Erfenisdag

  • 3

Sommige noem dit Braaidag. Die meeste supermarkte het spesiale aanbiedings op vleis en ander braaiverwante produkte. Die meeste maatskappye het een of ander vorm van ’n kompetisie om die persoon met die beste tradisionele drag te beloon. Om redes wat ek nog nooit kon verstaan nie, beteken dit skynbaar mense moet aantrek in die tradisionele drag van ’n ander kultuur as hul eie – ’n kultuur waarvan hulle nege uit die tien keer minder as niks weet nie, maar die drag is mooi.

In een besonder walglike Facebook-pos, wat gemaak het dat ek die persoon summier unfriend het, het ’n bruin persoon vir haar maatskappy se Erfenisdag-vieringe aangetrek as ’n huishulp, kompleet met pienk uniform, kopdoekie, voortande swart gemaak en verskillende kleure sokkies. Dis hoe sy bruin kultuur sien. Al wat ek kon sien, was die uiterste vorm van selfhaat wat ek al ooit teëgekom het.

Ek weet nie hoeveel mense Erfenisdag ernstig opneem nie. Dis ’n dag vir laat slaap, ’n dag om aan werk te ontsnap, ’n dag om partytjie te hou om redes wat niks met erfenis te doen het nie. Maar meer en meer pla die idee van Braaidag my, dalk juis omdat dit ’n dag is vir (meestal) Afrikaanssprekendes, maar dit word op televisie en oor die radio uitgebeeld asof dit die enigste erfenis is wat ons kan vier.

Die meeste mense in hierdie land wat kos oor ’n oop vuur maak, doen dit nie omdat hulle hul erfenis geniet nie. Hulle doen dit want daar is nie elektrisiteitstoevoer nie, of omdat hulle nie genoeg geld verdien om elektriese ware te bekostig nie. Hulle doen dit omdat dit die enigste manier is om warm kos in hul maag te kry. Ry maar verby Khayelitsha en Langa en Nyanga in die Wes-Kaap, of enige ander plakkerskamp in die res van die land. Let op hoedat daar sekere tye van die dag ’n ligte rookwolk oor die gebied hang. Dis nie omdat hulle hul erfenis geniet nie. En om dit ’n informele nedersetting te noem, is ook nie eerlik nie. Daai plekke is permanent. Die swaarkry is permanent. Niks word gedoen om die haglike toestande te verbeter nie, maar solank ons dit agter ’n mooi naam wegsteek, kan ons ons gewetens sus.

Miskien het dit tyd geword dat ons ophou ons gewetens sus. Miskien het dit tyd geword dat ons realiteit in die oë staar. En die realiteit is dat die volgende geslag, of die geslag daarna, net swaarkry en korrupsie as erfenis gaan hê tensy ons nou briek aandraai.

Dit beantwoord egter nog nie regtig die vraag nie: Wat is my erfenis as ’n bruin persoon? Wat beteken dit om ’n erfenis te hê? Dis beslis nie die pienk bediendebeeld van my gewese Facebook-vriendin nie. Dis nie die kerrievis en breyani, of skaapboud en geelrys, of enige ander kossoorte nie. Met die vrolike rieldansbeeld voel ek ewe ongemaklik. Dis mooi, maar dis nie iets wat vir my soos tuiskoms voel nie. Want is dit nie juis waaroor erfenis gaan, daardie deel van self waar jy voel asof jy so pas ’n noupassende kledingstuk waarin jy goed lyk maar voel asof jy versmoor, uittrek en net kan asemhaal en wéés nie? Is dit nie juis die plek waar, soos in die Cheers-kenwysie, “everybody knows your name”, waar jy kan wees en doen sonder verduideliking want die mense rondom jou verstaan presies waaroor dit gaan nie? Dis meer as familie, dis meer as gebruike, dis veel meer as net die taal wat jy praat en die wyse waarop jy woorde gebruik.

Hoekom, in 2017, begin erfenis meer soos ongemaklike bagasie voel as soos tuiskoms? Hoekom word dit net nog ’n oorlogsgebied waar die een se reg die ander se verkeerd is? Hoekom word dit, in stede van ’n viering van verskeidenheid, nog ’n manier om in laers terug te trek waar ons ons wonde kan lek en die seerkry, verbeeld of werklik, kan vertroetel?

Miskien, in stede van vashou aan die verlede, en die heritage wat nie altyd positief is nie, moet ons met erns begin kyk na die toekoms en die legacy wat ons nalaat vir die geslagte wat ons volg. Dit kan nie net om karsinogeniese gebrande proteïen op ’n koolstofgebaseerde brandstof gaan nie.

Hier is wat ek hoop my nalatenskap sal wees: nie net aanvaarding van diversiteit nie, maar aktiewe viering daarvan – diversiteit in taal, kleur, ras, geslagsuitdrukking, seksualiteit, kultuur en al die miriade ander wyses waarop ons van mekaar verskil. Respek vir die regte van ander, maar meer as dit, die bereidwilligheid om ’n kampvegter vir daai regte te wees. ’n Deeglike verstaan dat dit konstant nodig is om ongeregtighede van die verlede reg te stel, en dat dit interpreteer kan word as nuwe ongeregtighede. ’n Verstaan dat die ou erfenis vir sommiges voordele ingehou het wat hulle met mag en krag sal probeer behou, en dit te beveg. En dis oukei. Ons almal het verskillende reise om by dieselfde eindpunt uit te kom, een wat hopelik almal kan akkommodeer. ’n Verstaan dat die ou groeperings nie meer werk nie, maar dat dit in orde is om ons nuwe tribe te kies, en dit met nuwe reëls te maak werk, en dat daar in die tusseninperiode scaffolding nodig is om die ontwikkelende struktuur te beskerm. ’n Verstaan dat tuiskoms iets anders beteken as wat dit vir ons voorouers beteken het – anders, nie beter of slegter nie.

Mix en match, die maak van ’n nuwe tapisserie, bring nuwe uitdagings, maar ook fantastiese nuwe belonings. Erfenis is belangrik, maar waaraan ons gemeet sal word, is ons nalatenskap.

Kom ons laat iets na wat nie soos ’n straightjacket voel nie, maar soos noodsaaklike gereedskap om iets nuuts, iets beters, te bou – elke dag van die jaar, nie net een dag in September nie.

  • 3

Kommentaar

  • Ek stem volmondig hiermee saam, veral die "anders, nie beter of slegter nie". Dit maak my opgewonde om te dink dat daar 'n moontlikheid kan bestaan dat ons mekaar se andersheid kan aanvaar en daaruit kan leer.

  • Ek, soos, Bettina, het ook nie veel erg aan braaidag nie. Dit was begin deur iemand (Jan?) wat versoening wou bewerkstellig - die onderskeie elemente word dik vrinne om dieselfde vuur is die idee. Maar, pogings tot versoening word as witvoetjiesoek, dus erkenning van een of ander oortreding, gesien en het net mooi die teenoorgestelde uitwerking as wat Jan in gedagte gehad het. Buitendien, 'versoening' voorveronderstel vyandskap en hoe meer versoening nagejaag word hoe sterker beklemtoon dit vyandskap.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top