naam Priit-Hendrik Kaldme, vertel trots dat baie museums wat in geboue ingerig word waar mense voorheen gemartel en vermoor is, donker, morbiede plekke is. “Dis om jou die isolasie en verlatenheid te laat ervaar, maar dis nie eg nie. Hoe kan jy in 60 minute daardie gevoelens ervaar? Jy het nie daardie propagandistiese hulpmiddels nodig nie. Jy hoef net te lees en te luister om te sien hoe verskriklik dit werklik was.

“Hierdie museum is lig en oop. Dit getuig daarvan dat ons die onderdrukking afgeskud het, maar nie sal vergeet nie.”

Hy sê Siberië is ’n ongenaakbare plek. “Vir agt maande van die jaar is dit minus 50 grade Celsius en vir twee maande 40 grade. Mense is uitgehonger en het verkluim of van hitte-uitputting omgekom. Mense is nie gedeporteer om te gaan werk om iets te vermag nie, maar net om hul gees te breek.”

Ek is dankbaar toe ek ’n uur of wat later die museumdeur agter my kan toedruk, verby die sementtasse buite in die koue. Maar die gevoel van onheil en seer wat om elke hoek skuil, wil my net nie laat los nie.

Dis weer Priit wat ons die volgende dag by die stad se nuutste museum, die KGB-tronkselle in Pagari, ontmoet. Jy klim met trappies af na benede straatvlak. Daar is geen plek om jou jas op te hang nie en dis warm en benoud in die klein selle. Teen die mure staan klein houtkaste waarin mense toegesluit is – te smal om in te kan draai of jou knieë te kan buig; onmenslike bokse wat jou dade laat beken het waaraan jy nie skuldig was nie, maar net om die lyding te stop.

Ek kan nie die toer voltooi nie; dit voel of die lug uit my longe gepers word. Ek verlang na my land, na die sonskyn en die groot glimlagte en die hoop dat dinge gaan verbeter.

Dat ons ook soveel voorspoed sal geniet as hierdie land.

Dis op my laaste dag in die land dat ’n Russiese taxibestuurder egter ’n ander perspektief op die lewe in Estland bring. “Dit wat ek te sê het, is nie gewild onder Estlanders nie. Die regering wil ons nie hier hê nie; hulle het gehoop ons sou met onafhanklikwording terugkeer na Rusland, maar Estland is waar ek gebore is. Dis my huis.

“Ek het altyd gedink ’n demokrasie beteken dat jy vry is om jou taal en kultuur te beoefen, maar hier gee dit die regering rede om ons voortdurend van die Estlanders te skei,” vertel hy driftig.

Dis toe dat ek besef hoe soortgelyk ons omstandighede nou eintlik is: hoe die onderdrukker nou in vrede gelaat wil wees, maar die onderdruktes hulle nie wil toelaat nie. Hoe die land wat hul enigste huis is, hulle nie verwelkom nie.

Foto’s:

Pagaristraatbakkery waar die KGB-hoofkwartier in die stad was. Vandag is dit luukse woonstelle met die kelder wat omskep is in ’n museum.

Die klein selle in Pagaristraat waar mense nie genoeg plek gehad het om te lê nie, geen vars lug gehad het nie en byna van die hitte of die koue omgekom het.

Die lang, nou gang waarin verskeie houtbokse in Pagaristraat gebou is – waar mense in afsondering aangehou is. Die bokse was so smal dat die gevangene nie kon sit nie.

Die historikus Priit-Hendrik Kaldme, ons gids by beide museums in Tallinn.

Die Museum van Okkupasie.

Tiina Rüütmaa, ’n professionele gids en dosent aan Tallinn Universiteit, lig ons straatjie vir straatjie in Tallinn se ou stad oor die geskiedenis in.

By die Estonian National Museum in die land se tweede grootste stad, Tartu, vertoef ons gids, Sigita Matulevicené, by ’n uitstalling van wit-en-swart foto’s van ’n ellelange menseketting en vertel van die 50-jarige vieringe sedert die Molotof-Ribbentrop-verdrag tussen die Sowjetunie en Nazi-Duitsland. Die Baltiese Weg of Baltiese Ketting was ’n vreedsame politieke optog op 23 Augustus 1989.

Die eerste vlag van die vrye Estland is meer as 100 jaar oud en word in die Estonian National Museum bewaar.

Die ongelooflik dat museums in Engels, Russies en Esties kommentaar lewer. Russe is verantwoordelik vir ’n groot deel van die land se toerisme-inkomste. By die Tartu is daar selfs nog meer tale beskikbaar en die inligtingsborde word met behulp van ’n elektroniese leser verander.

As kultuurgroep is die Estlanders nader aan Lettiese Lutherane, maar hul taal is nader aan Fins, hoewel dit soveel van Fins verskil as Engels van Fries. Esties is deel van die Finse tak van Fins-Oegriese tale. Dit is dus nie verwant aan die Indo-Europese tale soos Russies, Letties of Sweeds nie. Die elektroniese kaart in die Estonian National Museum verduidelik dit baie mooi.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top